“Sy het soos Mara gelyk, ja, sy het soos Mara gelyk. Klein en donker en baie mooi.”
“Sy is my ouma …” sê Marc sag.
“Sy is jou ouma.” Hy sug.
“Hoekom het jy teruggekom?”
Hy neem die bottel rooiwyn en vul Marc se glas aan, maak toe sy eie vol. “Ek het ’n vrou hier gehad.”
“Het jy nie daaraan gedink toe jy …?”
“Ek hét daaraan gedink, maar ek was roekeloos verlief.”
“En sy?”
Hy sit lank stil voor hom en uitkyk, vereelte vingers van albei hande om die glas gestrengel. “Byna twee jaar lank het een van die hoë Nazi-offisiere haar as sy persoonlike … prostituut aangehou. Dis hoekom sy nie in die oonde beland het nie. Sy was so jonk toe. Miskien was ek vir haar ’n soort vaderfiguur, want toe ek haar ontmoet het, was sy nog so stukkend. Ek het haar misbruik …” Hy beduie met sy een hand. “Toe sy swanger word, wou sy die kind laat aborteer. Sy het al van die kampoffisier ’n aborsie gehad. Maar ek wou iets van haar met my saamneem.” Hy kyk meteens reguit na Marc. “Ek is nie die held van die storie nie, Marc. Margriet, wat my én die kind geneem het, is.”
“Jy en Ruwth het kontak behou?”
“Ja. Ek het haar van Mara vertel en later van jou. Margriet het nie daarvan geweet nie. Die briewe gaan een of twee maal per jaar deur my prokureur. Sy woon die afgelope twintig jaar of wat al in Israel.”
“Is sy getroud?”
“Ja,” sê hy. “Sy het twee seuns. Haar man is jare gelede al dood. Toe het sy Israel toe gegaan.”
“Jy het haar nooit weer gesien nie?”
Lucas skud sy kop. “In Mara sien ek haar altyd weer.”
“Ek sal haar gaan soek.”
“Sy is nou ses en sewentig.”
“Ek sal gaan.”
Lucas sug. “Jy moet doen soos jy goeddink, Marc.”
“Wil jy vir haar iets laat weet?”
Sy oupa glimlag effens. “Net dat ek dankbaar is teenoor haar vir my dogter en my kleinseun.”
“Goed dan.” Hy staan op om te gaan, maar Lucas bly sit.
“Die meisie, Marc, wil jy my van haar vertel?”
“Daar is nie iets om te vertel nie.”
“Dit kan ek beswaarlik glo.”
Hy tik met sy vinger teen die aardbol wat op sy oupa se lessenaar staan en dit begin stadig draai. Toe hy klein was, het hy hom altyd daaraan verwonder.
“Sy het besluit dat ek nie die een vir haar is nie.”
“Wie is dan?”
“Simon.”
“Simon! Hoe het jy dit agtergekom, my liewe kind?”
“Ek het ’n olieverf gesien wat hy van haar gemaak het.”
“En dit het alles gesê?”
“Dit was ’n naakskildery.”
Die ou man knyp sy oë ’n oomblik styf toe. “Dit moes erg gewees het.”
“Sy het vir my gesê sy sal nooit vir iemand naak poseer nie. Maar ’n paar weke later het sy dit vir hom gedoen. Ek was net ’n skoolseun op ’n fiets wie se kuns haar ’n paar maande lank geamuseer het.”
Sy oupa skud sy kop. “Alles gelyktydig.”
Marc gaan sit weer. “Dit het my gedwing om te soek na dit wat betekenis het en dit wat betekenisloos is.”
“Wat het jy gevind, Marc?”
Hy dink lank voordat hy antwoord. “Dat al wat goed is uiteindelik in God gesetel is. Maar …”
Lucas wag.
“Dat ek Hom eintlik nie ken nie. Hom as Persoon. Altans, nie soos Baruch Hom geken het nie.”
“Jy het met Baruch oor God gepraat?”
Hy knik.
“Raar in kunstenaarskringe, is dit nie?”
“Vir seker.”
“Hy is in Israel gebore?”
“Ja.”
“En die Joodse bloed in jou is so sterk dat jy nou Israel toe wil gaan?”
