pieces if it is suitable for use by us, even if on a temporary basis.”1
Enkele weke later is Nyanda in hegtenis geneem weens sy vermeende betrokkenheid by Operasie Vula. In die motor in sy besit word afgekom op verstekingskompartemente. Daarin is ’n .45 kaliber-submasjiengeweer, kompleet met knaldemper en optiese nagsigtoerusting.
Was dit deel van ’n beplande aanslag op Mandela se lewe? Het sekere radikale in die ANC geglo dat ’n moord op Mandela die vonk vir die revolusionêre oorname van die land sou verskaf?
Nyanda het self vroeër daardie jaar in die SAKP-mondstuk The African Communist geskryf dat “a single spark can start a veld fire” en verwys na ’n oproep tot die massa “which triggers a chain of events leading to insurrection . . .”2
Die oorsprong van Operasie Vula het teruggestrek tot 1987 toe sekere lede van die uitvoerende komitee van die ANC – wat feitlik almal ook lede van die sentrale komitee van die SA Kommunistiese Party (SAKP) was – ’n sogenaamde “President’s Committee” in die lewe geroep het. Dié komitee moes voortaan die ANC se geheime bedrywighede onder die kodenaam “Vula” uitvoer wat ’n binnelandse en buitelandse tak gehad het. Aan die spits van sake in die binnelandse tak was Mac Maharaj, Ronnie Kasrils en Siphiwe Nyanda.
Maharaj en Kasrils het twee jaar later onwettig en ongemerk die land binnegekom om die ondergrondse strukture vir Operasie Vula te help vestig. Nadat vredesgesprekke ’n aanvang geneem het én die Groote Schuur Minuut onderteken is, het hulle stilletjies die land verlaat sodat hulle daarna openlik en wettig kon terugkeer. Dit was egter nie die einde van hul planne nie.
Vroeg in Julie 1990 het die Veiligheidspolisie op grond van inligting op sekere huise en plekke in Durban en omgewing, en later ook in Johannesburg, toegeslaan. Benewens wapens, plofstof, kleefmyne en elemente vir die vervaardiging van motorbomme, is ook beslag gelê op gesofistikeerde kommunikasietoerusting, sowat 1 000 bladsye se dokumente en rekenaardrukstukke van sowat 4 000 bladsye met uitgebreide planne vir ’n gewelddadige oorname van die land.3
Op die voetspoor van klassieke kommunistiese doktrine sou ondergrondse basisse gestig word wat tot die skepping van ’n volksleër sou lei wat op sy beurt opgelei en van die nodige logistieke steun voorsien sou word om ’n volksopstand te lei. Die opleiding van kaders, soortgelyk as wat MK-lede reeds in lande soos Angola, Tanzanië en Oos-Duitsland ondergaan het, het volgens die dokumente reeds in Mei 1990 begin.
Op 7 Mei is ’n hoogs geheime raadplegende konferensie van die SAKP by Tongaat in Natal gehou waar figure soos Kasrils en Slovo vasbeslote was om die bewegingsvryheid (die “ruimte” volgens die leerstellings van Mao Tsedong) te benut wat deur die aankondigings van 2 Februarie geskep is.
In Kasrils se woorde: “Taking the thesis seriously, we should be wary that we do not think that now with negotiations, we have arrived in Babylon. The legal space now creates the possibility of this kind of uprising much more than ever before . . .”4
* * *
Hoewel Mandela hoog en laag gesweer het dat hy nie van Operasie Vula bewus was nie, moet sy en die ANC-onderhandelaars se ongemaklike ontkennings met streepsakke sout geneem word. Dit is eenvoudig nie hoe die ANC se besluitnemingsprosesse gewerk het nie. Oliver Tambo, president van die ANC, was self ’n lid van Vula se buitelandse tak.5
Indien die Polisie meer outonoom en “volgens die boek” opgetree het – waarop hulle sekerlik geregtig was – en van die onderhandelaars in hegtenis geneem en van MK se “veilige huise” verwoes het, kon die onderhandelinge nog voor dit in alle erns begin het, ontspoor het. Dit strek pres. De Klerk en die veiligheidsmagte tot eer dat hulle ingesien het dat die ANC dubbele voorsorg probeer tref het om te voorkom dat “die Boere” hulle uitoorlê.
