Скачать книгу

Hoesein het ook pas besluit om alle olie-uitvoer te stop solank Israel nog in die sogenaamde besette gebiede is. Jy kan jou voorstel wat dit aan die wêreldmark gaan doen en veral aan vulstasies in Amerika.”

      “Dit plaas Bush in ’n moeilike posisie as Israel se bondgenoot.”

      “Bondgenoot?” Re’uven skud sy kop. “Ja, ja, ja, as die oliedollars praat, verdwyn Israel se bondgenoot waarskynlik soos mis voor die son. Maar, ja, Bush is inderdaad in ’n onbenydenswaardige posisie. Daar het hy pas Afghanistan platgevee oor Bin Laden dalk daar kon wegkruip. Dis hoe hy reageer op ’n terroriste-aanval. Wat moet hy nou doen omtrent piepklein Israel wat dag ná dag onder terroriste deurloop? Ek glo dat hy ons graag wil help, maar nou is daar die netelige kwessie van die bondgenote wat hy onder die Arabiese lande soek om hom by te staan in sy stryd teen internasionale terrorisme, en dan, natuurlik, die ellendige petroldollars. Hy kan beswaarlik …”

      Hy word kortgeknip deur sy selfoon wat skel lui. Daar volg ’n blitsige gesprek in Hebreeus en nog voordat hy klaar gepraat het, staan hy al.

      “Ek is weg,” sê hy in Engels en praat toe vinnig met sy suster in Hebreeus. Sy knik ’n paar maal, vra net een maal ’n vraag, wat hy met ’n enkele woord beantwoord. Toe buk hy af om haar te soen en verdwyn deur die ingang.

      “Wat was dit?” vra Marc, vir wie dit voel asof hy in ’n stormwind te lande gekom het.

      “Ramallah,” sê sy net. Hy sien dat haar kneukels wit deurslaan om die teeglas wat sy vashou, maar haar gesig verklap niks nie. Sy glimlag selfs effens.

      Met die vertrek van Re’uven se dinamiese persoon kyk hulle twee mekaar ’n paar oomblikke half hulpeloos aan, onseker waaroor om te gesels.

      Dis Rivkah wat eerste tot verhaal kom. “Was jy toe vanoggend by die Arabiese shuks?”

      “Ek was,” sê hy, “heelwat om te sien.”

      “Seker. Iets gekry om te teken?”

      Hy glimlag, meer op sy gemak nou. “Ja.”

      “Het jy dit by jou?”

      “Altyd.”

      “Kan ek sien?”

      “Jy eet nog.”

      “Maak nie saak nie.”

      Hy trek dit uit sy immer teenwoordige sak. Rivkah blaai tydsaam deur die halfvol sketsboek wat hy vir haar aangee. Die hele tyd hou hy die wisselende trekke op haar gesig dop. Hy lê dit in sy geheue vas.

      “Ek het nie woorde hiervoor nie, Marc,” sê sy toe sy eindelik opkyk.

      “Dankie.”

      Hy trek ’n ander sketsboek uit sy sak. Blaai ’n oomblik daardeur en gee dit toe vir haar aan. Dis twee tekeninge wat hy die vorige aand van haar gemaak het. Sy met die granate. Dis swart houtskoolsketse – net die granaat en haar mond is helderrooi pastel. Hy sien hoe haar wange warm word en toe sy opkyk, is haar oë donker. Hy sien dat sy nie weet wat om te sê nie.

      Daarom sê hy: “Jy laat my aan my ma dink. Sy lyk soos jy. Sy is van Joodse afkoms.”

      Sy frons. “Hoe bedoel jy jou ma is van Joodse afkoms?”

      “Haar ma is ’n Poolse Jood. Sy woon hier in Jerusalem.”

      “Maar dan is jy mos ook ’n Jood.”

      Hy voel die bloed na sy gesig skiet, byt sy onderlip vas. “My pa se ma was ook ’n Jodin van Russiese afkoms.”

      “Is dit hoekom jy hier is?”

      “Gedeeltelik …”

      Sy wag.

      “Ek het ook ’n baie goeie vriend gehad wat vier jaar gelede verongeluk het. Hy was ’n Jood. Hy is hier in Israel gebore.”

