sê die predikant en glimlag. “Reina sou van die mooi blomme gehou het.” Hy beduie na die groot ruiker voor die preekstoel. “Ons neem vandag afskeid van ons vriendin, ’n besonderse mens …”
Derek draai sy kop en sien weer die kleindogter raak waar sy in die voorste ry langs haar vriendin sit. Haar kop is vooroor gebuig, haar vingers teen haar oë gedruk. So asof sy nie wil raaksien wat om haar aan die gang is nie. Haar skouers is smal, haar hande fyn. Soveel hartseer vir een mens om te dra.
Hy ruk sy kop weg. Ander mense se moeilikheid is hulle saak, dit het niks met hom te doen nie. Die vroumens moet ’n koopkontrak teken, dis al wat hy van haar wil hê. Haar probleme is nie syne nie.
“Ek het ’n boodskap voorberei vir vandag, maar op pad hiernatoe, het ek van plan verander,” sê die predikant. “Reina se dood het ons onkant betrap; ons harte is seer, ons het mekaar juis nou nodig. Dis moeilik om altyd te verstaan hoekom sekere dinge gebeur, hoekom daar soveel hartseer en lyding op aarde is, maar daar is sekere Bybelse waarhede wat tog vir ons lig op die onverstaanbare kan werp.”
Derek het kleintyd al geleer om uit te sny, om in sy gedagtes op iets heeltemal anders te fokus as op die storietjies wat die man op die preekstoel te vertel het.
Maar vandag sukkel hy om op iets anders te konsentreer, die dominee se stem dring deur sy gedagtes.
“… ’n tweede ligpunt: Hoewel lyding nie goed is nie, kan God dit gebruik om iets goeds te bereik. In Romeine 8 vers 28 lees ons dat ‘God alles ten goede laat meewerk vir dié wat hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is’. Jy sit dalk vandag hier en dink niks goeds kan uit jou omstandighede kom nie. Die skade is te veel, jou seer te groot. Maar dink aan wat God gedoen het: Hy het die ergste wat nog gebeur het, sy Seun se kruisdood, verander in die beste ding wat nog gebeur het: almal wat in Hom glo, kan hemel toe gaan.”
Derek sluk aan die wrang smaak in sy mond. Goed? Sy pa se woede en afbrekende woorde het niks goeds tot gevolg gehad nie. Inteendeel, sy ma is heeltemal te vroeg dood, sy broer swerf oor die aardbol en probeer goed doen op plekke waar die bose lankal oorgeneem het en hy wat Derek is? Die goeie het by hom verbygegaan.
Derek kruis sy arms en kyk af na die punte van sy duur skoene. Die gemors waarin hy op die oomblik is, is sy eie skuld en hy sal self hier uitkom. Daar is niemand wat hom kan help nie. En al is daar ’n God, hoekom sal Hy hom help? Toe hy as klein seuntjie gebid het, gesoebat het om hulp, het niemand kom help en het niks verander nie.
Die ontwikkeling? Wat gaan hy doen as die kleindogter om een of ander rede besluit om die huis nié te verkoop nie? Een oplossing, een waaraan hy nie wil dink nie, is om sy huis in Clifton te verkoop. Die huis wat alles verteenwoordig waarvoor hy tot dusver gewerk het.
Paniek slaan sy kloue om sy lugpyp en hy skep ’n diep teug asem.
Weer dring die dominee se stem tot hom deur: “Die vierde ligpunt: Ons lyding is niks in vergelyking met die goeie dinge wat God vir sy volgelinge belowe nie. Paulus wat vervolging verduur het, geslaan is, gestenig is, in die tronk gegooi is, praat in Romeine 8 vers 18, ‘van die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek’.”
Derek staar na die predikant. Die man se mond beweeg en hy beduie met sy hande, maar dis asof Derek onder water verdwyn het, want hy maak nie meer uit wat die man sê nie.
Weer die woord. Goed. Goeie dinge? Met hom? Hy knip sy oë en die dominee se stem kom terug.
“… is lyding op hierdie aarde deel van menswees. Ek kan baie teologiese redenasies aanhaal, maar wat geliefdes van Reina van Deventer nou nodig het, is die werklike en vertroostende teenwordigheid van Jesus in hulle lewens. En dis ons elkeen se opdrag – wees daar vir hulle, wees jy as’t ware ’n Jesus vir almal wat dit nou nodig het.”
Derek se oë val weer op die smal skouers van die kleindogter. Van Reina. En vir een waansinnige oomblik wil hy opstaan en haar vertroos.
