is en teruggepraat het en tot vandag toe vir sy woorde onthou word. Waarom sal Daan van der Walt van Ystervarkfontein swyg?
Jy kan nuttig wees in die hemel, Magrieta. Jy kan my help met die skrywery.
My Historia het vandag in medias res begin, sommerso in die middel. Dit kán tog sekerlik nie. ’n Geskiedkundige ondersoek moet by die begin begin, anders verstaan jy later die gebeure verkeerd. Die vraag is hoe ver moet die skrywer teruggaan? Gaia in Uranus se orgasmiese omhelsing voor die aarde en die hemel van mekaar geskei is, gaan sekerlik te ver terug, al is daar mense wat dink ek het dieselfde probleem as Uranus en ’n paar ander gode.
Moet dit nou nie daar bo uitblaker nie, Magrieta, maar ek oorweeg dit sterk om my Historia te begin by Genesis, in die omgewing van hoofstuk een, by die sondeval, en Adam en Eva se straf en dié van die slang; en dit dan storie ná storie te vertel, want my stories lê wyd en soos Herodotus s’n is hulle geslyp en gevyl deur baie ander stories, stories van die mens, en van die gode wat die mens gedien het, en die onmenslike strawwe waarmee die mens vir sy ongehoorsaamheid gestraf is. Hoe voel jy oor die saak? Sal jy my bystaan, Magrieta? In ’n droom dalk? Tog net nie weer ’n nagmerrie nie.
Dis al vir vanaand.
Jou langslewende eggenoot,
Daan van der Walt
Naskrif: Ingeval jy regtig oor my skouer gaan loer wanneer ek skryf, sê ek vir jou nog ’n ding: Ek het aan die begin van verlede jaar besluit om ’n bietjie te gaan kuier. Dis nie dat ek soos Uranus paarlustig was nie, die eensaamheid op die plaas het my maar net gevang.
DIE HISTORIA VAN DJ VAN DER WALT
’N ONDERSOEKENDE REIS DEUR SY GESKIEDENIS
Opgedra aan sy vrou en sy geliefde hond
An Upbraiding
Now I am dead you sing to me
The songs we used to know,
But while I lived you had no wish
Or care for doing so.
Now I am dead you come to me
In the moonlight, comfortless;
Ah, what would I have given alive
To win such tenderness!
When you are dead, and stand to me
Not differenced, as now,
But like again, will you be cold
As when we lived, or how?
– Thomas Hardy
DEEL 1
DIE WEG VAN ’N MAN
EEN
Ingeval die ounooi hier iewers rondswewe, Kaspaas, wil ons haar nie onnodig ontstel nie.
Ek sit en skryf in ’n monniksel skaars drie meter by drie meter; ’n raps kleiner as die polisiesel waarin ek na die moord opgesluit was. Hierdie sel is ten minste skoon. Die enigste ander meubelstukke is ’n staalraam waaraan ek my klere ophang en my bed, ’n kontrepsie wat die Chinese ’n kang noem, ’n platform met ’n skoorsteen. Soos ouma Annie se voetstofie het ’n kang ’n plek vir kole. Die ding is so hard soos die klipbank op die koppie voor die plaashuis waar ek en die ounooi voor ons troue een Sondagmiddag gelê en vry het. Ek maak geen oog toe op die harde blad nie. Dis koud hier. Kole vir die kang se maag om my snags warm te hou, is hier nie.
Vanmôre het ek my ryspap en spinasie geëet en tai ji saam met die monnike gedoen. My skryfboek lê nou oop voor my. Dalk sing die ounooi hierdie keer vir mý soos die muse vir Homerus.
Ja, ek weet ek het toe nie vir haar gesê ek was lief vir haar nie. Gee kans, ek kom daarby.
Intussen kan jy bly wees jy is dood, Kaspaas. Hier vang die mense jou, slag jou af en braai jou oor die kole vir aandete. Hondevleis hou die bloed warm in die winter, sê hulle. In die gees is jy by my, my vriend. Jy is my honde-muse. Hoe anders as met jou hulp – en dalk dié van die ounooi as sy nie kwaad is oor die naskrif in gisteraand se brief nie – kan ek my geskiedenis neerskryf? Ek hoef my net jou vertrouende oë te verbeel en ek kan die taak opneem.
Laas nag het ek gelê en wonder watter taal jý in die doderyk verstaan. Toe jy gelewe het, het ek jou gevoelens met eerbied behandel en Engels met jou gepraat, jy wat nie eers weet wat cave canem beteken nie, maar geweet het hoe ek oor die Engelse voel. In hierdie geskrif praat ek dalk meeste van die tyd Afrikaans met jou.
