man!” Sy klap haar hande.
Derek is ’n oomblik heeltemal uit die veld geslaan. Niemand het nog ooit na hom as “mooi” verwys nie.
Sy ore word warm.
“Jou van is Retief, as ek reg onthou?” Sy babbel vrolik voort, ’n antwoord is nie regtig nodig nie. “Ek en Trina het juis onthou van Dik Hans Retief van Hartswater, nou wonder ek –”
“Middag, mejuffrou Verwey,” onderbreek hy haar. “Ek wil baie graag met mevrou Van Deventer se kleindogter praat as dit moontlik is?”
Sy trek hom aan sy arm die huis in en die gang af. “Natuurlik, hartjie, kom in, kom in. Trina sê altyd ek praat te veel, maar ons sien nie so baie ander mense nie, weet jy? Ons sit in die eetkamer, die kinders het ook so pas hier aangekom.”
Kinders? Watse kinders? Voor hy kan vra, is hulle by die eetkamer en trek die tante hom agter haar aan die vertrek in: “Hier is meneer Retief wat met jou wil praat, Reinatjie. Is hy nie die mooiste man nie? Trina, lyk hy nie vir jou baie soos Dik Hans gelyk het in sy jong dae voor hy vet geword het nie?”
Vier mense sit aan tafel, twee gryskoppe en twee jonger vroue, een met bruin hare en een ’n blondekop. Derek se oë het op die brunet beland en net daar vasgesteek.
Haar hare is losserig laag in haar nek vasgemaak, maar ’n paar slierte het losgekom en omraam ’n skraal, fyn gesig. Seeblou oë kyk op na hom. Sy is seer, hartseer, moedeloos en ontredderd. Hy lees elke emosie in haar oë.
Om iemand se bui te peil, is ’n truuk wat hy en sy broer as kinders bitter gou moes aanleer. Hulle het saans net ’n paar sekondes gehad om te sien in watter bui hulle pa was sodat hulle hul uit die voete kon maak indien nodig. Dit was eers heelwat later dat hy besef het dit was beter om maar te vat wat kom, anders het sy ma dit ontgeld.
“Dis Reinatjie, meneer Retief,” dring die silwerkop se stem weer tot hom deur. “Wat is jou van, Reina, jy is mos getroud vandat ek jou laas gesien het?”
Die meisie met die bruin hare lyk vir oomblik verdwaas voor sy haar kop skud. “Nie meer nie. Ek is Reina Sauer.”
“Derek Retief,” sê hy en steek sy hand uit, skielik bly sy is nie getroud nie. Waar kom die belaglike gedagte vandaan? Of sy getroud is of nie, het tog niks met hom te doen nie.
Vir ’n oomblik of twee kyk sy af na sy hand voordat sy haar hand uitsteek. Hy vou sy hand om hare en iewers in sy binneste is daar ’n roering. Sy oë ontmoet hare.
Hy los haar hand vinnig en dwing hom om na die vrou langs haar te kyk.
“Dis my vriendin, Larissa Schoeman,” beduie Reina. “Advokaat Larissa Schoeman.”
Hy hoor die klem op die woord “advokaat”.
Die blondine kyk hom koel aan voordat sy haar hand uitsteek. Hy groet haar, maar dié keer is daar geen ander gewaarwording nie. Sy skuif baie effens nader aan die ander vrou. Beskermend? Agterdogtig?
“En dis Trina van Zyl en Fred Bouwer,” kwetter Cora langs hom. “Ek en Trina bly hier … wel, op die oomblik,” voeg sy by voordat sy senuweeagtig die stoel uittrek en gaan sit. “En Fred is die handyman.”
Cora lyk bang. Onseker. Dieselfde emosie wat hy in Trina se oë lees. Fred kyk af toe hy Derek se hand skud, want dis duidelik die ouer man is ook nie op sy gemak nie.
“Reina, juffrou Sauer, kan ons alleen gesels?” vra Derek.
Die drie ouer mense staan dadelik op. Trina en Fred beweeg deur se kant toe, maar Cora stap nader.
“Is jy getroud, hartjie?”
“Tannie Cora!” roep Reina en haar vriendin tegelyk uit.
“Maar hoe anders gaan ons weet?” vra Cora onskuldig.
Derek kners op sy tande, maar forseer ’n glimlag oor sy lippe. “Nie getroud nie, juffrou, en ook nie van plan om ooit te trou nie.”
