grens en net om die draai van die hotel is, gaan sit hulle.
Sy bestel uitbundig ’n volledige ete vir hulle. En wyn. “Sekerlik nie so goed soos jul wonderlike wyne nie, maar goed genoeg om te vier.”
Toe die droë rooiwyn wat na kruie ruik voor hulle neergesit word, lig sy haar glas en sê sy sag, nadruklik: “Hodu l’Adonai ki tov, ki l’olam chasdo.” Sy raak aan Marc se glas met hare. “Loof Adonai, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Marc vind dat hy met haar kan praat asof hy haar lankal ken. Ten eerste wil sy uiteraard van Mara weet. Hy haal ’n foto van sy ma uit sy beursie en sy sit lank daarmee in haar hand. Lank. Weer kom daar trane in haar oë en dit loop stadig oor haar wange sonder dat sy dit wegvee.
“Ek wou nooit dat Lucas vir my foto’s van haar stuur nie,” sê sy toe sy weer makliker kan praat. “Dit sou te moeilik gewees het vir my om te verwerk. Ek het jare lank geleef asof sy nooit daar was nie. Ter wille van my man en later ook my seuns. Maar ook ter wille van myself. Vreemd genoeg, toe my seun wat hier in Israel woon, Ofer, trou en self kinders kry, het ek hom en sy vrou eendag van Mara vertel. My man was toe al lank dood. Dit was tien jaar gelede. Van toe af het ek begeer om haar te sien, om jóú te sien, maar ek kon Lucas – deur sy prokureur natuurlik – dit nie vra nie. Nie ná al die jare nie. Nie dinge wat toegegroei het weer oopmaak nie. Maar nou het Adonai jou gebring. Baruch HaShem Adonai!” Sy byt op haar onderlip. “En ’n foto van my dogter.”
“Sy lyk na jou,” sê Marc weer.
“Jy sal weet,” sê die vrou, haar oë steeds vasgenael op die foto wat Marc geneem het kort voordat hy uit Suid-Afrika weg is. Sonder dat hy eintlik geweet het waarom hy dit juis doen.
“Ek kan ook trekke van Lucas in haar sien,” sê sy sag, asof sy met haarself praat. “Dis hy wat besluit het sy moet lewe.” Trane wel weer in haar oë op en vir lank praat sy nie.
Marc drink sy wyn in stilte. Hy dink aan die aand toe hy met sy oupa oor haar gepraat het. Hy dink aan Mara toe sy hom van Ruwth vertel het. Sy het nooit eens gesê wat haar eie ma se naam is nie. Sou sy weet? “Margriet is my ma,” het sy toe gesê. Hy wonder wat sy sal doen as sy hierdie vrou sien op wie sy so sprekend lyk.
Hy kyk na die mense wat haastig verbystap asof hulle wil wegkom van die gevaar wat hulle uit elke hoek kan bekruip. Van waar hy sit, kan hy die houtafskorting oorkant die straat sien waar ’n terroris haarself einde Januarie in Jaffastraat opgeblaas het. Vanoggend met ontbyt het hy in ’n tydskrif van die hotel die verhaal gelees.
Die drie-en-twintig-jarige Elena het twee jaar gelede met haar man en babadogtertjie uit die Oekraïne Israel toe gekom. Elena was gelukkig om in ’n skoenwinkel in die besige Jaffastraat in die middestad van Jerusalem ’n werk te kry. Werk is deesdae skaars in Israel, toerisme het heeltemal opgedroog. Dié Sondagoggend was sy besig om kliënte te help toe haar lewe dramaties verander het.
Interessant genoeg was Elena besig om die familie van ’n Amerikaanse man, wat in die World Trade Center in New York gewerk en die aanvalle van 11 September 2001 oorleef het, te help. Terwyl sy daarmee besig was, het sy ’n jong Arabiese vrou opgemerk wat die winkel binnegekom het. Sy het ’n groot groen sak styf teen haar lyf gedruk gehad. Elena het haar gevra of sy haar met iets kan help, maar die vrou het dit senuagtig van die hand gewys. Sy het ’n skoen opgetel, maar dit vinnig weer neergesit en toe by die deur uit gehardloop.
Meteens, terwyl sy buite voor die glasvensters van die winkel staan, het sy die kragtige bom wat in haar sak versteek was, laat ontplof. Elena het dit alles voor haar oë sien afspeel. Die winkel het skielik stikdonker geword en sy is met geweld teen die vloer geslinger. Sy was nie seker of sy dood was of nog leef nie. Maar danksy die genade van die Almagtige het sy bly leef – geskok, maar nie ernstig beseer nie.