“Ek weet nie of dit dít is nie. Ek weet net ek wil gaan.” Hy staan weer op.
Dié keer kom Lucas ook orent. Hy lê sy hand swaar op Marc se skouer. “Mag jy vind wat jy soek. Mag God jou genadig wees, Hy het jou so ’n wonderbaarlike talent gegee.”
“Dankie,” sê Marc sag.
“Moenie dieselfde foute as ek maak nie. ’n Mens maai jou lewe lank aan dit wat jy gesaai het, Marc.”
“Ek is bly ek het gekom.”
Lucas druk Marc ’n oomblik teen hom vas. “Mag die Here God jou seën,” sê hy bewoë.
Drie
Saterdagoggend kom Marc vroeg aan die gang. Die gedagte aan Shabbat in die Ou Stad van Jerusalem maak hom opgewonde. Net ná ontbyt haak hy sy sak oor sy skouer en vat die pad. Hy kyk ietwat skigtig in die verlate Ben Yehudastraat op, waar houtskorte die verwoeste geboufronte van onlangse selfmoordbomaanslae stom herdenk. Gedagtig aan Rivkah se herhaalde waarskuwings van die vorige aand, stap hy ná ’n oomblik van huiwering liefs nie daar op nie, al is hy ook hóé nuuskierig.
Hy weet nou hoe om te loop om by die Ou Stad uit te kom. Al met Jaffastraat langs van die hotel af tot die Jaffa-poort voor hom opdoem. Die stadsmuur staan grys teen die helder lug. Oral bo-op die muur bibber die wit-en-blou Israeli-vlae met die Ster van Dawid daarop in die effense luggie wat nog trek. Daar is ’n soelte om hom heen, en hy kan die bome wit en pienk teen die helder lug sien bloei. Hy onthou dat dit voorjaar in Jerusalem is.
Pesach is ’n fees van die voorjaar, het Rivkah gesê.
Hy gaan sit op die sypaadjie, onbewus van die mense wat by hom verbyloop, en teken die muur met die vlae. Eers toe hy voel dat hy die godsmooie ou stene vasgelê het soos hy hulle sien, vou hy sy boek toe en staan op. Ingedagte druk hy dit in sy sak terug en gaan deur die poort na binne. Hy kom op dieselfde plek uit waar hy en Rivkah die vorige aand gesit het toe hy sy shawarma en sy die granaat geëet het. Hy sien dadelik die ingang na die nou gangetjies wat na die Arabiese shuks toe lei. Die meisie het hom gisteraand daarheen beduie. Hy gaan staan weer en sy hande trek werktuiglik die sketsboek uit sy sak. Toe iemand hom byna uit die grond loop, staan hy effens opsy. Maar hy is eintlik net bewus van dit wat hy wil teken.
Voor hom uit lei die stene van die nou stegies, blink getrap van eeue se verkeer, tussen die shuks in. ’n Grootvader, heeltemal in swart geklee, wit geknoopte toutjies van die tzitzit wat onder sy swart baadjie uithang, swart breërandhoed, kom by hom verbygeloop. Hy het ’n seuntjie aan die hand, ook heeltemal in wit en swart geklee, met ’n swart fluweelkalotjie op die kop. Marc se houtskool kras oor die wit papier. Met vinnige, sekere lyne lê hy dit vas. Maar toe kom daar al weer van die teenoorgestelde rigting twee mans en ’n seun aan. Hulle het blink, wit satynjasse aan, swart barette op, wit-en-swart gestreepte gebedsjaals om die skouers. Die seuntjie dra ’n wit hemp met wye, lang moue, donker broek en pragtige geweefde wit-en-swart onderbaadjie. Marc besef paniekerig dat hy nie alles vinnig genoeg geteken gaan kry nie. Hy pluk sy kamera uit en die voorste man wat byna by hom is, hou onmiddellik sy hand voor sy gesig.
Marc onthou Rivkah se woorde van die vorige aand. “Shabbat! No photos! Please!” Maar hy kan homself nie keer om die sluiter te druk nie. Die man se verontwaardigde gesig laat hom sy kamera verleë in sy sak terugdruk.