Hans Pienaar

Die Generaal


Скачать книгу

het talente wat die Goeie Heer aan julle gegee het. Jy is deel van die room van die oes. Julle is die ridders van vandag. Van die Middeleeue af identifiseer die Westerse beskawing die beste materiaal vir ridderskappe. Ons gaan nie sommer enige Jan Rap met ’n swaard op die skouer slaan nie. “Jong manne soos jy is te waardevol. Ons kan julle nie laat gaan nie. Dis jul lot en bestemming.”

      Hy was nou nogal aangedaan. Skielik, sonder om ’n woord verder te sê, het hy opgestaan en uitgestap.

      Ná ’n ruk het jou ma weer verskyn en ek kon sien sy was ook ontsteld. “Moet jou nie aan jou oom steur nie. Hy raak altyd ’n bietjie iesegrimmig ná ete. Ná ’n slapie is hy weer op sy stukke. Die jare haal hom in, jy weet.”

      Die generaal oud? Dit was waar … die plooie in sy nek, die bruin vlekke op sy vel. Alle mense met mag is oud.

      En so het die naweek sy bestemde gang gegaan, volgens sy eie gebooie.

      Jy sal ontbyt geniet in die aangesig van die oggend, en tee om elf.

      Jy sal ’n uiltjie knip sonder skoene, om nie die beddegoed vuil te maak nie.

      Jy sal weer opstaan en jou na die sitkamer begewe vir rugbykommentaar oor die radiogram.

      Jy sal jou besoekende niggie op die wang soen en nie op die mond nie.

      Jy sal nie jou mes gebruik om jou ertjies mee te eet nie.

      Jy sal jou Bybel oopmaak en weer toemaak, sodat dit sal lyk of dit gelees is.

      Die trein het nie ’n oomblik te vroeg vertrek nie. Dit het drie uur geneem Heidelberg toe, waar dit met ’n motor een uur sou vat. Maar vir die eerste keer kon ek terugsit en ontspan, al was die kompartement vol troepe.

      Heidelberg was doods, maar op daardie oomblik was die verlatenheid die antwoord, want ek het my eie stap deur die dorp gestap, teen my eie pas.

      Teen ’n kasdeur het een van my kamermaats Home Sweet Home in Gotiese letters opgeplak. Ja, Ben, ek was amper bly om weer tuis te wees.

      Vyf

      Die volgende oggend vat die kaptein my reguit na die kwartiermeester-generaal elders in Salisbury om my nuwe uniform te kry. Buite die skure het ’n paar swart soldate hul nuwe bosdrag oor die gras uitgesprei, aan die bome gehang of oor ’n klipstruktuur gedrapeer. Dis ’n verrassende gesig, swart soldate, en ek kyk haastig weg toe een van hulle pront na my terugstaar.

      Ek word na die voorpunt van die tou geroep. Net omdat hulle so groot is en so taai lyk, verdien hulle om voor my bedien te word. Hulle word die Selous Scouts genoem, verduidelik Stomp Voorwerp. Die Selous Scouts staan eenkant toe sonder ’n woord. Maar ek kan hul heimlike blikke aanvoel: hulle het dadelik geweet ek is ’n Suid-Afrikaner. Ek dink aan die gespot tuis: “Die Rhodies sal ook altyd die kaffers al die werk laat doen.”

      Die uniform wat ek kry, is nie groen nie, maar ligblou, en weer lig ’n verveelde kaptein Reynecke my in: “SAP, Suid-Afrikaanse Polisie.”

      “Gaan ek dan ’n polisieman word?”

      “Net vir vyf minute,” sê hy.

      Nadat ek my polisie-uitrusting by een opening in die skuur se muur gekry het, moet ek na ’n ander een ’n paar treë verder gaan, waar ek alles weer inhandig, behalwe vir die vyf onderbroeke en groen camo-tekkies. In ruil daarvoor kry ek die uniform wat ek aanvanklik verwag het, die beroemde sagte koedoeleer-stewels met gespes waarvoor die adjudant tuis my reeds ’n groot som geld aangebied het, ingesluit.

      Ek probeer Stomp Voorwerp se verduideliking van agter sy hand met heelwat geloer hier en daar volg: Ons is nie veronderstel om enige betrekkinge met die Rhodesiese leër te hê nie, want dan sal Suid-Afrika beskuldig word van oorlog maak saam met hulle. Daarom moes ons by die polisiekontingent aansluit wat op afgedeelde diens by die Rhodesiese leër is, kastig om telekommunikasie te verbeter.

      “Ons,” sê die kaptein, en wys na homself.

      “Maar hoekom loop ons nie rond as Suid-Afrikaanse polisiemanne nie? Hulle hoef hulself mos nie te vermom nie?”

