slaap en haar vir my brekfis in die bed laat bring die volgende oggend. Twee vlieë met een klap.”
“Waar kom dié ou vandaan?” het Swart Vest uitgeroep, en na ons gekyk vir ondersteuning. “Jy’t nie ’n clue waarvan ek praat nie, het jy? Ek praat van gevoelens: háár gevoelens, mý gevoelens. En die feit dat ek dit nie gevoel het toe ek hulle moes gevoel het nie.”
Eerste Span het die spanning probeer verlig. Hy het na Swart Vest se bank geskop, spelerig, maar het nie mis geskop soos hy bedoel het nie en het sy kniekop getref. Toe leun hy vorentoe asof hy ’n groot gat in Swart Vest se been met sy hand wou toemaak: “Shit! Sorry, man!”
Maar Swart Vest het blindelings met sy ander voet teruggeskop. “Fokof, man, ek’s nie jou speelmaat nie.”
Eerste Span het op sy rug gerol om met albei voete terug te skop, maar ek kon sy een been in die hande kry en hom wegskarnier van Swart Vest af.
“Hei, hei,” het ek gelag, “cool it, ons is nog tien uur saam op hierdie trein.”
Ja, Ben, ek het skoolprefek gespeel. Miskien was my poging so lomp dat dit ’n verleentheid was, of miskien het Eerste Span die saak bedink, maar hy het teruggesak in sy bank en vies gemompel dat hy mos verskoning gevra het.
Swart Vest het vreeslik troebel gelyk. Ná ’n ruk het hy opgestaan en ’n kleinerige sak van die boonste rak afgehaal. Sonder ’n woord is hy by die deur uit. Heelwat later, toe ek die toilet gaan opsoek, was hy steeds op sy pos in die gang, besig om na die verbyskuiwende landskap te staar.
Ek het my verdiep in die geskiedenis van wiskunde, die boek wat ek op die laaste oomblik in my sak gegooi het. Vergeefs het ek probeer konsentreer op hoe die Egiptenare wat die plasies van hul kleinboere uitgemeet het se koppe gewerk het; hoe hulle gevorder het van reghoeke na driehoeke wat die gebruik van stywe toue tussen penne vergemaklik het …
My gedagtes het bly dwaal na Swart Vest se koorsagtige beskrywing; na die driehoeke van ’n vrou se liggaam, na Maria se naaktheid, die naaktheid wat sy net halfpad vir my onthul het. Ek het minderwaardig teenoor Swart Vest en Eerste Span gevoel en verslaan deur eersgenoemde se storie. Ek het nie regtig geweet waarvan hy praat nie. Ek was nog agter met die weë van die wêreld, ten spyte van Maria. As gevolg van haar.
Ek het die boek toegemaak en my gedagtes laat gaan na die tye in die motor. My vingers wat die lengtes en breedtes van haar plasie meet wat sy as tribuut vir haar farao wou hou, haar asem wat vlakker word met elke kneukeldiepe dompeling van sy sjadoef.
Toe ek weer wakker word, was Swart Vest nie meer daar nie. ’n Nuwe dienspligtige het op sy plek gesit. Ook hy het ’n sweetpak aangehad. Poenskop was terug. Al die sweetpakke het in ’n ry gesit, ’n mens kon sien hulle kom goed oor die weg.
Later het ek na Swart Vest gaan soek, maar daar was drie waens vol dienspligtiges en hulle het net verveeld na my teruggekyk.
Die drie sweetpakke was steeds aan’t rugby praat toe ek terugkeer. Eerste Span het weer sy vies gesig opgesit toe ek die plek opneem waar hulle briljante bewegings verduidelik het; hoe hulle dié en daai ou gebliksem en gedonder het, hoe een van hulle op ’n keer die skeidsregter teen die agterkop geklap en gemaak het of hy per ongeluk in hom vashardloop.
“Ek gaan baie rugby in die army speel,” het Poenskop gesê. “Een van die ouens wat in ons skool was, het ons een vakansie kom uitcheck, en hy’t gesê as jy rugby speel, is jou kop deur. Jy kry baie aftyd vir oefeninge. En jy kry ’n rang, met baie voordele, jou eie kar, jou eie kamer. ’n Mens wonder nog hoe hierdie ou ’n korporaal geword het, en dan sien jy hom in sy toks verbydraf en dan weet jy.”
Eerste Span was in sy element: “Ek gaan nie tevrede wees tensy ek minstens ’n korporaal word nie. Twee strepe, dis waarvoor ek bestem is.”
Daar was ’n goedige gespot. “Hoekom gaan jy nie vir lieutie nie?” het een hom aangepor.
