Ruan Kemp

Gedeeltelik bewolk


Скачать книгу

het, en nou en dan saam met hom op die stoep gesit. En wanneer Jim sy hande vou, vou George sy hande, wanneer Jim sy bene kruis, kruis George sy bene. Ou Jim het ’n groot skaduwee gegooi.

      “Elke mens het twee skaduwees,” het Jim gesê. “Die een is van die son, en die ander is van die voorvaders. Wit mense se ander skaduwee is die kleurlinge. As die wit mense uit Blyverby uittrek, sal hulle skaduwees saamtrek. Dis trek of vrek. Hier is een supermark, dit behoort aan ’n wit man, hier is een drankwinkel, dit behoort aan ’n wit man, hier is een kliniek, dit behoort aan ’n wit man.” Dan het Jim ’n rukkie stilgebly, nie die tipe stilte wat beteken dis nou jou beurt om iets te sê nie, maar die tipe stilte wat beteken laat my woorde eers toe om hulle lêplek te vind. Gelukkig was dit altyd duidelik watse stilte Jim bedoel het. Veral daardie stilte wat oor hom gekom het soos ’n wolk. Dan was die hele plaas stil. Die hele skepping. Ou Jim was ’n ingewikkelde skepsel. ’n Slim man sou dit dalk kon regkry om hom uitmekaar te haal, die fyn draadwerk van sy kop uit te pluis, of in die geval van ’n dommer man, los te torring, maar niemand behalwe die Skepper self sou hom weer aanmekaar kon sit nie. Dan sit hulle so, pa en seun, en kyk hoe die kerk leegloop, kyk hoe die dronk kleurlinge verbyloop.

      “Ons is die bloednaaiers van ons seënings,” sing hulle.

      “Fokken hotnots,” sê George.

      “Pasop wat jy sê, seuneman. Ek het dieselfde ding by Bitterpit gesien, maar dit was wit mense.”

      “Kanaalape?”

      “Ja,” sê Jim, en dan skep hy ’n oomblik se stilte waarin hy sy woorde in ’n ry kry, dit raak moeiliker soos hy ouer raak.

      “Met daardie kanaal wou hulle die armblankevraagstuk oplos. Dit was werk of vrek. Dit was die filosofie, maar dit was besoedel met politiek. Die kanaal was ’n simbool, ’n bron van lewe vir die boer en werkverskaffing vir die armblanke, en die kanaal moes die twee groepe saambring en dan boonop ook dien as ’n grens, ’n netjiese skeiding, so netjies soos die kanaal self. Die plan was dat sosio-ekonomiese verskille lynreg op die kleurgrens waarneembaar moes wees, en nie tussen die wittes nie. Maar die kanaalape was van wese ’n lui en slordige en losbandige klomp.”

      Jim trek sy vingers deur sy hare. George verstel sy kuif.

      “Hulle het ons uitverkoop. Die armblankes. Die fokken Malaniete.”

      Jim sit terug, vou sy arms, ’n afgetrede skaapboer, ’n Noord-Kaapse aristokraat.

      Die kerkklok lui.

      “Ag my liewe Here Jissis, ek het gesê ek gaan hulle aankla vir rusverstoring. Sara!” skreeu hy by die huis in. “Bring tee!”

      BITTERPIT – ’n Vrou is vermoedelik op Rugseer naby Blyverby verkrag en daarna in die kanaal gegooi. Die polisie van Bitterpit het Sondagmiddag op ’n bloedspoor naby een van die huise op ’n erf op Rugseer afgekom. Geen verdere spoor van die vrou kon gekry word nie en die vermoede is dus sterk dat die vrou in die kanaal gegooi is. Die polisie ondersoek die saak.

