koue kerksaaltjie iewers? ’n Praatjie oor global warming deur oorsese navorsers wat doom and gloom verkondig?
Asof ék vir hom kan lag. Hier stap ek in die skemer in my huisdra-langbroek met die rek om die middel en ’n T-shirt wat amper op my knieë hang. Wat lossies hang sodat my heupe en boude nie so duidelik afgeëts is nie. Op pad na Pat’s Place vir iets om te eet, iets om alleen in my woonstel te gaan sit en eet. Sommer so op my skoot met ’n glas Coke om dit mee af te sluk. Nie cool nie.
Die aand is nog jonk, maar by Pat’s Place wemel dit van die mense, die heerlike geure daarop uit om enige verbyganger nader te roep. Warmte, vriendskaplikheid, ’n aura van kameraadskap wat jou omvou die oomblik wat jy die swaaideur oopstoot. Ek wens ek het die moed gehad om by een van die tafeltjies te gaan sit en hier te eet, eerder as om my kos as ’n takeaway te bestel.
Miskien kan ek dit vanaand probeer.
Ek wil nog wik en weeg, toe staan die hoofkelner al nader. “Table for one?” vra hy.
For one? Is dit nou nodig om dit so in te vryf? Wat laat hom dink ek is alleen hier? Ek oorweeg dit om vir hom ’n liegstorie op te dis sodat ek minder pateties sal lyk. Maar ek vererg my. Ek is single! Sue me. It’s a free country, is dit nie? Is dit ’n ark hierdie waar net paartjies oor die drumpel toegelaat word, met die opdrag dat daar in alle haas en erns aan ’n nageslag gebou moet word?
“Ja, asseblief,” antwoord ek. “’n Tafel vir een.”
My bene wil-wil onder my knak toe ek verby die bondels vrolike mense na ’n afskeeptafeltjie gelei word – taamlik eenkant waar ek niemand sal pla nie.
“Jy kan vir my ’n glas rooiwyn bring, asseblief,” bestel ek roekeloos. Ek nogal! Ek wat nie juis drink nie. Maar vanaand moet ek wêreldwys en gesofistikeerd voorkom wanneer ek openlik aangestaar word.
Kyk! Kyk! Die vet girl daar anderkant wat alleen by die tafeltjie sit. Sien julle? Ag siestog, hoe hartverskeurend.
Dalk wag sy vir iemand? ’n Man of ’n boyfriend wat later by haar gaan aansluit?
’n Man? No way! Kyk hoe lyk sy. En dan nog so slonserig aangetrek ook.
Ek is so ongemaklik soos ’n Dopper-dominee by ’n dans, dis asof ek skielik te veel arms en bene het en my boude goed geknie is soos brooddeeg, sodat dit by die minuut hoër rys. Toe die kelner die rooiwyn bring, gryp ek die glas en vat ’n sluk. Ek proe skaars wat ek drink, maar ten minste het ek nou iets om met my hande te doen.
’n Mens kan baie agter ’n glas wyn wegsteek, jy kan amper gesofistikeerd voorkom ás jy oor genoeg finesse beskik. Maar nie ek nie. Ek verstik. Nie mooi fyntjies en fraai soos die meisies in die movies wat met ’n sagte kloppie op die rug reggesien word nie. Nee. Met wyn wat by my neus uit spuit en ’n gehoes soos die blaf van ’n histeriese hond wat ’n gevaarlike inbreker gewaar het.
Van ’n lae profiel handhaaf is daar geen sprake nie. Ek maak amok.
Die dapperheid wat my tot hier gebring het, is skoonveld. Ek sou graag in die grond in wou sak, as ek net kon. Ek wink die kelner al proesend nader. “Jy kan maar die rekening bring,” versoek ek, my ore vuurwarm.
“Toemaar.” Hy wys my met ’n handbeweging weg. “Laat staan maar. Die glas wyn is op die huis.”
Loop net! is wat hy eintlik wil sê. Ons wil graag die restaurant se standaard handhaaf.
Ek wil vir hom sê wat hy met sy glas gratis wyn kan doen. Maar ek het nie die asem daarvoor nie. Al wat ek wil doen, is om so gou moontlik hier uit te kom. Na waar niemand my kan sien nie, veilig tussen die vier mure van my woonstel waar ek kan asemhaal en nie meer my maag hoef in te trek nie.
