Niël Barnard

Vreedsame revolusie


Скачать книгу

wat in verbinding gestel is met die ANC-leierskap in Lusaka, asook met sy Rivonia-­kamerade in die gevangenis, het dit duidelik geword dat genoeg gemeenskaplike grond tussen die twee nasionalistiese bewegings bestaan om ’n nuwe staatkundige bestel te kan uittimmer. Dít ondanks die feit dat Mandela en die ANC geweier het om ge­weld af te sweer – wat vir Botha ’n voorvereiste vir Mandela se vrylating was.

      Nogtans het Botha in Julie 1989 ingestem om Mandela vertroulik te ontmoet – wat, anders as wat aan albei kante gevrees is, gemoedelik en in ’n goeie gees plaasgevind het.

      Ná Botha se uittrede kort hierna en sy opvolging deur FW de Klerk kon Mandela se vrylating nie veel langer uitgestel word nie. Voordat dit egter kon gebeur, moes die buitelandse vleuel van die ANC se verbintenis tot onderhandeling met die “racist white minority regime” verseker word. Dit sou eenvoudig nie deug dat Mandela deur die radikale elemente van die ANC in die buite­land verdag gemaak word indien hy beskou sou word as die persoon wat besig was om die bevrydingstryd uit te verkoop nie.

      Boonop moes dit op die ou end – ondanks my en my adjunk, Mike Louw, se beste pogings tot oorreding – sonder Mandela se goedkeuring gebeur omdat hy wantrouig was dat gesprekke tussen verteenwoordigers van die Regering en die ANC se buitelandse vleuel dié organisasie kon verdeel. Tot vandag nog glo talle figure met revolusionêre oogklappe die bog dat dit ons oogmerk was om met die taktiek van “verdeel-en-heers” die ANC te verswak.

      Daar was geen tyd om te verspil nie en die wiele is aan die rol gesit vir Operasie Flair. Uiteraard moet enige beskaafde intelligensiediens binne die wet en met die nodige mandaat optree. Terselfdertyd kon ons nie die besonderhede van die hoogs geheime planne rakende kontak met die ANC aan die politici voorlê vir goedkeuring nie.

      Daarom is ’n noukeurig bewoorde voorstel die dag ná FW de Klerk se verkiesing op 15 Augustus 1989 tot staatspresident by die Staatsveiligheids­raad (SVR) ingedien: “Dit is noodsaaklik dat meer inligting ingewin en geprosesseer word oor die ANC, asook oor die doelstellings, alliansies en potensiële toeganklikheid van sy onder­skeie leiers en groeperinge. Om dit te verwesenlik sal spesiale bykomende direkte aksie nodig wees, in die besonder met die hulp van die funksionarisse van die Nasionale Intelligensiediens.”

      Die aangewese ANC-leier in die buiteland om mee kontak te maak, was die organisasie se hoof van internasionale sake in Lon­den, Thabo Mbeki.

      Daar was talle kanale na hom en die buitelandse vleuel tot ons beskikking, maar dit moes een wees wat hy sou vertrou en as geloofwaardig beskou. So iemand was die gesiene Stellenbosse akademikus en filosoof Willie Esterhuyse, wat toe reeds danksy ’n reeks gesprekke by Mells Park House in Engeland ’n goeie per­soonlike verhouding met hom opgebou het. Mbeki en die buite­landse vleuel moes van die begin af geborge voel dat dit nie net nóg ’n riemtelegram was nie en dat die Regering erns wou maak met onderhandeling en eerbaar sou optree.

      In ’n “veilige woonstel” van NI (Nasionale Intelligensie) in Somerset-­Wes is Esterhuyse ontmoet. Hy het ingestem om die boodskap oor ons voornemens in Londen aan Mbeki oor te dra. Dié het ná plegtige ver­sekerings deur Esterhuyse dat dit nie ’n lokval was nie, ingestem tot ’n ont­moeting met verteenwoordigers van NI in Luzern, Switserland.

      Ná talle oproepe tussen Maritz Spaarwater (alias John Campbell), NI se hoofdirekteur van operasies, en Thabo Mbeki (alias John Simelane) is afgespreek dat die twee, plus ’n kollega elk, mekaar op 12 September in die Palace Hotel in Luzern ontmoet.

