Hans Pienaar

Die Generaal


Скачать книгу

donker, vensterlose vertrek langs die meeluistersaal met sy rye radio’s en bandopnemers en die troepe se barakke nog verder. Dis waar ek my elke dag vir ure gaan toesluit, besluit ek.

      Teen die tyd dat Helmuth weer by die bult opgehardloop kom met sweet wat van hom afstroom, het ander troepe ook hier en daar begin verskyn. Hulle ignoreer my; nie ’n enkele een kom sluit by my aan by die tafel onder die eetafdak nie. Ek het hier kom sit sodat ek oor die vlakte en die glinsterende rivier na die sakkende son kan kyk.

      Ek kan Helmuth in die stort hoor sing, ’n Duitse lied, en toe hy later opdaag, ignoreer hy my ook heeltemal. Maar die troepe is in ’n goeie luim en steek die draak met hom. “Wat sal jy doen as ’n terrie uit die bosse spring en ’n geweer teen jou maag druk, Helmuth?”

      “Ek sal hom groet. Wie so: Grüss Gott, op die echt Deutsche manier.”

      “En dít sal hom keer om jou te skiet?”

      “Waarom wil hy my skiet? In myn shorts en vest?”

      “So wat sal jy vir hom sê? Moenie skiet nie, ek’s ’n Duitser?”

      “Warum nie. Myn aksent is die echte dieng.”

      “En dan?” hou Helmuth se ondervraer vol. “Sal jy hom aansê om ons te kom skiet, almal van ons wat nie Duitsers is nie?”

      “Ek sal hom die wahrheit vertel. Ek sal hom vertel ek wone in Windhoek in ’n andere land duisend kilometer weg, maar omdat Suid-Afrika dit beset en ek het ’n witte vel, word ek nach hier gestuur. Dis alles een grootse fout.”

      Die gelag is dié keer ongemaklik. Nou is daar onderlangse blikke in my rigting. Maar niemand weerspreek hom nie, net die kaptein roep skielik agter my: “Oukei, dis genoeg, seinman. Ek moet jou herinner dat sulke praatjies jou terug in die States in die DB kan laat beland.”

      “Sure, Cappie,” sein Helmuth met sy wysvinger teen sy slaap, maar brom: “Die States. Ek wil nie in jou States gaan sit nie, want dis nie myne nie.”

      Duidelik is Helmuth iemand met wie ’n mens kan gesels. “In watter seksie is hy?” vra ek die kaptein.

      “Rigtingpeiling.”

      Dus is dit die man wat kaptein Johnson wil hê ek moet teiken. Maar ek liasseer die gedagte in my agterkop. Ek is nog ver van gereed om met enige opdrag te begin.

      My kantoor is versmorend en donker, maar bied skuiling. Stomp Voorwerp laat my aan myself oor en ná ’n laat brekfis die volgende oggend waartydens ek die troepe se skeptiese kyke ignoreer, gaan ek na my kantoor en sluit die deur en sit net daar. Ná ’n ruk begin ek stadig op die lendelam ou kantoorstoel in die rondte draai. Soms probeer ek werk; halfhartig orde bring in die logboeke, registers en inventarisse wat Nick de Villiers vreemd genoeg in chaos agtergelaat het.

      Maar ek gee dikwels die saak gewonne en teken patrone op die tikpapier wat ek in een van die laaie kry.

      Dit hou so aan vir ’n week of effens langer. Soggens gee ek voor om te werk, of beset ’n leë luisterposisie in die meeluistersaal en draai die knoppe ure lank heen en weer sonder om enigiets aan te teken. Ek luister na die morsekodeseine wat deurkom, blieps soos die paringsroep van ontsenuende dog intelligente insektewesens. Dikwels lê ek op my bed en ignoreer die kaptein se omgekrapte kyke en hande in die sye.

      Een dag is dit só erg dat ek net opstaan vir middagete en aandete en die skemer se standby, wanneer ons almal die bunkers binnegaan en die bosse intuur op soek na kamstige bosvegters. Griep, is my somber verduideliking aan die kaptein. Griep in die trope.

      Onder die eetafdak, met sy uitsig op die Zambezi, vestig ek my in ’n hoek, aan die punt van die offisiere en onderoffisiere se lang tafel. Met middagete staar ek na die rivier en sy oewers, lank nadat die ander al vertrek het. Ek praat nie veel met enigiemand nie en niemand praat veel met my nie. Ek vermoed almal fluister oor my, maar ek probeer nie uitvind of dit so is nie.

