Die partye sou onder meer ook niemand op grond van hul politieke oortuigings intimideer, dreig of leed aandoen nie en in die algemeen vrye politieke uitlewing bevorder. Almal het onderneem om met die Polisie saam te werk om geweldsvoorvalle te ondersoek en oortreders aan te keer.
Die akkoord het helaas nie alle aanhitsing tot geweld aan bande gelê nie. Die ANC-leierskap was voorbokke om die etos en versoeningsgees van die akkoord flagrant en uitdagend te verbreek. Die proses was vroeg reeds by omdraai verby en die ANC kon dit bekostig om sy revolusionêre onderrok te laat uithang.
Op ’n buitelandse besoek in Mei 1992 het Mandela in Helsinki beweer dat pres. De Klerk aandadig was aan die geweld waarin “meer as 1 000 mense” in Suid-Afrika dood is. ’n Paar dae later in Genève het hy die Regering se stappe om wet en orde te handhaaf met die Nazi’s se volksmoord op die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog vergelyk.4
Dit was uiters onverantwoordelik van Mandela wat verlore aansien onder die radikale probeer herwin het ná die ANC se toegewing oor die opskorting van geweld.
Ander uitsprake was nog meer roekeloos. Die berugte vuurvreter Harry Gwala het op 16 Junie 1992 by Zwide buite Port Elizabeth verklaar: “Codesa or no Codesa, we have come here to take power from the hands of the Fascist Boers. If our freedom depends on blood-shedding, so be it.”5
Kragtens die vredesakkoord is ooreengekom dat die komitee wat ingevolge die Prevention of Public Violence and Intimidation Act van 1991 in die lewe geroep is, gebruik moes word om die agtergrond en redes vir die geweld te ondersoek. Verskeie “vredesinstrumente” is ook op plaaslike en streeksvlak geskep om geweld en intimidasie te voorkom. Hul werk is nasionaal gekoördineer deur die Nasionale Vredessekretariaat, wat op 4 November 1992 onder regter Antonie Gildenhuys begin funksioneer het.
Die ANC het swaargewigte soos Tokyo Sexwale en Jayendra Naidoo vir die sekretariaat benoem, terwyl die NP se verteenwoordigers, Chris Fismer en Johan Steenkamp, net nie dieselfde gesag gehad het nie. Gelukkig het ’n topamptenaar van SOD, Deon Rudman (voorheen van Justisie), ook in die sekretariaat gedien.
Kort voor lank het die ANC se verknogtheid aan MK ook hier kop uitgesteek. Die ANC-voorbokke het te kenne gegee dat die vredesakkoord ondergeskik is aan die DF Malan Akkoord en gevolglik val Umkhonto en sy bedrywighede nie onder die verbiedinge van die vredesakkoord nie. Mandela het dié opsigtelike slenter ondersteun wat daarop neergekom het dat die ANC ’n private “weermag” kon behou, maar nie die ander ondertekenaars van die akkoord nie.
Het Inkatha se “kulturele wapens” soos assegaaie en knopkieries dan ’n groter bedreiging vir vrede ingehou as die AK47’s en kleefbomme van MK? Buthelezi se uiterste frustrasie met die situasie was verstaanbaar, veral in die lig van die ANC se redenasie dat hulle nie ’n politieke party is nie maar ’n bevrydingsbeweging.
Die Regering se deelname aan die akkoord was, om dit sag te stel, onindrukwekkend. Terwyl die ANC by geleentheid deur swaargewigte soos Thabo Mbeki, Aziz en Essop Pahad en Sydney Mufamadi, Cosatu deur Sam Shilowa en die IVP deur Frank Mdlalose verteenwoordig is, was Hernus Kriel, Johan Scheepers, Renier Schoeman en Jac Rabie gereeld afwesig.
Mdlalose het by geleentheid sy “bittere teleurstelling” uitgespreek oor die Regering se oënskynlike belangeloosheid en die ANC se uitbuiting daarvan, en gesê: “These chaps are getting away with murder on a daily basis and the Government does not seem interested.”6
Om die Regering en die NP se power poging te bowe te kom het die AK11 verskeie voorstelle gemaak, onder meer dat die Beleidsgroep vir Onderhandeling en die Kerngroep vir Onderhandeling aktief die leiding neem en dat die adjunkminister van Wet en Orde, Johan Scheepers, die saak innoverend bestuur. Maar ons voorstelle het meestal op dowe ore geval. De Klerk se weiering om ministers toegewyd aan die onderhandelinge te laat deelneem, het die Regering ook hier duur te staan gekom.
