kan nie. En ons wat hierdie storie lees, weet: Hy sou móés, ja, want Abram sou nooit kon nie.
Dit bly die genadewoord aan al God se kinders: God wat sê: “Ék sal.” Hier aan die begin van ’n jaar wat vol vreemdheid voor ons lê en waar vrees dreig om die meeste en die hardste woorde in ons lewe te spreek.
En as ons te versigtig is om koers te vat agter Hom aan, kan ons vir eers maar net prewel: “U moet, asseblief, Here. Ek kan nie.”
____________________
Help my orent, Here, hier aan die begin. En praat asseblief sonder ophou met my.
Vrydag 3 JANUARIE 2020 Lees Genesis 28:10-22
Hy is hier
“Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie” (v. 16).
Jakob vlug in aller yl voor sy broer Esau se wraak. Hy slaap sommer in die oop veld, met ’n klip as kopkussing. En hy droom van ’n leer wat hemel en aarde met mekaar verbind.
Die Here self verskyn aan die dromer en herhaal die beloftes wat Hy destyds aan sy oupa gemaak het: “Ek sal … Ek sal … Ek sal …” En, as finale bevestiging: “Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”
Dit is alles bitter vreemd: daardie Stem, daardie woorde. Daardie herhalende, soos vir Abram, “Ek sal …”
Jakob is onthuts: Die Here is hiér, hier waar hy vir sy broer se wraak wegkruip. In hierdie nag, in hierdie stukkie veld. Dit maak hom bang; hy kan nie vir Hóm vlug nie. Soos die latere Psalm 139-digter vind Jakob uit dat die Here dwarsdeur hom sien. Hy weet alles …
Dalk is dit vrees wat Jakob noop om sy klipkussing aan die Here toe te wy. Dalk doodgewone ontsag. Ag, en straks ook maar ’n goeie skeut opportunisme: “As U, o God, by my is en my beskerm … en vir my kos en klere gee … sal U, Here, my God wees.”
Hoe ook al: Die waarheid is dat die Here wat dwarsdeur sy bang kinders sien en hul kansvattery ken, by hulle is en by hulle bly. Dat Hy hulle nie onder sy oë laat uitgaan nie, omdat Hy weet tot watter vernietigende én selfvernietigende gedrag hulle in staat is.
Hy vergesel hulle as hulle vlug en waak as hulle slaap. Hy is onafgebroke by dié wat leef van sy “Ek sal”-belofte.
____________________
Ook nou, Here, aan die begin van dié onbekende jaar, is U hier. Hier by my.
Saterdag 4 JANUARIE 2020 Lees Hebreërs 11:23-31
Geloof?
Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond … (v. 29).
Die Hebreërsskrywer is ’n lojale volksman: Die hele elfde hoofstuk van sy boek is vol voorbeelde van lofwaardige geloof uit sy eie mense se geledere. Dit word as ’t ware ’n galery geloofshelde uit sy volk se roemryke geskiedenis wat hier uitgestal word.
Behalwe dat “roemryke geskiedenis” ietwat van ’n oordrywing is, en “geloofshelde” waarskynlik ’n vergissing. Want met hoeveel eerbied Bybellesers ook al hierdie hoofstuk benader, dit bly ’n feit dat dié skrywer sy mense se geskiedenis deur rooskleurige lense beskou. Bloot ’n vinnige kyk na die Ou Testament sal jou wys hoe effentjies hierdie ry “groot gelowiges” se geloof was. En hoe erg hul misstappe.
Neem nou maar “die Israeliete” in vers 29 as voorbeeld: Voor die droogvoetse deurtog deur die “Rooisee”, só vertel die Eksodusskrywer ons, “het (hulle) baie bang geword en benoud na die Here geroep” (Eks 14:10). Nou weet die Hebreërsskrywer te vertel, eeue later, dat dit vanweë hul voortreflike geloof was dat hulle so gemaklik deurgetrek het.
Wat kyk die skrywer mis? Waarom hierdie heiligverklaring van sy voorvaders wat tog nie een enkele aanduiding van geloof gegee het voordat hulle droogvoets deur die see getrek het nie?
