in sy kritiek teen hierdie mense. Hy ontbloot hulle vir wat hulle is: indringers wat die gemeente onder vals voorwendsels binnekom en hulle as medegelowiges voordoen. Maar, sê hy hier, ons gee nie aan hulle toe nie; hulle bedreig die waarheid van die evangelie.
Wat presies is hierdie bedreiging, waar lê die valsheid?
Dit is mense wat ou, uitgediende wette oor byvoorbeeld die besnydenis wou afdwing. Hulle sukkel om die gawe van Christelike vryheid te omhels. Hulle kan hulle nie ’n godsdiens sonder reëls en regulasies voorstel nie. “God” rym vir hulle sonder meer met “gebod”, en dalk veral “verbod”.
Sjoe, daar is ook niks nuuts onder die son nie! Nee, daar is wel deesdae ander allerheilige begrippe as “sabbat” en “besnydenis”; trouens, elke geslag sedert Jesus se tyd het ’n eie verbete vasklou aan die een of ander stuk uiterlike godsdienstigheid geken. Maar altyd met dié gemeenskaplikheid: uitsluiting.
Daar was nog altyd mense, kerkmense, wat met ’n lys voorskrifte gewapen die vrye toegang tot God se genade probeer versper. Kyk net hoe fanaties blink hul oë, kyk net hoe vals die glimlag.
____________________
Gee my die genade, Here, om deur u sagte oë na ander te kyk.
Saterdag 25 JANUARIE 2020 Lees Psalm 27:1-6
U adres
Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel (v. 4).
Dit lyk na ’n goeie teks om in die jaar se eerste maand te lees; dit klink selfs ’n bietjie soos ’n nuwejaarsvoorneme, of hoe? In hiérdie trant: Ek sal die Here vra om my te help om vanjaar darem ’n bietjie meer kerk toe te gaan. Om nader aan Hom te lewe. Om meer oor Hom te dink.
Ja, goed, maar hier gaan dit tog om veel meer as ’n stuk vroomheid wat mooi klink. Ons hoor ook die stem van ’n mens wat vol lof is vir ’n Here by wie hy skuil, en die ene vertroue is op ’n God wat Hom herhaaldelik as betroubaar bewys het.
Dit is dus geen wonder nie dat hierdie mens hom tuis voel in die Here se huis. Dat hy vir altyd daar wil bly sodat sy Here se goedheid sy gedagtes kan vul.
Wat ’n voorreg om jou kop en jou hart so vol Goedheid te hê dat daar nie plek vir vrees is nie! Om te weet dat jy die vyand net van ver af sal sien, omdat jou skuilplek jou van hulle afskerm. Jy sal triomfantelik sing; hulle sal magteloos swets.
En dit is, dink ek, die éintlike waarde van hierdie psalm vir ’n nuwe jaar: dat dit ’n belydenis is en nie ’n voorneme nie. ’n Stuk troos en nié ’n blinknuwe plan nie.
O, om te mag weet dat hierdie woorde nie aan die grille en geite van godsdienstigheid hang nie, maar “enkel en alleen” in die genadige trou van God geanker is.
____________________
Ek loof U, Here, dat u adres my tuiskomplek is.
Sondag 26 JANUARIE 2020 Lees Matteus 4:12-23
Om ander se taal te praat
Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak” (v. 19).
Hier lees ons oor die begin van Jesus se bediening. Onder meer dat Hy die mense in hul sinagoges geleer het, dat Hy mense genees en die evangelie van die koninkryk van God verkondig het.
Besig, bésig was Hy, en dan in daardie mense se agterplaas, om dit so te stel. Dit was trouens ’n kenmerk van Jesus se bediening dat Hy mense in hul eie omgewing en by hul werkplek ontmoet het. Hy het, kan jy sê, hul taal gepraat. Daarom sê Hy aan sy eerste (visserman)-volgelinge dat Hy hulle vissers van mense sal maak – en nié, byvoorbeeld, dat Hy hulle gaan toerus om ambassadeurs vir sy koninkryk te wees nie. Of om gesante van God te word nie.
Paulus sou dit verstaan. “Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword … Vir die swakkes het ek swak geword … Vir almal het ek alles geword …” (1 Kor 9:20-22). Hy het geweet dat as hy die ander se “taal” sou praat, hy hul hart sou raak. En dat hy dan in daardie ontvanklike hart die saad van Jesus se koninkryk-evangelie kon plant.
