Ons stop in ’n vierkant wat met gruis bedek is en die inwoners van die weermag se deel van die basis verskyn in hul barakke se deure. Hulle is net in hul swart oefenbroeke geklee. Een of twee dra ’n paar rooi plakkies. Later sal ek uitvind dat almal so ’n paar het omdat selfs die volprese groen Rhodesiese tekkies te veel hitte absorbeer en te smerig en krapperig raak van al die sweet.
Ek loer rond nadat ek uit die motor geklim het, nie seker of ek hulle moet groet en of hulle nie ten minste behoort te maak of hulle salueer nie.
“Kyk, hy’s klaar bang!” roep een, en die hele klomp lag.
Ek’s nie bang nie, nie omdat ek so dapper is nie, maar omdat ek niks voel nie. Ek draai sonder ’n woord om, knip die kattebak oop en sloer terwyl ek my balsak uithaal.
Dis duidelik uit hul agterdogtige gegluur dat hulle weet hoekom ek hier is. Ek weet ook instinktief dat terwyl sommige van hulle seker daarna uitsien om nog ’n offisier in te breek, daar ’n paar moet wees wat ’n bietjie angstig voel.
’n Laaste een kom om die hoek van ’n gebou gesluip, bekyk die toneel lusteloos met sy skouers in ’n boggel soos hy sy lyf nog slapper maak. ’n Sigaret bly net-net aan sy vingers hang. Dis Swart Vest, sien ek onmiddellik, maar dit lyk nie of hy my herken nie.
Ses
Ek het jou nooit vertel van my eerste dag in die weermag nie, Ben. Dit sou ’n klomp clichés gewees het. Stories wat almal vertel of sal vertel tot in lengte van dae.
Maar nou móét ek, want dit wys hoe die weermag ons van die begin af beheer het. In my geval van 6 Januarie 1974 af; ook die dag toe ek Swart Vest die eerste keer ontmoet het.
Totale beheer, ja, al wou dinge net nie aan die gang kom nie. Daardie vervloekste trein wat geweier het om te vertrek tot nie ek of my ouers ons wedersydse irritasie meer kon wegsteek nie; my pa se gedagtes reeds by die volgende week se vergaderings, met agendas aan’t skommel soos ’n kondukteur wat sukkel met die kaartjies.
My ma se opgedroogde trane. Spore van trane oor die ander ma’s se gesigte. Voete van klouerige vriendinne al swaaiende bokant die platform. Maria se afwesigheid. My ouers wat na die ander meisies kyk en wonder: Waar’s Maria?
Ek het heelwat erger verwag; nie die bedeesde sersant wat almal bedagsaam groet en opsy staan soos ’n verhoogwerker wat weet hy het geen plek in hierdie drama nie.
Daar was ses van ons in die kajuit. Twee het skuiling gesoek in die bekende; hulle het sweetpakbaadjies van hul skole aangehad, met die woorde Eerste Span in fyn garingwerk op die een se bors. Die venstersitter se voete was onder die oorkantste bank ingewig, met sy vuiste in sy sakke geklem sodat sy borsspiere kon bult onder sy noupassende swart T-hemp. ’n Derde een was besig om sy nuwe klere uit te toets met ’n oordrewe gevroetel en getrek, gevou en geknoop.
Een van die sweetpakke se hare was reeds kort gesny. Omdat hy uitgesien het na sy opleiding? Of was die boodskap iets soos “Hande tuis!” – veral dié van die weermagbarbier?
Weldra het die trein agtertoe geruk, en toe vorentoe, en begin om te skommel. So ongesiens het hy met sy lang tog begin, dat ek ’n blik deur die venster moes gee om seker te maak dat dit regtig gebeur.
Niemand wou daar wees nie, maar daar was tog ’n onderdrukte opgewondenheid. Die twee sweetpakke was gou aan’t babbel oor rugby. Tot Swart Vest almal in ’n verraste stilte in geskok het.
“Ek het hierdie cherry gehad laas nag,” het hy begin, uit die bloute, terwyl die trein teen een van Pietermaritzburg se heuwels opstoei. Dit was amper asof hy met homself aan’t praat was.
“En sy’t net my lyf gesmaak. Maar sy wou nie naai nie. Sy’t gesê sy wou nie involved raak nie, want sy het my so baie gelike en sy wou nie seerkry nie. Toe sit ek my vinger op haar mond, so.” Sy vinger op sy eie mond was krom en onseker.
