Niël Barnard

Vreedsame revolusie


Скачать книгу

      

      Niël Barnard

      met Tobie Wiese

      VREEDSAME

      REVOLUSIE

      Uit die enjinkamer van die

      onderhandelinge

      TAFELBERG

      Aan die miljoene staatsamptenare wat oor meer as drie eeue Suid-Afrika help ontwikkel het, soms met ’n bietjie loodswaai maar meestal met uitnemende deursettingsvermoë.

      Voorwoord

      As hoof van die Nasionale Intelligensiediens gedurende die apart­heidsbedeling was Niël Barnard in ’n unieke posisie om nie net die historiese oorgang in Suid-Afrika met besondere agtergrondkennis te betrag nie, maar ook om ’n invloed op die gebeure self uit te oefen. Komende van iemand wat midde-in die branding gestaan het, is dié boek, wat ’n onverbloemde binneblik op die gebeure werp, ’n besonder welkome toevoeging tot die skamele literatuur van hierdie aard.

      Die skrywer skroom nie om sy eerlike mening oor sake en individue te gee nie. Alhoewel sommige onderhandelaars oor denkfoute, onvanpaste strategieë en by tye gebrekkige toewyding ge­striem word, is Barnard nie daarop ingestel om ander voor die voet te verdoem nie. Hy temper sy uitgesprokenheid met insig. Soms is hy ook krities oor sy eie rol tydens die onderhandelinge.

      Uit hierdie werk blyk eweneens die uitermate hoë druk waaronder onderhandelaars verkeer het en die onstuimige konteks waarbinne lotsbepalende besluite geneem moes word. Dit dwing die leser om nie self haastige oordele te vel nie en om die uitkomste in ’n breër verband te beskou. As ’n uitmuntende voormalige akademikus en toe langer as ’n dekade die intelligensiehoof in ’n snel veranderende Suid-Afrika het Barnard ’n skerp en ewewigtige oordeel ontwikkel. Dit stel hom in staat om ’n volronde beeld van komplekse verwikkelinge aan te bied.

      Dié boek bevat ook nuwe insigte oor die denke wat in die geledere van onder andere die African National Congress (ANC) en Inkatha geheers het en die vernuftige voetwerk wat dit geverg het om veelpartyonderhandelinge op koers te hou. Die verloop van die geskiedenis kan wel met die voordeel van agternakennis logies en vanselfsprekend lyk, maar tydens die gebeure was dit selde die geval. Dié kwessie het ook, soos Barnard uitwys, by die omstrede Waarheids-en-Versoeningskommissie ter sprake gekom.

      Wat tydens die onderhandelinge gebeur het en die wyse waar­op die ANC die mag ingepalm het, asook die dikwels onuitgesproke aannames wat daarmee gepaardgegaan het, werp ’n lang skaduwee oor Suid-Afrika se resente geskiedenis. In ’n maklik leesbare styl laat die skrywer die soeklig op die dinamika van destydse gebeure val wat ons in staat stel om die huidige beter te verstaan.

      Prof Albert Grundlingh

      Departement Geskiedenis

      Universiteit Stellenbosch

      Hoofstuk 1

      “Ons het dit begin”

      DIT IS NEGE-UUR die oggend van 20 Desember 1991 in die voorportaal van die World Trade Centre in Kempton Park. By­kans 300 verteenwoordigers van die NP-regering en 18 ander politieke partye is hier om voor die oë van die wêreld ’n vreedsame skikkingsproses in Suid-Afrika van stapel te probeer stuur. Amptelik heet dit die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa).

      Die atmosfeer is bykans elektries gelaai van opwinding, af­wag­­ting en ook onsekerheid. Soos dit ’n intelligensiehoof betaam, betrag ek die dolle vrolikheid van my landgenote vanuit die spreek­­­woordelike agterste gestoeltes – met groot genoegdoening.

      Nelson Mandela, toe al op pad om die land se eerste demo­kra­tiese president te word, daag onder groot gedruis en heldever­erende blikke van al die aanwesiges op. Die politici vertrap mekaar om tog in sy geselskap te kom. Die ou man merk my agter die malende menigte op en stap nader.

