Niël Barnard

Vreedsame revolusie


Скачать книгу

te ondersteun. Hulle het geglo aan geregtigheid, wou die onregte van die verlede met woord en daad beveg en is in die proses dikwels van familie en vriende vervreem. Talle het ’n eensame lewe in die vreemde gelei, is plaaslik verguis maar het onwrikbaar aan hul morele missie geglo, is ideologies gebreinspoel en kon eindeloos praat. Die tragedie is dat talle van hulle, ná ’n lewe van selflose opoffering, deur die ANC opsy gestoot is, veral tydens die Zuma-regeertydperk.

      Nog ander het van uiteenlopende agtergronde, oortuigings, ouderdomme en kleurgroepe gekom. Die meeste van hulle kon nie sonder handskoene aangepak word nie; dis gewoonlik talent­volle en eiesinnige mense wat die bestaande orde uitdaag, veral as dit op (werklike of vermeende) ongeregtigheid berus.

      Veral in die tagtigerjare het al meer mense van die elite van die ou orde hulle aan die kant van die ANC begin skaar: sakelui, kerk­leiers, akademici, sportsterre, kunstenaars, joernaliste, regslui . . . Baie van hulle het geld aan die ANC geskenk, ander het intellektuele insette bygedra. Dit het ook ’n morele anker aan die ANC verskaf dat hy op die regte pad was.

      Die Regering se span

      Dr. Gerrit Viljoen was aanvanklik die hoofonderhandelaar van die Regering en die Nasionale Party. Dié goedgeaarde en soms briljante akademikus het egter die sprong na die harde wêreld van die politiek minder suksesvol uitgevoer. Hy het byvoorbeeld nooit geglo of begryp dat sy kollegas vir een plek hoër op die politieke leer, dolke in mekaar se rug sou steek nie.

      Wanneer dit soms nodig was, het fermheid by hom ontbreek. Hy was byvoorbeeld nie mans genoeg om Kobie Coetsee vas te vat nie wat ewiglik laat by vergaderings opgedaag het en dan alles van voor af wou aanhoor. Hy was ook nie agterdogtig genoeg wanneer sommige senior amptenare kanse gevat het om “net gou” sy handtekening van goedkeuring te kry wanneer hy haastig op pad êrens heen was nie.

      By ander geleenthede was sy fermheid onvanpas. Meer as een keer het hy amptenare op ’n verkleinerende manier tereggewys totdat ek hom by geleentheid ’n dreigende ultimatum gestel het. Amptenare is immers nie politici se kanonvoer nie.

      Viljoen se voorsitterskap van die Beleidsgroep vir Onderhande­ling (BGO) en die Kerngroep vir Onderhandeling (KGO) was van korte duur toe hy in Mei 1992 weens swak gesondheid moes uittree. Sy termyn is gekenmerk deur ’n tekort aan strategiese lei­ding, gesaghoudende besluitneming en praktiese ervaring.

      Onder hom het die KGO egter soms uitnemende strategiese be­redeneringe oor die onderhandelingsproses opgelewer. Ongeluk­kig is dit nie afgerond met vaste en bindende beslissings en die ontwikkeling van helder doelwitte nie. Sleutelministers het laat opgedaag by vergaderings of glad nie en ander het hulle vroeg van die besprekings verskoon sodat kernvraagstukke oor en oor beredeneer moes word om almal geleentheid te gee om ’n bydrae te lewer.

      Die gevolg was dat die agendas van die KGO ’n onlogiese lang gedermte met dieselfde agendapunte geword het wat tot satwor­dens toe herhaal is omdat daar geen duidelike koersaanduiding was nie. Ek en die sekretaris, Nelius Volschenk, het die agenda soms ’n bietjie bewimpel ter wille van meer fokus en minder her­haling, maar die Regering se beplanning het weinig gebaat by ons ligte vergrypie.

      Pres. De Klerk het Roelf Meyer as Viljoen se opvolger aange­stel. Hy het sekere vaardighede en leierseienskappe na die onderhandelingstafel gebring. Met sy aanstelling as minister van Staatkundige Ontwikkeling het hy hope energie, geesdrif, kundige bestuursinsig en gemaklike menseverhoudinge as talente tot die proses bygedra. Meyer was baie gemaklik in die sosiale omgang, ’n goeie luisteraar en goed in staat om die kernpunte van uitda­gings te begryp en dit netjies op te som vir verdere beraadslaging.

      Vir ’n politikus was hy egter minder wel ter tale en het gereeld gesukkel om veral in die openbaar en soms in vergaderings sy standpunte helder en skerp oor te dra. As ’n openbare spreker kon hy nie die Regering se onderhandelingsplanne suksesvol en afgerond oordra nie. Sy sterkpunt was om in kleiner gespreksgroepe te opereer waar sy sjarme as mens hom goed te pas gekom het. Hy het graag kompromieë gesoek, en ek kan min geleenthede onthou waar hy onwrikbaar oor fundamentele vraagstukke stand­punt ingeneem het.

