DIE
DAO
VAN
DAAN
VAN DER
WALT
Lodewyk
G. du Plessis
’N ROMAN
Tafelberg
Vir hom wat vir my boeke bring om te lees
Humanity is the mould to break away from,
the crust to break through,
the coal to break into fire …
– Robinson Jeffers: “Roan Stallion”
Die goue haan staan op een been
28 Februarie
Maande lank het ek gedors na die genot van ’n jong lyf in my skoot. Kil najaarsnagte, die vroegryp skurfwit op die lusernstoppels, wou ek soos koning Dawid ’n maagdelike Abisag, die Sunamitiese, hê om my lendene te koester.
“Vleeslike gemeenskap is soos koeksisters en melktert vieruur Sondagmiddag op Ystervarkfontein se voorstoep,” het ek vir jou gesê en die opsitkers aan die brand gesteek. Jy het ’n hooikoorsaanval gekry. “Maar,” het ek bygevoeg toe jou niesbui bedaar, “jy moet nooit oor die gevroetel tussen die lakens tob nie, dit ook nie probeer verstaan nie. Daar is niks vieserigs aan die gedoente terwyl jy snuffel en stoom en snak na jou asem nie. Naturalia non sunt turpia. Ovidius se woorde: Wat natuurlik is, is nie skandelik nie. ’n Haan onder die henne, dié man. ’n Banneling …” Ek het jou sagte ore tussen my vingers gevryf. “Broei oor alles wat jy nog in die kooi wou doen, en ’n kokkerot kruip uit die naat. ’n Doending, die seksding, solank jy nog kan. Voor die maan twee keer vir sy weerkaatsing in jou waterbak glimlag, Kaspaas, slaan die vlietende jare jou heupbeen uit lit en lê jy onder in die put, ’n gebreekte kruik.” Jy het my hand gelek en jou stert gewaai.
Jy het nog gelewe toe ons dié gesprek gehad het. Ons het op Ystervarkfontein gewoon. Nou lê jy onder die grond aan die voetenent van my reeds uitgepleisterde graf op die plaas en ek sit in ’n monniksel op ’n kreupel stoel voor ’n lendelam tafel in ’n heidenland en pen my geskiedenis neer.
Ek lig my kop van die skryfblok af op. Voor my, in die Tempel van Ewige Vrede, glinster drie Boeddhabeelde in die flikkerlig van pienk lotuskerse. Ja, Kaspaas, Daan van der Walt, jou heer en meester, vertoef nou al ’n week lank in die land van die feniks en die draak. Die luste van my vlees is geblus. Net die gedagte aan boerekos en die naderende dood hou my nog staande. Die kooigoed op my katel is nie meer omgewoel en ruik nie meer na erotiese nagsweet nie. Hier slaap ek op ’n plank sonder lakens. ’n Harde, kaal plank. Soggens eet ek ’n bakkie rys en spinasie en droom van ’n bord mieliepap met kaiings en karringmelk op die witgeskropte dennehouttafel in die kombuis voor die ou koolstoof. Met siel en liggaam verlang ek hier in China na ’n smeersel varkvet en Lyle se gouestroop op ’n sny vars korsiebrood uit die bakoond langs die dooie miershoop. Met ’n kommetjie rys en spinasie in my een hand en twee stokkies in die ander, smag ek na ’n glas rooi wyn uit die Swartland.
Twee bronsleeus gluur my aan. Wierook brand my oë. Ek staan tussen ’n klomp mans in lang rokke en probeer soos hulle op een been balanseer.
“Ai ya! Nī bù …” hoor ek sy stem. Met sy buitelyne sag soos dié van ’n souskluitjie sien ek hom deur ’n waas wierook: my tai ji quan-meester. Yang Ying Sheng is sy naam, die man wat my probeer inlei in die geheime van die Chinese gevegskuns, wat my voor die Tempel van Ewige Vrede probeer leer om op een been te staan. Yang Ying Sheng, wat ek eerbiedig aanspreek as Yang, lao shi, meester Yang.
“Ai ya! Nī bù zhuān xīn. You don’t concentrate, Da Ni Eu. What are you thinking?”
Hoe, my dierbare ontslape hond, kon ek vir my meester sê dat ek ná my sondeval maande lank gedroom het oor seks? Die daad, nie die liederlike vierletterwoord nie. Hoe kon ek hom vertel dat ek my snags in my monniksel vol wierookdampe verbeel ek ruik braaivleis wanneer ek oor my skuldbelaaide verlede en die hiernamaals wroeg? Die hiernamaals, ja, Kaspaas. Die mens is op reis, die dood net ’n verposing, ’n tussenwerpsel in die tog na die ewigheid. ’n Man moet rigting hê, en ’n bestemming, anders verloor hy die weg.
