ek voel ellendig daaroor, maar ons het toe met die skeisaak begin en ek wou nie vir haar vertel van die gemors voor alles nie verby is nie.”
“Ek het nog nooit gevra nie, maar jy praat min van jou oupa?”
“Dit maak my nog altyd hartseer. Hy was ’n mediese dokter en is dood toe ek nog in die hoërskool was. Hy kon ure lank vir my stories lees; ek was so lief vir hom en het by sy begrafnis vreeslik gehuil.”
Die kelner bring hulle kos, en hulle begin eet.
“Ek is sowaar honger,” glimlag Reina. “Ek het die afgelope paar weke so ’n naar kol op my maag gehad, ek kon nie eet nie, maar nou is my eetlus met mening terug.”
Larissa lig haar glas, en die ysblokkies rinkel: “Op ’n nuwe toekoms – mag daar van nou af net mooi dinge met jou gebeur.”
Reina voel sommer tranerig. “Dankie, vriendin, vir alles.”
Hulle het net mooi klaar geëet, toe haar foon lui.
“Dis Bippie,” frons Reina. “Sy weet tog waar ek vanoggend was,” sê Reina terwyl Larissa vir die kelner beduie om die rekening te bring. “Dis miskien oor ’n aflewering, ek hoor gou.
“Hallo, Bippie?”
“Reina, ek is jammer, maar …”
Reina trek haar asem vinnig in: “Bippie, huil jy?”
“Ja, dis ’n hele gemors,” snik Bippie.
“Wat het gebeur? Wat is ’n gemors?”
Maar Bippie huil so, Reina kan nie kop of stert uitmaak van wat sy sê nie.
“Ek kom. Sluit die winkel en wag agter in my kantoor.”
______________
’n Uur later staar sy en Larissa mekaar verslae aan terwyl hulle vertroostend oor ’n huilende Bippie se rug vryf.
“Ek is drie-en-twintig, ek weet niks van babetjies af nie, ek is stokalleen …”
“Nee, jy is nie,” sê Larissa ferm. “Ek en Reina is hier en ons gaan vir jou bid. Die liewe Vader gaan jou deur hierdie hele krisis dra, jy gaan nie een oomblik alleen wees nie. Maar kom ons begin heel voor: Is jy seker jy is swanger? Tuisswangerskaptoetse is nie altyd betroubaar nie.”
Vandat hulle by die winkel aangekom het, huil en praat Bippie so deurmekaar dat dit moeilik is om haar te verstaan.
“Ek was gister by die dokter; hy het netnou gebel en bevestig wat ek al ’n week gelede uitgevind het.” Bippie se mond begin weer bewe. “Ek is jammer, Reina, ek moes vir jou gesê het, maar ek het nie geweet hoe nie en nou pla ek jou vandag van alle dae met my ellendes.”
Reina vryf ritmies oor Bippie se skraal rug.
“En … uhm … wat sê die pa?” vra Larissa weer.
“Is dit Stan se baba?” vra Reina sag.
Bippie knik: “Ek het hom van my vermoede vertel, maar hy sê dis nie sy probleem nie, ek moes die baba … ás ek swanger is, moet ek die baba laat aborteer,” snik Bippie.
“En wat wil jy doen?” vra Larissa.
“Ek weet nie!”
Reina voel magteloos. Haar ma sou presies geweet het wat om vir Bippie te sê. Ouma Reina sal ook weet.
“En jou ouers?” vra Larissa toe die stilte tussen hulle rek. “Het jy met hulle daaroor gepraat?”
Bippie se skouers begin weer ruk. “Ek het met hulle gepraat nog voor ek by die dokter was en hulle sê solank ek studeer, sal hulle my studiekoste betaal, maar hulle moedig my ook aan om van ‘die probleem’ ontslae te raak.”
Reina en Larissa se oë ontmoet weer agter Bippie se rug.
“Wat jy nodig het, is ’n naweek weg,” sê Reina. “Ek en Larissa gaan die naweek vir my ouma op McGregor kuier en jy kom saam. Die vars lug en stilte sal jou help om perspektief te kry.”
