Lodewyk G. du Plessis

Die dao van Daan van der Walt


Скачать книгу

barsie in die muur agter sy kop, ’n krapmerk op sy tafel?

      ’n Bewustelike hou by die hedelyn gee ’n skrywer hare op die bors en stekelrige baard op die bolip, hoor ek haar roepstem uit die graf. Wanneer daardie lyn deur ’n geskrif loop soos die pad na die verderf, kan jy maar weet die skrywer is bekwaam.

      Die ounooi is dood voor sy aan eie bas kon voel hoe ’n ou mens se warrelwind-gedagtes stories opraap om die hier en die nou te probeer verstaan. Die hier en die nou waar die doodslag van jou geliefdes en die verlies van jou geboortegrond selfs die maan en die sterre dof maak en Aurora, wanneer die skerpioenmanne die rots voor die tonnel van die nag wegrol en sy daaruit verskyn, skaam haar aangesig agter haar rosige vingers verberg. Voor jy dink ek is saam met verdraaiers van die Woord, valse profete en gevalle engele in Tartaros se kuile van duisternis en triestigheid vasgeketting, las ek ’n paar skerwe van my gebreekte kruik en vertel jou ’n ding of twee van die lewe.

      “Ek is net myself,” het ek vir my oorlede vrou gesê wanneer sy te geleerd raak vir my. “Net myself.”

      “Om van te huil,” sou sy met ’n soet glimlag antwoord. “Jy is ’n turksvyblom in die knop gekneus, Daantjie.” Met dié woorde sit sy dan vir my ’n klein stukkie melktert op die koekbordjie langs my koppie.

      “The mysterious female … The gateway of the mysterious female we call the source of creation, the creation of heaven and earth.” Meester Yang se stem pluk my gedagtes terug na die hedelyn.

      “Who said that?”

      “Laozi.” En toe, sonder om my te vertel wie dié kêrel is en wat die duistere woorde beteken, vra my meester die vraag wat my al ’n week lank besig hou: “Why are you learning to do tài jí, Da Ni Eu?”

      Tai ji, is ek hier vertel, is die innerlike vorm van die Chinese gevegskuns. Die manne wat mekaar volstruisskoppe gee en met die vuis toetakel, die gong fu-helde, beoefen die uiterlike vorm van die sport. Volstruisskopgeweld verstaan ek. Op my dag was ek ’n volstruisboer. Dié goed vrek as jy net na hulle kyk. ’n Volstruisboer, bekwaam in sy nering, kan tot ses dooie volstruise op ’n kruiwa laai, sê ek altyd. Ek weet ook dié voël kan soos die liefde jou borskas met sy klou oopskeur en jou hartverlamming gee. Dis die tai ji-deel van die gevegskuns, die innerlike een, die een wat ek so langsaam soos ’n skilpad in stadige aksie moet doen om my te kalmeer teen die aanslae van die lewe, wat ek nie verstaan nie.

      “I’m teaching you tài jí, Da Ni Eu,” sê meester Yang, “to regain your balance: to float like a feather, fly like a leaf, hover like a dragonfly, soar like an eagle.” Hy haal twee keer asem. “I want you suspended between heaven and earth. I want you to defy the pull of gravity.” Sy spierwit wenkbroue wip. Die haartjies krul af oor sy oë wat vas in myne kyk. “I am introducing you to the Dao. The Way.”

      Die Dao? Die Weg? Die weg waarheen, Kaspaas? Sweef soos ’n arend? Fladder soos ’n naaldekoker? Ek wil nie vlieg nie. Ek het hoogtevrees. My naam is ook nie Da Ni Eu nie. My naam is Da-ni-el. Daniël Jacobus van der Walt, eens die dromer-digter, volstruisteler en boerbokboer op die plaas Ystervarkfontein. Getooi in die familiedooprok is ek in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees Daniël Jacobus gedoop met water uit die silwervont, reg voor die kansel, skúins onder GOD IS LIEFDE in goue letters op die kanselkleed geborduur.

      Ek was die enigste baba wat daardie Sondagoggend nie gehuil het nie.

      “Julle sien self sy ogies is droog. Dis net sy voorkop en stêre wat nat is,” het my ma vir die starende susters gesê toe sy my doek tussen die Bybels op die geelhouttafel in die konsistorie omruil.

      Ek, appelboud-gerub-kaal, spuit toe net daar ’n sierlike boog pie oor die Psalms van Dawid en Liedere van Korag.

      Daan van der Walt ’n appelboud-gerub! My eerste literêre kragtoer in hierdie geskrif, Kaspaas, ’n dertigkilogram-aartappelmoer in ’n turfland, by wyse van spreke.

      Terwyl my trotse ma my water oor die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls opklad en Gods Woord eerbiedig droogvryf, spog my pa in die wintersonnetjie tussen die broeders ouderlinge voor die huis van die Here: “Van der Walts is nie tjankbalies nie. Ons is kragdadige manne. Stil en sterk.”