Een bejaarde Joodse man het gesterf, terwyl byna twee honderd daardie dag beseer is. Elke keer wanneer Elena nou haar oë sluit, kan sy die gesig van die Arabiese vrou die oomblik voor die ontploffing sien. Die skreeuende angs daarin, die desperaatheid. Dis nie maklik vir Elena om met haar lewe in Israel voort te gaan nie, want haar man, Andrew, werk in die Sbarro-Pizzeria in dieselfde blok as haar skoenwinkel. Ook hy het ’n bomaanval oorleef. Toe het daar ses kinders en nege ander gesterf, en menigte is beseer. Sommige so vermink dat hulle nooit weer ’n normale lewe sal kan lei nie.
“Vertel my van jou ma. Vertel my net iets van haar,” onderbreek Ruwth sy gedagtes oor die tydskrifberig.
“Sy …” hy aarsel, onseker wat sy wil weet.
“Ek besef dis moeilik. En dis basies ’n onredelike vraag. Dis net die foto …” Sy skud haar hare agtertoe en Marc besef met skielike pyn dat dit presies is hoe Mara dit ook doen. “Kan ek net een ding vra?”
“Asseblief.”
“As jy nie by haar is nie, wat onthou jy die beste van haar?”
Hy antwoord sonder om te dink. “Haar oë.”
Ruwth sluk. Sy knik stadig.
“En hoe sy opkyk en lag as sy verleë is.”
Ruwth kyk weg van hom af deur die venster en hy swyg omdat hy sien hoe ontroer sy is.
Hulle ete word voorgesit, en toe dit alles netjies reggesit is en hulle kan begin, is sy weer kalm.
“Ek verstaan dat jy ’n verstommende skeppende talent het. Dat jy skilder.”
Hy knik.
Haar mond trek effens. “Ek het ook op my oudag begin skilder.”
Hy kyk haar verras aan. “Ja?”
“Dit help om die spanning om jou bietjie af te werk. Ek het twee seuns. Ofer en Uri. Uri woon in Pensacola met sy vrou en twee dogters. Hy is ’n ginekoloog. Ofer en sy vrou bly hier in Jerusalem. In Gilo van alle plekke. Hulle het twee seuns. Hy is die pastor van ’n Messiaanse gemeente, en sy vrou, Shoshana, is aan die universiteit verbonde. Ons verwag elke oomblik dat Ofer opgeroep gaan word. David, hulle oudste, is op universiteit, maar hy is pas weer vir ses weke opgeroep. En ons sal nie verbaas wees as hy wéér opgeroep word nie. Ek het my eie woonstel in Oos-Talpiot. Ek is nou lank afgetree, maar ek was ook vroeër aan die universiteit verbonde. Fakulteit van ingenieurswese.”
Marc onthou dat Mara hom vertel het dat sy ’n konsulterende ingenieur was. Vir hom lyk sy meer na die eienares van ’n modesalon as ’n ingenieur. Maar met Rivkah het hy geleer dat voorkoms kan bedrieg.
Sy vra uit na sy lewe en hy vertel haar. Nog nie van Baruch nie en uiteraard ook nie van Nicola nie.
Dit het koud geword en die restauranteienaar kom skuif die groot venster langs hulle toe. “Lyk my die winter is hier. Ek glo hulle voorspel reën vir môre,” sê hy.
“Ons het dit baie nodig. Israel is bitterlik droog. Die Kinneret is gevaarlik laag.” Ruwth sug. “Die Ewige praat met sy volk.”
Die bestuurder glimlag. “Miskien moet Hy eers vir Ariel Sharon moed gee om vir Arafat vas te vat.”
“Ek is bly die rabbi’s het verlede Woensdag as ’n dag van gebed uitgeroep,” sê Ruwth vir hom.
Die man trek sy skouers op en maak ’n gebaar met sy hande. “Ek dink die petroldollars praat harder met die Knesset as die rabbi’s.”
“Die Ewige is ons Beskermer,” sê Ruwth sag.
“Lanklaas gesien dat Hy iets vir ons doen.” Die man loop kopskuddend weg om ook die ander vensters te gaan toemaak.
Ruwth en Marc drink hul koffie ’n rukkie in stilte. Toe kyk sy na hom.
“Hoe lank is jy van plan om te bly, Marc?”
“My plek is vir 26 April terugbespreek. Halfeen die oggend met El Al.”
“Goed so. Dis nog langer as ’n maand.” Sy aarsel ’n paar oomblikke asof sy hom opnuut opsom, toe sê sy: “Ek het ’n drieslaapkamerwoonstel met twee badkamers vir myself vandat my kinders jare gelede een ná die ander uitgetrek het. My man is al langer as