“Ek sluit af,” sê die dominee. “Die Engelse vertaling van Psalm 116, vers 1 en 2, sê dit vir my so mooi: ‘I love the Lord because he hears my voice and my prayer for mercy. Because he bends down to listen, I will pray as long as I have breath.’ Hy buig af na ons om te luister wat ons sê. Ons God is goed, sê Nahum 1 vers 7 vir ons: ‘Hy is ons toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir die wat by Hom skuil’.”
In Derek se binneste stoei honderde gedagtes. Beelde uit sy verlede wil hom mal maak. Hy wil hardop skree, sy woede, sy seer uitgil – waar was die goeie waarvan die predikant vandag praat toe hy dit nodig gehad het?
Waar was God toe?
______________
Reina kan haar kop nie optel nie. Sy wil die dominee nie hoor nie; niks wat hy sê, kan die gat in haar binneste ooit weer opvul nie.
Maar die woorde val meedoënloos op haar ore: “Waar daar lyding is,” dreun die dominee se stem, “is daar oorlog – daar is ’n stryd om jou siel te wen. Dis jou keuse of jy bitter word en of jy na God toe draai, meer liefdevol word, meer deernis het vir ander se swaarkry. Jy kan die keuse maak om óf weg te hardloop vir God óf jy kan na Hom toe hardloop. Hy verseker ons Hy het die wêreld reeds oorwin. Tragedies, pyn, lyding – dié dinge sal gebeur, maar by God kry ons vrede om ons huidige probleme te hanteer, moed om toekomstige pyn aan te pak en op die koop toe, die belofte van die ewige lewe in die hemel.”
Here, hoe doen ek dit?
“En wanneer jy deur jou eie pyn gewerk het, kan jy ook ander mense help, want dan het jy eerstehandse ondervinding van sy genade en planne. Hy het jou deur jou lyding vasgehou, Hy het jou gebrei om meer soos sy beeld te wees, so nou is jy in staat om aan ander te gee wat God aan jou gegee het.”
Ander mense help? Goeiste, ek kan myself nie eens help nie!
Om haar begin die mense sing.
Reina beur orent. Sy het sowaar met die Here sit en praat. Hoekom sal Hy nou na haar luister? Waar was Hy toe haar ouers dood is, toe Bert in haar lewe gestap het? Hoekom het Hy nie toe vir haar gesê sy maak ’n fout nie?
Larissa neem haar arm en druk haar voor haar uit in die paadjie af na buite.
Uit die hoek van Reina se oog sien sy ’n beweging en toe sy opkyk, is Derek Retief se oë op hare.
Sy kake is styf opmekaar vasgeklem, sy hande in sy broeksakke gedruk.
Sy kyk vinnig weg. “Wat soek hy hier?” vra sy onderlangs.
“Van wie praat jy?” fluister Larissa.
“Die vent wat die huis wil koop. Agterste sitplek.”
“O, ek sien hom. Seker net ordentlik. Hy het jou ouma geken.”
“Gmf. Hy wil net seker maak hy kan besigheid doen. Hoekom sou hy my ouma se huis so dringend wil hê, wonder ek.”
“Moenie jou nou daaroor ontstel nie. Kyk, daar is die tantes, hulle sal wel weet waar ons ’n koppie tee kan kry.”
“Wat maak ek met die twee oumense, Larissa?”
“Ons gaan nie vandag daaroor praat nie, daar is nog baie tyd. Die prokureur kom later vanmiddag om vir jou ouma Reina se testament te gee. Dis skynbaar heel eenvoudig, so daar is niks waaroor jy jou hoef te bekommer nie. Kom ons gaan drink tee en kry iets om te eet. Ek is behoorlik flou na die diens.”
Dis nie so maklik om by die teetafel uit te kom nie; kort-kort spreek iemand haar aan om iets oor ouma Reina te vertel. Teen die tyd wat Larissa haar ’n koppie tee in die hand stop, is die knop in haar keel so groot dat sy sukkel om te sluk.
“Reina,” sê ’n stem langs haar.
Sy hoef nie op te kyk om te weet dis Derek Retief nie. Versigtig sit sy haar koppie terug in die piering. “Meneer Retief,” sê sy sonder om op te kyk.
“Derek, asseblief. Ek is werklik jammer oor jou ouma. Ons het net oor die foon gesels, maar sy was ’n interessante mens.”
“Ja, sy was. Ek … mis haar.”
Stilte.