Kristel Loots

Vet feetjies vlieg nie


Скачать книгу

al is dit op die rekenaarskerm? Onder géén omstandighede nie, meneer Wie-jy-ook-al-mag-wees. En is jy die ware Jakob, Billy Bruwer in lewende lywe, dan nog minder. Ek skuil lekker agter my Funky Feetjie-persona, baie dankie. Ek het geen begeerte om my Lucy Lombaard-gesig en veral nie my Lucy Lombaard-lyf vir die wêreld te wys nie. En ook beslis nie vir jou met jou sprokiesboekprinslike voorkoms nie. Ek wil nie op Skype sien hoe jy ineenkrimp wanneer jy skielik teen my volmaangesig vaskyk nie. Wil ook nie weet jy kan jou goed verbeel hoe ek ondertoe lyk waar die kamera nie kyk nie.

      Funky Feetjie gee my die anonimiteit wat ek nodig het om my sê te sê. Ek love Funky Feetjie. Sy is ’n free spirit. Sy sê wat sy wil en steur haar nie daaraan as e-posse op haar neerreën waarin sy beskuldig word dat sy nie polities korrek is nie. Sy hoef nie te please-explain nie. Want sy bestaan nie werklik nie.

      Funky Feetjie is nie net my alter ego nie, sy is ook my vriendin, my beskermengel wat vyande se pyle afweer en sorg dat geeneen van die aanvalle ooit persoonlik raak nie. Wat Funky Feetjie self betref – sy moet maar vát wat na haar kant toe kom. As jy jou wil uitgee vir ’n toffie, gaan jy gekou word, finish en klaar.

      Daar is baie wat ons gemeen het. Ons hou ewe veel van mooi skoene, maar raak so gou moontlik daarvan ontslae as ons tuis kom. Ons verwonder ons ewe veel aan ons medemens en ons is ewe nuuskierig. Daarom prikkel Billy Bruwer (of wie ook al sy naam gebruik) se e-pos my pienk.

      Laatmiddag by die huis begin ek Billy Bruwer te google asof ek ’n tesis oor hom skryf. Elke flentertjie inligting wat ek kan kry, elke enkele foto’tjie van hom wat al op die internet beland het. Ek zoom in sodat ek hom behoorlik kan bekyk en bestudeer.

      Ja-nee, nes ek gedink het – ’n trust fund baby, van daardie blink kinders aan wie vele talente saam met die silwer lepel by geboorte al geskenk is. Stellenbosse wynplaas-elite. Dis een van daardie plase waar ’n mens deur ’n hek van gegote yster, so mooi soos die hemelpoort, ry om by die opstal te kom. ’n Jaar of wat na universiteit sy studies by Oxford gaan voortsit, one of the chosen few. Studiebeurs gekry daarvoor, asof hy dit nodig gehad het.

      Toe effens van die radar af verdwyn. Blykbaar ’n ruk lank oorsee gebly, sy doktorsgraad daar behaal, daar gewerk ook. Min inligting oor sy doene en dinge daar. Was seker maar ’n groot padda in ’n klein dammetjie terwyl hy in Suid-Afrika was, maar in Europa, doktorsgraad ten spyt, het hy verdwyn tussen die haaie en walvisse. Toe maar teruggekom en Media Uniek gestig sodat mense weer van hom sou weet en hy gereeld in praatjies en lesings aangehaal kon word. Asof hy ’n moderne Salomo is wat ’n antwoord het op die baie vrae van die lewe. Ek gaan loer op YouTube na van sy toesprake en onderhoude wat met hom gevoer is.

      Vinnig van tong. Laat hom nie sommer vasvra nie, gee nie ’n aks skiet nie.

      “Persvryheid is ononderhandelbaar, maar daarmee saam kom die verantwoordelikheid om feite te publiseer, nie fabrikasies nie,” verklaar hy tydens ’n debat oor dié onderwerp. “Politieke korrektheid moenie met objektiwiteit verwar word nie.” Vra blykbaar ook nooit om verskoning vir sy sienings nie. Tog klink dit nie of hy oorlog verklaar nie. “Wat ons by Media Uniek doen, is om ’n seepkis te verskaf vir individue wat gewoonlik nie ’n spreekbeurt kry nie.”

      Nogal, nè? Wie? Die Griek by die kafee op die hoek? Die Malawiese vlugteling-ingenieur wat nou as karwag vir Pick n Pay werk? Of iemand soos ek wat feitlik onsigbaar deur die lewe gaan? Sal like om hom sélf ’n paar vrae te vra as ons twee mekaar ooit in die oë kyk. Maar skype sal daar nie sommer ge-skype word nie. Ek weet net nie met watter verskoning ek daardie voorstel kan omseil nie. Daar’s fout met my rekenaar? Met die Skype-program? Die sein is swak? Daar’s ’n puisie op my ken? Of sommer net: “Ek wil nie hê jy moet sien hoe vet ek is nie.”

      Wat ook al, hy sal moet wag. Ek wil eers daaroor slaap. Ek skakel my rekenaar net na sesuur af sodat ek nie weer heelaand teen die skerm sal vaskyk nie. Is mos verslaaf aan die internet. Besweer só die eensaamheid wat soms die woonstel binneglip.

