Marzanne Leroux-Van der Boon

Israel reeks: Omnibus 1


Скачать книгу

hoe die verwoeste Moment-kafee op televisie daar uitgesien het. Hy het haar klein hand, verdwerg in dié van haar broer, geteken voordat hy weer opgekyk het na die yeshiva-student wat met so ’n vaart verbygeloop kom dat sy peyot verby sy ore stroom. Hy’t sy hoed met die een hand vasgehou en sy dunraambrilletjie met die ander op sy neus vasgedruk sonder om sy spoed te verminder. Marc het hom met vinnige maar sekure hale geskets. Sodat die swart-en-wit figuur uit die wit bladsy opgespring het nog voordat die man die muur bereik het. Marc kon self sien dat dit goed was en sy hart het opgewonde in sy binneste gebons.

      Toe het hy op die ingewing van die oomblik Rivkah se selnommer geskakel. Miskien het die buitengewone blydskap wat deel van hom geword het, hom so onverskrokke gemaak.

      Haar stem het tussen ’n geroesemoes van verkeersgeluide deur na hom toe gekom. “Marc, is dit jy?”

      “Ek, ja.”

      “Ek wou jou ook vandag bel.”

      “Nou het ek gebel.”

      Sy’t gelag. “Waar is jy?”

      “Net waar jy my die eerste keer gekry het.”

      Sy klik met haar tong. “Teken jy nog steeds?”

      “Nog steeds. Waar’s jy?”

      “Beheerpunt in Ramallah.”

      “Sjoe.”

      “Hier gaan nie op die oomblik veel aan nie.”

      “Ek hoop jy’t jou koeëlvaste baadjie aan.” Dit was wonderlik maklik om met haar te praat.

      Sy’t weer gelag. “Ek het hom aan. Marc.”

      “Hmm?”

      “Wil jy Vrydagaand by ons huis kom Shabbat vier?”

      Die sirene van die een of ander sekuriteitsvoertuig gil tussen hulle deur.

      “Wat was dit?” vra hy verskrik.

      “Weet nie. Het jy gehoor wat ek vra?”

      “Dit sal wonderlik wees.”

      “Is jy nog in Kikar Zion?”

      ’n Geweldige slag breek die verbinding tussen hulle af en Marc staan versteend met die selfoon in sy hand. Maar dit lui byna onmiddellik weer.

      “Marc?”

      “Rivkah!”

      “Dis dieper in Ramallah in. Ek dink die sappers het iets daar laat ontplof. Moenie worry nie. Is jy nog in Kikar?”

      Hy sluk om sy stem terug te kry. “Ek het by my grootmoeder ingetrek.” Hy kry Ruwth nie “ouma” genoem nie.

      “O! In Oos-Talpiot?”

      “Isaac Rembastraat.”

      “Ja. Goed. Ek sal jou weer bel, dan kan ons afspreek waar om mekaar te kry. Miskien kan Re’uven jou die middag sommer daar oplaai.”

      “Ek kan met die bus …”

      “Busse hou vieruur op met ry.”

      “O ja.”

      “En jou grootmoeder …? Gaan jy by haar seder vier?”

      “Seder?”

      Sy lag. “Sy sal jou vertel.”

      “O.”

      ’n Swaar voertuig rammel aan haar kant verby en vir ’n paar oomblikke kan hy haar nie hoor nie.

      “Rivkah!”

      “Ek moet gaan, Marc. Lyk of daar bo in die pad moeilikheid is. Ek bel jou!”

      “Wat gaan aan?”

      “Moenie worry nie. Dis niks gevaarliks nie. Roetine.”

      “Wees versigtig!” skree hy nog.

      Hy het lig gevoel toe hy klaar met haar gepraat het. Wonderlik lig. Die besef dat ook hy ’n Jood is, het skielik vir hom ’n werklikheid geword. Dat dit ook sy land is dié. Vir die eerste maal het hy gevoel dat hy ’n Jood is. ’n Verskriklike vreugde het in hom oopgebreek. Hy wou sommer die eerste rabbi wat verbykom, bydam en omhels. Hy wou ’n yeshiva-student se groot hoed uitbundig oor sy oë kantel. Hy wou die piepklein seuntjie met sy swart krulle en bont kalotjie wat verbyhardloop om twee duiwe op te jaag, optel en in sy arms in die rondte swaai.