      Mike Louw en Spaarwater het vroeg die aand by twee aangrensende kamers met ’n gemeenskaplike sit-area by die Palace inbespreek. Mbeki en Jacob Zuma (alias Jack Simelane) het vroeër die dag per vliegtuig in Genève aangekom en van daar per motor na Luzern gereis terwyl hulle, onwetend, die hele pad deur NI-­agente gevolg is. By die Palace se ontvangstoonbank is hulle na kamers 338 en 339 verwys.

      Aan albei kante was die mans gespanne en agterdogtig. Mbeki en Zuma het volle rede gehad om die situasie te wantrou. “Dit kon ’n lokval wees waarin hulle ná die oopmaak van ’n deur afgemaai kon word,” het Louw later vertel. Daarom het hulle die kamerdeur oopgelos.

      Uiteindelik het die twee ANC-leiers aangekom en toe hulle die twee Suid-Afrikaners daar sien staan, binnegestap.

      Vier dae ná pres. De Klerk se epogmakende toespraak van 2 Februarie 1990 was Louw en Spaarwater terug in Luzern, waar hulle dié keer vir Mbeki en Aziz Pahad in die Palace Hotel ontmoet het. Die NI-manne het steeds onder vals name en met vals pas­poorte gereis ten einde nie onnodige aandag te trek nie.

      Die atmosfeer was ontspanne en almal was uitgelate in die nágloed van 2 Februarie. Maar die tyd vir leer-mekaar-ken was verby en ernstige sake was op die agenda: Hoe om lede van die ANC, die Pan Africanist Congress of Azania (PAC) en die SA Kom­munistiese Party (SAKP) – tot ’n paar dae tevore nog verbode organisasies – terug in die land te kry; hoe om te voorkom dat die veiligheidsmagte op dié “terroriste” toeslaan; hoe om te keer dat regsgesinde wittes die reg in eie hande neem . . . Prosedures en strukture moes gereed gekry word om al dié aspekte te bestuur.

      Die Regering se verteenwoordigers het daarop aangedring dat die ANC op hoë vlak – verkieslik die uitvoerende komitee – posi­tief reageer op De Klerk se aankondigings van 2 Februarie, dat die organisasie groter dissi­pline aan die dag lê om die protesaksies in die binneland te beheer en dat op ’n werkwyse ooreengekom word om die gewapende stryd te staak. Die groep het besluit om vier werkkomitees op die been te bring om dringende sake te han­teer: Mandela se vrylating, die vrylating van politieke gevan­ge­nes en aangehoudenes, strukture vir gesprekke tussen die Regering en die ANC, asook tussen NI en die ANC se intelligensie-­netwerk.

      Twee weke later het ek en Fanie (SS) van der Merwe, staat­kun­dige raadgewer van die Departement van Staatkundige Ont­wik­keling, ons by Louw aangesluit vir die volgende ontmoeting met die ANC-groep: Thabo Mbeki, Jacob Zuma, Aziz Pahad en nou ook Joe Nhlanhla, Intelligensiehoof van die ANC. Ter wille van seku­riteit is die ontmoeting na Bern, die Switserse hoofstad, geskuif.

      Pres. De Klerk is volledig ingelig en ons het onderneem om hom voort­durend op die hoogte van gebeure te hou. Dié keer sou volledige logistieke beplanning vir die ANC-lede se terugkeer na Suid-Afrika en vir die openingskonferensie van die onderhande­lingsproses gedoen moes word.

      Die drie van ons uit Suid-Afrika het op 21 Februarie in Genève geland en van daar per trein na Bern gereis. In ons treinwa was daar ook drie van NI se gesoute operateurs, onder wie twee vroue. Ons het mekaar herken – sonder enige erkenning van dié feit. Terwyl ons in die hotel Bellevue-­Palace in Bern ingeburger geraak het, het Louw met NI se operasionele voorspanne buite die hotel kontak gemaak om seker te maak dat alles in orde is en dat on­gewenste Filistyne van ander lande ons nie dophou nie.

      Aan ons kant was die atmosfeer gespanne. Daar was so baie wat kon skeefloop. Terwyl ons deur Bern se rustige strate gedrentel het, het ons