Niël Barnard

Vreedsame revolusie


Скачать книгу

nuwe simbole vir die land, die amptelike landstaal of -tale, ensovoorts.

      Die Regering se bestuursmeganismes vir die onderhandelinge was deels die gevolg van pres. De Klerk se obsessie om amptenare op hul plek te hou en politici se soewereine gesag te handhaaf. Dit was van die amptenare se kant nooit in die gedrang nie. Ons het altoos “ons plek geken”, maar ons het ook genoeg siniese insig in die swakheid van politici gehad om ons nie deur hulle te laat intimideer nie.

      Met die beplanningstrukture van die Regering se onderhande­lingspoging het daar min geskort – met die beoefening, besluit­neming en uitvoering baie.

      Die Regering het oor ’n unieke bate in die vorm van ’n uitgelese korps amptenare beskik – iets wat die ANC en ander partye nie gehad het nie. Die ANC het veral op buitelandse bedmaats, invloedsmouse en geplante “kenners van staatsadministrasie” staat­gemaak om hulle by te staan. Daar was klaarblyklik ook ’n groot gros amptenare wat toe reeds as simpatiseerders, heimlike ondersteuners of betaalde beïnvloedingsagente vir die ANC ge­werk het.

      In die geheel was die amptenare egter van ’n besondere stoffasie. In die bestuurskader was talle topamptenare wat uit die kultuur van die armblankevraagstuk gekom het en wat harde werk, lojaliteit en deursettingsvermoë saam met moedersmelk ingekry het. In talle departemente was van die room van ’n jonger garde van afgestudeerde universiteitstudente wat innoverend ge­arbei het en van die burokrasie ’n vernuwende en kragtige mega­­nisme vir landsadministrasie wou maak. Daar was natuurlik ook die gewone kwota loodswaaiers, asook hier en daar verstokte bestuurders wat nie aan die eise van moderne landsadministrasie voldoen het nie.

      Toe ek jare later deel was van die Regering se poging om vrede tussen die Jode en Palestyne te bewerkstellig het ek met trots en dankbaarheid aan die rol van die AK11 teruggedink. Ons het nie soos hulle vrede gepredik maar dankbaar redes ontdek waarom onderhandelinge opgeskort moet word nie.

      Ons het ook oënskynlik onoorkomelike probleme in die gesig gestaar, maar ons benadering was anders. Ons het ons probleme prontuit aangepak en oplossings gesoek – nie verskonings nie. In sy bydrae hiertoe, asook die waarborg van ’n ordelike onderhande­lingsproses, het die AK11 ’n unieke en navolgenswaardige voorbeeld gestel.

      Hoofstuk 5

      Openingsakkoorde

      Die dag dat die twee groot politieke protagoniste in Suid-­Afrika gedurende die vorige halfeeu – die Nasionale Party en die African National Congress – mekaar in die oë kyk en saam om ’n tafel gaan sit om te beraadslaag, het uiteindelik aangebreek.

      Ek en Mike Louw, my adjunk by Nasionale Intelligensie, het vroeg die oggend van 2 Mei 1990 by Groote Schuur, die impo­sante Kaapse herehuis van die aartskolonialis Cecil John Rhodes, opgedaag om ’n ogie oor die reëlings te hou. Ongewoon vir intelligensiemense teken ons ons name boaan in Groote Schuur se besoekersboek. Later volg die name van talle van die groot geeste. Daarna betrag ek en hy met geamuseerdheid hoe van dié “groot geeste” in die politieke en openbare lewe mekaar uit die pad werskaf om tog ook in die prentjie te wees tydens pres. FW de Klerk en Nelson Mandela se perskonferensie op die trap van Groote Schuur.

      Toe die twee spanne daarna weg van die kameras om ’n tafel plaasneem, was die spanning voelbaar. Die strydrosse van albei kante was daar: benewens De Klerk ook ministers Gerrit Viljoen, Pik Botha, Dawie de Villiers, Kobie Coetsee, Stoffel van der Merwe, Adriaan Vlok, Barend du Plessis en adjunkminister Roelf Meyer. Van die amptenarekant, buiten ek en Mike Louw, ook Fanie van der Merwe, Willie Willemse, Jannie Roux en Basie Smit.

      Terloops, dit sou ’n goeie waarnemer opgeval het dat genl. Magnus Malan nie daar was nie. Dit was ’n groot fout van die president om die minister van Verdediging uit te sluit. Ek het hom meer as een maal tydens die voorbereidings daarteen ge­adviseer, maar hy het naïewelik gedink dat vrede niks met oorlog te make het nie. Sekerlik het daar ook in sy besluit ’n goeie dosis vergelding gesit oor die vermeende rol wat die sekurokrate voor 1990 gespeel het. Sy kortsigtigheid oor die veiligheidsmagte het hom egter duur te staan gekom namate die vredesproses ontvou het.