Na Jan-Willem my in Longshan vertel het hoe hy hom hierdie keer misgaan het, was ek so gekrenk, my maag was skoon onklaar. In sy kleinhuisie – as ’n mens ’n bruingevlekte sloot in ’n sementvloer ’n kleinhuisie kan noem – het ’n duiseligheid my oorval. Alles het begin tuimel. Agter my geslote ooglede het ek iets beleef wat ek die beste met daardie nare woord fantasmagorie kan beskryf, ’n mislike koorsyling. Verwronge beelde het in my kop gerondomtalie. Broek om die enkels, arms om die kop het ek op die vloer neergeval en in die sloot gelê en braak. Daar was geen bo en geen onder nie. Wanneer ek my oë oopmaak, het die aarde gekantel en ek moes vasklou of ek gly af. Soos Gam vir Noag, het Jan-Willem my naaktheid aanskou. Maar kans vir lag was daar nie vir hom nie, hy moes emmers water oor my uitgooi om my skoon te kry. In ’n geleende motor het hy my broekloos na die Tempel van Ewige Vrede toe gebring. Nuweling-monnike het hom gehelp om my uit die kar te kry. Terwyl hy na meester Yang soek, het ek soos ’n fetus inmekaargekrimp op die plek waar hulle my neergelê het. Toe dié man uiteindelik hier aankom, het hy my op die naat van my rug laat lê en my kop stadig van links na regs gedraai, naalde onder my kleintoontjies en in my oorlelle gedruk en alkohol op my bors gebrand. Hy het my omgerol en ’n kruiesigaar op my rug aan die brand gesteek. Toe ek oplaas my oë oopmaak, sien ek ek lê op die blinkgeskuurde blad van een van die kombuistafels, die ou vadoekie oor my skaamte gans te klein vir die doel waarvoor dit daar geplaas is. Daar lê ek soos die dag in die konsistorie voor die starende oë van die susters van die gemeente, ’n spektakel ten aanskoue van ’n klomp monnike, hand voor die mond, verbouereerd aan ’t giggel.
Een woord verder oor die gebeure daardie nag en ek maak my skuldig aan ’n doodsonde.
Ek is reeds skuldig aan een van dié sondes. Ek is in China soos die Psalmdigter in die dieptes, gans verlore. Calvyn vermaan en verplig die mens om ondersoek te doen waarom hy ’n misnoeë in homself het. Selfondersoek is nou aan bod, soos die ounooi en haar meelopers sou sê. My opdrag aan myself hier agter my tafel is, in die gees van die Puriteinse wekroep uit die sestiende eeu: a narrow examination of thy selfe and the course of thy life.
Is daar ’n beter manier om vrede te vind as met ’n belydenis van sonde?
In jou bruin oë, Kaspaas, sien ek die antwoord, hoor ek jou stem: Bely, Oubaas, bely, bely.
Ek sal bely.
Na die belydenis hoop ek kom insig. Na die insig begrip. Soos ’n Rooms-Katoliek in die bieghok gaan ek met pen op papier my sondelas woord vir woord van my gewete afwerp. Wanneer ek alles begryp, wil ek vry wees, so vry soos ’n Kruisvaarder na ’n stywe aflaat.
Jan-Willem was ’n eerstejaarstudent toe die ounooi dood is. Ses jaar later, met ’n graad in die teologie, het hy my soos ’n flenterlap vol ghries en ou olie in die waenhuis se hoek gegooi. Vier jaar lank het ek in stilte my wonde gelek. Toe, sonder vrou en kind, met net jou geselskap, my hond, het ek Hesiodus en Homerus, Virgilius en Ovidius afgestof en saam met Seneca op die kassie voor my bed langs die Vulgaat neergesit, die ounooi se studeerkamer oopgesluit en weer begin lees. Met mening het ek gelees. Dag en nag. Orals. Op die leunstoel voor die eetkamervenster, op ’n lusernbaal in die stoor, op ’n omgekeerde paraffienblik in die kalwerhok, by die kombuistafel, onder die komberse in my kooi. Wat in my kop vasgeskop het, was Yourcenar se Abyss en Eco se The Name of the Rose. Dié twee boeke was soos ’n reis saam met die heilige Brandaan deur die kerk se skrikbewind gedurende daardie tye. Die toestand van die bruid van Christus het my mistroostig gelaat wanneer die water lou geword het in my bad. Memoirs of Hadrian het ek ook gelees en toe weer en toe nog ’n keer. By die herlees van Seneca se geskrifte en