      Ná aandete, so gou as wat doenlik is, laat ek die muskietnet oor my bed sak, en trek die komberse af om die helderwit lakens te ontbloot waarop daar altyd ’n stywe kol soos verspilde semen is. Ek lê daar en skep die waterige vuiligheid van die sweet op my maag met my hand op; deurdrenk die laken daarmee tot ek dit moet aftrek en net op die kombers lê, totdat dit ook klam raak en die krappigheid daarvan my bene laat jeuk.

      In die vroeë oggendure dryf ek deur die slaap, soms half wakker, soms half bewusteloos. Partykeer skrik ek wakker en moet ek die gevoel van verdrukking afskud, die dowwe teenwoordigheid wat my wil saampers in ’n pulp van vlees en bloed, vlees wat wit word.

      Bewend en verward sal ek boontoe staar en myself verseker dat dit net die muskietnet is wat bokant my hang.

      Die troepe doen hul ding op ’n manier wat my goed pas. Dit lyk of hulle baie hard konsentreer om nie eens ’n spotsaluut te maak soos die polisiemanne in die kamp langsaan nie: twee horinkies aan hul voorkoppe. Omdat dit nie lyk of Swart Vest my herken het nie, vermy ek hom.

      Een keer hoor ek ’n groepie oor my skinder. Ek kan net een sin uitmaak: “Hierdie lieut doen fokol hier, hè.”

      Dit prik my gewete genoeg om die tikmasjien van die kabinet in my kantoor-wegkruipplek af te haal. Ek stof dit af en toets die drukknoppies, stadig, sodat die stangetjies uitreik in hul voorgeskrewe boë, asof hulle dit dekades lank tot op die fynste rand van perfeksie geoefen het.

      Dit mesmeriseer my, die tentakels wat op presiese plekke op die papier klap, foutloos. Maar ek raak gou moeg daarvoor en tik ’n woord uit. En nog een, twee.

      Ek hou my oë daarop, maar die woorde wen. Ek kyk weg, maar toe ek weer kyk, is dit steeds daar: HOE KON JY? Die volgende woord is vanselfsprekend: BEN?

      Of is dit? Teen dié tyd weet ek dat ek nie regtig kan verstaan hoe Ben se kop werk nie. Maar dis steeds die verkeerde vraag. Om die regte vraag te vra, moet nog ’n woord bygevoeg word: HOE KON JY NIE. Hoe kon ek myself nie doodgemaak het nie? Twee keer het ek nou die kans gehad. Omdat die weermag dit nie wou toelaat nie? Het die weermag my lewe gered? Omdat ek ’n lafaard is?

      Ek slaan die tikmasjien verskeie keer met my wysvinger sodat die stangetjie op die papier bly hamer. Maar pleks van die “n” vir “nee”, het ek die “m” langsaan raakgeslaan: mmmmmmmmmmmmmmm.

      Die gezoem van ’n by. ’n Naaimasjien. Iemand wat iets probeer sê met ’n toegeplakte mond. Neurie. Ek het iemand gister hoor neurie. Ek was besig om te dut, en toe ek wakker word, het dit vir ’n oomblik geklink of die Raphael-skildery teen Ben se muur besig was om te sing.

      Die Raphael-man … van aristokratiese afkoms, die nasaat van die een of ander ridder van ouds, kalm en beheers. Sy hele houding een van gereedheid, asof geen detail ooit by hom sal verbygaan nie. En om altyd te reageer met passiwiteit, stilte, ’n afstand …

      Dit het gelyk asof hy baie kennis gehad het, maar ons nooit gaan vertel wat hy alles weet nie.

      Ek bring my hand neer op die toetsbord. Die stange storm gelyk vorentoe en haak vas, met die papier wat vir ewig buite hul bereik bly.

      Agt

      Hoekom, Ben? Hoekom?

      En ek? Hoekom het ek weer probeer? Om weer by jou te gaan crash ná die koue skouer van die eerste naweek?

      Hier skryf ek nou vir jou, Ben, en dit gaan heel goed, want die weermag se tiklesse het gewerk, met hul state-of-the-art-masjiene en borde met liggies en sagte oorfone en ’n Amerikaanse meisie wat oor jou kom leun en jou paradepyne wegstreel. Al was sy net ’n stem in ’n program.

      Dis ’n deurmekaarspul soos my gedagtes, die herinneringe, alles, uitstroom. Maar dit help reeds om die hele storie hier uit te giet; ook die dele wat ek jou nooit vertel het nie, waarby ons toe nooit uitgekom het nie.

      Selfs die ding van soldaat probeer wees, die hele katastrofe. Dit was al genoeg rede om te vlug, bedoel ek. Waarheen ook al. Op die derde dag van ons diensplig het ons ons helms gekry – dit was van plastiek gemaak. En die waterbottels. “Tupperware-troepe,” het iemand gespot. Toe al het iemand ’n Sad Sack-figuur in die paradegrond geteken.