nie so nie?”
“Nee, o aarde, hartjie, nie vir my nie, maar wat van julle twee meisiekinders? Hy kon nie sy oë van jou afhaal nie, Reina.”
“Gmf,” snork Reina onvroulik. “Dit sal die dag wees. Hy wil die huis koop, dis al rede hoekom hy kamma so vriendelik is. “Waar kan ek jou weer kontak?” herhaal sy vies. “My ouma is nog nie eens begrawe nie.”
Cora en Trina word blekerig en al twee gaan sit vinnig.
“Wil jy die huis dan verkoop, hartjie?” vra tant Cora effe kortasem.
Reina hap na lug. Sy het te gou gepraat, maar dis die simpel man se skuld. Daar is net iets aan hom wat haar hare laat orent staan. Hy’s arrogant, seker van homself en … en … oukei, tant Cora is reg, hy’s aantreklik. Tall, dark and handsome, as ’n mens nou regtig notisie van so iets moet neem, maar sy kom so pas uit ’n huwelik met ’n mooi man en kyk waar het dit geëindig. So, mooi of nie, wil sy so min moontlik met hom te doen hê.
En waarvandaan die lawwe geklop van haar hart kom, weet sy nie, maar daaraan gaan sy haar beslis nie steur nie. Goeiste, sy is pas geskei!
“Kom ons wag tot Maandag voor ons besigheid praat,” sê Larissa egter voordat Reina kan antwoord. “Dankie, julle twee, dit was regtig die lekkerste skons wat ek al geëet het. Ons kon al die reëlings met die begrafnisondernemer van die Kaap af tref vir die diens, maar wat van eetgoed ná die tyd?”
“So skielik.” Tant Trina se oë het weer vol trane geskiet. “Ons het nog planne gehad om volgende naweek McGregor se Voedsel- en Wynfees by te woon, Reina het vertel hoe lekker dit is, maar nou …” Sy blaas in haar snesie. “Ek kan nie glo Reina is weg nie,” snuif sy.
Tant Cora se oë blink ook nou van die trane. “Die gemeentelede sal die eetgoed maak, hartjie, julle hoef julle nie daaroor te bekommer nie. Almal was so lief vir Reina, haar onvoorwaardelike geloof in die goedheid van ons liewe Heer was vir my so ’n inspirasie. En sy het so ’n hart vir ander mense gehad. Toe sy hoor ek en Trina is amper op straat, het sy in haar motor geklim en vir ons op Barrydale kom haal.”
“Hoe bedoel tant Cora, amper op straat?” vra Larissa.
Tant Cora draai ’n snesie om en om haar vingers. “Trina se kinders oorsee is mos maar besig en haar geldjies was op, myne ook. Ons drie het so lekker gebly, Reina maak alles spesiaal. Maar nou … ek weet nie waarnatoe ons twee nou sal gaan nie.” Die trane begin sommer oor haar wange loop.
Reina staar na die twee ouer vroue. Wat gaan sy doen? Moeg maak sy haar oë toe. As sy net kan dink, kan sy dalk by ’n oplossing uitkom, maar op die oomblik wil haar breinselle net glad nie werk nie.
“Tant Cora, tant Trina,” sê Larissa, “ons sal wel ’n plan maak. Kom ons rus die naweek en begrawe eers vir ouma Reina. Ek moet Maandag terug op kantoor wees, en Reina moet deur haar ouma se goed gaan, maar ek is weer volgende naweek hier, dan praat ons verder. Ons is almal hartseer, en ek dink ons moet die hartseer dié week eers toelaat om sy loop te neem voor ons oor ander dinge praat. Stem jy saam, Reina?”
Reina knik stadig.
In haar binneste is ’n groot seer – sy rou oor haar ouers wat heeltemal te vroeg uit hierdie lewe weggeruk is; sy rou oor haar huwelik wat nie uitgewerk het nie; sy rou oor haar ouma. En skielik is daar al hierdie ander mense met probleme. Probleme, begin sy besef, wat op een of ander manier hare gaan word. Bippie verwag ’n baba, die twee tantes het geen ander heenkome as haar ouma se huis nie en oom Fred het nie ’n inkomste as hy nie aan die einste huis werk nie.
Larissa spring op. “Tant Cora, wat kan ons doen om met aandete te help?” Sy trek aan Reina se arm en Reina stap stom agter die ander twee vroue aan kombuis toe. Een voet voor die ander. Dis hoe sy na haar ouers se dood reggekom het, hopelik werk dit nou weer.
Vier
Hy weet nie hoekom hy hier is nie. Derek skuif in die agterste ry van die kerkbank in. Die kerkgebou op McGregor is ’n pragtige, statige, ou gebou met ’n kloktoring en besonderse afwerking, maar die kerkterrein is verwaarloos wat seker net een ding beteken – geld is ’n probleem.
