Hoe anders as jou ouers se huis was jou woonstel met al die kunswerke, en tog ewe netjies en ordelik. Ek kon jou pa, die generaal, hier sien, fronsend besig om die irritasie op te krop; jou ma, aan die ander kant, sou in fluistertone die kunswerke, die interieur, die dekor met jou bespreek.
Die donkerte het my wakker gemaak. Stadig het die dinge om my weer hul posisies ingeneem. Ek het onthou van die Renaissance-man en ek kon aanvoel hy is besig om my te takseer. Ek het nie genoeg geslaap nie, want die moegheid van sewe weke se basies het enige beweging ontmoedig, al was my bene weggesink in die boontjiesak.
Ek het my pad voel-voel kombuis toe gevind. Naderhand het ek die ligskakelaar gekry, maar met my duim op die bakelietpennetjie geweifel. Alles sou op aandag spring in die militaristiese lig, sou dit nie? Liewer die skakelaar in sy posisie soos dié van ’n slap kanon los.
My hand het teen iets gestamp, seker ’n bord, en my hart het gespring toe ek my die skerwe op die vloer voorstel, met jou wat met ingehoue irritasie in die deur verskyn. Op die bord kon ek nou ’n wit kartonboksie uitmaak, en toe ek die deksel oplig, het die geur van dagoue maalvleis en vet en skilferdeeg die lug gevul.
Ek het dit in my mond gestop, gulsig, my verlustig in … nog vryheid. Ek het die vlokkies kors van my trui geskiet. Om die koelkas oop te maak het my skielik so magtig laat voel dat ek dit ’n paar keer herhaal het. Die liggie binne was gehoorsaam, dit het verskyn en verdwyn soos ’n glinsterende genie. Dit was sterk genoeg om die kamer dof te verlig, en alles het onverstoord gelyk.
Ek het die lig aangeskakel. Die nota op die wit boksie het gesê: Gedink ek sal jou liewer nie wakker maak nie. Hier’s chow hierbinne. Geen naam nie. Ek was teleurgesteld.
Dis wat dit was; die wortel van die onvergenoegdheid wat ek nie dadelik kon peil nie. Teleurstelling. In myself. Die vleisrolletjie het my kinderdae opgeroep, nie die toekoms nie. Dae van besoekers wat vermaak moet word en ons wat op die nippertjie nog vleisrolletjies, versnaperinge, southappies met jaagtogte in die BMW moet koop … Dit was tog waarvan ek wou wegkom.
En tog is dit juis ’n vleisrolletjie waarmee jy my verwelkom het. In ’n onberispelik netjiese woonstel.
Wat het jy van my gedink? Dis waaroor ek gestaan en tob het, Ben. Dit was waar: Jy het my slegs geken as ’n goeie voorbeeld vir dosyne ander neefs en niggies. Dit was ’n fout om na jou toe te kom.
Maar ek was te moeg om nou terug te gaan; kon skaars my oë oophou. Ek kon dit nie weerstaan nie, ek het op jou hemelbed neergeval.
Toe ek weer wakker word, was dit van die son wat deur die venster gestroom en die kantgordyn opgehelder het. Dit was laat in die middag en eers toe ek van die toilet af terugstrompel en op die Sondagkoerant trap, het dit my getref: Ek moes een en ’n halwe dag lank geslaap het.
Ek het laat spaander om betyds by die basis terug te wees. Dit was asof ek in ’n eksotiese land was, en my visum was verstreke.
Drie
Terwyl die son opkom, kry ek by Waterkloof-lughawe vir my ’n warmbrak met tamatiesous uit ’n masjien. Toe ek dit oopmaak op my skoot, is dit ’n klam, bloederige massa, en ek moet my na die toilet haas waar ek opbring en dan bewerig op die bak gaan sit met my kloppende kop in my hande.
Wat is fout met my? Wat is nie met my fout nie? Ek probeer gryp na iets betekenisvols in die trae gemaal van my gedagtes. Maar al waaraan ek kan dink, is kaptein Johnson se woorde van gister: “strategiese verduideliking” … Bedoelende wat? Leuens? Propaganda? Wil ek deel wees hiervan?
Hoekom is ek in hierdie belaglike siviele klere? Wat presies is my sending? Gaan dit net oor dissipline? Wat hulle regtig van my wil hê, is om op my makkers te spioeneer. Dienspligtiges soos ek. Ek moes duidelik nee gesê het. Dit is veronderstel om ’n vrywillige sending te wees; ek moes ’n dokument in dié verband onderteken. As ek geweier het, sou hulle my vir die res van my diensplig agter ’n lessenaar gesit het. Heelwat beter as hierdie stryd om my varkies bymekaar te hou.
