Hans Pienaar

Die Generaal


Скачать книгу

voor my het verbaas omgekyk. Die kaptein was in ’n hoek, maar hy was ook opgelei om homself daaruit te praat.

      “Wat ons hier moet verstaan, is dat ons deesdae in ’n nuwe arena van oorlog veg. Die Russe,” en hy het sy duim en voorvinger in die lug bymekaargehou asof dit die moeilikste ding op aarde was om klein te kry, “wil die koppe van die Westerse jeug korrupteer. Ons weet nie presies hoe hulle dit doen nie; hulle doen navorsing in laboratoriums en so aan en ons sien net die resultate: dwelms, promiskuïteit, flower power en vredestekens oral – wat, soos jy weet, die teken van die kraai en daarom van die duiwel is. En ons kan nie bekostig om met ons broeke op ons knieë betrap te word nie, so ons moet voorbereid wees.”

      “Ja, maar wat van ‘Pretty Belinda’?” het ek volgehou.

      “Los die musiek, gee ons net Belinda,” het iemand uitgeroep, en die saal het uitgebars van die lag. Die kaptein het kameraadskaplik geglimlag, en sy kop geskud.

      “Daar het jy dit,” het hy gesê. “Dis ter wille van ons vrouens.”

      Die volgende paar dae het die korporaals en sersante gesorg dat ek meer as net ’n rooi gesig gehad het. Pretty Belinda was nou my bynaam, en hulle het dit uitgeskree tot hul gesigte, sentimeters van myne af, blou was van inspanning en hul spoeg my wange laat jeuk het, want ek is nie toegelaat om dit af te vee nie.

      Ek was te nuuskierig, het hulle beweer.

      “Vra my hoe laat dit is.”

      “Dis tien oor drie, korporaal.”

      “Jy moet mý vra, moerskont.”

      “Hoe laat is dit, korporaal?”

      “Moenie die weermag se tyd mors deur sulke dom vrae te vra nie. My horlosie het gaan staan. Jy mag net vrae vra waarvoor ons antwoorde het. Die res het niks met jou te doen nie!”

      Ons eie peloton se korporaal het my nie gespot nie. Hy het my geroep wanneer ons ’n bietjie uitgespan het, of sommer ’n les oorgeslaan het, of nadat ons dit afgerammel het en met ’n ledige kwartier op die rooster opgeskeep gesit het.

      “Weet jy, Belinda,” sou hy gewoonlik begin. “Ek kan nie so aangaan nie. Ek’s nie ’n sissie nie, dis nie die ding nie. Ek was skaars sestien toe ek my eerste bar fight gehad het, nog ’n tjokker, man. En ek was aan die wenkant ook nog. Hier,” en hy sou sy hemp losknoop om die klein strepie van ’n litteken op sy regterbors te wys, “dis waar ek gelem is in Klerksdorp. Jy weet mos van Barney’s …” En dan sou hy aangaan oor elke detail van die plek: “So dis nie dat ek nie tough genoeg is nie. Dis net dat … die lewe te veel is vir my. Die volume is te hoog gedraai. Die revs is ook te hoog. Ek’s nie eens een-en-twintig nie, en die lewe is klaar te veel vir my.”

      Een maal het hy in trane uitgebars, voor almal, en ons moes hom weglei om eers ’n bietjie onder ’n boom te gaan sit. My makkers in die peloton het met my die gek geskeer. Hulle het hul koppe op my skouer gepak en kamma bitterlik gehuil: “Ek mis my mamma.”

      Dit was maklik om te mompel “Wat ’n fokop” en my kop te skud. En ek kon aanvoel dat ek moes wegbly van hom af; nie betrokke raak nie sodat ek my eie bewerige balans kon behou. Maar my geslote lippe het hom net meer vasbeslote gemaak om sy hart uit te praat. Soos oor sy pa, wat ’n tiran was en sy ma kort en klein geslaan het, en hom soms ook. Wat op sigself nie saak maak nie, het die korporaal gesê, behalwe dat sy pa dan geëis het dat hy hom terugslaan.

      “Ek kon dit nooit doen nie, man,” het hy in ’n yl stemmetjie vertel. “Hy het gesê dan sal ons kiets wees, maar hoe kan jy kiets wees met jou pa, hè, Belinda? En toe sê hy dis omdat ek ’n lafaard is, en toe sê ek nee, die Bybel sê jy mag nie jou hand oplig teen jou vader nie. En toe sê hy net sissies hardloop na die Bybel.”

      ’n Pa uit die hel. Ek moes hom gehelp het, Ben, maar hoe? Al wat ek gedoen het, was om my bynaam na hom toe aan te pass. Dit het gewerk, waarom weet ek nie, maar kort voor lank is hy Belinda genoem en nie meer ek nie.

