’n goeie en gawe amper-buurvrou betaam.
“En jy?”
Hierdie keer is dit ek wat skrik. Meer as twee sinne small talk is ver verby ons kwota, wat op goeie dae al uit ’n feitlik onhoorbare gemompel bestaan. “P … pasta,” stotter ek. Toe onthou ek. “Of nee, wag, ek jok. Dis pizza. Ek maak beurte.”
Of dit nog die rooiwyn is wat deur my are bruis, weet ek nie, maar ek doen wat vir my ’n vreemde ding is. “Bring jou kos, dan eet ons saam in my woonstel. Daar’s messe en vurke en borde en goed.”
Hoe groot is die kans dat hy sal instem? Hierdie arme ou wat blykbaar ’n angsaanval kry die oomblik wat hy my sien aankom.
Maar dis ’n aand vol verrassings.
“Wie was die skottelgoed?” wil hy weet.
“Ons kan sommer uit die takeaway-bakke eet,” stel ek hom gerus.
Moenie bekommerd wees nie, ek verwag nie dat die saam eet tot ’n saam slaap gaan aanleiding gee nie. Ek het ’n sterk man nodig wat my behoorlik kan oorrompel en plat duik as dit nodig is, en dít sit voorwaar nie in amper-buurman se nommer 32-broek nie. Daar is nie ’n enkele amoreuse gedagte in my kop nie. Ek is bloot nie vanaand in die bui om met my potplante te gesels nie. Die arme goed lyk hoeka so verlep, asof my geselskap hulle al genoeg verveel het.
“Het jy blatjang?”
“’n Vol bottel. Mrs Ball’s herself.”
“Dan is die saak reg,” stem hy in en lyk nie heeltemal onwillig nie. Dalk het hy ook ’n glas van die een of ander iets weggeslaan in die tydjie wat ons verskillende strate in die voorstad bewandel het. Dutch courage kan mens vreemde dinge laat doen. Vra my, ek weet.
Toe die hysbak verby die sewentiende verdieping beur, lyk dit vir ’n oomblik asof hy sy waaghalsige besluit wil heroorweeg.
“Going, going, gone,” spot ek liggies. Daar is nie meer vir hom wegkomkans nie.
Op die volgende verdieping stap ons swygsaam soos mense in ’n begrafnisstoet in die gang af na my woonstel toe, ek en die Mafia-mannetjie. Die vette en die maere. Hy met sy Dinner For One, ek met my XL Pizza met ekstra kaas. Twee uitgespoeldes in ’n see van stadsmense wat almal lewens leef wat sowaar opwindender moet wees as die wat ons leef.
“As ons saam eet, moet ons seker mekaar se name ken,” merk ek op terwyl ek my voordeursleutel soek. “Ek is Lucy. Lucy Lombaard.”
“Noem my sommer Muskiet. Dis wat almal doen.”
“Muskiet? Hoekom Muskiet? Daar is seker ’n storie aan.”
“Nie veel van ’n storie nie, net ’n goeie beskrywing.”
Hy staan effens opsy, beduie met sy hand na sy lyf. Ek krap in my sak asof my lewe daarvan afhang en besef ek bloos. Want dis eintlik ’n baie gepaste beskrywing, amper beter as Mafia-mannetjie. O, ek weet alles van byname en skelname, maar gelukkig het nie een van myne so stewig inslag gekry dat ek daarmee nader geroep word nie – of, so hoop ek, dat iemand dit ooit in ’n romantiese oomblik sal prewel nie. Dis nou te sê ás ek ooit weer iets soos ’n romantiese oomblik beleef. Vetsak of Potjierol sal ’n oomblik van passie lelik kan bederf.
“Jy kan my natuurlik ook Mario noem. Dis my doopnaam.”
“Dan sal dit Mario wees,” besluit ek, want ek voel so skuldig soos iemand wat tot ses jaar hardepad gevonnis behoort te word. Ek, wat my ook maar deur my oë laat lei wanneer ek na Mario kyk. Ek doen wat mense gewoonlik met my doen, ek oordeel volgens wat ek sien, evalueer karakter en persoonlikheid en wat nog alles suiwer op grond van Mario se voorkoms.
Soos almal wat hier by my woonstel inkom, steek hy in sy spore vas. Hy vra nie dadelik uit nie, dink seker dit sal nie cool wees vir ’n stadsmannetjie soos hy om by die aanskoue van soveel skoonheid te verstar nie. Hy staar nietemin ’n hele paar sekondes na die tamaai afdruk van Sophie Gengembre Anderson se feetjie-skildery wat in die portaal hang.
