lank en in talle Europese stede is gesprekke met verteenwoordigers van die KGB gevoer, veral met die oog daarop om hul geldelike en militêre steun aan die ANC op te skort of ten minste af te skaal. Vordering was bitter stadig, maar uiteindelik het dit uitstekende resulate gelewer.1
In Maart 1991 het twee generaals van die KGB, ene Artemof en Iwanof (wat klaarblyklik nie hul regte name was nie), op die lughawe Jan Smuts aangekom te midde van sensitiewe operasionele reëlings om die twee onder die neuse van die Veiligheidspolisie ongehinderd die land in te bring. Mike Louw, adjunk-direkteur-generaal van NI, het hulle daar ontmoet aan die begin van wat een van die interessantste besoeke was wat ’n susterdiens in die spioenasiewêreld aan Suid-Afrika gebring het.
Ons gaste was goed belese en het indringende vrae oor die land gevra. Dit het gestrek van regses in die landbousektor tot die rol van etnisiteit in die swart politiek (soos hulle dit in die optrede van veral die IVP tydens die onderhandelingsproses waargeneem het). Hulle het kundige vrae oor die ondersteuning en aansien van die ANC gevra en professioneel uitgevis oor die ANC-leiersfigure se doen en late. Werkloosheid en die rol van vakbonde is ook indringend bespreek.
Oor die toestand in die verbrokkelende Sowjetunie was ons kollegas verbasend openlik en ook lojaal krities. Hulle was van mening dat die veranderings in die Sowjetblok te vinnig plaasgevind het wat tot ontwrigting en ’n ordelose samelewing gelei het. Toegewings oor ’n te vroeë en vinnige transformasie was na hul mening te maklik gedoen. Boonop, het hulle beweer, was 90% van die 2 500 lede van die Parlement onkundig oor politieke sake en het hulle weinig of geen ondervinding van landsadministrasie gehad nie.
Tydens hul besoek was Artemof en Iwanof ook ons persoonlike gaste by ons strandplek “Lewensessens” by Kleinbaai aan die Suid-Kaapse kus. Engela het tipiese boerekos gekook wat skaapboud en kerrie-frikkadelle ingesluit het. Voor ete het die gesprek onder meer oor boerewors gegaan met die gevolg dat dit ook, ontradisioneel in gebakte vorm, by die vleisdis gevoeg is. Ons Russiese kollegas het veral die wors terdeë geniet en ons het nie gehuiwer om “ouma se sterfbedresep” daarvoor met hulle te deel nie.
Op 25 Maart 1991 het die twee ’n belangrike afspraak met pres. De Klerk in Tuynhuys nagekom. Artemof was die woordvoerder en het die boodskappe van sy regering oorgedra. Die eerste daarvan was dat die Russiese leier, Michail Gorbatsjof, die NI/KGB-kanaal as die amptelike kanaal vir sensitiewe sake tussen Rusland en Suid-Afrika aanvaar het.
In die toekoms behoort daar wat hulle betref, geen beletsel op samewerking te wees nie. De Klerk het saamgestem maar ook daarop gewys dat dit nie in die plek van normale diplomatieke verhoudinge mag staan nie.
Vervolgens is Gorbatsjof se gelukwense aan De Klerk met sy politieke hervormingsinisiatiewe oorgedra en die hoop gekoester dat die Sowjetunie, wat met soortgelyke prosesse besig was, en Suid-Afrika dit suksesvol en vreedsaam sal kan laat verloop. De Klerk het hiermee saamgestem waarop Artemof van mening was dat ’n persoonlike ontmoeting tussen die twee staatshoofde glad nie vergesog was nie.
Verrassend genoeg het Artemof Suid-Afrika se hulp gevra met die voorsiening van graangewasse vir die veestapel in die Sowjetunie. Gorbatsjof se amptelike boodskap was: “We are facing serious difficulties with our national economy in providing the country with feeding stocks and foodstuffs.” Hy het natuurlik nie daarna verwys dat dit die gevolg was van onder meer die katastrofale ideologiese manipulasie van die Russiese landbou nie.
De Klerk het Artemof meegedeel dat Suid-Afrika self in daardie stadium ’n tekort aan sekere landbouprodukte ervaar het, maar dat ons met graagte ’n span kundiges na die Sowjetunie kon stuur waar hulpverlening prakties bespreek en deur kundiges beplan kon word. Dié plan het later beslag gekry toe ’n interdepartementele span onder leiding van Mike Kuhn Rusland besoek het om die prosesse in dié verband van stapel te stuur.
De Klerk het Artemof volledig uitgevra oor die situasie in die Sowjetunie. Hy het ook versoek dat die boodskap aan Gorbatsjof oorgedra sal word dat Suid-Afrika baie baat daarby sou vind indien die Sowjetunie sou ophou om sanksies teen die land te ondersteun en ons isolasie op sosiale en sportgebied sou teenwerk. Hy het ook gevra dat druk op die SA Kommunistiese Party en MK uitgeoefen word om die gebruik van geweld met die oog op politieke doelwitte te laat vaar.