Daar is ’n groen flits voor my oë. Die Zambeziwoud … Ek hunker ’n oomblik daarna, net ’n oomblik, maar ek gryp dit aan asof dit ’n bobbejaantou is en ek ’n babelaas Tarzan.
Ek dra my goed na die Transall C-160 sonder om te bodder oor protokol. Die grondpersoneel laai die Flossie asof dit ’n vakansiemotor is en trek en stoot aan kratte van verskillende vorms en groottes in ’n poging om hulle inmekaargepas te kry. Onder die vlerke worstel ’n dienspligtige in ’n bruin oorpak met ’n weerbarstige brandstofslang, tot hy tou opgooi en oor ’n walkie-talkie begin skree.
Binne moet ek klim oor die kratte wat in nette is. My sitplek is ’n holte in die vliegtuig se sy, wat lyk of dit op die laaste oomblik ingeduik is om plek te maak vir soldate wat oor grense gesmokkel moet word.
Die buikdeur begin toemaak en meteens, ten spyte van alles, pak die opgewondenheid my weer beet. Op dié oomblik kom ’n soldaat uit die gebou en draf na ons toe. Hy bereken sy sprong perfek en kruipval oor die buikdeur net toe dit deur sy waterpasvlak gaan.
Hy klouter rats na binne en klim oor die nette na die sitplek langs myne, ’n jaggeweer met ’n teleskopiese visier in sy hand. Hy gespe hom vas en laat dan die geweerkolf versigtig teen die balk by ons voete rus. Hy sal die ding nie vir een oomblik onder sy oë laat uitgaan nie.
Is hy nes ek op ’n geheime sending? Ek loer na hom, en wys na die geweer.
“Waarvoor is dit?”
“Vakansie!” snou hy my toe. Dis die laaste woorde wat ons wissel. Ons is skaars tien minute in die lug of my hoofpyn is voluit oopgetrek, en vir die volgende halfuur wag ek vir die opstuwing in my maag. Ek werk ’n choreografie uit vir my voete, hande en elmboë oor die balke, die geweer, die nette en die man se bene na die houer met kotskardoesies ’n entjie verder.
Dit blyk dat ons op ’n melktreinvlug is, want ons land twee keer op kleiner lughawens. Elke keer trek en pluk die aarde se kragte van alle kante aan my toe ons in ’n swaelduik uit die hemele val, vir ingeval die vyand op ons wil lostrek. Hulle laai kratte af, en as die buikdeur oopgaan, klap die fel sonlig ons en die warm lug kom soos ’n opstopper na binne. Ons styg weer loodreg op, en na nog ’n uur is daar skielik net stampe en stote, sonder ’n kanteling, en ek weet ons het Salisbury bereik.
Die vliegtuig kalmeer in ’n lang gekruie oor die aanloopbaan, en ek laat die gevoel van verlossing oor my spoel. Ek het dit gemaak, en wonder bo wonder is al die lugsieksakkies nog waar hulle was.
Dis al die middel van die dag en toe ons uitklim, skiet die hitte soos skrapnel van die sementvlakke af op, veel erger as wat ek verwag het. Vars druppels sweet bars op my gesig uit en ek skuif na die naaste stukkie skadu onder ’n Dakota se gloeiwarm vlerk.
Aan die punt van die verste aanloopbaan gaan ’n groot gedreun op. ’n Tweede Dakota, bosgroen gekamoefleer, kom met die aanloopbaan aangery. ’n Tegnikus klou om lewe en dood aan sy kajuit, terwyl nog ’n klomp met triomfantelike spronge agterna hardloop. Net toe dit wil lyk of hulle gaan opstyg, sak die gedreun en beweeg die vliegtuig stadiger, en swaai rats in die rondte. Halfpad klouter die res van die tegnici op sy vlerke en almal ry terug, met ’n groot gelag en kloppe op die skouer.
Drie uur later wag ek steeds. Ek skuif saam met die Dakota se skaduwee, of sit teen ’n toegesluite prefab langs ’n oop ruimte wat met enjinparte in verskillende stadia van ontbinding bedek is. Ek het minstens twee hoofpyne by.
Die skaduwees is reeds besig om in ware koelte te verander toe ’n Peugeot daar aankom. Ek weet dis vir my bedoel, hoewel die bestuurder in die Rhodesiese leër se vygroen uniform geklee is. Dis ’n kaptein.
“Reynecke,” is al woord wat hy uiter. Geen verskoning omdat hy laat is nie.
Wat ’n sending, mompel ek innerlik.
Salisbury is vaal en gewoon, met sonverslane bome langs wye namaaksels van boulevards en blombeddings in verkeersirkels met uitgewaste randstene. Oral is daar Peugeots en Citroëns, sommige nuwer as ander.
“Sanksies,” sê die kaptein in ’n alwetende stemtoon. Ek kan reeds sien dat ons