      In die virtuele wêreld het ek ’n lewe wat vir niks skrik nie. En vriende by die dosyne – by die honderde, om die waarheid te sê. As ek nie blog of facebook nie, speel ek speletjies of kyk ek movies. En af en toe doen ek ’n vryskut-skryfwerkie, al is dit net ’n advertensie vir toiletpapier. Nie die tipe ding wat vir my ’n Pendoring-toekenning sal losslaan nie, maar iets wat die hoop lewend hou dat ek nie vir die res van my lewe my huidige day job gaan hê nie. Daar word ek elke dag in ’n blik gedruk en gee dit ’n vreeslike gespartel af om nie te versmoor nie.

      Ek draai my rug op die dooie rekenaar en gaan staan voor die venster. Onder in die straat is daar lewe. Motors wat van weerskante af kom en iewers heen op pad is. Die rus is ewig elders. Plesierige wesens wat nie by ’n woonstelvenster uitstaar met ’n leë aand wat voorlê nie.

      Dis nog nie heeltemal donker nie. Miskien kan ek uitglip om vir my iets te ete by Pat’s Place op die hoek te gaan koop, hopelik sonder om oor die kop geslaan te word vir my selfoon of platterige beursie. Iets om die aand mee op te kikker. Wat kan ek sê – I don’t get out much, jy sien? Opwinding is nie my tweede naam nie.

      Ek gryp gou my handsak om kos te gaan koop. Want die hongerpyne knaag nou genadeloos.

      Op pad ondertoe skuif die hyser se deur oop op die sewentiende verdieping. Voor my staan die Mafia-mannetjie in al sy twyfelagtige glorie, so verskrik soos altyd wanneer hy my sien. Arme ding. Donker oë soos die duiwel self, maar klein soos ’n hongerlyende rot, lyk soos ’n Mafia-baas se buite-egtelike seun, een wat beswaarlik in sy pa se voetspore kan volg. As hy iemand saam met die vissies wil laat swem, sal hy nie die sementblok sonder hulp om die slagoffer se enkels kan vasbind nie. Daarvoor is sy armpies te dun en sy borskassie te plat.

      Mislike mannetjie wat wierook brand en musiek speel wat ’n hoofpyn waarborg. Ek weet, want ek ruik dit en ek hoor dit wanneer ek op sy verdieping na die wassery gaan en dit verby sy toe woonsteldeur dring. Hy is altyd kop onderstebo as ons mekaar raakloop. Groet net as ek eerste groet. Seker bang ek sal iets van hom wil hê. ’n Koppie suiker, een van sy niere … Dis altyd simpel om teen daardie gesig vas te kyk as ’n mens jou probeer wysmaak die môrestond het goud in die mond.

      Ek weet nie regtig waarom die Mafia-mannetjie so doodsbenoud raak die oomblik wat hy my sien nie. Ek is tog onskadelik genoeg, dan nie? Nou staan hy weer ongemaklik en rondtrap. Asof hy innig wens dit was nie vir hom nodig om saam met my in die beperkte ruimte van die hysbak te wees nie. Ek meen nou maar – ek drink wel knoffelpilletjies om die verkoue weg te hou, maar dis van die soort wat nie veronderstel is om jou asem sleg te laat ruik nie en ek is nogal skoon op my lyf. Dis sweerlik my gewig wat hom pla. Dalk is hy vreesbevange dat ons twee saam te swaar vir die hysbak gaan wees en dit iewers langs die pad sal gaan vassit. Vir ure en ure. Sonder televisie en sonder suurstof. Dat ons gedwing gaan word om met mekaar te gesels.

      Ek sien daar ís ’n piepklein kennisgewing teen die muur wat aandui hoeveel mense die hysbak op ’n slag kan hanteer. For you own safety: to prevent death or serious injury from the elevator free falling through the shaft due to excess weight. Nogal kras gestel, ek moet sê. Ek wens nogtans hy wil dit lees en ’n eenvoudige som maak sodat hy kan besef ons is nog aan die veilige kant, selfs al tel my gewig vir dié van twee mense. Of so iets.

      Ek het nuus vir hom – ek wil net so min tussen hemel en aarde saam met hom vasgekeer wees in ’n hokkie met spieëls langs die kante. Hy lyk na die tipe wat in my arms sal spring en verwag ek moet hóm troos as so iets gebeur. Ek wil niemand troos nie, ek wil getroos word. Ek wil ’n man hê wat oor my troon en mý sal troos, ’n man wat my klein en fyn sal laat voel. Ek soek ’n reus van ’n man, ’n frats van ’n man.

      En hulle kom net in feëverhale voor. Demmit.

      Ek knik so half met my kop in die mannetjie se rigting, maar hy hou hom siende blind. Staan net in sy veilige hoekie so ver moontlik van my af, en hy sprak g’n sprook.

      Soms praat ons noodgedwonge ’n sin of twee. Pynlik ongemaklik. Hoofsaaklik oor die weer.

      “Lekker dag, nè?”

      “Ja. Baie lekker.”

      Maar vandag het hy nie ’n saak met hoe lekker die weer vandag was of vanaand is nie. Hy kan nie gou genoeg uit die hysbak kom