Elsa Winckler

'n Brief vir Reina


Скачать книгу

      

      ’n Brief vir Reina

      Elsa Winckler

      Lux Verbi

      Een

      Soos ’n uitgedroogde vadoek. Dis hoe sy voel. Maar ’n yslike vrag is van haar skouers af. Reina gaan staan stil aan die bokant van die trappies voor die Kaapse Hooggeregshof en lig haar gesig vir ’n oomblik op na die son wat net-net bokant die hoë geboue uitsteek.

      Hoe het sy op hierdie Maandagoggend hier beland?

      Haar lewe was goed, sonder enige komplikasies. Sy kon gaan swot het wat sy wou en sy het geskiedenis gekies. Haar liefde vir dié vak het sy van haar pa geërf en die dag toe hy haar gevra het om saam met hom hulle oudhede-onderneming te bedryf, kon sy haar geluk nie glo nie. Kan een mens so gelukkig wees om elke dag omring te wees deur dinge wat jou siel voed?

      Die verhaal van elke meubelstuk, elke teelepel, elke koppie of tafeldoek wat in die winkel gekom het, fassineer haar. Nie net die geskiedenis van die item nie, maar die storie van die mense wat op die stoel gesit het, die koppies gebruik het, die messegoed aangeskaf het.

      Wie was hulle? Waar het hulle gewoon? Hoekom het hulle dié item gehad? Waar het dit vandaan gekom?

      Dis tog moontlik dat elke liewe droom waar kan word, het sy gedink die dag toe haar pa haar alleen na haar eerste vendusie toe gestuur het, so ook die dag toe sy vir die eerste keer op eie houtjie Engeland toe vir aankope is.

      Min het sy toe geweet hoe onmoontlik sake kan lyk.

      “Jy oukei?” vra Larissa agter haar voor sy by haar inhaak.

      “Ek is oukei,” sê Reina. “Uitgemergel maar oukei.”

      Larissa stuur haar behendig tussen die mense deur tot by haar motor. “Jy moes nooit met Bert Naudé getrou het nie, jy weet dit seker. En ek is jammer, ek wou nooit weer die vent se naam noem nie, maar toe daag hy sowaar hier by die hof op.”

      Reina sug terwyl sy in die motor klim. “Nóú is dit natuurlik maklik om in te sien ek was ’n emosionele wrak toe hy ’n jaar gelede in my winkel in gestap het.”

      “Dit was maar enkele maande ná jou ouers se dood, jy was nog in so ’n dwaal.”

      “En so, so verslae. Hy is aantreklik en sjarmant en vriendelik, en ons is getroud voor ek my oë kon uitvee.”

      “Binne ’n maand en sommer by Binnelandse Sake!” vul Larissa aan. “Alles so haastig, jy wou net nie luister nie. Nie eens ouma Reina kon jou oortuig om te wag nie.”

      Reina kyk by die venster uit. As sy sommer maar net by haar ma op die bed kon geklim en haar hart uitgepraat het! Maar ouma Reina is darem nog hier. “Ek mis my ouma, ek wil sommer die naweek vir haar gaan kuier. Bert wou nooit …”

      “… daar gaan kuier nie omdat jou ouma deur sy streke kon sien lank voor jy daarvan geweet het.”

      Reina skud haar kop. “Dis so ’n cliché – ek was werklik die laaste mens wat agtergekom het hy verneuk my van dag een af. Teen daardie tyd het ek al besef ek is nie lief vir hom nie. Eintlik was ek seker nooit regtig nie, so ek is nie sonder blaam nie.”

      “Jy het nie rondgeslaap soos hy nie, Reina. En al was dit hoe aaklig, is ek bly jy het hom betrap, dit het die afhandeling van julle skeisaak net makliker gemaak.”

      Reina druk haar hand op haar maag. Die prentjie van haar man in hulle bed met ’n ander vrou is nie een wat sy maklik sal vergeet nie. Sy raak vlugtig aan Larissa se arm. “Baie dankie dat jy ingestem het om my advokaat te wees, vriendin. Ek weet nie hoe ek sonder jou hierdeur sou gekom het nie.”

      “Ek wens net jy wou luister en aandring op jou deel …”

      “Asseblief nie. Ek wil hoegenaamd niks van hom hê nie. Al waaroor ek bly is, is dat my liewe pa en ma nie meer hier is om te aanskou hoe hulle dogter ’n gemors van haar lewe maak nie.”

      “Dis darem nie waar nie. Jy is onnodig hard op jouself. Jy is ’n baie suksesvolle sakevrou met ’n gerekende oudhedewinkel. Mense ry van heinde en ver om by jou te kom koop of om jou opinie oor antieke ware en meubels te kry.”

