monnike soos ’n paddavreter van een been af opstyg uit hierdie moeras, maar voor ek my vlerke span, val ek om.
“You need imagination to balance,” sê my meester.
Verbeelding? My beker loop oor van verbeelding. Die probleem is die sin wat ek uit die droesem moet opdiep.
“Tài jí is not about technique. It is a state of mind. Now place your weight on your right foot.”
Ek maak soos hy sê.
“Imagine that your foot grows roots anchoring you solidly to the earth.”
My kleintoontjie kriewel. My groottoon kreun. Die vel bars. Wortels kruip wit onder my toonnaels uit en soek vasgroeiplek in die tempelgrond. ’n Skurwe Daantjie word ek, op soek na ruitersalf en ghries, na die balsem van Gilead.
“Feel how light your left leg becomes.”
My kuit verskroei, my dy verdor. Ondraaglik, die gewigloosheid van my been.
“Lift up your right leg.”
Nou is ek Kaspaas by die kraalhek.
“Fàng sōng.” Ontspan.
Meester Yang klop my saggies op my skouers.
Die spiere word sag.
“Màn màn de.” Stadig, stadig.
Hy wag.
Stilte.
Stilte …
“See!” roep hy uit. “You are standing on one leg.”
Lig stroom oor die duister wêreldvloed en alles ontplof in my kop: strykers, hout- en koperblasers, tromme en simbale, almal tegelyk. Soos aan die begin van dinge is ek weer ’n man, ’n jong man …
En toe …
Toe stort ek uit die lig terug in die chaos waar twee fris bene en vastrapvoete met krultone nodig is vir balans. Soos in my kleintyd wag ek toe-oë vir my ma se helende hande wat my skurwe wintervoete kom insmeer met paraffien en kerswas …
Ek maak my oë oop. ’n Monnik met ’n emmer water loop voor ons verby op nat plakkies wat tjierts-tjierts. Hy maak verniet of hy nie sien hoe ek my lyding ootmoedig verduur nie. Hy dra nie eers ’n onderbroek nie. Dié mans vou hul klede versigtig om hul onderlywe as hulle hurk, maar ek het oë in my kop.
“Are you listening to me, Da Ni Eu?”
“Speak, Master, for thy student heareth.”
Meester Yang, die Daoïs, langs die tempel van die Boeddha hoog teen die Longshan-berg, het nie ore vir my King James-Engels nie: hy onderrig my in die eeue oue gevegskuns van die Chinese: “The tài jí stance you are now practising, is called Jīn jī dú lì.”
“And what, Master Yang, does that mean?”
“That, Da Ni Eu, means golden cock stands on one leg.”
Dis donker buite. Ek kyk van my skryfwerk af op en in by die deur van die Tempel van Ewige Vrede. Die goue Boeddhabeeld in die middel gloei in die gedempte lig.
Jy weet, Kaspaas, meester Yang kyk tot diep in my verborge self. Hy is ’n siener, dié man, maar hy is verkeerd, ek is nie op die weg van die Dao nie. Ek trap versigtig oor duwweltjies en gousblomme teen die klippe in my pad, as ek dié beeld by ons groot digter mag leen.
Ek het die voorreg gehad om ’n bietjie geleerdheid bymekaar te skraap, maar ek moes my beroep los om op Ystervarkfontein te gaan boer.
Ek het hard probeer om ’n goeie man vir my vrou te wees. Regtig, Kaspaas. Ek bedoel dit. Ek moes. Ek is so grootgemaak. Die dood vat haar toe weg en ’n studeerkamer vol Engelse boeke en Afrikaanse digbundels uit die vroeër jare bly oor. En haar reuk tussen die rokke in haar hangkas. En herinneringe snags in die donker plaashuis. En die groot verlange Sondagmôrens onder die wilgers by die plaasdam. En Sondagmiddag op die voorstoep met ’n koppie koffie en ’n leë koekbordjie.
Die tyd het dalk aangebreek dat ek ’n brief aan haar skryf en haar sê ek het haar liefgehad.
My seun, jou eintlike baas, het opgehou om met my te praat. Vir vyf lang jare het ek nie geweet wat van hom geword het nie. Dit weet jy.
