n>
HANS PIENAAR
Die Generaal
Tafelberg
Hoewel hierdie verhaal op ware gebeure gegrond is, is die karakters fiktief en is ooreenkomste met werklike mense toevallig. Aspekte van die Suid-Afrikaanse Weermag se prosedures, regulasies, fasiliteite en operasies is aangepas ter wille van die verhaal.
Een
Daar is ’n klop aan die deur. My vinger huiwer op die sneller. My hart hamer die sekondes in my ore om.
Wat sal gebeur as die skoot afgaan? Sal die persoon aan die ander kant terugtree van skok? Die deur se handvatsel wikkel en ontdek dis gesluit? Sal hy dan die deur probeer oopskop soos in die rolprente?
Of sal hy dink dit was ’n ongeluk? Dat ek met iets onwettigs besig was en nie betrap wou word nie?
Ek staan op en plaas my oor versigtig teen die deur. Die ou aan die ander kant is verveeld; hy probeer fluit en neurie tegelyk. Dit kan net die adjudant wees. Hy is die laaste mens wat ek wil hê die eerste moet wees om op my dooie liggaam af te kom.
Ek druk die pistool se veiligheidsknip op met my duim, en gaan sit op die bed, verslae.
Selfs as dinge heeltemal vlot verloop, moet ’n mens op jou hoede wees vir die adjudant. Hy is altyd besig om onwettige rondtes uit te deel. En as jy nie ’n afstand tussen julle handhaaf nie, sal jy spoedig nes hy ’n mes om elke enkel dra met ’n .22-pistool teen jou stuitjie, of ’n paddaslagter in een oksel en ’n opvou-Uzi in die ander.
Ek kyk af na die pistool in my skoot, en ervaar ’n oorweldigende afkeer aan myself.
Wil ek regtig hê my brein moet oor hierdie miserabele kamer spat? Met die koeël van ’n wapenfanatikus daardeur? En die gemors, wie sal dit skoonmaak? Medics wat hulself gelukwens omdat hulle die beste staanplekke by die skouspel het? Die skoonmakers met hul skewe emmers en vuil moppe wat nie op hul knieë wil gaan vir die stukkies onder die hangkas nie?
Met ’n bewende hand steek ek die sleutel in die slot. Die ander sleutels aan die bos klingel, en die adjudant klop weer. “Maak oop, Johan, ek weet jy’s daar. Dis dringend.”
Dringend? Hy laat my lag.
Die adjudant bars die vertrek binne toe ek die deur oplaas oopgesluit kry. “Ek het goeie nuus, Johan!” Hy lig sy arms soos ’n dirigent en stamp teen die lampskerm. “Jy’s op pad …” en dan terwyl hy die dobberende lampskerm laat bedaar: “Jy’s op pad grens toe.”
Grens toe. Ek het dikwels gewonder hoe ek sal reageer. Ek het die uiteenlopende reaksies in my kop laat afspeel: van ’n betekenisvolle pouse wat my onwilligheid sal aandui, tot die glimlag van oor tot oor uit gretigheid.
Nou laat die nuus my duiselig voel; dit slaan my in die solar plexus. Die adjudant vroetel nog met die lampskerm en ek onderdruk die behoefte om my hande oor my gesig te slaan. Alles is net te veel.
“Wat’s verkeerd?” vra hy, en dan moedswillig: “Wil jy nie gaan nie?”
Ek sukkel om myself te bedwing. “Het ek ’n keuse?”
Die adjudant kyk wantrouig na my. My miserabelheid behoort duidelik te wees. “Daar’s niemand anders nie,” sê hy, en lig sy arms, gemaak ontsteld. “Tensy jy wil hê ék moet gaan, maar dan moet jy mý plek vat.”
Adjudant is die onaangenaamste posisie in die regiment. Die kommandant se help-my-trap.
“Nee wat,” antwoord ek. Ek het nie die krag om dit verder te deurdink nie. Ek staan op en vra so ongeesdriftig moontlik: “Waar?”
“Seksie C. In die Zambezivallei. Dit gaan soos vakansie wees, man.”
Die Zambezi … Ons het die rivier in swart-en-wit films op donker middae gesien, die massiewe rivier wat onverstoorbaar vloei deur ’n oerwoud met gul bome en reusagtige varings, en voëls wat in wye boë daaroor vlieg. Die gedagte daaraan bring ’n skimp van kalmte en ek herwin genoeg van my ewewig sodat ek die adjudant die deur kan wys.
“Kyk, dankie vir die nuus. Maar soos jy kan sien, ek voel ’n bietjie deur die weer.”