      “En dis die eerste keer dat jy hierheen kom!”

      “Ek het dit onlangs eers te wete gekom. Ek bedoel oor my eie afkoms.”

      “En jou grootmoeder hier? Weet sy van jou?”

      Hy skud sy kop. “Sy weet nie, maar ek gaan haar opsoek.”

      “Waar woon sy?”

      “Hier in Jerusalem.” Hy haal die vel papier met haar adres uit sy jekker se binnesak en hou dit na haar toe uit.

      “Oos-Talpiot,” lees sy, “dis Betlehem se kant toe. Jy kan bus no. 3 soontoe haal. Ek ken daardie deel goed. Jy kan Betlehem daarvandaan sien. Dis ’n wonderlike storie, Marc.”

      “Ek moet self nog daaraan gewoond raak.”

      “En is hier ook nog familie van jou vriend wat dood is?”

      Hy knik. “Ja, sy suster. Sy is getroud en moet volgens wat ek weet ’n seuntjie van om en by vier jaar hê.”

      “Waar bly sy?”

      “Tel Aviv.”

      “Het jy met haar kontak gemaak toe jy nou daar was?”

      “Ek het twee maal gebel, maar daar was nie antwoord nie.”

      “Baie mense het nou oor Pesach vakansie.”

      “Ek sal weer probeer.”

      “Watter jaar het jy skool klaargemaak?”

      “Einde 1997. Jy?”

      “Middel 2000. Ons akademiese jaar begin in Oktober. Wat het jy intussen gedoen?”

      “Twee jaar ’n kunsterigting op universiteit. Maar ek’t opgeskop, dit het my verveel. Toe’s ek Parys toe tot einde verlede jaar se kant. Toe’s ek terug Suid-Afrika toe. Ek het die eerste kwartaal vanjaar buitemuurs klas gegee by kennisse van my. In iemand se plek uitgehelp wat met verlof was. Dis waar ek geld gekry het om hiernatoe te kom. Sal maar sien wat ek doen as ek teruggaan.”

      “Is daar nog opsies in Suid-Afrika vir wit mense soos jy?”

      Hy grinnik. “Nie veel nie. Wat het jy ná skool gedoen?”

      “Weermag. Ek maak einde September klaar. Voorlopig. Dan wil ek Mediese Skool toe gaan. As die land nog staan.”

      Hy kyk haar ’n rukkie stil aan. “Is dit regtig hoe jy oor die situasie voel?”

      Sy skud haar kop. “Nee, nie regtig nie. Ek glo dis die land wat HaShem vir ons gegee het in ’n ewige verbond met ons vaders. Ek weet dit. Hy sal dit nie weer van ons wegneem nie.”

      Hy weet nie wat om daarop te antwoord nie, dus bly hy stil.

      Sy kreukel haar neus. “So jy is ook ’n Jood, Marc. Jy lyk nogal soos een.”

      “Dink jy so?” vra hy verleë.

      “Jou neus sal dit maak. En jou hare. Hoe voel dit om skielik te weet jy is ’n Semiet?”

      “Ek het myself nog nie veel tyd gegee om daaroor na te dink nie. Ek weet net …”

      Sy wag vir hom om klaar te praat.

      Hy vou die papierservet ingedagte tussen sy vingers. “Ek weet net dat ek ’n … aanvoeling met Baruch gehad het … byna soos wat ek met my ma gehad het. En vroeër ook met my pa.”

      Sy voel sy emosie aan en vra sag. “Jou pa is dood?”

      “Ja. Maar my ouers was toe reeds geskei.”

      Sy knik. “Hoe het jy dan so laat eers van jou herkoms te hore gekom?”

      Hy aarsel, maar toe vertel hy haar in breë trekke. Sy luister stil terwyl hy praat.

      “Jood-wees …” sê sy net toe hy klaar is, skud haar kop half verdrietig, half verwonderd. “Om ’n Jood te wees …”

      Hulle sit vir ’n ruk stil. Dit het laat geword en die restaurant het langsamerhand byna heeltemal leeggeloop.

      “Jy begin weer môre?”