      Eendag is ek en ’n paar ander troepe uit ons pelotons geroep en na die eskadron se hoofkwartier gemarsjeer, om ’n probleem met ons papierwerk uit te stryk. My elmboë was oortrek met rowe van die leopard crawling. Belinda, wat daar moes rondhang om ons op te pas, het aan hulle begin voel en vat. Dit was heeltemal te intiem vir my en ek het my arms vies weggetrek. Hy het giggelend ’n sigaret aangesteek, tydsaam, en dit amper tot op die stompie gerook. Toe, sonder waarskuwing, het hy die kooltjie teen die nou effens bloeiende wond op my elmboog gedruk.

      “Wat maak jy, korporaal?” het ek geskree, maar die vent het inmekaargekrimp van die lag. “Staan op aandag, troepie,” het hy gesing, terwyl hy die stompie voor my gesig rondwaai.

      Hy het dit weer teen my elmboog gedruk. Die pyn het tot op die been gesny, ek het op my tande gebyt, my oë toegeknyp. Maar ek kon dit net ’n paar sekondes uithou, en het my elmboog opgeruk, hom op die krop van sy maag getref. Die stompie het met ’n boog deur die lug getrek en hy het rondgesteier en gehyg na asem, maar dit was omdat hy histeries aan die lag was.

      “Jy’s tough, hè, Belinda, jy’s ’n tawwe koekie. Ek sal dit in my verslag moet skryf,” het hy met kloekerige geluide in sy stem gesê.

      “Hy’s stapelgek, mal,” het ek vir die ander gesê. Dié het ’n tree of twee agteruit gegee toe alles gebeur, maar nou paraat op aandag gestaan. Onthuts het ek besef hulle gaan niks doen om my te help nie.

      Gelukkig het die kaptein in die deur verskyn en vir Belinda beduie om ons te laat inkom. Hy het dit met oordrewe marsjeerbewegings gedoen, sy arms te hoog; hy het sy rol perfek gespeel, iets wat net in die weermag moontlik is.

      Die ander korporaals het saamgestaan en Belinda beskerm. Op die dae dat hy saf was van selfbejammering en net onder ’n boom kon sit, of hom op die sitplek van ’n Bedford uitgestrek het, het Peloton C se korporaal ons onder sy vlerke geneem.

      Hy het sy eie katastrofe gehad om te oorkom. Uit volle bors het hy geskree: “Luister nou hier, julle pielkoppe! Ek is nie die kortste korporaal in Suid-Afrika nie, verstaan julle? Wat julle ook al hoor in die grapevine, is propaganda deur die vyand, verstaan julle? Ek kan nie hoor nie? Was dit ’n ja of ’n nee?”

      Ons het teen hierdie tyd geweet ons moet terugskree, en ook dat dit geen verskil maak hoe hard of geesdriftig ons skree nie. “Boom toe!” het hy gegil, en ons het in die rigting gehardloop wat hy wys. Ons het almal blare gepluk, want die meeste korporaals het dié van ons wat nie een gehad het nie teruggestuur. Net om te hoor: “Wie het gesê julle moet die weermag se bome martel? Boom toe, en sit die blare terug!”

      Ons het die reputasie verwerf van die peloton wie se geluk opgeraak het. Shorty het ons ekstra hard gestraf vir verbeelde oortredings. Hy wou die trofee vir beste korporaal wen, het hy verduidelik, terwyl sy stem die oktawe klim, en hy gaan nie sy kanse laat bederf deur ’n klomp lamsakke wat hul eie korporaal tot waansin gedryf het nie.

      Dis op sulke tye dat my gedagtes na jou ma se skimpe oor ’n offisierskap gekeer het. Wag maar net, julle idiote, het ek in stilte gesmeul terwyl die peloton iewers heen en terug hardloop, of terwyl ons ons stewels blink bone vir inspeksie, of teen ’n koppie opsteier en weer afstrompel.

      Nie dat dit vir my gevoel het of ek enige kans het om ’n offisier te word nie. My en jou pa se verbintenis sou eerder téén my tel, synde die geleentheid om te wys dat hy niemand voortrek nie. Maar dit daar gelaat, tydens oefeninge het ek steeds van die tou oor die rivierloop afgeval; ek was die een wat in die verborge poel in die vlei verdwyn het, en ek kon dit net nie regkry om my bed te byt tot die kombers ’n harde rand het nie.

      Die offisiere was in elk geval mense wat jy net af en toe sien verbystap het sonder om links of regs te kyk; met die son wat slegs met gelukskote die brons sterretjies op hul skouers laat blits. Ons luitenant, ook ’n dienspligtige, het ons net soms op die balkon gesien, van waar hy ons met ’n onverstoorbare hooghartigheid beskou het. Met ’n akrobaat se soepel liggaam en harmonieuse bewegings het hy gelyk of hy enige tyd aan die punt van ’n towertou oor ons gaan gly, net om weer oor die dak te verdwyn op pad na ’n belangrike dinee met ’n behoorlike eetservies waar hy die hele aand die servetringe kon vinger.

      As