Niël Barnard

Vreedsame revolusie


Скачать книгу

maar die tolk het met ’n vermoedelik meesterlike omhaal van woorde die voortvarende angel uit my opmer­king gehaal.

      Gorbatsjof het ’n volle 40 minute aan my – of moet ek eerder sê: Suid-Afrika – afgestaan. Ek het hom as aangenaam en skerpsinnig ervaar. As mens was hy saakliker as die aardse gemoedelik­heid wat ek by baie Russe ervaar het, nogtans was hy nie afsy­dig nie. Moontlik was hy nie meedoënloos genoeg om dié ontsaglike land met sy enorme probleme, ambisieuse politici en koppige veiligheidsmagte te hanteer nie.

      By my vertrek het ek aan hom ’n Krugermunt oorhandig, en vir mev. Gorbatsjof ’n goue Krugermunt-halssnoer. Op pad terug in die motor het Artemof my oor die Lenin-opmerking gekapittel en vertel dat die tolk my eintlike woorde aansienlik aangepas het, maar dat dit alles vir ’n goeie doel was. Akkoord, waarvoor is daar dan ’n broederskap onder spioene! Ek het die tolk hartlik bedank.

      In die vliegtuig op pad terug huis toe, kon ek die eerste keer rustiger oor my pa nadink, met groot hartseer maar ook trots. Nicolaas Evehardus Barnard, 72 toe hy weens hartversaking ge­sterf het, was ’n man onder die manne. ’n Gelowige Afrikaner-­patriot met gesonde politieke oordeel.

      Hy het feitlik as ’n weeskind en bywoner brandarm grootgeword. Dog met dissipline en deursettingsvermoë het hy tegelyk aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege, waar hy voorsitter van die studenteraad was, en die Grey-Universiteitskollege gestudeer en ná drie jaar ’n BA-graad én ’n onderwysdiploma verwerf. Hy was ’n baanbreker op onderwysgebied in die destydse Suidwes-­Afrika, waar hy tot hoofinspekteur van onderwys gevorder het, terwyl hy sy lewe lank wars van eiewaan was.

      Hy het sy vier seuns geïnspireer om alles met volle oorgawe en toewyding te doen. Onder sy foto wat in ons latere familiemaat­skappy se raadsaal gehang het, is die woorde gevoeg waaraan ons hom altyd sal onthou: “Blaas hoog die vlam!”

      Voor my vervroegde vertrek terug huis toe ná die dood van my pa, het ek drie dae en nagte lank die gasvryheid en spontaneïteit van my gashere geniet. Ek en Mike Kuhn het in ’n splinternuwe gastehuis tuisgegaan waar niks ontbreek het nie.

      Ons het later besef dit is waarskynlik in dié einste blyplek waar my destydse eweknie, genl. Wladimir Kritsjkof, ’n staatsgreep teen Gorbatsjof beplan het. Net bietjie meer as ’n maand ná ons besoek het onder andere Kritsjkof en die minister van verdedi­ging, Dimitri Jasof, die mag in Rusland probeer gryp terwyl Gorbatsjof met vakansie was. Hul planne is egter gefnuik. By die aanhoor van dié nuus was ek en Mike enigsins – maar gelukkig onnodig – bekommerd dat ons besoek dalk met die gepoogde putsch ver­bind sou word.

      Ons het talle interessante en geskiedkundige plekke besoek, ook die Universiteit van Moskou, waar talle Suid-Afrikaanse kommuniste opgelei is en die rektor ons meegedeel het dat die meeste Suid-Afrikaanse studente loodswaaiers van die hoogste orde was. Ná ’n uitgerekte besoek aan die Kremlin en al sy bewonderens­waardige kultuurskatte beland ek in ’n vertrek wat seker min kommuniste beskore is: die kantoor van Wladimir Lenin in die Kremlin, wat nog net so lyk soos op die foto’s wat ’n mens jare tevore in geskiedenishandboeke gesien het, met die bekende aardbol en al en waar hy sy revolusie en Leon Trotski se burgeroorlog teen die sogenaamde Wit Russe help beplan het.

      Ons reis ook deur die platteland en slaap een aand in niemand minder nie as Josef Stalin se “dacha” in die omgewing waar die grootste tenkveldslag in die geskiedenis tydens die Tweede Wêreld­oorlog by Koersk plaasgevind het. Ek en Mike het mekaar gretig in die badkamer van die hoofslaapkamer waar ek tuis was, in die bad en op die toilet, afgeneem. Dit is immers min mense beskore om ’n toiletstoel met Stalin te deel!

      In die berugte hoofkwartier van die KGB het ons ure lank gesels. Dit is met gemengde gevoelens dat ek my voor Feliks Dzjerzjinski se borsbeeld in die voorportaal van die KGB-hoofgebou, die Loebjanka, laat afneem. Dzjerzjinski was die stigter en van 1917 tot 1926 die eerste direkteur van Tsjeka, die Sowjetunie se veiligheidspolisie. Die gemengde gevoelens het gespruit uit my historiese afsku van kommunisme totdat ek tot die “Damaskus-­besef” gekom het dat nie elke Rus ’n kommunis is nie en dat hulle nie dieselfde waardes voorstaan nie. Dis hier aan die Dzjerzjinski-­plein waar, volgens die geskiedenisboeke, onuitspreeklike wreed­hede deur die Russiese intelligensiedienste uitgevoer is. Nogtans was dit vir my ’n voorreg dat NI in die heilige voorportale van die KGB toegelaat is.