Hy het vroeg hier aangekom en het die tyd gebruik om deur die dorpie te ry. Die enigste vorige keer wat hy hier was, was toe Ron die potensiaal van die dorpie aan hom uitgewys het. Dit was toe ook al wat hy raakgesien het.
Vandag kyk hy anders na die plek.
Ja, dis ’n sjarmante, ouwêreldse dorp met leivore en groot vrugtebome, ’n plek waar mense kaalvoet oor die strate na mekaar toe stap soos hy vanoggend gesien het. Maar die hoofstraat is stil, heelwat winkels is leeg.
Die hol kol op sy maag vertel hom die projek gaan sneuwel nog voor dit begin het.
As die pad tussen McGregor en Greyton destyds voltooi is, was die dorpie heel waarskynlik ekonomies baie sterker, maar dan kon die plek ook heelwat van sy sjarme verloor het.
Dis Vrydag, hy het so baie werk, so baie vure om nog ná Ron se verdwyning dood te slaan: hy moet eintlik net agter sy lessenaar bly. Maar hy was heel oggend kriewelrig totdat Santie later oor haar bril vir hom geloer en gevra het wat aangaan. Dis toe wat hy sy motorsleutels gryp en die pad vat.
Hy kan nie onthou wanneer laas hy in ’n kerk was nie. Sy ma het hom en Gideon Sondae kerk toe geneem. Hy het gegaan, want dit het ten minste ’n uur weg van sy pa beteken. Gideon het altyd aandagtig geluister, maar niks wat die predikant gesê het, het vir hom wat Derek is, sin gemaak nie.
God die Vader. Al wat hy van ’n “vader” geken het, was woede, afbrekende opmerkings en vernedering. Die idee van ’n Vader wat omgee, wat liefdevol is, wat jou “toets”, was nie iets wat hy ooit verstaan het nie, en ná sy ma se dood het hy nie weer sy voete in ’n kerk gesit nie. Hy was toe in matriek, Gideon in graad elf.
Dis ook deels die rede hoekom hy en Gideon nie kontak het nie. Of liewer, hoekom hy nie met Gideon kontak hou nie. Gideon laat hoor gereeld van hom, Derek weet net nie wat om vir hom te sê nie. Gideon glo in die God van wie sy ma hulle vertel het; hy glo ná alles wat in hulle huis gebeur het, onwrikbaar in sy God se liefde en vergifnis, en eerder as om van hom te verskil bly Derek stil. Sy broer kan so vurig oor sy Christenskap raak.
Gideon het eers gaan werk, elke sent gespaar en hom toe as mediese dokter bekwaam. Presies waar in die wêreld hy in dié stadium is, weet Derek nie, maar dit sal wel wees waar ellende is: waar ’n sikloon ’n land getref het of op ’n plek waar mense mekaar uitmekaar skiet, want dis wat sy broer kies om te doen. Anders as vir Derek, het geld vir hom geen waarde nie. Wat hy verdien, gebruik hy om ander te help – iets wat nie vir Derek sin maak nie. Die lewe het hom geleer as jy nie na jouself kyk nie, is daar niemand anders wat dit gaan doen nie.
Soos die hele gemors met Ron net weer bevestig het.
Derek kyk om hom rond. Daar is baie mense in die kerk, die tante was skynbaar geliefd. Wie sal sy begrafnis eendag bywoon? Sal daar iemand wees wat oor hom treur? Hom sal mis? Daar is een of twee mense wat hy seker vriende kan noem, maar hy werk sulke lang ure dat daar nie regtig tyd vir sosialiseer is nie.
Hy neem af en toe ’n vrou uit, maar vroue wil gewoonlik meer van hom weet as wat hy wil of kan vertel, so hy vermy die spesie sover moontlik. Buitendien, trou en kinders kry, is nie dinge wat hy ooit sal oorweeg nie. Hy dra ook sy pa se DNS in hom en wat aan hom gedoen is, wil hy aan geen kind doen nie.
Daar is ’n beweging by die deur, en hy kyk om. In die paadjie kom Reina, haar vriendin en die drie ouer mense wat hy gister ontmoet het, afgestap.
Soos toe, steek sy oë weer vas by Reina.
Haar gesig is stroef, haar oë rooi. Haar hare is vandag los en hang teen haar rug af. Hy onthou weer die seer in haar oë, haar weerloosheid. Wat het Cora oor haar gesê? O ja, haar ouers is ook onlangs oorlede. En sy is nie getroud nie. Sy is nie meer getroud nie, het sy gesê. So sy was getroud.
Wat sou gebeur het? Hoekom?
Die predikant het begin praat, en Derek probeer fokus op wat hy sê. Hy is hier omdat hy sy respek aan haar ouma