      “Want ons weermag hou nie daarvan om die polisie uit te help nie, want hulle raak te militaristies,” sê die kaptein, duidelik ongemaklik. Hy is nie veronderstel om hierdie dinge met ’n blote dienspligtige te bespreek nie.

      Ek volg die kaptein op sy vervelige rondte en sukkel om te konsentreer op sy verduidelikings van waarheen ek moet gaan en wat ek moet teken en wanneer en waar, en ek knik nie eens nie toe hy sê: “Ek het mense met ‘go’ nodig,” terwyl sy vuis die truspieëltjie net-net mis.

      Ons ry in stilte terug na die King Edward VII-menasie.

      Halfpad deur die middagete vra die man langs my, ’n een-pipper soos ek: “Wat dink jy, luitenant, dink jy nie daardie vier polisiemanne was ’n klomp jafels nie?”

      “Vier polisiemanne?”

      Hy dik sy verbasing aan dat ek nie weet nie. Dit blyk dat vier Suid-Afrikaanse konstabels wat op die Zambiese grens ’n paar dosyn kilometer oos van Chirundu gebaseer was, twee dae gelede in ’n lokval doodgeskiet is. Hul lyke het pas vanoggend by die Salisbury-lykshuis aangekom.

      Polisiemanne. My kollegas. In teorie. In ons matriekklas was daar ’n polisieman se seun wat soms ’n halfjack brandewyn skool toe gebring het. Dit was swak styl, het almal gesê, want ware rebelle rook dagga. Hy het oor sy pa gespog, hoe hy soms saam met hom op pasklopjagte gaan; hoe hulle op enige klomp swart mense sou neerswiep en hulle in die vangwaens stop om aangekla te word op enige punt wat sou werk in die hof.

      Nou lê vier van hulle in ’n buitelandse lykshuis. Ek gee nie ’n duit om vir hulle nie.

      “Hul lyke,” lig ’n ander offisier ons in op ’n eienaardig berispende wyse, “is deurboor en hul uniforms is aan flarde gesny nadat hulle geskiet is. Hul tonge is uitgepluk en hul ore en voëls afgesny. Daarna is hul voëls in hul monde gestop.”

      My hare rys en ek voel prikkels langs my rugstring af, maar ek gaan voort met eet, net soos die Rhodesiërs. Ek veins onverskilligheid, hulle ook: hulle praat op ware onderbeklemtoonde Britse wyse oor die vier Suid-Afrikaners se onbevoegdheid.

      Dis moeilik om van hulle te verskil. Die polisiemanne was in twee voertuie en op ’n pad waar Inligting net verlede week ’n groep CT’s, oftewel Communist Terrorists, gerapporteer het. Die polisie het gereken dat dit twee lokvalle op presies die regte tyd sou verg as die twee voertuie ’n kilometer uitmekaar ry. Hulle het nie gedink dat die CT’s daartoe in staat was nie.

      Die eerste Land Rover het reguit in ’n sarsie koeëls ingery. Die tweede het aangejaag gekom om hul makkers te help en só sitting ducks geword vir hul aanvallers wat koel en kalm in die bosse bly wag het.

      “Wat is dommer as ’n Suid-Afrikaanse polisieman?” vra iemand. Eers toe daar ’n stiltetjie neersak, besef ek hy praat met my. Ek haal my skouers op.

      “Twee Suid-Afrikaanse polisiemanne.” Almal skaterlag.

      “Al wat hulle weet, is hoe om by hotelle uitgegooi te word.”

      Dan volg ’n paar stories oor hoe hulle dorpe op horings neem. Ek knik maar saam, en lag selfs, want anders sal ek die bietjie ewewig wat ek het, verloor.

      Dié middag, toe die kaptein by ’n koeldrankfabriek stop om ’n bestelling te plaas, kan ek dit nie meer hou nie en gaan sit ek teen die muur van ’n skuur. Ek wil my gemoed suiwer van alles wat ek gehoor het. Die beelde van die lyke en die penisse wat in hul monde gedruk is, spook by my. Die arrogante Rhodesiërs. No go. No go. No go. Ek wil my kop vol leë bottels hê, dit ’n skuur van deursigtige glas maak. No go. “Fok jou, kaptein, fok jou,” mompel ek. Ek wil geen “go” in geen lewe hê nie, nie vir ’n lang tyd nie. Deur die venster hou ek die leë bottels dop wat op ’n voerband wegklingel. Die plek is so verskriklik skoon.

      Die kaptein kan sy ergerlikheid nie wegsteek toe hy my uiteindelik kry nie.

      “Hoekom volg jy my nie, luitenant?”

      Ek wil sê