      Daar is ’n verskil tussen kleingeestig onversetlik wees en om ferm by jou standpunt te staan. Meyer het meermale tussen dié twee pole beland en dié “louheid” het hom duur te staan gekom by ’n groot groep van sy politieke kollegas wat dit as ruggraatloosheid beskou het en hom spoedig daarvan verdink het dat hy kop in een mus met die ANC was.

      Benewens Meyer was daar ook ’n hele paar ander jong agterryers wat as nuwe ministers en adjunkministers op die toneel verskyn het en spoedig met ’n skok agtergekom het daar is ’n verskil tussen die vashou van die perde weg van die oorlogs­rumoer op die slagveld en om in die saal op die voorste perde in die veldslae te veg. Ook die meeste senior ministers in die De Klerk-­kabinet was meermale nie hierop voorberei of daarteen opgewasse nie.

      Meyer en De Klerk het egter oënskynlik goed oor die weg gekom, veral aan die begin van die proses, en dit het sy posisie uitnemend versterk.

      Kobie Coetsee sal waarskynlik vir twee dinge onthou word: dat hy met ’n hospitaalbesoek in 1985 die eerste NP-politikus was wat die gevangene Nelson Mandela ontmoet het en dat hy met sy latere jakkalsdraaie tydens die onderhandelinge reg in die hande van die ANC gespeel het. Hoewel hy nie ’n lid van die Regering se aktiewe onderhandelingspan was nie, het sy senioriteit in die Kabinet en sy duister maneuvers met kardinale kwessies ’n groot invloed op die verloop van die proses gehad.

      Omdat Coetsee die nuk gehad het om belangrike sake vir homself toe te eien was daar van die begin af ’n toutrekkery tussen Staatkundige Ontwikkeling en sy Departement van Justisie oor wie namens die Regering die primêre verantwoordelikheid vir die onderhandelinge moet hanteer. Sy redenasie was dat regsmense alle “juridiese prosesse” moet hanteer; ons het daarop aan­gedring dat die grondwet primêr ’n konstitusionele aangeleentheid was en nie ’n “regsprobleem” nie – wat uiteindelik aanvaar is.

      Toe Coetsee later die portefeuljes Verdediging en die Intelligensiedienste bykry, het hy nog brawer as tevore telkens sy eie koers, met plek-plek regse ondertone, ingeslaan. Sommige van ons het gewonder of die feit dat hy selfs by die president met moord wegkom, beteken het dat hy die staatshoof op ’n ongemaklike plek beethet.

      Inkatha was ook ’n kritieke rolspeler in die onderhandelingsproses. Dié organisasie het van sy stigting in 1975 as Inkatha ye­Nkululeko yeSizwe bekend gestaan, tot 1990 toe dit in ’n politieke party, die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) omskep is.

      Hoofman Buthelezi was ’n voortreflike leier van die IVP, maar sy soms onvoorspelbare nukke en kwasterighede het nie van hom ’n gemaklike spanspeler gemaak nie. Nogtans moet sy buie in perspektief beoordeel word; die ANC wou hom van meet af aan op enige denkbare manier uitknikker – waarin hulle spoedig NP-bondgenote gevind het.

      Die geskiedenis wys die IVP is nie altyd waardig en billik behandel nie en daarvoor het Suid-Afrika minstens ’n dekade lank die prys betaal in die vorm van ’n bloedige konflik tussen die ANC en Inkatha. Die IVP was met reg ernstig beswaard oor die toepasssing van ’n ooreenkoms oor “genoegsame konsensus” wat ingehou het dat hy, die Regering en die ANC ’n vetoreg oor sekere deurslaggewende kwessies sou hou. Gaandeweg is die IVP egter in die praktyk as ’n party met vetoreg uitgesluit wat later met die sluiting van die Akte van Verstandhouding in September 1992 tot hewige en bitter debatte gelei het.

      Die Demokratiese Party (DP) se rol tydens die onderhandelings­proses was waardevol. Dit kon deurslaggewend gewees het as die NP-regering en die aartsliberaliste van Rondebosch hul soms kin­deragtige partypolitieke vendettas van ’n verbygegane era opsy kon skuif en aan die onderhandelinge deelneem met verstandhoudings oor die vele punte van konsensus. Die DP kon ervaring en insigte tot die proses bygedra het wat die NP gewoon nie gehad het nie. Hulle het dit wel gedoen, maar sonder ’n stewige verstandhouding met die Regering was die invloed daarvan be­perk.