Maar ek wil nie hier uitsluip soos ’n hond wat geskop is nie. Ek gaan ook nie die verdomde halfvol glas wyn laat bly staan soos ’n aanklag teen my nie. Daarom gryp ek dit opnuut en sluk die res van die rooiwyn af asof ek uit die woestyn kom, hierdie keer sonder om te verstik. Toe eers gooi ek my sak oor my skouer en staan op, hoewel nie so vas op my voete as wat ek graag wil wees nie. Nee, o hel, so kan dit nie aangaan nie. Om alleen te eet is die pits, maar om alleen te drink is erger. Waar drank betrokke is, is daar altyd dubbele drama.
“Jong, is jy oukei om te bestuur?” wil die vrou by die tafeltjie langsaan besorg weet.
“Ek … ek gaan nie bestuur nie.”
“Dis ’n wyse besluit,” glimlag sy my toe.
Daar is baie van hulle – sulke bleddie bleeding heart-mense wat dit konsuis goed bedoel en dan daarin slaag om jou te laat voel soos ’n week oue koerant wat weggegooi moet word omdat niemand dit meer wil lees nie. Dit help nie eens ek probeer vir haar verduidelik dat ek net ’n entjie in die straat op bly nie. Of dat ek nie regtig beskonke is nie, net onseker van myself. Sy sal my in elk geval nie glo nie en heel moontlik nooi om by ’n breiklub aan te sluit, waar flukse vroue truie vir straatkinders produseer. Sodat daar betekenis in my lewe kan kom.
Ek is summier as ’n loser gebrandmerk, heel moontlik ook as ’n drankverslaafde.
Ek wil my skaars maak, maar ek het nog steeds niks om vanaand te eet nie. Soms het ’n mens trooskos net so nodig soos om asem te haal. Dit is nie die regte aand om honger te gaan slaap en moontlik ’n halwe kilogram te verloor nie. Ek stap oop en bloot op die takeaway-toonbank af en my voete trap nie te erg skeef nie.
Ek kan amper die skindertonge om my hóór. Kyk! Kyk! Sy gaan haar nou behoorlik instop, die vette daar anderkant. Geen wonder sy lyk soos sy lyk nie. Geen wonder sy eet alleen op ’n Vrydagaand nie. En gee haar oor aan drank nie. Bacchus is heel moontlik die enigste vriend wat haar nog nie verlaat het nie, arme vrou.
Want ek is ’n vet flippen vrou en vet flippen vroue trek altyd aandag as hulle naby die kosbakke kom. Vet vroue word áltyd as vrate gesien, al eet hulle net ’n ertjie op ’n slag.
“Wat sal dit vanaand wees?” wil die ou agter die toonbank weet toe dit my beurt is om bedien te word. “Pizza of pasta?”
“Wie sê dit gaan een van die twee wees?”
“Ek weet mos wat my regulars bestel.”
“Pizza,” sug ek gelate.
“Regina soos gewoonlik?”
Ek aarsel. Sal ek ’n verandering maak? Die noodlot tart en iets anders bestel? En dalk met ’n teleurstellende koservaring gekasty word?
Nee. Nie vanaand nie.
“’n Regina-pizza, ja. Met ekstra kaas.”
Wat kan ek sê – ek is ’n gewoontedier. Boring, baie, baie boring. Die pizza sal dieselfde wees as elke ander aand, sonder enige verrassings wat die smaakkliere kielie. Nie besonder lekker nie, maar ook nie sleg nie. En natuurlik, met ekstra kaas is enigiets goed genoeg.
“Small, medium of large?” Hy vra dit elke keer. Sien hy elke keer die blos wat my oorval? Put hy behae daaruit om my so te martel? Wel, sy gat.
“Extra large, asseblief.”
Hy kan dink wat hy wil, maar hy kan niks bewys nie. Hy weet nie vir hoeveel eters ek die pizza bestel nie. Dalk het ek ’n man en ’n dosyn honger kinders by die huis wat almal ’n snytjie sal gryp die oomblik wat ek die voordeur oopstoot, totdat daar net krummeltjies van die yslike pizza oorbly.
Ek wil lag – of huil – toe ek by die woonstelblok se voorportaal instap. Ou Murphy is vanaand weer op sy stukke, want die Mafia-mannetjie staan voor die hysbak en wag. Ek kán hom natuurlik genadig wees en kans gee om alleen boontoe te ry sodat hy nie vir die tweede keer binne ’n uur ’n stille dood hoef te sterf nie.
Maar ek is in ’n moedswillige bui. Ek stap saam met hom in toe die hysbak se deur oopskuif. Daar’s nie ’n manier hoe hy kan ontsnap sonder om ’n moerse issue daarvan te maak nie. Hy klou aan die papiersak met sy Dinner For One asof ek dit by hom gaan afneem en skuif weer na die verste hoekie om daar met neergeslane oë op sy hakke te staan en wieg, sy vrese en voorbehoude in sy hele houding sigbaar.
“Wat eet