afbreek en weggooi en doodmaak en vernietig nie, met hul hele wese aan. Dankie, Jesus! sal hulle oor hierdie sagte Jesushart prewel, en hulle daarin tuismaak.
Dit is daarom tog vreemd dat Jesus se sagte stem soms juis vir hulle irriteer. Dié dat Hy nie op sy vervolgers geskreeu en met hulle getwis het nie. Dat Hy vergifnis predik en versoening verkondig. Wat sou die rede wees dat juis Jesusvolgelinge so graag skreeu en so vinnig naderstaan as daar getwis word?
____________________
Laat, Heer, u vrede deur my vloei … waar haat is, laat ek daar u liefde bring.
Donderdag 16 JANUARIE 2020 Lees Galasiërs 1:6-12
Te goed om waar te wees
Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem (v. 6).
Om watter rede sou Paulus so verbaas wees? Hy behoort mos te geweet het dat goeie nuus nie altyd en vir almal goeie nuus is nie.
In die gemeente aan wie Paulus hierdie brief rig, was daar mense vir wie dit ’n roeping was om die goeie nuus verdag te maak. Wat Paulus daar verkondig het, naamlik ’n God wat sy arms oopgooi en ’n Jesus wie se genade vryspreek, was vir hierdie verdagmakers te maklik. Te eenvoudig. Te ruimhartig.
Hulle is mense wat met ’n rits voorwaardes vir toegang tot God se koninkryk in hul binnesak rondloop en dié lysie by elke moontlike geleentheid uithaal en streng daarop wys: Julle wat hoop om daar in te gaan, moet onthou dat julle eers aan dié en daai en die ander een moet voldoen.
Só bring hulle die niksvermoedendes en liggelowiges in die war. Want mense wat aanvanklik verstom staan voor God se onvoorwaardelike liefde, word, so lyk dit my, verstommend maklik oorgehaal om die goeie nuus te bevraagteken.
By nabetragting, en so saam met die verdagmakery, klink die Paulusboodskap vir hulle wat onder skuld en skuldgevoelens gebuk gaan, te goed om waar te wees. Dalk sal hulle sug en sê: Ek kon mos gedink het dit kan nie wees nie; sulke gelukkies tref nie vir mý nie.
Dit is oor hulle wat so maklik twyfel dat Paulus verbaas staan. Julle hoef mý nie te glo nie, sê hy. Glo Hom, Hy met die genade wat ook vir julle genoeg is. Hý is jul grootste geluk.
____________________
Ek glo, Here! Vir my is die evangelie te goed om nié waar te wees nie.
Vrydag 17 JANUARIE 2020 Lees Genesis 27:30-38
Wanneer die seën te min is
Maar Isak sê vir hom: “Jou broer het my kom bedrieg en toe het hy jou seën gevat” (v. 35).
Wat ’n vreemde episode in hierdie bekende verhaal …
Ons ken die storie goed, en die ellendigheid daarvan het selfs in ons idiomeskat nesgeskop. Ja, ons weet wat dit beteken om jou eersgeboortereg vir ’n pot lensiesop te verruil.
Maar wat nou van die pa se seën wat net aan die een gegee kan word en nie aan die ander een ook nie? Selfs al word dit baie gou duidelik dat eersgenoemde die seën onregmatig, nee, op ’n bedrieglike wyse, in die hande gekry het. Esau soebat dan: “Het Pa nie nog ’n seën vir my ook nie?”
Maar sy pa het nie nóg nie; wat hy gehad het, het hy reeds gegee.
’n Vreemde kinkel vir ons, die Godskinders, wie se Vader oor ’n onuitputlike bron van seëninge beskik. Ons weet immers uit soete ondervinding hoe Hy seën. Hoe Hy nie onderskeid maak nie. Hoe Hy Hom nie ’n rat voor die oë laat draai nie. Hoe Hy ook die bedrieërs seën, welwetend dat hulle bedrieërs is. Hoe hy dwarsdeur mense soos ek kan sien.
Ja, ek weet wat die omvang van my valsheid is. En ek kan eerstehands getuig oor hoeveel moeite die Here doen om my van myself te verlos. Tot vandag toe is ek nie seker of ek van my selfbeheptheid ontslae is of ooit sal raak nie.