      “Meubels en antieke ware kan ek uitkies, maar wanneer dit by mans kom, het ek klaarblyklik hopelose smaak. As ek ooit weer so stupid is om vir ’n tall, dark and handsome een te val, herinner my aan vandag, asseblief?”

      Larissa lag terwyl sy parkeer.

      Nou eers sien Reina hulle is by die Waterfront. Ai, sy sou baie eerder huis toe wou ry, haar kop toetrek en vir die res van die dag so bly lê. Gelukkig kon Bippie, die M-student wat naweke in die winkel werk, ook vandag help. “En nou? Ek het gedink jy laai my by my huis af?”

      “Ek skiet jou vir lunch. Ná die oggend in die hof, verdien ons al twee ’n lafenis.”

      Reina klim uit die motor en adem die seelug in. Op die oomblik wil sy baie eerder alleen wees en haar wonde lek, maar Larissa was die afgelope ruk haar steunpilaar, en sy bedoel goed.

      Larissa haak weer by haar in en hulle stap tot by ’n gewilde eetplek.

      Dis ’n lieflike lentedag, dis die middel van September, dis nog lank nie somer nie, maar vandag kan ’n mens al begin glo die warmer weer is om die draai. Die lug is helder, helder blou, die see blink.

      ’n Kelner kom met spyskaarte nader.

      “Wat van ’n glas wyn?” vra Larissa terwyl sy deur die spyskaart blaai.

      “O aarde, nee, ek moet nog teruggaan winkel toe.”

      “Maar is Bippie nie vandag daar nie?”

      “Sy is, maar sy was die naweek vir my baie bleek en stil. Ek wou nog uitvra, maar ons was so besig, en sy is weg voor ek met die laaste kliënt klaar was.”

      “Sy is regtig ’n groot hulp vir jou. Wanneer hoop sy om graad te kry?”

      “Teen einde volgende jaar, maar ek dink sy wil ook haar PhD doen. Haar ouers is albei akademici. Om te swot is in haar bloed. Ek hoop sy is nog ’n hele paar jaar hier rond; sy is meer as net ’n werknemer, sy het ook ’n vriendin geword.” Reina glimag skeef: “Ek dink sy het ook, nes ek, hopelose smaak in mans. Haar huidige boyfriend, Stan, wat soms by die winkel opdaag, is so ongeskik met haar dat ek nie kan verstaan hoekom sy dit toelaat nie. Maar nou ja, kyk waar was ek vandag.”

      Die kelner neem hulle bestelling. Toe hy wegstap, leun Larissa vorentoe: “Moenie my kop afbyt nie, maar ek wil tog weer vra: kom Sondag saam met my kerk toe?”

      Reina sluk. “Larissa, ek weet jy bedoel goed, maar die laaste keer wat ek gebid het, het ek nie antwoorde gekry nie. En nou kan ek eenvoudig nie.”

      “Daar is nie altyd antwoord nie, Reina, maar ons Here se liefde …”

      “Liefde? Watse liefde? My ma en pa, twee wonderlike mense, is in ’n motorongeluk dood, die dronk vent wat in hulle vasgery het, het niks oorgekom nie – hoe kan ’n liefdevolle God so iets toelaat? Glo my, ek het gebid, ek het deur die Bybel geblaai, maar ek kon nie antwoorde kry nie.” Reina maak haar oë vir ’n oomblik toe. “Skies, maar ek kan nie kerk toe gaan nie. Ek weet nie of ek ooit weer in ’n posisie sal wees waar ek sal wil nie.”

      “Wel, ek bid vir jou, of jy nou daarin glo of nie. Ek weet die Here wat ek dien, los ons nooit uit nie.”

      Reina slaak ’n slug van verligting toe die kelner naderstap met hulle drinkgoed.

      Sy en Larissa was van graad een af saam in die klas, hulle is saam universiteit toe, sy om geskiedenis en Larissa om regte te swot. Sy het dadelik by haar pa in sy oudhedewinkel begin werk, dis wat sy nog altyd wou doen, maar Larissa het ’n leerklerkskap gedoen voordat sy besluit het sy wil eerder ’n advokaat word.

      Hulle het nog altyd oor alles saamgestem, ook oor hulle Christenskap. Maar vandat Reina se ouers dood is, is daar ’n gat in haar binneste waarvoor geen Bybelvers help nie, en sy weet nie hoe om vir Larissa te probeer verduidelik wat in haar kop aangaan nie.

      Reina klink haar glas sap teen Larissa se glas water.

      “Miskien