In sy voorsittersverslag van 4 November 1994 het Gildenhuys verklaar dat die vredesakkoord ’n betekenisvolle bydrae tot vrede en stabiliteit gelewer het, maar dat die akkoord nooit vrede in Suid-Afrika kon waarborg nie. Daarvoor was die voorkoms van politieke sluipmoorde, taxi-geweld, treingeweld, hostelanargie, halssnoermoorde, verbruikersboikotte en bendegeweld eenvoudig te omvangryk en onvoorspelbaar.
“Geweld wat in die verlede kovert voorgekom het, word nou openlik bedryf. Dit is baie moeilik, indien nie onmoontlik nie, om sodanige geweld te beëindig. Dit sal ’n hartsverandering verg van al die politieke groepe wat by die geweld betrokke is,” was sy gevolgtrekking.
Die vredesakkoord was ’n lofwaardige meganisme met beperkte welslae. Dit doen nie afbreuk aan die feit nie dat dit ’n innoverende poging was om stabiliteit in die land met kontraktuele kaart en transport en gesamentlike bestuursmeganismes na te jaag. Dit het ten minste die versugting na ’n onderhandelde skikking verteenwoordig wat nie deur radikale baldadiges ontspoor mog word nie.
1 Report of the Truth and Reconciliation Commission, Vol. 2, “Political Violence in the Era of Negotiations and Transition, 1990-1994”, pp. 583-710.
2 JV van der Merwe, Submission to the Truth and Reconciliation Commission, 21 Oktober 1996.
3 Statement of the emergency meeting of the National Executive Committee of the ANC, 23 Junie 1992.
4 The Citizen, 23 Mei 1992 en 25 Mei 1992.
5 “Bloodletting if necessary, says Gwala”, EP Herald, 17 Junie 1992.
6 Opmerkings van Frank Mdlalose by die vergadering van die Nasionale Vredeskomitee, 26 Mei 1992.
Hoofstuk 7
Russiese interlude
Gedurende die somer van 1991 in die Noordelike Halfrond bevind ek my op ’n aand in Moskou, by ’n aanbieding van die wêreldberoemde Moskouse Sirkus – as ’n gas in die losie van die KGB, in daardie stadium seker die mees gevreesde spioenasiediens ter wêreld. Die werklikheid is inderdaad soms vreemder as fiksie en in die wêreld van spioene gebeur soms nóg vreemder dinge.
Ek en Mike Kuhn, ’n gewaardeerde kollega van Nasionale Intelligensie, vergaap ons aan die perdryvaardighede van die ruiters in die klein arena, veral die manne van Mongolië wat lyk of hulle in die saal gebore is. Ons gasheer, ene Artemof, word vir ’n dringende telefoongesprek weggeroep en keer later met ’n ietwat stroewe gesig terug maar bied geen verduideliking aan nie. Uiteraard vra ons ook nie wat skort nie. Spioene deel immers nie slaapkamergeheime nie.
Terug by die luukse gastehuis die aand kuier ons ’n hond uit ’n bos in die swembad en die sauna en stel ná heelwat van die KGB se beste vodka lawwe heildronke op mekaar en ons vaderlande in. Om die vure verder te stook, trek ek uit volle bors los met “Sarie Marais” en sing al drie verse.
Die uitnodiging van die KGB om Rusland te besoek, was nie ’n impulsiewe bevlieging om vinnig met ’n paar Suid-Afrikaners vriende te maak nie. Die aanloop tot die besoek het oor feitlik ’n dekade gestrek.
Betreklik kort nadat ek in 1980 die hoof geword het van NI se voorganger, die Departement van Nasionale Veiligheid, het ek besef hoe belangrik dit vir Suid-Afrika was om ’n geheime gesprekskanaal met die Russe – een van die ANC se grootse weldoeners – te skep. ’n Vroeë geleentheid wat hom voorgedoen het, was die feit dat Suid-Afrika vroeg in die jare tagtig ’n Russiese spioen, Aleksei Kozlof, aangekeer het – ’n kans wat