“Nee, wat. Niemand wil ’n lieutie wees nie. Hulle sit net in hul kantore die hele dag lank. Al die bright sparks. Al die diep seuns.”
Ek kon hul oë op my voel. Die diep seun onder ons, boek in die hand. Het dit gelyk of ek geoormerk was vir offisierskap?
Veel meer is daar nie om te vertel nie. Ons is verdeel in Germiston, die eerste van etlike verdelings, want eintlik was dít die weermag se geheime bedoeling: om altyd groepe uitmekaar te laat spat en sodoende te verhoed dat enige soort sameswering kan ontwikkel. Soos dié van vriendskap, byvoorbeeld.
Honderde van ons is in vragmotors met flappende seile onder die gietysterboog oor die hoofhek aangery, verby die Kaaps-Hollandse gewels en rooiteëldakke agter die eike. Die bestuurders het die vragmotors met rokende bande tot halt laat skree, die einde van die “rofie rides”. Later sou dit deel word van die army-legendes wat aan meisies, moeders en broers in kroeë en brandweerstasies vertel word. Van platform-Jekylls verander die korporaals en sersante in paradegrond-Hydes wat die hele dag op ons skree en ons in alle rigtings skuif en stoot, van die een tou na die ander. Soms was ons kaal, soms in uniform, en ons kon die ligste bries aan ons konsentrasiekamp-ore voel – selfs Poenskop kon nie ’n tweede skof onder die barbier se knipper ontsnap nie.
En so is ’n duisend van ons geskuur en geskaaf en geskroef en gesweis sodat ons deel van die reusagtige vegmasjien kon word, tesame met duisende ander in kampe die hele land deur, stil en grimmig en swetend in die eensame aanhouding van ons makgemaakte, hokgeslane impulse.
Sewe
Ná my goed afgelaai is, neem Stomp Voorwerp my reguit na die offisiere se barakke. Met ’n gebrom beduie hy waar my bed is, een van ses wat leeg is. Hy plof neer op sy bed en ek voel amper beledig dat hy, nadat hy my so gemartel het met sy praatjies van “go”, skaars vyf minute nodig het om in sy slaap te begin kwyl.
Ek pak my klere in die staalkabinet en omdat ek nie weet wat om te doen nie, gaan lê ek ook en luister na die klanke van die oerwoud wat selfs meer lawaaierig is as ’n stadstraat. Maar ek sal my daarin kan verlustig, besef ek, en ’n vrede sak op my neer toe dit ’n gesuis in die agtergrond word wat my nie uit die slaap kan hou nie.
Toe ek weer wakker word, staan daar ’n jong man in ’n swart oefenbroek en ’n oopgeknoopte groen hemp met korporaalstrepe in die deur.
“Dis Helmuth,” is al wat hy sê. Stomp Voorwerp swets en skel oor die “blerrie Jerry” terwyl hy ’n paar bemodderde sandale aanglip.
Hy beduie ek moet volg, en ons tree uit op ’n stuk gras waarvandaan ’n mens kan uitkyk op ’n vlakte wat aan die Zambezi grens en onder ons van horison tot horison strek. Ek staar in verwondering daarna terwyl die kaptein begin sukkel met die spruitsels onkruid tussen ’n paar proteas wat iemand patrioties in ’n rotsbedding langs die grasperk probeer kweek.
’n Troep in ’n wit gimbroek en onderhemp kom aangedraf van ’n derde stel barakke agter die hoofgebou. Daar is geen vensters nie, net ’n gaping tussen die muur en die dak wat op paaltjies staan. Die kaptein hoor sy hardloopskoene op die gruis knars, swaai om en skree: “Waar’s jou geweer, seiner?”
“Het nie een nodig,” brom Helmuth terwyl hy op die plek draf.
“Het nie een nodig nie! Natuurlik het jy een nodig. Daar kan terries wees daar buite.”
“Da is geen terries doer nie, kaptein.”
“Dis ’n bevel, seinman!”
“Kan ek denn uwe Uzi leen?”
Helmuth klink vir my nogal astrant, maar die kaptein stap met ’n vasberade tred na ons barakke. Met ’n gemompel dat die Uzi hom darem meer sal laat sweet, is Helmuth daar weg.
Die kaptein stap skynbaar besluiteloos op en af terwyl hy hom agterna kyk; sê die korporaal dan aan om my die kamp te gaan wys.
Daar is ’n magasyn vir ammunisie en nog een vir kos en ander toerusting, waar gebreekte spoelbandopnemers soos tasse in ’n kantoor vir verlore goedere rondstaan. Die Rigtingpeiling-seksie is op die perimeter in ’n karavaan anderkant ’n geploegde land en die agterskakelgebou langs die kragopwekkerskuur.