      Dis vergeefs. Dis so vergeefs dis amper grillerig. Maar hier staan hulle in ’n ry voor die koöperasie, vuil plaasbakkies, bestuurders binne-in die kajuite, niemand waag dit buite in hierdie son nie, wagtend op hulle beurt om afgespuit te word deur ’n man in ’n gekreukelde leervel met ’n geel tuinslang, sodat hulle met skoon bakkies die dorp kan binnery. Let op jou voorkoms, Israel, want jou hart is ’n gat wat jy God noem. Bakkies gewas, hoofde geolie, want dalk doen die Here inkopies op Blyverby vandag. Die koöperasie se naam is Saamwerk. Die drukker is ’n dot matrix. In die kantoortjie agter hang twee foto’s. Dit lyk of die een foto skeef hang, maar as mens mooi kyk, sien mens dit is meneer J Smal, staande, tweede van regs, wat die foto laat hel. In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. Oom Jan Smal was Jim se neef. Hy het ’n Valiant gery waarvan hy die bestuurdersitplek uitgehaal het. Hy het op die agterste sitplek gesit en bestuur, ’n lappie op sy maag dat die stuurwiel hom nie krap nie. Sy eerste vrou het daardie lappie gehekel. Sy is in haar slaap oorlede. Mense het gespot hy het haar doodgelê. Later het hy met ’n dwergie getrou. Mense het in die kerkbanke gesit en wonder hoe hulle dit doen. Vleisko-operasie Beperk Direksie 1959 Mondigwording staan bokant die foto gedruk. Al die manne in die foto dra grys pakke, dis ’n swart-en-wit foto, skoolskoenagtige skoene, grys kouse, identiese pullovers. Dis ’n uniform. Maar waar almal se dasse met ’n Windsorknoop vasgemaak is, is Ou Jim s’n bietjie slordig, immaculately dishevelled, volgens die mode wat hy as seun by Paarl Boishaai opgetel het. Voor op die foto sit die voorsitter meneer JS Kinsey wat van ’n besoek na Rusland teruggekeer het en aangekondig het dat Kommunisme nie werk nie. “Boere kan nie vir die staat werk nie,” het hy gesê. “Staatsgrond word verwaarloos, maar waar elkeen sy eie lappie grond besit waarvoor hy self verantwoordelik is, dis waar boerdery gedy!” Die ander foto sê Vleiskoöperasie Beperk Direksie 1965. Teen daardie tyd het tikmasjiene deeltekens gehad en het Jim aanbeweeg na visevoorsitter met sy slordige das. Agter hom staan meneer JH Volschenk met net een oog. Dis ’n oorlogswond wat hy in ’n oorlog opgedoen het waaroor hy nie praat nie. Mense het hom oom Jannie One Light genoem. Daai man wat lyk of hy die voorsitter ’n soen gee is meneer K Vermaas. Jim het hom later vang steel en hom daaroor aangespreek. ’n Week later het Vermaas selfmoord gepleeg. Die koöperasie verkoop allerlei stukgereedskap op skuld waarmee mens allerlei interessante selfmoorde kan pleeg.

      “Wat weet jy van minerale?” vra George die kasregisterbeampte.

      “Nie veel nie,” sê sy. “Jy wil met die bestuurder praat.”

      “Wat weet jy van minerale?” vra George die bestuurder.

      “Nie veel nie,” sê hy. “Jy wil met Jan Boorman praat. Hy’s af in die pad.”

      George koop ’n gomlastieksambok vir R39.

      “Hou maar die kleingeld,” sê hy.

      Kyk die hond! Wat ’n oulike hond. “Hallo, hond,” sê George.

      “Hallo,” sê die hond.

      “Los my fokken hond uit,” sê die basterhond se basterbaas. George is werklik en kompleet onbewus daarvan dat die hond deur ’n mens vergesel word. Hy fluister liefkosinkies in die hond se oor.

      “Kom hier!” skreeu die basterman op sy basterhond.

      “My baas slaan my,” sê die hond.

      “Los my fokken hond uit!” skreeu die basterman.

      George trek sy vingers deur die hond se kuif toe hy opstaan, die basterman met die sambok bydam. Oor die gesig, amper mis, dan ’n goeie loesing oor die rug toe die basterman spore maak. George hoes. Steek ’n sigaret brand. Die hond sit so ’n rukkie en stertswaai by George en vra dan mooi of hy kan gaan kyk of sy eienaar orraait is. George knip sy oog en die hond draf bekommerd terug.

      Behalwe vir die vonke is die werkswinkel donker. Dis ’n grot vol opmekaargestapelde goeters met die buitelyne van stukgereedskap en staangereedskap en weggooibare items wat nooit weggegooi word nie. Regs in die hoek staan ’n ding onder ’n seil. Links staan ’n Ford F100 wydsbeen oor ’n sloot in die vloer, sy boepens uitmekaargeskroef, sy binnegoed ontbloot. Jan Boorman staan gehurk in die sloot en sweis die naelstring aan die skeenbeen vas. George staan in die deur, enkeldiep in die ghries, koes vir die vonke.

      Boorman voel iemand hou hom dop, sit die sweismasjien af, sit sy sweishelm neer. Eers sien hy die silhoeët van ’n boggelrugreus teen die wit lig in die deur. Dan sien hy George en trek sy sweishandskoene uit. “My pa was ’n Smutsman,” sê George.

      “My pa was ’n Malaniet,” sê Boorman, klim die trappies op uit die sloot en bied sy hand aan. Dis ’n hand wat nooit sal skoon kom nie. Dis ’n hand wat sy pad ken deur die deurmekaargesweisde binnegoed van ghriesvretende lawaaimakers, ’n hand wat sy pad ken deur ’n deurmekaargebroude kombuis waar geen vrou ooit kom nie.

      “Aangenaam.”

      “Aangenaam.”

      “Ek het hier grootgeword,” sê George.