Die twee KGB-kollegas het aandagtig geluister, aantekeninge gemaak en belowe dat die boodskap binne dae persoonlik aan die Russiese leier oorgedra sou word. Die twee het ons almal seker so ’n klein bietjie gemesmeraais, soos PW Botha sou gesê het, en ’n mens moet erken dat ons nogal met ’n swaar hart van hulle afskeid geneem het.
Die uitnodiging aan my om as gas van die KGB Moskou en Rusland vier maande later te besoek was ’n regstreekse uitvloeisel van Artemof en Iwanof se besoek aan Suid-Afrika.
Baie vroeg die oggend, ongeveer halfvyf, ná die skouspelagtige vertoning van die Moskouse Sirkus die vorige aand, word ek diskreet wakker gemaak vir ’n oproep uit Suid-Afrika. Dis Mike Louw. Hy dra die treurige nuus oor dat my pa die vorige dag oorlede is.
Meteens het ek besef dit moet dieselfde tyding wees wat Artemof die vorige aand tydens die sirkus verneem het maar dat hy kennelik besluit het om my dit voorlopig te spaar, ook met die wete dat ’n nabye vertroueling soos Mike dit eerder moet oordra. Nog ’n teken van die Russe se warmte en sorgsaamheid was die meelewing van die personeel later die oggend met die bediening van ontbyt. Ook van ander gashere tydens my besoek het ek dieselfde egte medelye ervaar. Dit was nie aangeplak nie, maar aards en opreg. Ek het dit beleef as ’n karaktertrek van mense wat in hul geskiedenis al onmeetbare swaarkry en lyding beleef het wat ’n mens nederig en dankbaar hou en jou daartoe beweeg om jou medemens in tye van beproewing te ondersteun.
Daar was nie veel tyd om toe oor my pa en sy lewe na te dink nie. Die KGB het ’n eenmaal-in-’n-leeftyd geleentheid vir my gereël: om ’n persoonlike gesprek met die Russiese leier Michail Gorbatsjof te voer. Dit was vir die volgende dag geskeduleer, maar weens my pa se dood moes ek vroeër huis toe vertrek.
Toe het nog ’n onvoorstelbare ding gebeur: Gorbatsjof het onderneem om ’n sitting van die politburo te onderbreek en my dieselfde dag in die Kremlin te woord te staan. Dit is ook presies hoe dit op 10 Julie 1991 om 10:00 gebeur het. Ons het in ’n enorme raadsaal vol ouwêreldse klatergoud ontmoet. Die Russiese leier het ’n netjiese donkerblou snyerspak en ’n rooi das aangehad. Artemof en ’n tolk was ook teenwoordig.
Van my kant lig ek Gorbatsjof in oor die politieke onderhandelinge in Suid-Afrika en vra dat die Sowjetunie nie enige politieke groep in dié proses moet bevoordeel nie; ook dat die Russe hul invloed sal gebruik om druk op die ANC/SAKP uit te oefen om hul versetaksies, soos massamobilisasie, te laat vaar indien hulle die proses vreedsaam wil laat verloop. Ek voeg ook by dat die SAKP ’n radikale invloed op die ANC uitoefen en dat hulle nie werklik in ’n politieke skikking nie maar net in ’n gewelddadige magsoorname belangstel. Ek waarsku ook dat enige militêre destabilisering van die proses van binne of buite Suid-Afrika nie geduld sal word nie.
Die Russiese leier het aandagtig geluister en daarna enkele opmerkings gemaak. Eerstens het hy beste wense aan pres. De Klerk oorgedra en bevestig dat albei van hulle met uitdagende en omvangryke veranderings besig is. Oor die Suid-Afrikaanse skikkingsproses was hy komplimenterend en ondersteunend.
Oor die moontlikheid van politieke kontak op die hoogste vlak, antwoord hy: “I will give this idea serious consideration.” Hy lug sy kommer oor die politieke verbrokkeling in Oos-Europa (dit was toe bykans twee jaar ná die val van die Berlynse Muur) en die invloed wat dit op die eenheid van die Sowjetunie kan hê. Moontlik het hy toe reeds die opstande in Tsjetsjnië en die balkanisering van die suidelike Russiese deelstate voorsien.
Gorbatsjof het onderneem om reguit met die ANC-leierskap te praat oor hul verantwoordelikheid om daadwerklik na ’n politieke oplossing te soek maar deel my in dieselfde asem mee dat ons geneig is om Moskou se invloed op die ANC, selfs ook op die SAKP, te oorskat. Hy was sekerlik korrek as ’n mens die revolusionêre baldadigheid van die SAKP teen selfs die ANC-leierskap die afgelope jare gadeslaan.
Ek het in ’n stadium waarskynlik te ligsinnig met Lenin se afwesigheid van Petrograd tydens die revolusie van 2 Februarie 1917 die