      Aan die ANC se kant was daar benewens Mandela ook Thabo Mbeki, Joe Slovo, Walter Sisulu, Ahmed Kathrada, Jacob Zuma, Mathews Phosa, Penuell Maduna, Alfred Nzo, Curnick Ndlovo, Archie Gumede, Cheryl Carolus, Ruth Mompati en dr. Beyers Naudé.

      Op die agenda was net twee sake: Om mekaar te leer ken en ’n padkaart vir die nuwe Suid-Afrika te begin uitwerk.

      Die partye het mekaar versigtig aan die tand gevoel. Sonder om dit te lug het almal instinktief geweet dat niemand die bal mag laat val nie. Die bydraes was beheersd en soms selfs bedees. Die lang en geheime voorbereidingsgesprekke het sekerlik ’n groot rol daarin gespeel dat albei kante by die sake voorhande wou hou en nie in propagandistiese galerytoesprake verval nie.

      NI het vooraf aan die Regeringspan professionele en sensitiewe persoonlikheidsprofiele van die ANC-onderhandelaars verskaf. Ons het gemeen dit is uiters bruikbare inligting wat die Regering goed sou toerus, maar helaas – van die naïewe Regeringspolitici was ontsteld dat ons dit kon waag om persoonlikheidsontledings van politici te maak. Dalk was hulle meer bekommerd oor wat ons dalk van hulle geweet het as om die waarde van dié inligting tot hul voordeel te gebruik.

      Die aand was daar ’n aangename sosiale interaksie waartydens die einste Joe Slovo “kamerade” en “vyande” met sy kwinkslae laat skater het. Toe die elektriese kragbron van die markiestent ’n wind sluk, het Slovo se stem helder in die donkerte weer­klink: “This reminds me of Lusaka.”

      Die volgende dag is die gesprekke voortgesit. Dit was soms maar saai en retories en namate dit voortgedraal het, het al meer geniepsighede aan albei kante opgeduik. Dit is nou maar eenmaal eie aan onderhandelinge dat politieke deelnemers só optree dat hulle daarna hul magsbasisse kan verseker dat hulle onwrikbaar op dié punte gestaan het wat hul ondersteuners as ononderhandelbaar beskou. Só word politieke assuransiepolisse uitgeneem en strepe in die sand getrek.

      Reeds by Groote Schuur was dit duidelik dat openbare onderhandelinge met wenners en verloorders in die openbare oog, nie oplossings sou bring oor die taai kwessies wat voorgelê het nie. Ongelukkig sou baie tyd verloop en – veel meer tragies – baie lewens ingeboet word voordat vertroulike onderhandelinge deur vertroude kerngroepe die deurslag in die skikkingsproses sou gee.

      Gode sy dank, het almal besef dat dié eerste gesprekke oor onderhandeling tot elke prys moes slaag. Aan die einde van die beraad is die sogenaamde Groote Schuur Minuut, wat hoofsaaklik deur Pik Botha opgestel is, deur albei kante aanvaar.

      As uitgangspunt is ooreengekom op ’n gesamentlike verbintenis “om die heersende klimaat van geweld en intimidasie, uit watter oord ook al” uit die weg te ruim en albei partye te verbind tot stabiliteit en ’n vreedsame onderhandelingsproses.

      Daar is besluit om ’n werkgroep te stig wat aanbevelings sal doen oor die omskrywing van “politieke oortredings” in die Suid-­Afrikaanse omstandighede, oor die vrylating van politieke gevangenes en die vrywaring van vervolging van politieke oortreders. Die Regering het ook onderneem om die bestaande veiligheids­wetgewing in ooreenstemming te bring met “die nuwe dina­mie­se situasie” wat in die land ontwikkel ten einde normale en vrye politieke bedrywighede te verseker.

      As historiese afskopbelydenis vir vrede deur onderhandeling was Groote Schuur ’n roemryke moment in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Op die oog af het dit niks opspraakwekkends opgelewer nie, maar die feit dat dit plaasgevind het, het in die openbaar die hoeksteen gelê dat Suid-Afrikaners saam die Rubikon wil oorsteek.

      * * *

      Minder as twee maande later, op 24 Junie 1990, is ’n hoogs geheime en gekodeerde boodskap van Mac Maharaj in Johannesburg aan Siphiwe Nyanda in Durban gestuur. Dit verwys na “pieces” (kodewoord vir vuurwapens) wat deur “Ntaba” (kodenaam vir Jacob Zuma) se “outfit” gestoor moet word.