Hans Pienaar

Die Generaal


Скачать книгу

genoeg dat ’n gewone troepie dit wil wegsteek, selfs wanneer hy met ’n militêre verhoor gedreig word? ’n Skuldigbevinding kan detensiebarakke beteken, soos almal weet, of selfs dat sy diensplig verleng word.”

      Hy kyk na my met geligte wenkbroue. “Ja, kommandant,” sê ek vinnig.

      Dan kom die opdrag waarvan die adjudant gepraat het: Ek moet Nick se plek gaan inneem, tot tyd en wyl. Dan moet ek vriende maak met die gewone lede van Seksie C, hul vertroue wen, en sodoende uitvind wat gebeur het.

      “Dit is hoogs waarskynlik dat jy daarna sal aanbly as tweede in bevel, maar omdat ons nog nie ons personeelbeplanning voltooi het nie, kan dit verander. Jy het een dag, môre, om uit te klaar, en moet die volgende oggend om seweuur by Waterkloof-lughawe aanmeld. Kaptein Johnson sal jou by Stellaskop in meer detail brief.”

      Hy gaan sit en begin vroetel met die dokument op sy lessenaar. Net toe ek my arm wil lig om te salueer, sê hy: “O ja, jy moet veral ag slaan op die Rigtingpeiling-seksie. Dit lyk asof die probleme daar begin het. Jy moet sorg dat dit behoorlik werk. Verstaan jy? Sorg dat dit behoorlik werk.”

      Ek kyk stip voor my, soos ons geleer is. “Ja, kommandant!”

      Daarmee word ek ontslaan, maar pleks van by die regiment bly, gaan ek reguit menasie toe. Op pad na die hek steek ek my hand uit en trek my vingers oor die gevlegte draad tussen die staaldorings van die tien voet hoë heining. Die roes laat my dink aan die heinings wat ek smiddae ná skool met stokke laat ratel het; ’n verlange huis toe oorval my. Die paaie is vol busse, motors, motorfietse, en soldate wat aan hul briewetasse vasklou. Onder die soldate se arms is hul staffies en koerante in ’n naweekgreep. Ná al die gepronk en grootbekkery en geswets en gevloek is dit waarheen hulle op pad is: na hul vrouens, hul meisies, en die geur van gebakte aartappels en gebrande groenbone …

      Ek verlang ook na aande op die grasperk met die kolliehond terwyl ligte een ná die ander aangaan in die holtes van die heuwels waar ons woon. Selfs na ons geïnhibeerde aandetes, om my pa te hoor niks sê nie, al por my ma hom geduldig aan.

      Nee, nee. Ek wil sulke herinneringe uit my gemoed kry. Dit wil my wegtrek van die plek wat ek bereik het; daar waar alles wat gebeur het, my besorg het. Ek moet terugkom by daardie plek. Ek moet wegkom van hulle almal, die familie, en ek gee nie om waarheen ek op pad is nie.

      Maar om weg te kom moet ek kan oorleef. By die menasie maak ek of ek siek is en vra dat ’n maaltyd na my kamer gebring word. Daarna haal ek my pistool uitmekaar, en steek dit in sy doek onder in die hangkas weg.

      Die volgende dag begin ek my toerusting gereed kry vir uitklaar, en ook my geweer en my pistool wat ek senuweeagtig aan die ontbyttafel aanmekaarsit. ’n Paar luitenante kyk gesteurd na my, want dis teen die menasie se reëls.

      Skielik, te midde van alles, oorval ’n oomblik van opgewondenheid my terwyl ek my siviele klere uitsoek. ’n Geheime sending! My vermomming: bruin denims, ’n rooi-en-wit geruite cowboyhemp en ’n blou baadjie. Daarna handig ek my uniform en my trommel in.

      Kaptein Johnson is weggesteek in ’n reeks bunkers met twee kontrolepunte; dis omhein deur doringdraad en kabels in reuse-sementankers wat soos blokhuise uit die Boereoorlog lyk en die antennetorings bokant Stellaskop regop hou.

      In een van die agterste bunkers wat ondergronds is, is die kaptein. Hy is stug en lyk soos ’n mol. Die avokadogroen en beige interieur laat lyk die lêers wat hy oor die tafel stoot ekstra grimmig. Een lêer handel oor die AWOL van drie troepe van Seksie D, wat in die Caprivi is op die driehoekige grens tussen Suidwes, Zambië en Botswana.

      Die militêre polisie het die awollers buite ’n gehug in Botswana vasgetrek. Ná ondervraging van die inwoners, wie se traagheid om saam te werk ook aangeteken is, blyk dit dat dié drie twee vroue verkrag het. Die indoenas wou hulle toe stenig, maar het op die ou end besluit om hulle liewer te laat gaan.

      “Natuurlik,” mompel Johnson, “kan ons nie sulke dinge laat gebeur nie, want dit kan maklik tot internasionale insidente ontwikkel, en internasionale insidente pas nie in by die beleid van die Suid-Afrikaanse Weermag nie.

