Niël Barnard

Vreedsame revolusie


Скачать книгу

bewus daarvan dat ons die gesprekke nie mog verbrou nie omdat Suid-­Afrika dit nie kon bekostig om die onderhandelinge met misverstande en onnodige agterdog af te skop nie.

      Die volgende oggend aan die hotel se ontbyttafel het ons die Mbeki-span in die eetsaal geëien, maar hulle én ons het niks laat blyk nie. ’n Uur of wat later het die ou aartsvyande mekaar as Suid-Afrikaners in my hotelkamer ontmoet en kon die samespre­kings begin.

      Dit het in ’n ontspanne en gemoedelike atmosfeer geskied. Mike Louw het met sy kwinkslae veral Zuma laat skaterlag oor onder meer sy kommer oor die vermorsing van water in die hotel se toilette vergeleke met die waterbesparende putmodelle van sy geboorteplaas in die dorre Prieska van die Noord-Kaap.

      Die gesprekke was doelgerig en het tot die vroeë oggendure van die volgende dag geduur. Dit het skerp gefokus op die beplan­ning om die eerste groepe ANC-lede uit die buiteland na Suid-­Afrika terug te bring om daar die eerste formele en openlike samesprekings oor die land se politieke toekoms te help beplan. Ons was nooit van voorneme om dié beplanning sonder die volle vennootskap van die ANC te doen nie.

      Mbeki was die segsman van die ANC-groep. Hy het ons ingelig dat daar van sy kamerade was wat geglo het dat die Regering die geleentheid as valse voorwendsel wou gebruik om die buitelandse vleuel na Suid-Afrika te lok en hulle dan kort ná aankoms agter slot en grendel weg te bêre. Gelukkig kon ons dié lawwe siening nek-om draai.

      Ons het hulle meegedeel dat indien ons nie mekaar se bona fides en eer­b­aarheid aanvaar nie, ons weinig hoop het om die onderhandelinge – ook die gesprek waarmee ons besig was – suk­sesvol aan te pak. Ook dat daar waarskynlik nog veel groter toetse vir ons wedersydse aanvaarding van mekaar se betroubaarheid en eerbaarheid as onderhandelingsvennote voorgelê het.

      Mbeki wou ook weet wat die Regering se houding sou wees indien Joe Slovo, stafhoof van MK en hoofsekretaris van die SAKP, deel van die ANC se kernspan by die eerste onderhandelinge uitmaak. Ons het geantwoord dat ons tog klaarblyklik nie hul onderhandelingspan kan kies nie en geskerts dat die Regering dit dalk sal oorweeg om die regse vuurvreter Eugène Terre’Blanche, leier van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), in sý onder­handelingspan in te sluit.

      Toe ek egter die aand aan pres. De Klerk voorlopige terugvoe­ring gee oor die verloop van die gesprek, skop hy viervoet vas oor die moontlike insluiting van Slovo in die ANC-span en sê dat sy ondersteuners dit nie sal aanvaar nie. Ná ’n redelik uitgerekte redekaweling het ek hom aan die Basil D’Oliveira-fiasko van 1968 herinner toe die Regering geweier het om aan dié voormalige bruin Suid-Afrikaner ’n visum toe te ken om as lid van die Engelse krieketspan in Suid-Afrika te toer. Dit het daartoe gelei dat die toer afgelas is – wat op sy beurt ’n groot inspuiting vir verskeie sportboikotte teen Suid-Afrika was.

      De Klerk het oplaas saamgestem dat ons nie sulke stompsinnig­heid in die nuwe onderhandelingspolitiek kon bekostig nie.

      Benewens die beplanning vir die onderhandelinge in Suid-­Afrika, is talle politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings telkens deur albei kante te berde gebring maar nie in detail bespreek nie. Dit was ook nie die doel van die ontmoeting nie. Bowendien was ons as amptenare nie daarop geregtig om beginselstandpunte oor kernvraagstukke in te neem nie.

      Nog ’n vraag van Mbeki was insiggewend: Sal die Regering die toi-toi-danspassies van sy kamerade tydens politieke demonstrasies toelaat? Die mobilisasie van die massa was steeds die ANC se doeltreffendste wapen en daaroor kon daar wat hulle betref, geen kompromie wees nie.

