Ruan Kemp

Gedeeltelik bewolk


Скачать книгу

of Princess of Precious – die hoer in Keeromstraat, Chardonnay du Pré, die Bellville-skoolmeisie vir ’n sakkie poeier, ’n ander man se dogter vir ’n sak pille by Kylemore se disko, Cutty, Venus de Milo, Amen.

      Hoe om gratis plaas toe te bel: Raadpleeg die telefoongids, onder Nasionale Skakelkodelys soek jy die dorp wat die naaste aan die plaas is. Plaaslyne werk volgens ’n Y-prosedure, daarom praat hulle van Y-lyne. Al die Y-lyn-nommers eindig met ’n twee, vervang die twee met ’n een en jy is in! Vra die sentrale om na die plaas van jou keuse deurgeskakel te word. Of praat oor die weer. Blyverby se kode is 0-5-4-10-2. Dis maklik om te kry, want die Noord-Kaap se telefoongids is dunner as ’n tydskrif. En dit sluit die geelbladsye in. En Upington. En Springbok. En Kuruman. En Kimberley. En De Aar. En al die godsverkakte wegkruipplekkies soos Aggeneys, Garies, Kamieskroon, Daniëlskuil, Kakamas. Kleurlinge het nie name nie. George skakel 0-5-4-10-1.

      “Lekker weer wat ons het,” sê George.

      “Dis te warm,” sê die sentrale.

      “Knoxfort, asseblief.”

      Daar’s nie antwoord by die plaas nie. George val in die pad.

      Die pad plaas toe is stowwerig en reguit, loop parallel met die Y-lyne. Versamelneste op die pale. In George se kindertyd was hier nie versamelvoëls nie, jy moes Kalahari toe om hulle te sien, maar na 1994 het die weer verander en die versamelvoëls het in hulle massas hier toegesak. Dis onmoontlik om hulle te tel. George tel die telefoonpale. Een-en-negentig telefoonpale, dan trek ’n steenbokkie sy aandag af.

      “Hallo, bokkie.”

      “Hallo,” sê die bokkie.

      ’n Bakkie kom aangejaag en die bokkie verlaat George se geselskap soos ’n klip ’n kettie, hardloop langs die draad af. Wanneer hy besef hy kan nie vir die bakkie weghardloop nie, bereken hy die afstand tussen die spanhoutjies, wat relatief kleiner is teen hierdie spoed. Wanneer hy seker van sy saak is, gooi hy sy lyfie op volspoed deur die draad, blad en boud terselfdertyd, kop en pote kom vanself agterna. Wanneer hy ’n ent die veld in is, haal hy sy voet van die petrol af, bedaar, kou klaar aan ’n driedoringblaar. George wuif uit die verte, stap verder. Dis die eerste keer dat hy hierdie pad stap, besef hy, dan onthou hy dat hy al hierdie pad gehardloop het.

      Bennie kan ’n bra dra want Bennie is obees. Bennie het pseudoginekomastia.

      “Kom hier, Bennie, leen ons bietjie jou buuste.”

      Bennie gee nie om nie. Bennie geniet die aandag. Aandag is nie iets wat Bennie by die huis kry nie. Bennie se pa is óf gesuip óf hy ry trekker. Bennie se ma vee die heeltyd, vee waar sy nou-nou net gevee het, vee asof sy iets uit haar verlede wil wegvee, vee asof sy Bennie uit die pad wil vee. Môre vee sy weer. Bennie leen sy buuste uit. Bennie dra ’n bra.

      “Kyk hier,” sê Eddie, “laat ek jou leer hoe om dit vinnig te doen.”

      Eddie vat vir Bennie, ’n wiegdansie in ’n koshuiskamer, twee beddens oorkant mekaar, ’n toegetrekte deur, en ’n kolletjie aan die oorkantste muur. George staar na die kolletjie. “Kyk hier,” wys Eddie vir George, en met ’n flink beweging van ’n slap gewrig maak hy die bra los. Bennie giggel toe die bra oor sy buuste afgly.

      “Jou beurt,” sê Eddie.

      George sukkel met die wiegdansie, maar die bra kom maklik los.

      “Weer, weer!” giggel Bennie.

      Eddie vat vir Bennie, ’n wiegdansie, met sy een hand maak hy Bennie se bra los, met sy ander hand maak hy sy gulp los, dan wiegdans hulle so ’n rukkie. George staar na die kolletjie teen die muur.

      “Jou beurt,” sê Eddie.

      “Maar Eddie, ek is nie ’n meisie nie.”

      Kolletjie. Kolletjie. Kolletjie.

      George hardloop huis toe. ’n Paar uur later is hy daar. ’n Paar jaar later skiet Eddie homself in sy pa se kantoor. Dis hoe mense daaroor gepraat het: “Hy het homself in sy pa se kantoor geskiet.” En so het sy pa se kantoor die belangrikste deel van ’n dooie seun se anatomie geword.