      Ek is selfs op ’n uitgebreide toer deur die KGB se museum geneem waar my gashere nie huiwer om die kind by sy naam te noem nie, die heldedade én die mislukkings. Op sommige is hulle baie trots, oor ander baie skaam en hulle haal ook die feitlik universele verskynsel op: Vir die suksesse eis die politici alle eer op, terwyl die amptenare vanselfsprekend vir die mislukkings verantwoordelik gehou word.

      Van daar is ons na die raadsaal van genl. Kritsjkof, hoof van die KGB, wat nie veel gepraat het nie. In sy kantoor doen hy my die eer aan deur ’n KGB-dekorasie aan my bors te speld as erkenning van die buitengewone diens wat ek tot die opbou van betrekkinge tussen die twee intelligensiedienste gelewer het.

      Die foto daarvan moet sekerlik die ANC steeds nagmerries gee, want hoe kón die KGB “die Boere-Broederbonder-spioen” vereer! Toe ek en Joe Slovo kort voor sy dood vir oulaas saam whisky drink en sigare rook, wys ek hom die foto.

      “Jy het veel verder as ek in die KGB gevorder. Julle het gedink ek was ’n majoor in die KGB, maar dit lyk my jy was ’n veldmaarskalk!” het hy geskerts.

      Ons was veral beïndruk deur die KGB se hoof van operasies, kollega Leonid Sjebarsjin, wat intelligent oor alles gesels – van die SAKP wat klaarblyklik drome koester van ’n revolusionêre mags­oorname in Suid-Afrika tot die rol van hoofman Buthelezi en die IVP en soortgelyke dilemmas wat die Russe met die Islamitiese etniese minderhede in die suide van hul steeds ontsaglik groot land het. Ons was almal oortuig daarvan dat een of ander vorm van federalisme in albei gevalle die beste oplossing bied.

      Dit was duidelik dat ons KGB-kollegas nie veel dagdrome oor die realiteite van Afrika gekoester het nie. Hulle het ons ingelig dat hulle hul verteenwoordiging in Afrika aansienlik gaan inkort, want dit was weinig meer as ’n bodemlose put waarin daar van intelligensie-rendemente min sprake was. Net daar word ooreen­gekom op die plasing van ’n KGB-verteenwoordiger in Pretoria ten einde die Kremlin eerstehands oor die verwikkelinge in Suid-­Afrika ingelig te hou.

      In my terugvoering aan pres. De Klerk het ek daarop gewys dat die Sowjetunie onder enorme ekonomiese druk verkeer en dat die voorgenome samewerking met van ons staatsdepartemente deur Moskou hoog waardeer word.

      Ek het ook Neil van Heerden, Derek Auret en Herbert Beukes van Buitelandse Sake volledig oor die besoek ingelig wat kwalik hul ongelukkigheid verberg het oor wat hulle as NI se betreding van hul terrein beskou het. Dit was heeltemal te verstane, maar ek het geen ander keuse gehad as om dié gewaardeerde kollegas ’n afgewaterde deel bitter medisyne te gee nie: dat die Russe my nadruklik meegedeel het dat hulle nie kans gesien het om die informele, vertroulike diplomatieke verhoudinge wat plek-plek bestaan het, uit te brei nie. Die rede was eenvoudig dat min. Pik Botha net nie in staat was om sensitiewe en geheime sake vir homself te hou nie, terwyl die Russe veral begaan daaroor was dat die Amerikaanse CIA, die Britse SIS asook ander Europese dienste nie van die verwikkelinge moes weet nie.

      Drie maande ná my besoek aan Rusland, in Oktober 1991, het die hoof van die KGB (toe bekend as die Russiese Buitelandse Diens SA), Jewgeni Primakof, Suid-Afrika besoek en die volgende jaar het Moskou ’n ambassade in Pretoria geopen. Hoewel ek toe reeds van NI af oorgeskuif het na die Staatkundige Ontwikkelingsdiens, het ek sorg gedra dat die KGB op die hoogte van sake oor die onderhandelinge in Suid-Afrika gehou word.

      Ná 1994 het die verhouding tussen die ANC-regering en die bewindhebbers in Moskou ten beste uiters koel gebly en dit word steeds nie deur warmte en ondersteuning gekenmerk nie. Voor­genome besoeke van Mandela aan Moskou is talle kere uitgestel, ’n bestemming wat steeds nie hoog op die lys is van wêreldstede wat die ANC-leiers in hul eindelose oorsese besoeke aandoen nie. Onder pres. Zuma het betrekkinge wel verbeter.

      Hoofstuk