      “Die manier om hierdie dinge te hanteer is die volgende: Ons moet voor enigiemand anders daar wees om al die feite te kry, en ons moet seker maak die feite is korrek. Ons tree nie op nie, want ons wil nie slapende honde wakker maak nie … maar wanneer die vyand dit wil gebruik om propaganda te maak, moet ons regstaan met ons strategiese verduideliking.”

      Die tweede lêer gaan oor die leier van ’n klein taakgroepie wat op patrollie was, nie ver van Seksie C af nie. ’n Seiner het met die kaptein rusie gemaak nadat die seiner geweier het om saam met die infanteriste inspeksie te staan. Op die volgende patrollie het hy sy gewone posisie in die formasie verlaat en die kaptein agter in die kop geskiet.

      Die generaal – steeds kan ek hom niks anders noem nie, al is hy my oom – se woorde flits deur my kop: “Onthou altyd, om onder olifante se pote te beland is nie die enigste manier vir ’n offisier om te sterf nie.”

      Is dit wat hy bedoel het? Die skoot van agter? Is dit veronderstel om elke offisier se nagmerrie te wees? Het hy geweet ek gaan grens toe?

      Kaptein Johnson merk droogweg op: “Jy is geregtig op ’n pistool van die Rhodesiese leër.” Toe ek nie antwoord nie, vervolg hy: “Hul holsters is beter as ons s’n, jy weet.”

      Ek knik sonder om te glimlag, salueer en maak dat ek so vinnig moontlik daar wegkom.

      Teen die aand voel ek weer so terneergedruk soos ’n platgetrapte blikkie, en moeg van al die rompslomp. Maar ek stribbel net halfhartig teë toe die adjudant en twee luitenante voorstel dat hulle my stad toe neem vir ’n behoorlike afskeid. Ek sien nie kans vir nog ’n aand alleen in my gevaarlike kamer nie. Nie terwyl ek nugter is nie.

      Ons gaan na ’n hotel wat gewild is onder studente. Dis gepak met jongmense wat saamdrom om ’n tafel in die middel van ’n lang kroegvertrek. ’n Meisie staan onder ’n groot kandelaar en krul en wriemel in ’n ontkleedans; kort-kort flits sy haar kaal borste met gemaakte onverskilligheid.

      Elke keer as sy haar T-hemp optrek, lig die skare hul glase en roep: “Joooiii!”

      Aan die een punt van die tafel is daar ’n geveg om haar bra, en die wenner tol dit amper ’n minuut lank bokant sy kop soos ’n ratel by ’n sokkerwedstryd. Die meisie moet die moed vir haar vertoning uit die perfeksie van haar borste put; dit laat my hart ineenkrimp en ek baklei my pad oop na die kroegtoonbank. Daar hou ek my brandy en Coke met albei hande vas ingeval ek uit pure bewerigheid dit op ’n ewe mooi stel borste langs my mors.

      Ek dryf gou na ’n muur en die adjudant kom na my met twee meisies by hom ingehaak. Hy los die een by my: “Wees goed vir hierdie ou, hy gaan môre grens toe.”

      Eers word ’n vals glimlag na my kant toe gemik en dan lyk sy heel gelukkig om soos ek die muur met haar skouer regop te hou. Ons sê niks nie en ek probeer nie eens na haar loer nie. Die stilte duur tot die adjudant terug is. Geïrriteerd met ons gebrek aan geesdrif stoot hy ons in mekaar se arms. Daar is te veel mense om ons teë te sit; die enigste manier om van hom weg te kom, is om op die dansvloer te beland.

      Die DJ speel “Stairway to Heaven” en ek staan nader vir die slow dance. Sy stoot my effens weg en vra: “Gaan jy regtig môre grens toe?” Ek knik en ons staan en swaai ons arms op maat van die musiek. Daarna grawe ek weer my pad na die toonbank oop, waar ek nog twee brandies en Coke sluk voor ek teruggaan.

      Die meisie is nog daar. Sy glimlag verskonend vir my. Ek neem haar hand en stap na die dansvloer. Dié keer hou ek haar in my arms, hoewel die nommer ietwat te lewendig is. Eers is haar liggaam styf terwyl ons lomp ’n ritme probeer kry te midde van al die woeste bewegings en stampe en stote.

      Maar dan voel ek hoe sy ontspan tydens die volgende nommer, weer ’n shuffle-liedjie. Ek druk my mond teen haar hare en asem haar soet parfuum in, en die skerp reuk van die sweterige kolle in haar nek. Sy sit haar kop versigtig teen my bors en ek weef my vingers in haar geil swart hare. Ons heupe beweeg al nader aan mekaar en ek druk my ereksie teen haar gordel se gespe. Ons los mekaar vir nog ’n drankie, maar kom terug na dieselfde plek, sonder om te praat, en hou ons glase agter