      Dis ’n kinderlike opgewondenheid wat soos ’n koeltewolkie oor hom kom toe hy die hoekdraad van die plaas herken. Hy hardloop langs die draad af. Wanneer hy besef hy kan nie verder hardloop nie, bereken hy die afstand tussen die spanhoutjies, wat relatief dieselfde is teen hierdie spoed. Wanneer hy seker van sy saak is, werp hy sy logge liggaam op volspoed oor die draad, kop eerste, die res bly agter. Toe hy bykom, sien hy ’n woestynpikkewyn, sien hy nie die bloedspoor van sy oor na sy skouer nie. Die woestynpikkewyn is ’n vaal voël met ’n krom nek en ’n swart kol onder die bek. Hy maak kwaakgeluide, vlieg met hangpote, land soos ’n helikopter. Dis iets tussen ’n hamerkopkiewiet en ’n pterodaktiel. Min mense weet dat dit ’n prehistoriese voël is, die selakant van die Noord-Kaap.

      “Hallo, woestynpikkewyn.”

      “Jawragtig, jawragtig,” sê die voël en styg op soos ’n helikopter.

      George hou van voëls. Op die Moores se familiewapen is daar ’n voëltjie in ’n kou. George klim oor die draad, hoes, steek ’n sigaret brand, pis ’n sirkel in die stof.

      Goedgekamoefleerde ogies hou hom dop.

      Dit is verkragtersveld. Gebreekte klip. Rooi stof. Tussen die klippe soek skape mekaar se koeltes uit. Tussen die klippe voer bossies ’n sukkelbestaan. Boesmansgras. Asbos. Brakbos. Driedoring. Dissel. Ghaap. Die bossies is dieselfde kleur as die gebreekte klip. In hulle koeltes skuil slange. Pofadder. Skaapsteker. Spoegslang. Geelslang. Horingsman. Horingsman gooi homself toe onder die stof, net sy horings steek uit. Hier het God die bourommel gelos en gefokkof, gatvol geskape. Hier is die veld orals dieselfde. Die avonturier klim ’n koppie met die hoop dat dit anderkant die koppie anders gaan lyk, maar hier stel die wêreld die heeltyd teleur, so die avonturier draai terug, sluit homself in sy kajuit toe, en vertrek op ’n inwaartse tog. Maar is die wêreld daar binne minder bleek? Of is die gemoed heelhartig omgewingsbewus? Hulle sê God is. Israel lyk net soos hierdie wêreld en die Jode het net een god, maar Indië lyk glad nie soos hierdie wêreld nie, Indië is ruig, met tiere in die riete, en lyke wat in die rivier afdryf, en die Hindoes het baie gode. Maar dit los mens met ’n groter vraag: Het God enigsins iets te make met die wêreld daar binne? In die geval van die Hindoes is dit bietjie moeilik om die vraag te beantwoord, want Hindoeïsme is ’n kondisie waarvoor die Amerikaanse Psigiatrievereniging nog nie diagnostiese kriteria uitgedink het nie. Maar in die geval van die Jode is die antwoord nee, God het niks te make met die wêreld daar binne nie. Die Joodse god is onsigbaar en daarom kan hy nie menslike eienskappe hê nie, menslike gemoedstoestande deel nie. Omdat hy nie soos ’n mens is nie, is hy onvalbaar, en daarom is hy heilig. As die Joodse god sigbaar was, sou hy poepdronk die hora dans sonder om te val, maak nie saak hoeveel hy drink, hoe hard hy dans nie. Maar dan sou jy steeds nie geweet het wat in sy kop aangaan nie. George sing “Hare Krisjna” op die maat van “Hava Nagila” terwyl hy deur die veld stap, mierneste stukkend skop. Die mier is nie die organisme nie, die miernes is. Skop sy groottoon oop.

      ’n Bakkie kom deur die veld aangejaag, braak ’n golf stof toe hy stilhou, ’n dooie woestynpikkewyn sit in die sierrooster vas. Kleinjim Moore spring uit, gewapen met ’n gomlastieksambok. Dan sien hy George het ook ’n sambok by hom en sit die sambok terug in die bakkie, laat die boerboele los. Die honde bestorm George, spring op teen sy bene, lek sy hande. Kleinjim kom aangestap soos ’n poephol sonder ritme op ’n dansbaan as jy met sy meisie dans.

      “Wat maak jy op my plaas?”

      “Ek is jou oom. Jou pa se broer.”

      “Ek weet wie jy is. Wat maak jy op my plaas?”

      “Ag, ek kom kuier maar net so bietjie.”

      “My ma sal nie daarvan hou nie.”

      “Jou ma?” lag George. “Bid jou aan.”

      “Ek dink jy moet loop.”

      “Wat weet jy van minerale?”

      “Nie veel nie. Asseblief. Los ons uit.”