het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig (v. 35).
Die verhaal van een van Jesus se minder bekende dissipels wat ’n ontmande Etiopiër teëkom, is om verskeie redes goed bekend. Onder meer word daar, ook deesdae, etlike vrae oor hierdie vertelling gevra. Soos: Word hier na die hedendaagse Etiopië verwys? Dan was dit darem ’n lang reis! En hoe is dié mens aan die Joodse godsdiens bekendgestel, en dan só beslissend dat sy toewyding hom tot in Jerusalem bring én hom uit Jesaja laat lees?
En kon hy toe ooit aanbid? En waar? Ontmandes is immers nie in die tempel toegelaat nie (vgl. Deut 23:1-2; Lev 21:20). Of sou die feit dat die man juis uit die Jesajaboekrol lees aan hom ’n nuwe perspektief gee? Daar staan mos geskrywe dat die ontmandes en die nie-Israeliete nie van die tempel uitgesluit is nie. Inteendeel: “Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed …” (Jes 56:7).
Al hierdie vrae is van wesenlike belang, en dit dwing hedendaagse Bybellesers terug na die wortels van hul geloof. Waaronder die verrassende inhoud van Jesaja 56:1-8.
Dít alles stel ons bloot aan die insig wat die onopvallende Filippus openbaar: Toe die ontmande hierdie Jesusvolgeling vra wat hom dan verhinder om gedoop te word, het Filippus nie eens verdere gesprek daaroor gevoer nie; dit was wat hom betref ’n vanselfsprekendheid.
Ja, “insig” is dalk ’n gepaste woord om iets oor Filippus se gesindheid en optrede te sê. “Gesonde verstand” is straks ook ’n moontlikheid. Ag, en miskien was dit bloot sy volg van die Jesusvoorbeeld wat alles vir hom so voor die hand liggend gemaak het.
____________________
O Here, u wydoop arms het ook vir my plek.
Dinsdag 21 JANUARIE 2020 Lees Jesaja 53:1-12
Soos Jesus
Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie (v. 7).
Die aangrypende “Kneg van die Here”-lied – dít is waaruit die Etiopiër gelees het toe Filippus hom ontmoet het, en dit is by hierdie Skrifgedeelte wat Filippus toe “begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig” (Hand 8:35).
Deur die eeue heen het skrywers, ook in die Nuwe Testament, en komponiste die roerende woorde van Jesaja 53 gebruik om aan Christene iets oor hul Jesus te vertel. En nêrens treffender nie as in dié woorde: “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Hierdie lied herinner ons aan die haas onbeskryflike lyding waaraan Jesus onderwerp is. Net die grootste sinici sal onaangeraak hier lees of luister. En net die stiksienigstes sal hier verbyblaai.
Dalk is daar selfs dié wat hul ore vir skrynende woorde soos “verag” en “verstoot” en “gepynig” en “verbrysel” wil toedruk. Wat hul gesig wegdraai omdat hierdie mens nie die tipiese voorkoms gehad het van iemand wat gewild is nie.
Wie was hierdie lydende dienaar-van-die-Here? En hoekom is hy so geminag en mishandel? Dat hy soos Jesus gelyk het, dit is seker. Dat mense se optrede teenoor hom net so bitter vreemd was soos dié teenoor Jesus, dít is tragies. Dat hy, soos Jesus, hierdie einste mense se oortredings vir sy rekening geneem het, dít is die verbysterendste nuus denkbaar.
____________________
Ek loof U, Here van my lewe, dat U nooit u rug vir my draai nie. Al doen ek ook wát.
Woensdag 22 JANUARIE 2020 Lees Matteus 9:14-17
Nuwe tye
“’n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen” (v. 17).
Die Doper se dissipels vra vir Jesus hoekom sý dissipels nie die ou godsdienstige gebruike nakom nie. En Hy antwoord hulle onder meer só: Jy lap mos nie ou klere met nuwe materiaal nie, en jy gooi nie nuwe wyn in ou sakke nie.
Dit is nie meer die “ou tyd” nie; die nuwe het gekom.