Nóg ’n minuut en ’n akkoord
Die volgende ronde samesprekings tussen die Regering en die ANC was ’n uitvloeisel van die Groote Schuur-beraad drie maande tevore. Dié keer was die vergaderplek vir die byeenkoms op 6 Augustus 1990 die presidensiële gastehuis in Pretoria. Die onderhandelingspanne was kleiner as by Groote Schuur; die druk op albei kante en die gevolglike spanning om te presteer aansienlik hoër.
Die kerndilemma het lewensgroot in die gesprekke gestaan: Geweld en vrede is onversoenbaar. Die staatkunde leer dat geweld soms vrede tot gevolg het. Dié soort vrede is meestal die gevolg van konflik waaruit een party as die duidelike oorwinnaar uit die stryd tree. Dit was egter hoegenaamd nie in Suid-Afrika die geval tydens die onderhandelinge in Pretoria nie.
Die vraagstuk oor die gebruik van geweld as ’n middel tot ’n politieke doel het die Regering en die ANC in ’n skaakmatsituasie geplaas. Die Regering, wat die swaardmag moet hanteer om reg en orde te handhaaf, is deur die ANC daarvan beskuldig dat hy dié funksie skromelik misbruik om die swart bevolking hul legitieme aanspraak op volle demokratiese politieke regte te ontsê.
Die ANC se dilemma aan die ander kant is dat hy nie tegelykertyd oor vrede op ’n vreedsame manier kan onderhandel én met sy terreurstryd voortgaan om ’n skikkingsproses af te dwing wat reeds begin het en waartoe hy hom by Groote Schuur moreel en kontraktueel verbind het nie.
Daarby vertrou die ANC die Regering nie en beskou die beëindiging van die gewapende stryd as die afswering van hul enigste wringkrag op die onderhandelinge. Vir hulle is onderhandeling sonder die instandhouding van die gewapende stryd, vrede tot elke prys wat daartoe kan lei dat hulle die onderhandelinge én die vrede verloor.
’n Mens moet die vrees verstaan dat die formidabele Suid-Afrikaanse Weermag, gesteun deur ander simpatiekes in die veiligheidsmagte en verregse wit reaksionêre, ’n “staatsgreep” op ’n ongewapende ANC kon uitvoer. Dit kan nie ontken word nie dat daar in dele van die veiligheidsmagte en onder verregses heftige verset teen die onderhandelinge was en dat staatsgreeppraatjies daar soms dik geloop het.
Ná indringende en langdurige debatte is by Pretoria ooreengekom dat die ANC se gewapende stryd onmiddellik opgeskort (“suspend”) word, let wel: nie beëindig word nie.
Dit was kardinale vordering en ’n wen-wen-situasie vir albei partye. Die Regering kon daarop wys dat hy ’n belangrike toegewing van die ANC verkry het en dat mense met groter gerustheid met hul lewe kon voortgaan. Die ANC kon op sy beurt sy volgelinge daarop wys dat hy nie die stryd prysgegee het nie en weer op gewapende geweld kon terugval indien dit nodig sou word.
Dié besluit, wat ’n kerndeel uitgemaak het van die Pretoria Minuut, was ’n briljante greep om die Regering en die ANC uit ’n wurgende skaakmat te kry.
Die minuut het, soos afgespreek by Groote Schuur, in meer besonderhede gehandel met vrywaring teen vervolging, die vrylating van politieke gevangenes en die terugkeer na Suid-Afrika van lede van voorheen verbode organisasies. Tydskale is ook neergelê.
Albei partye het ernstige kommer uitgespreek oor die voorkoms van politiek gemotiveerde geweld in Natal en daar was algemene instemming dat in die soeke na vrede en stabiliteit alle gemeenskappe moet begryp dat probleme deur onderhandeling opgelos kan en moet word. Bykomende kommunikasiekanale tussen die verskillende en strydende partye sou op plaaslike, streeks- en nasionale vlak ingestel word. In die lig van “die nuwe omstandighede wat nou ontwikkel” sou veiligheidswetgewing deurlopend hersien word, asook die moontlike opheffing van die noodtoestand in Natal.
“Ons is oortuig dat dit waarop ons ooreengekom het, ’n mylpaal op die pad na ware vrede en voorspoed in ons land kan word,” aldus die minuut.
Die Regering en die ANC het ook verklaar dat hulle nie voorgee om die enigste partye in die land te wees wat betrokke is by die proses om ’n nuwe Suid-Afrika te skep nie. “Die pad is nou oop om voort te gaan in die rigting van onderhandelinge vir ’n nuwe grondwet.”