span Suid-Afrikaners aan boord. Ons was besig om ons pad terug te beur na volwaardige lidmaatskap van die internasionale wêreld. Minstens is ’n bres geslaan in internasionale isolasie en die aanvaarding van die ANC as Suid-Afrika se gesig na buite.
Vir Suid-Afrikaners was die hoofuitdaging nou om sonder internasionale voorskrifte vrede met mekaar en onder mekaar te maak.
Ongeveer agt maande ná dié besoek is Amerikaanse sanksies teen Suid-Afrika opgehef. Harry Schwarz, destyds ’n prominente lid van die Progressiewe Federale Party, was deel van die Suid-Afrikaanse groep. Enkele maande later het hy dr. Piet Koornhof as ambassadeur in die VSA opgevolg.7
* * *
Laat in Januarie 1991 het sowat 15 000 boere van feitlik oor die hele land met trekkers, stropers, bakkies, beeslorries en woonwaens op Pretoria toegesak en die middestad lamgelê.
Hoewel hul protes volgens die vereniging Boere Krisis Aksie (BKA) aan landboutoestande soos hoë insetkoste en laer pryse vir hul produkte te wyte was, was daar duidelik ook regse sentimente by vele. Die leier van die Konserwatiewe Party, dr. Andries Treurnicht, en agtien lede van sy koukus het hul parlementêre bedrywighede in Kaapstad gelos en Pretoria toe gevlieg.
‘’Die KP staan by die boere,’’ het mnr. Andries Beyers, hoofsekretaris van die KP, verklaar. Ook mnr. Eugène Terre’Blanche, leier van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), het in die hoofstad opgedaag om die boere te ondersteun.
Afgesien van landboutoestande, was die boere ook ongelukkig oor arbeidswetgewing wat plaaswerkers meer beskerming sou bied en voorgestelde grondhervorming. “Eers boere, nou bywoners,” was een van die slagspreuke op ’n woonwa.
Die boere was vasbeslote om ’n versoekskrif met hul griewe by die Uniegebou aan pres. De Klerk te oorhandig, maar dit het nooit gebeur nie.
Die protesaksie is onderhewig aan tien voorwaardes deur die stadsraad goedgekeur, onder meer dat nie meer as 5 000 mense daaraan deelneem nie, dat pad- en voetgangerverkeer nie ontwrig mag word en geen toesprake gelewer word nie. Daaraan het die boere hulle min gesteur. Noodvoorrade bloed vir dringende operasies moes per helikopter na hospitale gevlieg word omdat belangrike strate versper of beset is.
Hierop het die stadsraad ’n hofbevel verkry wat die boere verplig het om die stad te verlaat.
’n Plofbare situasie het ontstaan nadat dit óók verontagsaam is en sowat 200 boere in hegtenis geneem is. Verskeie polisiemanne is aangerand toe boere wat geweier het om hul voertuie uit die strate te verwyder, met die Polisie slaags geraak het.
Onderwyl het die boere nie hul sin vir voorsiening verloor nie. Benewens gasbraaiers, vrieskaste, seilstoele, opvoutafels, vervoerbare toilette en kragopwekkers, het minstens een boer ook ’n geslagte skaap, ’n gevriesde skaap en ’n lewende skaap saamgebring. Boeremusiek is gereeld gehoor en op die sypaadjies is lustig gebraai en heelwat “Klippies en Coke” ingeneem.8
Ongeag dié gemoedelikheid, het die beleg ook ’n duidelike politieke boodskap gestuur: Moenie die regses in die wit politiek ignoreer nie. Boonop was baie van die boere deel van die Weermag se kommandostelsel wat die potensiaal van regse geweld vergroot het.
* * *
1 Verslag van ’n koverte bron van Nasionale Intelligensie.
2 Siphiwe Nyanda in The African Communist: Journal of the South African Communist Party, First Quarterly Edition, 1990, pp. 35-43.