      Daniël Jacobus van der Walt. Dis nou ek. Ek bedoel, dis wie ek wou wees in plaas van die man aan wie vele name toegedig is. Op laerskool was ek Daantjie. Op hoërskool Danie. Op universiteit Daan. In die stad vir ’n paar jaar aanklaer en daarna advokaat Van der Walt. Later op ons dorp oom Daan. Die arbeiders en kleingoed op die plaas het my nóg later Oupa genoem, of Klei’baas. Oupa, omdat ek oud was. Klei’baas, omdat my pa reeds Oubaas was. Na sy dood was ek steeds Klei’baas, en sou dit tot die dag van my eie dood toe bly, het ek gereken. Plaasmense het nie van gewoontes verander nie: Na die winter was die lente daar, na die biddag die reën, indien nie daardie jaar nie dan wel in die jaar daarop. Dinge het dieselfde gebly. Elk het sy tyd en sy plek gehad, het ons geglo.

      Het ons toe maar besef ons kyk in ’n spieël vol raaisels en dat ons eendag slegs eggo’s van ons drome sal beleef.

      Maar daardie tyd, saans op pad huis toe van die melkkamer af met ’n emmertjie room in die hand om saam met buurvrou Elsie Steyn se ingelegde geelperskes te eet, het die rook uit die kombuis se skoorsteen getrek en ek het die braairib se knoffel en tiemie deur die oop vensters en deure geruik en die gemurmel van Magrieta en haar regterhand, Ragel, se stemme in die kombuis gehoor.

      Saans in die aandwindjie het die Here deur Ystervarkfontein se boord gewandel, langs die vyebome, die kwepers en granate op die watervoor se wal, tussen die perske- en pruimbome deur na die fontein se kant toe. Die appelbome se blare het geroer en die hoenders het op hul stellasies tot ruste gekom. Op my plaas, het ek geglo, was die onsigbare sigbaar, die stilte hoorbaar. Altyd dieselfde, vanaf my vroegste jare. Soos in die Paradys, voordat die mens, volgens wat die Bybel ons leer, deur die slang en die vrou van die luste van sy vlees en sy sterflikheid bewus gemaak is. G’n gesoek na God op my plaas nie. Bly net stil, spits jou ore, luister, maak jou oë oop en kyk, en jy het soos ’n kaalperske, blos op die wang, nakend voor jou Skepper gestaan.

      Op my plaas het ek, sondaar wat ek was, in die weë van die Here probeer wandel totdat ek, verby die engel met die gloeiende swaard, die hiernamaals sou instap. Na ons dood sou ek en die ounooi in die skemer ’n glasie rooi wyn drink en die Here sou by ons aansit, indien nie vir ’n slukkie wyn nie, dan sekerlik om saam te peusel aan ’n paar dadels uit die Tuin van Eden. Ons sou gesels oor Paulus van Tarsus, die man sonder ’n vrou, en Zeus van Olimpus, die god met ’n onversadigbare seksdrang, ’n jaloerse vrou en ’n oog vir ’n mooi jongetjie.

      Ja, ek was ’n gelukkige man, geseënd en jubelend, het ek gereken. Maar ek was vol hubris, Kaspaas; ek moes Herodotus beter gelees en Solon se waarskuwing aan Croesus ter harte geneem het: Nie voor die dag van sy dood weet ’n man of hy ’n gelukkige lewe gehad het nie. Ek kan nie onthou of die wyse Solon iets oor die gawe van die woord gesê het nie, maar al draai die ounooi ook in haar graf om as sy dit hoor, ek kan jou belowe ek het darem dié gawe. Laat ek jou ’n geheim vertel, my hond: ’n danige skrywer is ek nie, maar diep in my binneste weet ek ek het die hart en die tong van ’n digter in die kas.

      Ruwe storms het oor my gewoed. Die oom Daan van toe het in die Nuwe Suid-Afrika sommer ou Daan geword: ou Daan vir Sadok die priester, Natan die profeet, die Kreti en die Pleti, die hoipolloi en barbaroi, Doppers en Filistyne. Vir almal sommer net ou Daan.

      En toe … toe kry ek ’n heel besondere naam. ’n Skeldnaam. ’n Naam wat my in my dorp en in my land beswadder, besoedel en beklad het. En toe, nog een: a name that dare not speak its name, Kaspaas.

      En hier in China is ek Da Ni Eu.

      “Da Ni Eu! Are you listening to me?”

      Dis koud hier voor die tempel op die berg. My neus loop. Ek blaas hom uit en druk my sakdoek terug in my broeksak. Die tai ji-monnike maak of hulle dit nie sien nie, maar onderlangs loer hulle na my, Da Ni Eu, die gwei lo, die bleekgesigspook, wat sy uitskeidings in sy broeksak ronddra.

      “Are you listening to me, Da Ni Eu?”

      Meester