“Ek bring nie vir jou nuus nie,” sê hy, en tol sy baret om sy vinger. “Ek dra bevele aan jou oor. Dit is só dringend dat die kommandant my gestuur het om te kom kyk of jy al terug is. Hy wil jou sien, nou. En jy moet begin uitklaar, nou. Want jy vlieg oormôre. Daarom moet jy liewer vinnig beter voel, of jy gaan agterbly.” En met dié woorde vertrek hy.
Ek gaan lê ek op my bed om tot verhaal te probeer kom. Ná ’n hele paar minute voel ek my liggaam swaar word, asof ek ’n salwende gif gedrink het. Ek sien mis oor die boomtoppe, blare wat ritsel, ’n liggaam langs myne, slapend, voel begeerte … onderdrukking van begeerte.
Ek sit regop. Hulle wil my die natgereënde woud instuur waar die klimoppe van die bome hang en die geur van humus jou neusvleuels vul. Met beloftes van vrede wat só sterk is dat dit jou vir ewig sal wakker hou.
Vir ’n kwartier lê ek, wag maar vir die besluiteloosheid om te veel te raak. Sal ek in staat wees om voor die kommandant te staan sonder om in duie te stort? Soos ’n zombie staan ek op en laat my lei deur plig. Dalk het die militêre gewoonte tóg deel van my geword.
Ek stap in ’n dwaal na die regiment, my liggaam vol pyne.
Toe ek die kommandant se kantoor binnetree, sit hy agter sy lessenaar en kan hy nie die versoeking weerstaan om op sy horlosie te kyk nie. Ek konsentreer om met die saluut nie my voet te hard neer te sit nie.
Die kommandant wuif my in ’n stoel in en maak eers die werk voor hom klaar. Sy kantoor is eintlik knus, met varings in ’n wynvat van eikeplanke en koperringe op ’n hoekstaander van geelhout. Die punte van die gordynstok is ook van koper, asook die rame van die foto’s op sy lessenaar en die sepia-Boereoorlogfoto’s teen die muur. Hy hou daarvan om jou vermoë om wakker te bly te toets deur aan en aan te gaan oor die dertienjariges wat oorleef het op beskuit en droë pap en gebrande pampoenpitte vir koffie. Heelwat brawer as die jong manne waarmee hy vandag sit.
Uiteindelik skuif hy sy werk opsy. “Ons is gekonfronteer met ’n ernstige probleem,” begin hy, asof hy ’n preek oefen, “’n gróót probleem, en as ons dit nie betyds aanspreek nie, sal dit ernstige gevolge hê vir die goeie en harmonieuse orde van die regiment wat ons gevestig het met die bedoeling om elke tydelike lid, soos jy en jou kollegas, nie so ontuis te laat voel nie.”
Die kommandant is ’n ernstige man. Ek onderdruk die impuls om ook op my horlosie te kyk.
“Iets het op die grens gebeur wat die vrede en harmonie van die regiment bedreig,” sê hy dan. “Dit het begin”, vervolg hy plegtig, “met luitenant Nick de Villiers wat laas week versoek het om oorgeplaas te word na 1 Valskermbataljon te Bloemfontein. Ons, die regiment, het aan sy versoek voldoen op grond van sy bewese veelsydigheid, en ook omdat daar ’n dringende vakature was vir ’n spesialis-seinoffisier by 1 Valskermbataljon.”
Die kommandant staan op en tuur na die foto’s teen die muur. Ek moet konsentreer om te hoor wat hy sê.
“Maar toe hoor ons van ’n kommerwekkende gebeurtenis by Seksie C waar luitenant De Villiers tweede in bevel was.”
’n Seiner wat siek geword het en wat ge-debrief is deur kaptein Johnson van Stellaskop, het sy mond verbygepraat. Dit was oor die een of ander “ontgroening” waaraan almal deelgeneem het. Toe kaptein Johnson hom uiteindelik met die militêre hof dreig as hy nie verder praat nie, het die manskap gesê hy het ’n eed gesweer hy sal niemand vertel wat gebeur het nie.
Die kommandant stap op en af voor die foto’s, sy woorde afgemete. “Ekself, as ek nou moet terugdink aan my eie skooldae toe ’n eed soos ’n saak van lewe en dood gevoel het, bewonder karakter soos syne. En om eerlik te wees, ek kan dit nie oor my hart kry om die arme seinman te boelie tot hy sy kamerade verraai nie. Dit sal ook nie goed vir die manskappe se moreel wees nie.
“Ons sou kon anderpad kyk,” sê die kommandant, “as dit net ’n geval was van die troepe wat ’n nuweling in ’n swembad gedompel het, of gedwing is om Worcestersous en brood te eet, hoewel