Of is dit ons, die latere lesers, wat net sien wat ons wil sien? Is dit nie maar ons idee van hoe en wat geloof is wat ons so sinies maak nie? Is dit nie tog wat geloof is nie: om in jou doodsbenoudheid nie in jou eie derms rond te grawe nie, maar na God te roep? Om te weet dat jy, Goddank, onder geen omstandighede aan jou geloof oorgelewer is nie?
____________________
Hoor my roep, Here! Help my, want ek behoort net aan U.
Sondag 5 JANUARIE 2020 Lees Johannes 1:1-18
Elke dag Kersfees
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien … (v. 14).
Die Johannes-evangelie vertel nie ’n Kersverhaal nie; dit val sommer weg met ’n preek. Boonop met ’n doelbewuste buiging na die eerste Bybelboek, Genesis. “In die begin het God die hemel en die aarde geskep,” lui Genesis se eerste vers. “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God …” eggo Johannes.
Daarmee verklaar hy dat dit van “Dag Een” af Kersfees was. Die Woord wat later mens geword het, was uit die staanspoor by die skepping teenwoordig. Die wonder hiervan, voeg Johannes nou by, is dat Hy later tussen ons kom woon het.
Dít is ’n wonderwerk, weet ons tot vandag toe, wat toe ook nooit opgehou het nie. Die heerlikheid wat Johannes en sy dissipelvriende gesien het, is vandag steeds sigbaar. Trouens, die hedendaagse Jesusvolgelinge leef van hierdie heerlikheid. Ons kom immers so pas uit ’n seisoen waarin hierdie heerlikheid helder en duidelik te sien was. En in die jaar wat voor ons lê, sal ons dag ná dag van daardie heerlikheid eet en drink en vrolik wees.
Dit ís dus – ánders as wat ons mekaar kinderagtig-vermakerig toesnou – elke dag Kersfees. Van altyd af. Grootmense moet dit weet.
En dit is juis ook so op hierdie eerste Sondag van die nuwe jaar. Ja, op hierdie dag waar gelowige mense kom skuiling soek tussen medegelowiges, is daar vir ons ’n geskenk. ’n Hoofletter-Geskenk, wie se heerlikheid ons oë laat blink. Soos mense wat, sonder dat hulle daarvoor gewerk het die reg gekry het om kinders van God genoem te word, se oë maar blink wanneer hulle die lig sien.
____________________
Ons lewe van u oorvloed, Here Jesus. U genade op genade, onbeskryflik groot.
Maandag 6 JANUARIE 2020 Lees Psalm 72:1-7, 10-14
Ek bid vir die regering, Here …
Mag die koning vir sy mense wees soos die reën vir die plante … Mag die reg onder sy regering floreer en mag daar vir altyd groot voorspoed wees (v. 6-7).
Hierdie psalmdigter bid ’n gebed wat ons tog te dankbaar is óns nie hoef te bid nie. Want hedendaagse gelowiges is al heeltemal té seer gebyt deur konings en presidente en voorsitters en generaals om dit reg te kry om God se seën op húlle af te bid. Gelukkig kom Psalm 72 darem uit ’n ander tyd. Of hoe?
Dalk moet ons maar verder lees, en anderkant ons woede en ontnugtering na dié psalm se bedoeling gaan soek. Byvoorbeeld in vers 12-14. Hier verneem ons van armes wat om hulp roep, van verdruktes en hulpeloses. Mense wat niemand het wat vir hulle in die bres tree nie. Want dán kry ons perspektief op hierdie pleitgebed. Dan hoor ons iets soos: Sorg tog goed vir die koning, Here, sodat hy vir die armes en ellendiges kan sorg!
Dan rym hierdie gebed-vir-die-koning met Paulus se latere oproep om vir die regeerders te bid, “sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei …” (1 Tim 2:2). En dalk help dit ook om te weet dat die gesagdraers in Paulus se tyd die Romeinse owerheid was, en dat hulle nié noodwendig die evangelie en die evangelieverkondigers goedgesind was nie. Inteendeel.
Maar sowel Paulus as hierdie psalmdigter weet dat die omsien na armes en hulpeloses én hul bevryding uit ellendige omstandighede ’n prioriteit vir gelowiges moet wees.
Bid dus maar vir die regering, gelowige! Dit is die minste wat jy kan doen. Die regeerders is veel beter as jy toegerus om ’n verskil te maak.
____________________
U ken my hart,