      “Dankie, meneer,” antwoord ek, en voeg gedemp by: “Maar moet tog nie te veel aandag aan my gee nie. Die ego’s van die politici sal nie so ’n blyk van erkenning aan ’n amptenaar kan verduur nie.”

      Hy het betekenisvol geglimlag en stadig weggestap. Min het ons geweet hoe plofbaar dinge dié dag sou verloop.

      Hoofstuk 2

      Ontmoet die vyand

      Die World Trade Centre digby Johannesburg was ’n beskeie, bykans Spartaanse, vergaderplek. Dit het niks van die swier, prag en praal van ander lotsbepalende vergaderplekke soos die Paleis van Versailles gehad nie, maar dit was gerieflik genoeg en prakties: naby die destydse Jan Smuts-lughawe, asook die buro­kratiese hartklop van die amptenary in Pretoria, struktureel maklik aanpasbaar en in die omgewing was volop verblyf beskikbaar.

      Afgesien van die opwinding in die lug omdat verteenwoordigers van feitlik die volle politieke spektrum die eerste keer in die land se geskiedenis saam ’n nuwe toekoms gaan uitwerk, is daar ook spanning. Die rede is dat die ANC steeds in gebreke bly om die demobilisering van Umkhonto we Sizwe (MK), beheer oor wapen­opslagplekke en hul verdere plegtige ondernemings ingevolge die DF Malan Akkoord van tien maande tevore oor gewapende geweld na te kom.

      Dit was so ’n ernstige saak dat pres. FW de Klerk die vorige dag nog gedreig het om die Regering aan dié historiese eerste ronde onderhandelinge – wat bekend geword het as Kodesa 1 – te onttrek.

      Die vorige aand is ’n lang en intense debat hieroor by ’n vergadering van die Regering se Beleidsgroep vir Hervorming (BGH) gevoer. Uiteindelik het gesonde verstand geseëvier, nl. dat die Re­gering op geen manier dié veelpartykonferensie kon kanselleer nie. Die politieke dinamiek in die land en die onderhandelinge tussen die Regering en die ANC, asook tussen die Regering en ander partye, het sedert die Groote Schuur Minuut die vorige jaar reeds ’n momentum opgebou wat selfs in daardie vroeë stadium nie eensydig deur die Regering aan- en afgeskakel kon word nie.

      Hoofregter Michael Corbett het die konvensie geopen waarna die gesamentlike voorsitters, regters Petrus Schabort en Ismail Mahomed, die verrigtinge gelei het.

      Heel gepas is die verrigtinge en die vredesproses deur leiers van die volle godsdienstige spektrum van Suid-Afrika met gebede en wydingswoorde aan die Voorsienigheid opgedra. Vir baie was dit vreemd om dominees, rabbi’s, pastore, biskoppe en imams by die­selfde geleentheid die seën van hul godheid oor die byeenkoms te sien afbid. Heel vroeg het dit ’n onmiskenbare boodskap uitgestuur oor die diversiteit van die reënboognasie en die bereidwilligheid om vir mekaar ruimte te skep.

      Leiers van al die politieke partye het daarna hul openingstoe­sprake gelewer, terwyl die bykans 300 afgevaardigdes aandagtig geluister het. Dié 19 partye het met uitsondering van drie regse partye en drie linkse splinterpartye die volle politieke spek­trum verteenwoordig.

      Die groot partye was almal teenwoordig – behalwe hoofminister Gatsha Buthelezi van die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) en die Zulu-koning Goodwill Zwelithini. Dit was ’n vroeë teken van die struikelblokke wat uit daardie oord sou opduik.

      Die Kodesa-onderhandelinge het nie uit die lug geval nie.

      Hoewel hy vandag weinig erkenning daarvoor kry, is die aanvoorwerk vir die “nuwe Suid-Afrika” deur pres. PW Botha gedoen wat in 1988 ingestem het tot geheime en verkennende – en later lotsbepalende – gesprekke tussen verteenwoordigers van die wit NP-regering en die onbetwisbare simbool van die swart bevrydingstryd, Nelson Rolihlahla Mandela.

      Hierin het die Nasionale