My bestemming is die hemel. In watter gestalte ek uit die graf sal opstaan, bekommer my. Ek wil nie deur die Nuwe Jerusalem se strate wandel en oor my eie skaduwee struikel nie. Ek is nie ydel nie, maar ná ek onder basuingeklank die hemelpoorte deur is, wil ek nie met rumatiek, sooibrand en hardlywigheid gepla wees nie. Ek wil ook nie vlerke op my rug en ’n harp in my hand hê nie; ’n Boer fladder nie om ’n wolk vol bliksemstrale en donderslae soos ’n mot om ’n verrotte appel nie. Gedagtig aan die fout wat Eos, onder die Romeine bekend as Aurora, met Tithonus gemaak het toe sy Jupiter gevra het om die beeldskone jongeling wat haar hart gesteel het, vir ewig te laat lewe, maar vergeet het om te vra dat hy vir ewig sy jeug behou, begeer ek in die hemel die lenige liggaam van ’n jong man. Stewige bene. Vastrapvoete. Spiere waar dit hoort. Onderdele wat werk.
Meester Yang kyk na my en skud sy kop, grys soos myne. Hy is ’n Daoïs, vertel my verlore seun my. ’n Daoïs, ’n afgetrede mediese dokter en ’n deskundige in die gevegskuns. Hy is vol vreemde sêgoed, dié Chinees, en so ondeursigtig soos die oë in ’n gebraaide skaapkop. Hy bly in ’n grot bo teen hierdie heilige berg, aan die voet waarvan ek en ’n stuk of tien monnike nou tai ji oefen. In die Weste staan dié gedoente ook bekend as tai chi.
’n Week gelede, die dag na my aankoms in China, het my seun my vertel wat hy hierdie keer aangevang het. Sy nuus het my so ontstig, ek het ’n vertigo-aanval gekry. My balans skoon kwyt, slaan ek neer soos ’n bees waarvan die Mau-Mau die hakskeensenings afgekap het. Dis hy, Jan-Willem, my eie kind, wat my by hierdie kloosteragtige bedryf van die Boeddha kom aflaai het. Meester Yang het ’n klomp naalde in my lyf gedruk en my naakte liggaam met ’n sigaar gebrand. Toe ek my teësit, het hy en my seun besluit dat tai ji my sal kalmeer en my balans herstel.
Die apostel Paulus het ons gewaarsku dat ons in die wêreld mag wees, maar nie van die wêreld nie. Waar, Kaspaas, was ek vanmôre voor ek by hierdie lendelam tafel kom sit en skryf het? Waar? vra ek jou. Tussen afgodsdienaars besig met die beoefening van duiwelskuns.
Om my staan dié poenskopmans op een been, arms uitgesprei soos nat rietduikers op ’n drywende boomstomp. Hulle dra saffraangeel rokke, dié monnike, een skouer kaal. Swart haartjies loer na my uit hul oksels: nie krullerige kroesies soos ons mense s’n nie. Hulle s’n is net effens gekreukel, amper reguit. Met ’n vlooipaadjie in die middel lê die haartjies weerskante toe in hul kieliebakke soos Dominee se ge-Brylcreemde hare toe ons eerstejaars was op universiteit.
Meester Yang bring my dwalende gedagtes terug na die hede: “Concentrate your qì on your dāntián, Da Ni Eu.”
Die hede is die plek, Kaspaas, waarnatoe ounooi Magrieta my teruggeroep het wanneer ek so in my gedagtes verstrengel raak dat ek nie wis of dit Aandblom se plap-plonsende mis in die afvoersloot is wat ek ruik of die skuimende melk in die emmer tussen my knieë nie. Jy het die ounooi nie geken nie. Sy is dood voor Jan-Willem met jou op die plaas aangekom het.
Lê jy nou stil hier op jou matjie by my voete en hoor wat ek jou sê.
Die hede, dis waarvan ek wil ontsnap: die hier en die nou voor die afgodstempel. Ons ou mense ontkom die hede wanneer ons terugtree in die verlede. Ek wil nie die ounooi te na kom nie, maar laat ek jou vertel, toe sy nog geleef het, was die hede vir my alreeds menige dag byna ondraaglik. Sy het my nie net in die hede geteister nie; vanuit die graf verontrus sy my nou snags met haar hedelyn. Vasklou aan die hedelyn, soos klitsgras aan ’n Afrikanerskaap se stert, was een van my lettergierige eggenote se goue riglyne vir skrywers, riglyne wat sy en haar skrifgeleerde Sadduseër-vriende soos onheile uit ’n Pandoradosie kon opdiep om ’n goeie storie te bederf. Die skadu van die ounooi se hedelyn hang swaar oor my waar ek hier sit en skryf. Na elke jakkalsdraai, het sy gesê, moet die verteller terugkeer na die hedelyn, die plek waar hy was voor hy koers verloor het. En dis nie al nie. Sy wou