Dit is, juis ook vandag, ’n vername strydpunt, dié tussen die handhawers van die oue en die inisieerders van die nuwe. Eietyds versus outyds. Met albei kampe wat woes op mekaar skel. Dit sou nogal vermaaklik gewees het as dit nie was vir die ellendige feit dat hierdie gevegte in die hart van die kerk woed nie. En deur sommige beskou word as ’n geveg om die hart van die kerk nie.
Geleerde mense gebruik geleerde woorde om vir dié soort skermutselings ’n slagveld af te baken. Hulle sê dit handel oor verskille in Skrifbeskouing en/of Godbeskouing en/of kerkbeskouing. Slim woordspeletjies én Woordspeletjies kenmerk hierdie oorlog; allerlei teksverse word heen en weer geslinger. Die Spreukeboek word ’n swaard en Levitikus ’n lans.
Jesus sou sy ontevredenheid hiermee onder meer só uitdruk: “Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23).
Ja-nee, dit lyk kompleet of die bruilofgaste so onder mekaar stry dat hulle skoon vergeet om dankbaar te wees. En glad nie meer bly is dat die ou dinge verbygegaan het nie.
____________________
Here, herinner my gereeld aan wat die swaarste weeg – my ego of u liefde, my vaste oortuigings of u oewerlose omgee.
Donderdag 23 JANUARIE 2020 Lees Galasiërs 1:11-24
Wanneer God ingryp
Maar God het my … in sy genade geroep.
Toe Hy in sy goedheid besluit het … (v. 15).
Paulus vertel sy storie aan die gemeente in Galasië, en dit klink darem baie na ’n uitgebreide skuldbelydenis. (Sommige sal dit dalk selfregverdiging noem.) Dit is asof hy reken om op dié manier die agterdog wat daar teen hom kan bestaan, uit die weg te ruim, sodat sy nuwe pad nie deur ou struikelblokke versper word nie. “Julle het immers gehoor van my optrede …” sug hy.
Ja, sy optrede.
“Met die dood dreig” en “die kerk probeer uitroei” – dit is hoe die Handelingeverhaal daardie optrede beskryf. Soos ’n besetene, lees ons, het hy van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk gesmyt (vgl. Hand 8:3; 9:1).
Daar is dus genoeg rede dat Paulus oop kaarte oor sy verlede moet speel: Sy nuwe susters en broers, wat goed weet hoe daardie verlede lyk, moet weet hy probeer niks wegsteek nie. Sy geloofwaardigheid hang aan dié skuldbelydenis. Hulle moet egter ook kennis neem van die drastiese ommekeer wat daar in sy lewe gekom het. Hierdie keerpunt beskryf hy met woorde soos “genade” en “goedheid” – wat, reggeraai, net aan God toegeskryf kan word. Die vervolgde God wat Hom as die reddende God aan Paulus bekendmaak. Oftewel, volgens Paulus se nuwe, vaste oortuiging: die ingrypende God.
Hierdie soort Goddelike optrede is natuurlik goed bekend aan sy kinders. Hy wat hulle nooit aan hul eie keuses uitlewer nie. Hy wat altyd op dié manier in sy kinders se oorvertellings geïdentifiseer word: “Julle weet mos hoe my lewe was, maar God het …”
____________________
U voortdurende ingrype in my lewe verlos my gereeld van myself, en dit beskerm ander mense teen my. Moet my nooit los nie, Here!
Vrydag 24 JANUARIE 2020 Lees Galasiërs 2:1-10
Dié wat so kyk
Hulle werklike doel was om ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het, dop te hou, sodat hulle weer slawe van ons kon maak (v. 4).
Ons het hulle reeds in Jesus se tyd in aksie gesien: dié wat kyk of iemand nie dalk ’n godsdienswet oortree nie. Toe Jesus op ’n keer ’n sieke in die tempel teëkom, het hulle hom “dopgehou” om vas te stel of Hy nie die een of ander sabbatsvoorskrif vergeet het nie (vgl. Luk