dag ná dag, nag ná nag en naweek ná naweek voortgeslinger. Dit is ’n illusie dat alles netjies en volgens plan verloop het. Dikwels is van dag tot dag en van tafel tot tafel voortgestoei sonder duidelike doelwitte by die meeste van die deelnemers. Krisisse is wanneer dit voorgekom het, aangepak en meestal opgelos. Dit was alleen moontlik danksy die onderlinge vertroue en vasberadenheid van die kerngroep onderhandelaars vir wie vrede ’n passie geword het.
Die meeste onderhandelinge is in die Staatkundige Ontwikkelingsdiens (SOD) se hoofkantoor by Walkerstraat 240 in Pretoria gevoer, maar baie daarvan ook oor die lengte en breedte van die land – selfs in ’n buurland. Van D’Nyala in die Bosveld en De Hoop in die Suid-Kaap tot die ivoortorings van die Witwatersrand en die staatsgeboue van Pretoria is intense debatte met veral die ANC gevoer. By Ulundi en elders in Natal is eindelose diskoerse met die Inkatha-Vryheidsparty gehou.
Die PAC is in Gaborone ontmoet omdat hulle geweier het om op Suid-Afrikaanse bodem te onderhandel. Die regses is, heel gepas, op ’n jagplaas in die verre Noord-Transvaal op die walle van die Limpopo te woord gestaan waar Thomas Langley volgehou het dat die beoogde volkstaat volle diplomatieke verteenwoordiging in die buiteland moet geniet.
Ook die ou Verwoerdgebou by Pleinstraat 120 in Kaapstad was die tuiste van onderhandelinge, onder andere met talle splintergroepe en flentergatpartye, soos PW Botha hulle genoem het. Almal was skielik in hul eie oë tog te belangrik om oorgeslaan te word in die soeke na ’n politieke oplossing. Dit was ’n uitdaging om hulle enersyds nie af te stoot nie en andersyds te laat verstaan dat hul bedingingskrag by die onderhandelinge breedweg in ooreenstemming moet wees met hul (in daardie stadium ongetoetste) steunbasis.
Kom wat wil, daar moes na almal geluister word om volle deelname deur almal te verseker. So gesê, so gedaan.
Die ANC se span
Die ANC se onderhandelingspan was gedug en het vele fasette verteenwoordig. Boonop het hulle die voordeel van ’n wêreldikoon as prinsipaal en leier gehad.
Meermale het Mandela die onderhandelinge soos ’n Stradivarius-viool bespeel. Almal het geweet dat sy instemming die finale toets was wat hom eintlik ’n vetoreg besorg het. Wanneer dit uit sy oogpunt nodig was, was hy onversetlik. Soms was hy bykans banaal met verwytende passie, byvoorbeeld oor die “Derde Mag” en veiligheidsake; iets waaroor hy en die ANC self knus agter die deur gestaan het.
Waarom was Cyril Ramaphosa die uitverkorene om die ANC-span te lei, en nie Thabo Mbeki nie wat immers ’n leeue-aandeel in die voorbereiding gehad het?
NI se bronne het ’n heel logiese verduideliking daarvoor verskaf wat deels geleë was in die interne konflik in die ANC tussen die verrinneweerde binnelandse United Democratic Front-vleuel en die bedorwe buitelandse vleuel. Eersgenoemde is deur die veiligheidsmagte gekarnuffel; laasgenoemde het oorsee in spoghotelle gerinkink. Dit was die persepsie, maar ook deel van die werklikheid.
Mbeki is deur die ANC-leierskap as die skerpsinnige intellektueel beskou wat te sag met die Regering sou onderhandel. Ramaphosa is gesien as die stormram wat die Regering se onderhandelaars op hul plek sou sit. Toe die pendulum ten gunste van aggressiewe onderhandelinge swaai, was Ramaphosa met sy persoonlikheid en ervaring van vakbondonderhandelinge die aangewese persoon.
Mbeki het sy ondersteunende rol oënskynlik met grasie aanvaar. Hy het dikwels gehelp om knelpunte te ontlont, veral met die regse Afrikaners en die stryd om hulle deel van die vredesproses te maak. Mbeki was skerp maar nooit geniepsig nie. Hy is ’n goeie luisteraar, soek oplossings en help almal om kerndilemmas duidelik uiteen te sit. Almal het geweet hy was uit eie reg en as ’n protégé van Oliver Tambo ’n swaargewig met toegang tot Mandela.
Ramaphosa was eweseer skerpsinnig en altyd goed voorberei. Hy het nie doekies omgedraai nie – ’n eienskap wat goud werd was. Onderhandelinge gaan, soos die Duitsers sou sê, oor “blut und boden”-kwessies; dit het Ramaphosa goed verstaan. Hy is ’n vriendelike mens, maar het hom soms soos ’n sammajoor op die paradegrond gedra. Dan was hy bombasties en selfs arrogant, soos die dag toe hy my terwyl ek Afrikaans gepraat het, toegesnou het dat alle amptenare veronderstel was om tweetalig te wees.
