in my oor dat hulle vir my sal wag ingeval ek “iets wil doen”, en ek knik maar. Iets doen? Vroetel in die kar onder die jakarandas?
Nee, ek wil net in haar hare wegraak en met my mond die lyne van haar nek en skouers volg. Die hele nag lank. Ek kry ’n knop in my keel; eintlik is my enigste begeerte om haar vas te hou en te huil.
Uiteindelik, toe die saal heelwat leër is en my kamerade in my rigting loer, en ek die naarheid in my maag voel styg, neem ek haar hand en druk my lippe daarteen. Sy kom staan teen my, haar mond gelig vir die soen, maar ek hou haar kop teen my bors en sê net: “Auf Wiedersehen.”
Ons tree van mekaar af weg tussen die omgevalle stoele. “Ek hoop jy sal veilig terugkom,” sê sy amper onhoorbaar, maar haar vingers bly in myne gehaak, asof sy wil sê: Ek het my plig gedoen en dit was toe nie so sleg nie.
Ek laat haar gaan en val amper oor die adjudant se bene toe ek na buite storm om in ’n sloot op te gooi.
Die jakarandabloeisels bars soos kougomborrels onder my voete toe ek terugstrompel en ’n string spoeg aan my denims afvee. Die adjudant is nou agter my en klop my op die rug: “Dis nou wel nie skoot nie, maar ten minste het jy iets van jouself agtergelaat.”
Op pad terug moet ons stop sodat ek nog ’n keer kan opgooi tussen die polle lang gras wat verslete en stowwerig om my knak.
Dis drieuur toe ek met al my klere aan op my bed val. Drie uur later word ek wakker van ’n gehamer aan die deur. Dis die regiment se diensdrywer en hy maak verskoning: Ons moet om seweuur by die lughawe wees en sy kloppe kon my nie wakker kry nie.
Ons vertrek na Waterkloof-lughawe in ’n groen paneelwa. Dit ratel so erg dat my keel geswel is teen die tyd dat ons die plek twintig kilometer verder bereik; my liggaam klop van al die pyne en my maag is in ’n veldslag met homself gewikkel.
Twee
Ons storie, Ben, begin by die kol op die sypaadjie, ses maande gelede. Ek het gestaan en staar na die kol platgetrapte kougom, met die riwwe van ’n skoensool daarin, en ek kon nie beweeg nie. Was dit ’n fout om na jou toe te kom? Ek het op my balsak gaan sit, op die sypaadjie langs die sinkplaatheining, en ’n sigaret aangesteek.
’n Mens sal dink dat ons storie by ons kinderdae begin het. Maar my herinneringe is te vaag. Ek onthou toe ons vir die vakansie by julle op Saldanhabaai gekuier het, by die Militêre Akademie waar jou pa ’n dosent was. Ek het ’n harmonium gehad en jy het my laat saamkom na die bushalte, want julle Kapenaars was nog nie klaar met die kwartaal nie. Jy was trots op my, jou sesjarige neef, al kon ek net een liedjie speel, “Santa Lucia” … Hoera, hoera, het jy die ander kinders aangehits terwyl julle vir die skoolbus wag.
Jy was soos ’n klein god vir my, my neef op hoërskool. Hemel, jy was twee keer ouer as ek. Maar jy was ook te rof vir my, met jou voorliefde om op jul huis se dak te klim en soos ’n parabat af te spring. Jy het gholf saam met die grootmense gespeel en die bal verder as party van hulle geslaan.
Maar dis nie waar ons storie begin nie. Ook nie later, toe ek en my ouers en ander neefs en niggies langs die rugbyveld se kantlyn staan en kyk hoe jy ’n teenstander ná ’n skrum bykom nie, agter die skeidsregter se rug en onder luide aanmoediging van dele van die skare.
Toe al het jy in elk geval nie meer tyd vir my gehad nie. Dit was asof ons van verskillende generasies was. Die afstand het nie meer te doen gehad met goddelikheid nie; inteendeel, ek het ’n afkeer aan jou ontwikkel: jou arrogansie, jou meerderwaardigheid, jou hobnobbery met die grootmense.
En jou drinkery. Dit was aan die begin van my … noem dit my religieuse fase. ’n Afkeer wat ewe veel aangespoor is deur jou vyandigheid teenoor my; soos wanneer jy op jou pers poef na my gesit en gluur het terwyl jy sigaretrook in my rigting blaas.
My afkeer was die bron van die schadenfreude later, toe ek amper in matriek was, en die stories van jou verval begin zoem het oor die telefoonlyne: van onderonsies met die polisie wat jou asem wou toets, jou mislukking op universiteit en, die Vader behoed ons, dwelms. Ek het jou plek ingeneem as die scion van die familie, die groot presteerder, die een met die blinkste toekoms. Predikant staan op my voorkop geskryf, het ’n tante gepruil. Argitek, het my ma haar haastig reggehelp.