“Ek sal solank alles omtrent jou opsies uitvind,” bied Larissa aan. “Ek en Reina is hier vir jou, jy is nie alleen nie. Ons sal alles bespreek en dan kan jy ’n ingeligte besluit neem.”
Bippie lig vir die eerste keer haar betraande gesig op: “Regtig?” Sy kyk na Reina.
Reina glimlag. Haar foon begin lui en sy staan op om dit te antwoord. “Regtig,” sê sy. “Ek antwoord net gou, ek is nou hier.” Sy stap ’n entjie weg om te antwoord.
“Is dit Reina Sauer?” vra ’n vreemde manstem.
Sauer? Dis haar nooiensvan, sy was die afgelope jaar mevrou Naudé, hoewel sy nooit haar ID-dokument verander het nie. So ja, sy is seker nog Reina Sauer. “Ja, kan ek help?”
“Ek is Johan Swanepoel, jou ouma Reina se prokureur. Ek is baie jammer om slegte nuus vir jou oor die foon te gee, maar jou ouma is vanoggend oorlede. Sy het …”
Verslae draai Reina om.
Larissa is dadelik by en neem die foon by haar voor dit uit haar vingers gly.
Reina moet vinnig gaan sit.
Here, hoekom? Hoekom? Hoekom?
______________
Ure later maak Reina uiteindelik haar huis se deur agter haar toe. Halfverbaas sien sy alles lyk nog soos dit vanoggend gelyk het – voor sy geskei is en voordat sy gehoor het ouma Reina is dood. Alles so asof niks merkwaardigs vandag gebeur het nie.
Sy stap deur na haar kamer toe en gaan sit op die bed. Ouma Reina. Sy het haar maande laas gesien. Omdat sy vir Bert probeer gelukkig hou het, het sy nie vir haar ouma gaan kuier nie. En toe verneuk hy haar in elk geval.
Bippie verwag ’n baba, ouma Reina sou geweet het wat om te doen, wat om te sê, maar nou is sy nie meer daar nie.
Sy krul op haar sy en druk haar papnat wange in die kussing.
Twee
“Dood? Sy kan nie dood wees nie, ek het môre ’n afspraak met haar. Een wat sy al drie keer verskuif het.” Derek druk sy vingers teen sy oë. Hy besef dadelik hoe belaglik sy aanmerking klink, maar frustrasie het by sy rasionele denke oorgeneem.
Die hoofpyn wat van vroegoggend af dreig, klop nou met mening. Wat kan nog verkeerd gaan? Dit is belaglik.
“Sy is gister skielik oorlede. Beroerte, sê die persoon wat die foon geantwoord het,” sê Santie, sy assistent.
Derek kyk vlugtig op. “Die persoon wat die foon geantwoord het, is dit familie? Dalk die kleindogter?” As dit is, is dit goeie nuus. Volgens die ou dame is haar huis in haar kleindogter se naam. Dit maak dinge aansienlik makliker en kan dalk die hele proses vinniger laat vorder as wat hy gereken het.
“Nee, maar sy sal skynbaar die naweek op McGregor wees.”
“Maak dadelik ’n afspraak, asseblief. Ek moet haar so gou moontlik sien. Moenie nee vir ’n antwoord vat nie.”
Santie draai weg, maar nie voor hy sien hoe sy haar oë rol nie. Hy is mislik, hy weet en hy sal later om verskoning vra, maar terwyl paniek sy keel kort-kort wil toedruk, het hy nie tyd om nice te wees nie.
Santie werk vir hom vandat hy sy kantoor oopgemaak het. Sy is kort duskant sestig, as hy reg onthou, en sy hou almal in die kantoor op hulle tone. Wat hy die afgelope ruk sonder haar sou gedoen het, weet hy nie.
’n Maand gelede het hy nog opgewonde sy hande gevryf en het hy en Ron Benadé, sy sakevennoot, glasies geklink op die suksesvolle afhandeling van hulle vorige ontwikkeling by Bloubergstrand. Die laaste sleutels is afgegee, die kopers tevrede, hulle bankrekeninge stewiger.
Altans so het hy gedink.
Totdat hy die volgende dag uitgevind het Ron het spoorloos verdwyn met die grootste gedeelte van die wins in sy sak. Die bitter smaak van ontnugtering is nog steeds