Maar ek weet, o ek wéét, dat Hy my met seëninge oorlaai. En dat dit, hierdie oewerlose goedheid, my keer op keer oorrompel en laat uitroep: Is dit alles dan vir mý, Here?
____________________
Ek kan nie my seëninge tel nie, Here. Net so min soos wat ek die sterre se getal kan bereken. Ek kan net sê: Prys die Heer!
Saterdag 18 JANUARIE 2020 Lees Psalm 40:1-11
Wie is só dom?
Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel en hom nie wend tot duister magte en tot mense wat hulle met skyngode ophou nie (v. 5).
Hoe dan anders? Gelowiges stel hul vertroue mos op niks en niemand anders nie as op Hom, die Gans Andere. Of hoe? Die sogenaamde “duister magte” en beslis die “skyngode” is net nie ’n opsie nie. Nie waar nie?
Sommer ’n vinnige deurlees van hierdie psalm wys ’n diepe dankbaarheid teenoor die Here wat na hierdie mens toe afgebuig en hom uit die modder opgetel het. Sy hulpgeroep het nou ’n loflied geword, sê hy. En dan volg sy vaste oortuiging, wat eintlik ook ’n geloofsbelydenis is: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel …”
Wie sou dan nou só dom wees om hom tot duister magte en skyngode te wend? Tog nie mense soos ons wat ons heelhartig met hierdie psalmdigter se dankbaarheid kan vereenselwig nie, nè?
Sekerlik nie. Behalwe wanneer ons begin vergeet hoe ons opgehelp is. Hoe diep ons in die modder was en hoe ver die Here na ons toe moes afbuk. Dit is dán dat allerlei speletjies met skyngode en dagdrome oor duister magte vir ons aanloklik word. Dat ons fokus verskuif en ons nuwe visie verdof.
Dit kan natuurlik ook wees dat ons dan opnuut begin buig voor die vernaamste van alle skyngode: onsself. Dat die donkerste van alle duister magte, ons eie wil, weer die voorkeuropsie word.
En dit sal beteken dat al die ellende weer van voor af begin. Dat ek weer begin modder sluk, dat ek weer begin om “Here, help my!” uit te roep. Dat Hy weer moet afbuk en my weer van myself moet red. Hoe lank sal hierdie siklus aanhou?
____________________
Hoeveel keer nog, Here, voordat U moeg word vir my?
Sondag 19 JANUARIE 2020 Lees Johannes 1:29-42
Om self te sien
“Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God” (v. 34).
Johannes die Doper verduidelik aan sy volgelinge wie Jesus werklik is. Hy vertel hoe hy dit self nie geweet het nie, maar dat hy op God se aandrang fyn opgelet het wat die Gees doen. Hoe die Gees toe soos ’n duif uit die hemel op Jesus kom sit het en by Hom gebly het. Toe het hy geweet.
Wat ’n wonderlike storie, en wat ’n wonderlike, helder prentjie. Hedendaagse Jesusvolgelinge sou wát wou gee om dit te kon sien en beleef: Jesus en die Duif. Jesus en die Bevestiger van sy gesag.
Helaas. Ons moet maar staatmaak op een wat dit wel gesien het en wat daaroor getuig. Ons moet ons troos aan Jesus se woorde aan ’n twyfelaar: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo” (Joh 20:29).
Ja, gelukkig is diegene wat nie vir Jesus Christus of sy Gees of sy Vader sien nie … en wat tog glo. Wat ten spyte van spotters se gesmaal en hul eie verwarring en onsekerhede en persoonlike aanvegtinge tóg glo. Hulle wat sukkel om saam te praat, en dikwels met ’n verleë mond vol tande staan wanneer ander gelowiges met gloeiende drif oor God se hoorbare stem en die Gees se voelbare werking uitwei … en wat nietemin aanhou glo.
Dit is wonderlik om ook daardie eerste gelowiges, soos die Doper, se getuienis aan te hoor. Dit help ons om op die uitkyk te wees vir die leidrade oor God wat oral in ons lewe opduik. Sodat ons deur goed te kyk sy gestalte kan sien en deur fyn te luister sy fluisteringe kan hoor.
____________________
Here, skenk my asseblief ’n hart wat u teenwoordigheid herken, en ’n verstand wat dit wil vier.
Maandag