“En toe knoop ek my hemp oop, stadig, terwyl ons daar in haar flat staan, in die middel, op die tapyt. Ek vat haar hande en sit hulle op my bors.”
Hy het sy duime liggies op sy pektorale spiere gelê, skamerig, huiwerig.
“En sy los haar hande op my bors, so of sy hulle daar vergeet.”
En hy vertel hoe hy sy hemp en broek uittrek, en hy trek sy maag in, so, om haar te help. “En dit is of sy weer begin te onthou, en sy begin te bewe, en sy gly haar hande agter by my belt in en oor my boude.
“En sy maak my buckle los en haak dit uit, en ek dink, fok, weet sy hoe om ’n buckle los te maak. En sy trek my broek af, en pluk aan my onderbroek sodat my piel uitspring soos ’n jack-in-the-box, en sy streel daai hout van my en steek haar ander hand onder my balle in.”
Hy het sy eie hand uitgehou asof daar ’n dosyn lekkers in was.
Hy het haar in die nek gebyt en verder uit sy jeans geklim, en sy het hom teruggestoot op sy rug en na hom gekyk terwyl sy haar klere uittrek. “God, maar jy’s mooi,” het sy gesê, het Swart Vest vertel. “Ek wil jou piel hê. Ek wil jou naai.”
Hy moes inderdaad gesog onder die meisies wees, dit kon ons sien. Lenig en gespierd was hy gewis, soos ’n held in ’n roman met ’n pienk omslag.
“En sy vat my hand en gaan lê op die bed en maak haar bene oop en ek steek daai groot piel van my reg tot in die middel van haar in.”
Nie een van ons het ’n woord gesê nie; nie gewaag om te roer terwyl die trein skommel en ruk nie. Swart Vest was nou ook stil, maar hy het net so effens gefrons en ek kon sweer daar was ’n trek van pyn op sy gesig.
“En toe?” Ek het my asem ingetrek, so ongemerk moontlik. Ek kon my voorstel hoe lê hy op haar … maar nie veel meer nie.
“Shit, ek weet nie, man. Toe ons klaar was, het ek opgestaan en badkamer toe gegaan, en my piel was slap. En ek het daar gebly, op die toilet gesit.”
Hy wou nie teruggaan nie. Hy wou niks met haar te doen hê nie. Sy het na hom geroep, en hy moes teruggaan bed toe, maar dit was asof daar niks meer vir hom daar was nie. Hy het sy klere begin aantrek. “Was ek nie goed nie?” het sy gevra, en hy kon hoor sy was seergemaak. Al wat hy verder vir haar gesê het, was: “Dit was great.” En toe het hy geloop.
En daarmee was Swart Vest se storie ook verby. Dit het gelyk of ’n geweldige las van sy skouers af is. Ek kon nie besluit of ons meer verslae as verleë was nie.
Klerehanger het die volgende skuif gemaak. Hy het oorgeleun en onder sy sitplek na sy tas begin vroetel. Binne-in was daar ’n onmoontlike hoeveelheid klere, alles splinternuut met die winkelreuk nog daaraan. Daar was twee sakkies met toiletware, en minstens drie handdoeke. Onder ’n paar keurig opgevoude hemde was ’n Tupperware-bak vol toebroodjies wat hy versigtig uitgehaal en sonder ’n woord na ons uitgehou het.
Maar niemand het ’n aptyt daarvoor gehad nie en hy het teruggesink in sy hoekie en bedees aan sy brood gekou.
Poenskop het opgestaan en die kajuit verlaat. Eers toe het ek die vies trek op Eerste Span se gesig gesien. “Jy meen jy’t haar net daar gelos; jy’t nie by haar gebly nie?”
Sy stemtoon het my laat koud kry al langs my ruggraat af.
Klerehanger het opgehou kou.
“Dis altyd so. Elke keer as ek ’n cherry naai, beteken sy niks vir my agterna nie. Ek wil ná die tyd niks met haar te doen hê nie,” het Swart Vest verduidelik.
“Ek sou haar nie daar gelos het nie. Dis die beste ding in die wêreld om by ’n vrou in ’n bed in te kruip,” het Eerste Span meerderwaardig gesê.
“Ek sê net vir jou hoe dit was. Ek weet nie hoekom dit so was nie.”
“Wel, ek dink jy’s ’n poephol. Jy kan nie net ’n cherry naai en haar dan so los nie.”
“O, en jý slaap by al die cherries wat jy naai?”
Eerste Span het gelyk of hy iets gewen het.
“Ek het nog nie kans gekry om