Wat jy nie weet nie, is dat ek nog ’n seun gehad het, oor wie ék opgehou praat het. Sy dood was die einde van wat ek gedink het my saeculum aureum was, mý goue era.
Maar nou is Daniël in die vuuroond, draakbeelde teen die wand. Selfs al sou die vyeboom in die bloei staan en die kleinvee tussen soutbosse huppel, jubel hy nie meer nie. Daan van der Walt is klaar met jubel.
Ek maak my pen weer vol ink en skryf die laaste sinne in hierdie hoofstuk: My mond water vir ’n stukkie melktert voor ek gaan slaap. Tuisgebakte melktert. Hier kan ek net oor melktert droom. In die ouetehuis moes ek winkelterte eet. Winkelterte! ’n Winkeltert stink na bottelgeursel soos ’n mansmens met laventel onder die arms.
En nou vir daardie brief aan my vrou, Kaspaas.
Die Tempel van Ewige Vrede,
Longshan,
China.
28 Februarie
Liewe Magrieta,
Ek skryf vir jou ’n brief omdat jy snags met my lol. Dertien jaar al lê jy onder die grond en nou roer jy weer die pot. Verlede nag was dit “Tea and Sympathy” wat ek vir jou moes sing.
Jy het my altyd daardie kyk van jou gegee as jy dink ek is onnodig dwars. Dan het jy jou koffie gesit en roer al was daar nie suiker in die koppie nie. As ek niks sê nie, het jy ’n stukkie melktert op my bordjie gesit, of vir my ’n koeksister gegee, en gevra: “Hoekom praat jy nie as jy iets op die hart het nie, Daan?”
Vanaand het ek baie op die hart, Magrieta. Vanaand praat ek met jou.
Ek weet nie wat jy alles van daar bo af kan sien nie, maar soos jy die laaste tyd te kere gaan, is wat hier onder gebeur dalk vir jou ou nuus. Om misverstand tussen ons uit te skakel vertel ek jou in elk geval van die onheile wat my getref het sedert jou afsterwe.
Almal wat vir my dierbaar was, almal behalwe Jan-Willem en Ragel, is dood: Koos en Elsie, Liefie, regter Ferdinand du Plessis en Kaspaas. Almal dood. Jou Poplap en Fielies ook. Kaspaas het hulle doodgebyt. Die hond was ’n kattehater.
Daar begin jy al weer! Sy naam is Kaspaas, nie Kerberos nie.
Jan-Willem het met hom op die plaas aangekom.
Ek woon nie meer op Ystervarkfontein nie. My blyplek is in ’n ouetehuis tussen ’n klomp Engelse, die Spes Bona Retirement Village. In Kaapstad. Maar tans bevind ek my tussen monnike by ’n afgodstempel in China. Al ’n week lank.
Ek het geweet jou vlerke gaan tril as jy die woord afgodstempel lees, maar jy kan ontspan; die offerrook wat orals hemelwaarts styg, is my nie welgevallig nie. Jan-Willem het my tussen die godloënaars kom aflaai toe ek siek geword het. Ek wil nie daaroor uitwei nie. Ek is kapabel en kapater daai rammetjie. Hy wóón in China. Nie om die evangelie te verkondig soos ek en jy die Here beloof het nie. O, nee! Hy het rooi hakskene staan en kry tussen die kommuniste. Sy kuisheid vir ’n pot noedelsop verruil. En dis nie al nie, na sewe jaar op universiteit werk hy nou in ’n kafee.
Die onmin met Jan-Willem en jou gekarring aan my snags het my laat besluit om met wat jy my skadukant sal noem om te gaan. Ek gaan my geskiedenis naspoor, ’n kritiese ondersoek doen, my Historia skryf.
Hou op lag, Magrieta, dis nie ’n grap nie.
Laat ek jou iets vertel daar in jou wolktoring tussen die engele Gods. Jy het waarskynlik lankal vergeet dat manne van die begin af hulle hand aan geskiedenisse gewaag het. Daar is Herodotus se Historia, ’n boek oor die ondersoek wat hy gedoen het na die Grieke en die barbaroi, en die stories, waar en onwaar, wat aan hom vertel is om dié mense se geskiedenis beter te verstaan; daar is Augustinus wat sy Confessiones neergepen het, ’n geskiedenis so vol van sy skuldgevoelens