      Maar hy het stil bly sit. Heeltemal stil. En hy’t na die Muur gekyk, op ’n nuwe manier gekyk. Dit was asof die oeroue stene praat. Asof hy stemme uit hulle met hom hoor praat. In ’n onverstaanbare taal wat net sy bloed verstaan het. Toe hy hierna begin teken, het sy hand so gebewe dat die houtskool tussen sy vingers gebreek het. Die boek voor hom het nat geword van sy trane. Hy het aan God gedink, die God van Abraham en Isak en Jakob. HaShem. Die God wat hulle in die kerk by die huis soms die Verbondsgod genoem het. Maar hy het nie geweet hoe hy met Hom kon praat nie. Hy het net geweet: nié soos vroeër nie. Hy kon nooit weer soos vroeër met Hom praat nie. Onse dierbare, liefdevolle Hemelse Vader. Terwyl hy nooit aan Hom as dierbaar of liefdevol of as ’n vader gedink het nie. Alleen as ’n ver verhewe Wese wat nie geken kan word nie, behalwe in die skoonheid van die kuns wat hy, Marc, deur sy toedoen in staat gestel word om te skep. Hy het instinktief geweet Hy sou dié soort woorde nie wou hoor nie. Hy het bewus geword van ’n intense verlange om dié God te ken. Die een wat hy Ruwth Adonai hoor noem het. Adonai! Wat ’n wondermooie naam. En tog het hy ook geweet die hande wat hy na Hom wou uitsteek, was besmet en onwaardig.

      Die beeld van die grootvader en die kind het weer helder voor hom opgekom, en hy is geskud deur ’n emosie waarvoor hy nie ’n naam kon vind nie. Hy was bewus van mense wat hom vreemd aankyk, maar hy kon daar niks aan doen nie. Hy wou by Ruwth kom, al het hy geweet dat hy nog nie kon praat nie. Nie oor wat besig was om in hom te gebeur nie. Maar hy wou by haar wees.

      Hy het begin terugstap. Uit een van die klippe langs die muur het ’n bloedrooi papawer gegroei en saggies op die wind gewieg. Bo die al-Aksa-moskee se minaret het die muezzin in sy sangerige stem die aandgebed aangehef. Later weet hy nie hoe hy die pad na die Damaskus-poort gekry het nie, want hy het niemand gevra nie. Toe hy ’n slag uit die gemaal van mense opkyk, het hy die wondermooie poort met die torinkies voor hom sien opdoem. En al was hy nog nie tevore daar nie, het hy dit herken. Bo, teen die goue aandlig afgeteken, het hy soldate sien staan. In hom was dit stil, soos ’n kind wat die stem van sy pa in die huis hoor kom.

      Nou staan hy op die balkon voor sy kamer en voel hoe koud die wind geword het. Bo die stad hang donker wolke. Hy het die dik jekker aangetrek waarop sy ma gelukkig voor sy vertrek aangedring het. Hy wag vir Ruwth om klaar te maak. Sy het gesê sy wil hom na Mea Shearim, die die ultra-Ortodokses se buurt, neem sodat hy kan sien hoe hulle vir Pesach voorberei.

      Sy kom so stil uit op die balkon dat hy skrik toe sy langs hom praat. “Mooi uitsig oor die stad, nè?”

      “Pragtig.”

      “Dit was ook met Pesach dat Messias Yeshua so oor Jerusalem uitgekyk en oor hierdie stad gehuil het. Dis toe dat Hy gesê het: ‘O, Jerusalem, Jerusalem, hoe graag wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! Julle sal My nie weer sien nie voor julle sal sê: Baruch haba B’Shem Adonai. Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.”

      Hy kyk onseker na haar ontroerde gesig. Het sy van dieselfde Yeshua gepraat as Hy na wie Baruch verwys het? Sy is tog ’n Jood. Jode glo tog dat die Messias nog moet kom. Of was sy soos Baruch ’n … wat was dit nou weer? ’n Messiaanse Jood?

      “U praat van Yeshua, Jesus?”

      “Liewe Marc, gaan jy my nie nou maar Ruwth noem nie …?” Hy knik verleë, en sy gaan voort. “Ja, ek praat van Jesus. Ons noem Hom Yeshua, want Hy was immers ’n Jood. ’n Ortodokse rabbi wat die Shabbat gehou en die Joodse feeste gevier het. Kan jy jou voorstel dat sy ma of enigiemand anders hom ‘Jesus’ sou genoem het? Dis eenvoudig ’n Griekse skepping uit Konstantyn se tyd. Ek kan Hom nie so noem nie.”

      “Maar … jy is