“Mooi, nè?” por ek hom aan.
“Ek hou nie eintlik van airy-fairy stuff nie.” Tog kry hy dit steeds nie reg om weg te stap nie. “Die engel lyk nogal na jou.”
“Dis nie ’n engel nie, dis ’n feetjie,” mompel ek. Maar dit maak nie regtig saak nie. Dis die gedagte wat tel. Ek dink nie iemand het al in my hele ganse lewe vir my so ’n mooi kompliment gegee nie. Net daar kruip Mario pens en pootjies in my hart. Hy het dalk die sosiale grasie van ’n gewonde leeu, maar hy is sowaar nie net gemaak en gelaat staan nie. Ek het sommer lus en soen hom, maar ek vermoed hy sal van die balkon af spring en sy nek breek.
“Is dit omdat die feetjie in die skildery ook vet is?”
“Vet?” Hy kyk my aan asof ek met my vet lyf en al onlangs op my kop geval het. “Jy’t ’n stunning body aan jou, dis al wat ek weet.”
Stunning body? Wie? Ek? Wat rook dié ou? Maar ek sal vat wat ek kan kry.
“Nie volgens gewone standaarde nie …”
Ek probeer lag sodat Mario nie te behoorlik kan sien wat in my binneste aangaan nie. Ek meen nou maar, ek ken hom nog nie eens nie. Om my achilleshiel vir hom – of enigiemand anders – te wys, kan gevaarlik wees.
“Probeer gerus om ’n stofpoepertjie te wees as almal om jou six-packs en boarms soos Popeye flaunt, dan praat ons weer.”
Ek kyk hom so. Mario, alias die Mafia-mannetjie, alias Muskiet, sal nie sonder serious swoeg of sweet swaar goed kan ronddra nie. Of ’n vroumens op ’n “Me Tarzan, you Jane”-manier op ’n dubbelbed kan neergooi nie.
En ek weet ek trap op omgedolwe grond. Ek weet, want ek ken van.
Ek wil hom van my feetjies vertel, waar hulle vandaan kom en waarom ek hulle nodig het, maar ek is nie seker of hy sal wil luister nie. Toe doen ek maar wat al die vrouetydskrifte jou aanraai om te doen as jy ’n man op sy gemak wil stel. Ek vra hom uit oor wie en wat hy is.
“Ek is ’n computer nerd, sit nagte om en karring aan die goed.”
Geen wonder hy is so bleek en onderstebo soos ’n vlermuis wat nooit die son sien nie.
“Great! Dan kan jy my computer guy wees. Elke girl het ’n computer guy in haar lewe nodig.”
“Ek werk nie vir love and charity nie, hoor,” waarsku hy.
Nee, seker nie, want dan sou hy nie ’n bestaan kon maak nie.
Ek wíl nie hierdie goed dink nie, dis nie mooi en goed en gaaf en vriendelik nie, ek weet. Maar die gedagtes spring ongenooid my kop binne. Ek skaam my, want ek is seker nou eenmaal nie ’n goeie mens nie.
Ons beweeg al pratende voetjie vir voetjie kombuis toe, waar ons tog maar ons kos in regte borde skep voordat dit te koud raak. Toe verkas ons na die sitkamer, sit sommer op die vloer met die borde op ons skote. Ek probeer die atmosfeer so ontspanne moontlik hou. As pretensie by die voordeur inkom, waai spontaneïteit mos gewoonlik by die agterdeur uit. En dis spontaneïteit wat ons tot hier gebring het. Dit en ’n tikkie malligheid.
Ek sal nou nie sê ek en Mario gesels daarna ’n hond uit ’n bos nie, maar dit raak gesellig genoeg tussen ons. Sien, dis wat gebeur wanneer daar geen chemistry is nie, geen kans op ’n love affair nie, nie eens van ’n skelm vryery nie. ’n Ou en ’n meisie kan mekaar platonies leer ken en ’n broodjie breek sonder dat dinge onnodig gekompliseerd raak.
“Ons moet dit weer doen,” sê ek toe ek hom ’n uur of wat later by die deur afsien.
“Net nie in my woonstel nie,” waarsku hy. “Daar’s net genoeg plek vir een mens op ’n keer.”
Ek glo hom. Mario lyk na die tipe ou wat die leë bokse waarin die takeaways na sy woonstel toe aangedra is, sal opgaar vir moontlike hergebruik op ’n ander dag. Hy deel heel moontlik sy blyplek met ’n hele kolonie uitgevrete kakkerlakke wat ’n smaak vir kerrie-en-rys ontwikkel het.
Dis nie heeltemal my scene nie. Eerder