Om jou met mense en hul omstandighede te vereenselwig, was dus nog altyd ’n kernaspek van koninkrykskinders se optrede. En dan nie bloot om strategiese redes (“sodat hulle vir die Koninkryk gewen kan word”) nie, maar om doodgewoon Jesus se voorbeeld te volg.
Só kom koninkrykskinders te wete, vind hulle eerstehands uit, hoe dit is om in iemand anders se skoene te staan. Só, proefondervindelik, leer hulle om ander se laste te dra en op dié manier die Christuswet na te kom (vgl. Gal 6:2).
____________________
Ek hoor as U my roep, Here. Wys my wat ek moet doen, en hoe.
Maandag 27 JANUARIE 2020 Lees Rigters 6:11-24
“Ek sal wag”
“Moenie hiervandaan af padgee nie dat ek tog net gou ’n offer voor U kan kom neersit.” Toe sê die Here: “Ek sal wag tot jy terug is” (v. 18).
Hier is nóg ’n roepingsverhaal: Gideon, wat aangesê word om sy mense uit die Midianiete se mag te gaan red. Maar, soos by ongeveer alle geroepenes, word Gideon nie so maklik oortuig nie. Hy sê eers aan die Boodskapper dat Hy ’n fout gemaak het – sy afkoms is gans te nederig hiérvoor. (En later sou hy mos die stukkie vlieswol uithaal, om dubbel seker te maak.)
Maar nou vra hy eers dat die Here hom asseblief sal verskoon sodat hy ’n behoorlike offer kan gaan voorberei. As die Here is wie Hy sê Hy is, sal Hy wag.
Toe gebeur die verstommende: Die Here sê Hy sál wag.
Is dit nie buitengewoon nie? Dit klink so asof Hy afhanklik is van Gideon se insette. So asof Hy nie ’n ander plan sal kan maak as Gideon nie kans sien nie. So asof Hý die verleë Een is. So asof Hy maar só is …
Maar gaan vra gerus vir Abraham en Isak en Jakob, vir Moses en Jesaja en Jeremia, vir Samuel en vir Saulus: Hy is wie Hy is, en as dit beteken dat Hy soms moet vertoef sodat sy kinders nie noodlottig agter raak nie, sal Hy dit doen. Vra Jesus of sy storie oor die verlore seun nie ook iets oor ’n wagtende vader verklap nie.
Nee, Hy is nie afhanklik van enigeen se instemming nie. Hy is bloot desperaat dat sy kinders sal insien dat Hy hul beste belange op sy hart dra. En as dit beteken Hy moet wag totdat dit eendag tot hulle deurdring, sal Hy wag.
____________________
Dit is soos U is – my Here en my God!
Dinsdag 28 JANUARIE 2020 Lees Filippense 2:12-18
Verlostes
Julle moet julle … daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (v. 12-13).
Julle moet julle daarop toelê. Julle inspan. Julle moet konsentreer. Julle moet fokus.
Ai, hoekom gebeur dit nie sommer vanself nie? Kan dit nie maar die doodnatuurlikste ding in die wêreld wees om soos ’n verloste mens te leef nie?
Klaarblyklik nie. Ons kry dit nie reg om “goed” te wees nie; die goedheid in ons lewe is ’n gawe wat dikwels diep weggesteek word. Die einste Paulus skryf mos: “So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte” (Rom 7:21).
Daarom is dit soveel moeite om te leef soos ons Verlosser wil hê ons moet leef. Ons is nie altyd lus nie; dié soort lewe eis te veel van ons. Ja, ek kan dit later oorweeg. Dalk. Eendag. Net nie nou nie; nou is ek eers te besig om my lewe in diens van myself te leef.
En laasgenoemde soort lewe vra al my aandag; die eindelose liefde wat ek vir myself het, hou my voltyds besig. Ek moet my voortdurend afvra: Wat is daar vir mý in hierdie saak? Ek moet knaend op die uitkyk wees vir wat ek begeer om in mý skoot te val. Ek lê my toe op insamel, toe-eien, om te gryp as dit moet. Dan hou ek wat