3 Conny Braam, Operation Vula (Johannesburg: Jacana, 2004), pp. 28-270.
4 Ronnie Kasrils, Armed and Dangerous (Johannesburg: Jonathan Ball, 2004), pp. 246-250.
5 Padraig O’Malley, Shades of Difference. Mac Maharaj and the Struggle for South Africa (New York: Viking, 2007), pp. 244-256, 260-284, 287-291, 365-388.
6 Beskikbaar by www.nelsonmandela.org/omalley, geraadpleeg op 14 Oktober 2016.
7 E-pos met aanvullende inligting: Derek Auret, 28 Julie 2016 en 2 Augustus 2016.
8 Eugène Terre’Blanche, My storie (Kaapstad: Griffel Media, 2010), pp. 156-158; “Pretoria plofbaar ná boere-beleg”, Beeld, 30 Januarie 1991; “Regter verklaar protesaksie onwettig”, Beeld, 30 Januarie 1991; “Slagskape, trekkers dra by tot karnaval-gevoel”, Beeld, 30 Januarie 1991.
Hoofstuk 6
Geweld – én sprake van vrede
Vandag dink baie mense blykbaar dat die Suid-Afrikaanse skikkingsproses heel vreedsaam en ordelik verloop het. Niks is verder van die waarheid nie. ’n Legio geweldsaanslae uit alle oorde het die land oor die ganse tydperk geteister.
Volgens sommige berekeninge het sowat 14 000 mense sedert die middel van 1990, toe onderhandelinge begin het, tot April 1994 in politieke geweld omgekom. Veral KwaZulu-Natal was ’n slagveld waar ’n bloedige stryd tussen ondersteuners van die IVP en die ANC/SAKP gewoed het. Volgens statistiek van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het 3 699 mense in 1990 in dié stryd omgekom. In 1991 het dié getal matig afgeneem tot 2 672. Volgens die Menseregtekommissie het gemiddeld 101 mense elke maand tussen Julie 1990 en Junie 1993 in politieke geweld in KZN gesterf. Boonop het die bloedvergieting na die PWV-gebied uitgebrei waar 4 756 mense in dié tydperk in voorvalle van politieke geweld dood is.
Aanvalle op polisiemanne het ook dramaties toegeneem. Van Januarie 1991 tot aan die einde van Desember 1993 was daar 6 369 polities gemotiveerde aanvalle op polisielede waarin 412 van hulle gesterf het. In onrusvoorvalle tussen Julie 1991 en Junie 1993 is 518 mense dood in Polisie-optrede.1 In sogenaamde halssnoermoorde, waartydens mense wat verdink is van “samewerking met die regime” met brandende buitebande om die nek deur aktiviste om die lewe gebring is, het 469 mense tussen 1986 en 1992 omgekom.2 Ook “hostelgeweld” het sy tol geëis, hoofsaaklik tussen ondersteuners van die IVP en die ANC. Volgens laasgenoemde was daar tussen Julie 1990 en April 1992 altesame 261 aanvalle deur hostelinwoners waarin 1 207 inwoners van verskeie townships dood is.3
By die onderhandelaars en vredesoekers het die besef posgevat dat die situasie onhoudbaar was en dat die geweld op politieke vlak dringend in bedwang gebring moes word. Uiteindelik het verteenwoordigers van bykans dertig politieke partye en organisasies, vakbonde en nieregeringsorganisasies in September 1991 ná maande lange beraadslagings op ’n omvattende en bindende Nasionale Vredesakkoord (NVA) ooreengekom.
Dit was daarop gemik om deur gedragskodes, prosedures en meganismes die openbare geweld en intimidasie in die land sodanig te beperk dat almal vrylik aan politieke prosesse kon deelneem. Terselfdertyd moes dit help om ’n stabiele samelewingsorde in stand te hou met die minimum ontwrigting van die onderhandelinge.
Om stabiliteit te probeer skep en die vredesproses te konsolideer, is “reconstruction actions” geloods wat daarop gemik was om die ergste gevolge van politieke geweld op plaaslike vlak teen te werk. Met die oog hierop is verskeie meganismes in plek gestel. Die akkoord het ’n gedragskode vir al die politieke partye en organisasies bevat waarin hulle hul onder meer daartoe verbind het om aktief by te dra tot