Nee, ons storie begin by die kol op die sypaadjie. ’n Stuk kougom, stowwerig en reeds sag van die oggendson. My balsak het met ’n dowwe slag daarop geland terwyl ek na die motor se oop deur gedraai het. Opgefrommelde skyfiepakkies het tussen die moddermerke op die vloer gelê en die son was soos water op die dashboard, met sigaretstompies wat oorloop uit ’n asbak soos kos uit ’n volgestopte mond.
Die vulgêrheid daarvan … Nou wou ek dit aanskou. Hoe die wêreld is, dis waarvan ek wou leer. Dis hoekom ek na jou toe gekom het.
Die bestuurder wat my langs die snelweg opgelaai het, het oorgeleun om die deur agter my toe te trek, angstig oor voertuie wat agter hom begin toeter. Ek het ’n halwe saluut in sy truspieëltjie gemaak, en die balsak oor die sypaadjie na die naaste muur gesleep. Ek het dit soos ’n lyk omgerol en oor die skraapplekke gevryf. Ek het na die kol op die sypaadjie gestaar; my keel het toegetrek. Wat soek ek hier? Sou jy my ooit welkom heet? Was jy ooit by die huis?
Ek het straataf gekyk, jou woonstelgebou was op die hoek van die volgende blok.
Eers nog ’n sigaret aansteek. Vryheid … vir die eerste keer in weke wat soos jare gevoel het, kon ek iets doen sonder dat dit deel van ’n stel orders was.
Ek wou nie ’n ingetrapte kol op ’n sypaadjie wees nie en het my balsak oor my skouer gewip en aangestap na jou woonstel toe.
In die ingangsportaal, onthou jy, Ben, kon ’n mens skaars die blok briewebusse in die donkerte sien; die een deurtjie het aan die laaste skroef van sy skarnier gehang. Die reuk van politoer het die lug gevul.
Ek kon wel die figuur van ’n swart man in ’n uitgewaste bruin oorpak uitmaak. Hy het plat op die vloer gesit, sy bene uitgesprei, ’n klomp besems in sy arms.
Drie kloppe aan jou deur later was daar nog geen antwoord nie. Paniek het my oorval; sê nou maar jy was nie daar nie? Hoekom het ek nie daaraan gedink nie? Waarheen sou ek gaan? Sou ek uiteindelik tog jou ma-hulle moes opbel?
’n Druk-druk aan die deur het die slot laat oopklik. Ek het bly staan (miskien het jy geslaap), maar die stowwerige lug, met vlae Vim en spiritus, het my so baie aan ons eie huis herinner dat ek die deur verder oopgestoot het.
Dit het ek jou nooit vertel nie, maar dit was onverwags: jou plek wat so netjies was. Na regs was die kombuis met ’n luik en die son het op die krane geblits: die ene porselein en krullerige koper, en – heeltemal onvanpas – ’n stortkop wat in ’n goue wieg lê.
Net my ma se kombuis was meer vlekkeloos. Op die rak bokant die ry swart-en-wit bekers het ’n stel kookboeke teen mekaar geleun. Ek het terug na die voordeur geloop en die nommer nagegaan … dit was die regte woonstel.
Die sitkamer se een muur was bedek met oudmodiese behangsels. ’n Stapel fluweelkussings op die rusbank. In die middel van die vertrek was daar ’n groot poffersak, en ek het daarop neergesyg.
My oog het op ’n plakkaat van ’n antieke kunswerk geval. ’n Renaissance-figuur het teruggekyk van onder sy uitgekamde bos golwende hare en sy fezagtige keps, onaangeraak deur enigiets, nou en eeue lank al.
Wat het van die chaos geword? Die leë bierblikke wat dien as asbakkies? Die taaierige lokvalle van gemorste drinkgoed? Die koekerasie van hoenderbeentjies en deurweekte skyfies in papierborde?
Was daar enige aanduiding van wat later sou gebeur? Nou met die terugkyk, sien ek dit steeds nie.
Ek het my na jou slaapkamer gewend. My mond het oopgeval by die aanskoue van die hemelbed met opgebondelde gordyne soos iets uit ’n paleis. Die mure was van bo tot onder en links na regs bedek met afdrukke van skilderye, van stillewes tot naakstudies, almal agter glas.
Ek het teruggekeer na die poffersak, my nek aan die verrek soos ek nuwe dinge raaksien: plante in keramiekpotte, ’n art deco-lampstaander, Boeddha-figuurtjies op ’n staander van gietyster-spirale soos iets Italiaans