      My antwoord aan Mbeki was dat massamobilisasie dikwels op revolusionêre geweldsaksies uitloop en dat die ANC klaarblyklik nie in staat sou wees om sy gepeupel te beheer as massahisterie die oorhand kry nie. Die veiligheidsmagte sal ’n stokkie daarvoor moet steek, want ons kan tog nie ordelik en vreedsaam onderhandel terwyl daar afpersing en manipulasie deur ’n onbeheerste massa is nie.

      Die aand het ons in die hotel se restaurant ’n heerlike aandete saam geniet. En nog later, in die vroeë ure, het ek ’n bottel Chivas Royal Salute van ’n gepaste 21 jaar na die hotelkamer bestel. Albei kante het hul ingehoue opgewondenheid verdoesel, maar heimlik het ons geweet ons vreedsame revolusie het mondig geword.

      Ons was toe al heel ingenome met die vordering van die vorige dag en ek het in ’n seldsame oomblik van ligte spandabelheid en in die gees van my ma se sêding gedink: Biedêm die ouditeur-­generaal! Ek het vertrou dat hy patrioties genoeg wou wees om ons dié vergrypie te verskoon in die lig van wat ons besig was om in die belang van die land en al sy mense te doen. Hy het.

      Later dié dag het almal huiswaarts gekeer. Vir die ANC-lede het dié rit waarskynlik nuwe inhoud gekry, want “huis toe” sou spoedig ’n terugkeer na die land van hul geboorte beteken. Dit was aandoenlik om hul nostalgiese begeerte te beleef om na ons gemeenskaplike vaderland terug te keer.

      Op ons het daar geweldig baie werk gewag. Ons moes die president en die betrokke ministers volledig voorlig, veral dr. Gerrit Viljoen, minister van Staatkundige Ontwikkeling, en sy senior amptenare, by name die bekwame Henk Fourie, wat Fanie van der Merwe se administratiewe regterhand was, omdat die reë­lings vir die eerste amptelike en openlike ont­moeting tussen die twee partye nou in die hande van die betrokke staatsdepartement moes oorgaan. Die spoke kon tog nie die openbare vredesproses reël nie!

      Verder moes reëlings getref word om die eerste voorspanne van die ANC die land binne te bring. Regstegnies kon hulle steeds in hegtenis geneem word sodra hulle voet op Suid-Afrikaanse bodem sit. Met die Veiligheidspolisie en amptenare van Binnelandse Sake moes ooreengekom en die nodige reëlings getref word om die ANC-lede se ongehinderde en onopsigtelike binnekoms deur die Jan Smuts-lughawe te verseker.

      Die eerste voorspan van die ANC het bestaan uit Jacob Zuma, Mathews Phosa en Penuell Maduna. Hulle is sonder slag of stoot vanaf April 1990 die land ingebring en het in ’n veilige huis van NI in Pretoria-Noord tuisgegaan. Hier is etlike dae lank oor die komende “spitsberaad” tussen die ANC en die Regering gesprek gevoer, geredekawel en daarvoor beplan.

      Zuma en Phosa was gemoedelik, innemend en akkommode­rend. Maduna, daarenteen, was bitsig en dikwels aanvallend en kon dit nie verhelp om sy akademiese regsagtergrond onder ons neuse te vryf nie. Moontlik het die ANC gemeen dat iemand “die Boere” deur verwaande ongeskiktheid moes uitlok of op hul plek hou. Dit was egter onsuksesvol.

      By die NI-huis is ’n legio administratiewe reëlings getref. Intussen het nog ANC-lede, ook van hul uitvoerende komitee, in die land begin aankom om die onderhandelingsproses af te skop. Albei partye het hul vere vir die komende openingsgesprek van die staatkundige skikkingsproses begin regskud.

      Hoofstuk 3

      1 500 beslissende dae

      Van Nelson Mandela se vrylating op 11 Februarie 1990 tot met sy inhuldiging as president op 10 Mei 1994 het Suid-­Afrikaners om tallose onderhandelingstafels die vreedsame ontlonting van die wurggreep waarin hulle hul bevind het, uit­gehamer.

      Dié meer as 1 500 dae was vol roemryke epog. Daar was helaas ook roemlose selfsug