Cora skud haar vingertjie voor sy gesig: “’n Mens moet nooit sê nooit nie, hartjie, want jy weet nooit,” eindig sy op wat baie na aan ’n giggel klink.
“Tannie Cora,” raas Reina.
Maar Cora is al op pad deur toe: “Ek loop, ek loop, ons moet begin kosmaak vir vanaand. Jy is baie welkom om te bly en saam te eet, hoor!” sê sy oor haar skouer vir hom.
“Dankie, maar ek moet voor vanaaand terug in die Kaap wees.”
“Trina? Waar is jy? So ’n mooi man, dink jy nie so nie?” Sy is reeds in die gang af, haar stem hard en duidelik.
Tot sy ergernis voel Derek hoe sy ore weer warm word.
Die blondine glimlag effens. “Jy kan gerus sit, meneer Retief.”
“Noem my gerus Derek.” Hy trek ’n stoel uit. “Ek het gehoop ek en juffrou Sauer kan alleen …”
“Ek is haar advokaat. Enigiets wat jy met haar wil bespreek, bespreek jy voor my.”
Die blonde vrou bly glimlag, maar die staal agter haar woorde is hard en duidelik.
Hy sluk sy frustrasie in. “Natuurlik.” Hy haal die lêer uit sy aktetas. “Ek het mevrou Van Deventer ’n paar maande gelede gekontak met ’n aanbod om die huis te koop. Ek is besig met ’n ontwikkeling en die erf waarop die huis staan, vorm deel van die beplanning. Ek sou haar dié week besoek het sodat ons die saak kon bespreek. Soos julle kan sien, is die huis oud en het dit baie aandag nodig. Dis ’n probleem wat ek uit jou hande kan neem.”
Reina trek ’n wenkbrou op. “Het my ouma ingestem om die huis te verkoop?”
Vir ’n oomblik wonder Derek of hy nie sal lieg nie, maar dit was nog nooit die manier waarop hy besigheid gedoen het nie. “Nee, sy het nie, maar ek aanvaar die feit dat sy ingestem het om my te sien, is ’n aanduiding dat sy wel na ’n aanbod wou kyk.”
Reina kyk na haar vriendin.
“Wat is jou aanbod?” vra die advokaat.
Derek maak die lêer oop en stoot dit oor die tafel tot voor die twee vroue. Die advokaat lees deur die kontrak, terwyl Reina agteroor sit met haar arms gevou. Die donker kringe onder haar oë vertel hulle eie storie.
“Goed, Derek, ons sal hieroor gesels en jou laat weet,” sê die advokaat en staan beslis op. “Niks kan in elk geval gebeur voor die boedel nie afgehandel is nie, jy verstaan dit seker?”
Fronsend kyk hy na Reina, maar haar oë is op haar hande. “Jou ouma het my laat verstaan die huis is in jou naam, juffrou Sauer.”
“My naam is Reina,” prewel sy, diep frons weer tussen haar oë.
“Reina?” vra haar vriendin. “Het jy geweet die huis is in jou naam?”
Reina staar voor haar uit: “Êrens lui ’n klokkie … ek was nog ’n student …” Sy skud haar kop. “Ek het heeltemal daarvan vergeet. Ek onthou nou ek het dokumente geteken, maar ek het in jare nie daaraan gedink nie.”
“Dit moet ’n groot las vir jou wees, een wat ek graag by jou oorneem,” por hy weer.
Reina lyk ergerlik. “Ek … sal dink daarooor. Ons sal jou laat weet,” sê sy kortaf sonder om na hom te kyk.
Derek staan op: “Is jy nog ’n rukkie hier? Of waar kan ek jou weer kontak?”
“Ek is ’n rukkie hier,” sê Reina, duidelik geïrriteerd. “As jy jou nommer los, sal ek jou laat weet wat ons besluit is.”
Derek sluk sy frustrasie met mening in. “Paddle back out.” Dis die een reël van Tomson se surfer-kode wat hy baie gebruik. Hy kan vasbyt wanneer daar uitdagings is. Die mooie juffrou sal nog leer hy vat nie nee vir ’n antwoord nie.
______________
“En toe?” vra tant Cora toe sy en Trina minute later terug in die eetkamer kom. “Dink julle nie ook dis die mooiste man nie?”