Hy het gravitas en talle talente na die tafel gebring. Almal het geweet as Cyril deel van ’n plan was, was die kans op sukses so te sê verseker.
Die res van die ANC se kernspan was eweneens talentvolle mense: Joe Slovo, Mac Maharaj, Valli Moosa en soms Mathews Phosa. Hulle was goed voorberei en het mekaar uitnemend aangevul, soos ’n Olimpiese aflosspan wat die stokkie foutloos van die een na die ander aangee. Hul duidelike doelwit – ’n demokratiese bedeling vir Suid-Afrika – het hulle ’n onbetwisbare voordeel besorg. Intellektuele en akademiese beredeneringe kan nie kers vashou by die realiteit van die volkswil by die stembus nie. Agter in elke onderhandelaar se kop weet hy of sy dit baie goed.
Dan was daar ook nog die ANC se uitgebreide onderhandelingspan wat na gelang van temas en knelpunte betrek is, onder andere Jacob Zuma, Joel Netshitenzhe, Barbara Masekela, Baleka Kgositsile (later: Mbete), Joe Modise, Zola Skweyiya, Arthur Chaskalson, Siphiwe Nyanda en Aziz Pahad. Almal ou strydrosse, die meeste van hulle met uitstaande “struggle credentials” wat hulle met gesag laat praat het.
Dit is insiggewend om die duisende dae wat van die ANC-onderhandelaars op sneeubedekte paradegronde in Oos-Duitsland, in luisbesmette kasernes in Angola en Uganda en agter tralies in Suid-Afrika deurgebring het – tesame met die vrees dat die Weermag se Spesmagte enige tyd op jou lêplek in een van die buurstate kon toeslaan – te vergelyk met die gemaklike leunstoellewe van die Regering se onderhandelingspan.
Aanvanklik het die ANC tydens die onderhandelinge verward voorgekom. Niemand kon agterkom wie die septer swaai nie. Was dit Mandela, of die binnelandse UDF-vleuel, of die buitelandse Thabo Mbeki-vleuel, of die SAKP of Cosatu? Dit was veral tussen die binnelandse vleuel en die buitelandse vleuel, wat spoedig in groot getalle na die land teruggekeer het, waar die onderlinge spanning selfs vir buitestaanders duidelik was. Nogtans is hulle deur die allesoorheersende ideaal van bevryding saamgebind.
Van deurslaggewende belang vir die ANC was die ondersteunende massas; ’n kritieke boublok van hul onderhandelingstrategie wat deur drie magselemente gerugsteun is. Eerstens sou die massas sorg dat die ANC die verkiesing demokraties wen en hulle moes dus vertroetel word. Hul nukke en jare lange opgekropte woede moes dus voortdurend verreken word. Alle gesprekke vir vrede was ter wille van hul redding uit onderdrukking, was die wekroep. Dít het alle gesprekke, met ’n goeie dosis apartheidsbittergal daarby, deurspek.
Tweedens was hulle die ANC se alibi. Wanneer die organisasie hom vasgeloop het in debatte, is eenvoudig verklaar dat die massas dit nooit sou aanvaar nie. Dit was deurentyd ’n effektiewe afdreiging, want so ’n groot steunbasis kon nie geïgnoreer word nie.
Derdens was die massas daar om tot massa-aksie of geweld opgeroep te word indien die onderhandelinge vasval en die ANC nie hul sin daar kry nie. “Ons sal die massas mobiliseer om julle hardkoppigheid die nek in te slaan,” was die dreigement. Dit bly ’n feit dat politici daar is om mense te dien. Wie dit verontagsaam, betaal altyd op die ou end die prys daarvoor.
Binne Suid-Afrika en in die buiteland was daar ook ’n leërskare meelopers wat die ANC met raad en daad bygestaan het: onder andere die Verenigde Nasies, die Organisasie vir Eenheid in Afrika (later die Afrika-Unie), die Europese Unie (EU), tallose internasionale megamaatskappye en banke, kerkordes, nieregeringsorganisasies, sportbeheerliggame, universiteite . . . Almal het met advies en geld aan die ANC bygedra om die bose Pretoria op sy knieë te dwing.
Afrika het feitlik bankvas agter die ANC gestaan, vergelykbaar met ’n kontinentale tsunami om die vasteland van die laaste vesting van wit koloniale oorheersing te bevry, want daarsonder is die kontinent se bevryding nog nie afgehandel nie. Gevolglik is elke denkbare vorm van ondersteuning ingespan: van militêre basisse vir MK-vegters tot diplomatieke druk en eindelose aanhitsing op internasionale forums. Van dié lande het ’n hoë ekonomiese prys vir hul ondersteuning betaal, maar hulle het broederlik skouer-aan-skouer in die stryd gestaan.
Dan was daar ook wat ons in Regeringskringe die “vyfdekolonners” genoem het: Mense wat uit die boesem van die ou