“Dis reg.”
“Is jy so gebore?”
Sy lag. “O nee, maar dis ’n hele storie, Marc. Ek sal jou dit later vertel. As ons ons nie nou roer nie, kom ons te laat in Mea Shearim aan, want dit gaan nog voor vanaand reën. Vreemd vir dié tyd van die jaar.”
Maar hy vra tog: “Jou seun is dus ’n Messiaanse rabbi?”
Sy moet weer grinnik. “’n Messiaanse pastor. Jy sal alles nog verstaan. Kom ons gaan nou eers.”
Toe hulle uitstap, merk hy dat sy ’n langerige rok onder haar jas aanhet. “Mea Shearim,” verduidelik sy toe sy sien hy het dit opgemerk, “vroue in langbroeke is taboe.”
Ruwth bestuur vreesloos deur die druk Jerusalem-verkeer. Soms knyp Marc sy oë styf toe wanneer sy rakelings by ander voertuie verbyskuur, maar sy bly hom onverstoord vertel van wat hy in Mea Shearim te wagte kan wees. Hy voel die spanning in die stad aan. Sekuriteit is geweldig. Oral sien hy die blou ligte van polisie- en ander sekuriteitsvoertuie flits.
“Die meeste ultra-Ortodokses woon in Mea Shearim. Die naam beteken Stad van Poorte,” vertel Ruwth. “Ek neem jou juis vandag soontoe omdat dit interessant sal wees om al die seremonies te sien waarmee hulle vir Pesach voorberei. Pesach begin môreaand met sononder. Jy weet mos ’n Joodse dag begin wanneer die son onder is en die eerste ster verskyn?” Sy kyk na hom en hy knik, al kan hy nie onthou dat hy dit geweet het nie.
“Suurdeeg, chametz, was van alle tye af die simbool van sonde; daarom moet alle voedselprodukte wat suurdeeg bevat, op die dag wat lei tot die begin van Pesach en die seder-maal verbrand of verkoop word. Dis vandag. Vroeër dae toe Jode en Arabiere vreedsaam sy aan sy in Jerusalem gewoon het, het baie van die Jode altyd net voor Pesach al hul suurdeegbevattende produkte aan die Arabiere verkoop. Artikels, veral van staal of metaal soos potte en panne, kiddush-bekers, messegoed, ensovoorts, wat tydens die Pesach-dae gebruik sal word, moet volgens ritueel gereinig word. Kosjer gemaak word.” Sy kyk weer na hom om te sien of hy begryp en hy knik gedienstig, al verstaan hy weinig.
“Dis nie ’n Bybelse verordening nie, maar dit word as ’n mitzvah beskou, ’n goeie daad. Verreweg die meeste doen dit dus aangesien hul hele godsdiensbeskouing op die nakom van die Tora en die doen van goeie dade berus.”
Sy hou op ’n kleinerige parkeerterrein stil. “Ons stap maar hiervandaan. Dis naby die shuk. Ons kan dan sommer op pad terug groente en dinge vir die feesdae daar gaan koop.” Sy kyk na die sak wat hy oor sy skouer haak, en waarin sy sketsboek en kamera is. “Ek dink nie jy moet in Mea Shearim foto’s neem of teken nie, Marc. Hulle hou nie daarvan nie. Sommige raak selfs erg aggressief daaroor. Hulle wil nie op beeld vasgelê word om dalk later iewers as deel van ’n poskaart of as ’n portret verkoop te word nie. Dit strook nie met hul godsdiens nie. Miskien moet jy net jou kamera neem, want in die shuk sal jy wel jou kamera nodig kry, jy sal sien wat ek bedoel.”
Hy laat sy sketsboek teësinnig agter, maar hy aanvaar Ruwth weet waarvan sy praat.
Mea Shearim maak inderdaad ’n nuwe wêreld voor hom oop. As hy meen hy het ’n verskeidenheid van ultra-Ortodokses in die Ou Stad en by die Kotel waargeneem, besef hy nou hy het nog niks gesien nie. Hier wemel dit van hulle in die nou straatjies tussen die ou, grootliks verwaarloosde en selfs vuil geboutjies. Dis asof tyd hier gaan stilstaan het, terwyl Jerusalem ’n pragtige en moderne stad geword het. Sy vingers jeuk om sy houtskool op te neem en hy lê dit dus alles versigtig in sy kop vas. Hy is verstom. Hy hoor dieselfde groetwoorde oor en oor, maar kan nie uitmaak wat hulle sê nie. Dit klink soos “gat shamêr”.
“Wat sê hulle?” vra hy uitasem vir Ruwth, en probeer om by haar vinnige pas te hou.
“Chag sameach. Vrolike feesdae – dit word die hele tyd oor Pesach gebruik, soos ’n mens ‘Geseënde Kersfees’ sal sê.”
Hulle haas hul tussen die mense deur. Die wind het yskoud geword en nou en dan waai ’n paar reëndruppels in sy gesig.
“Wag, kyk,” sê sy meteens en gaan staan. Hulle is nou in die besigste straat en hy sien ’n enorme vlekvrye staal pot wat op die hoek staan en kook. Wasem wolk daaruit die koue lug in. Mans in swart manelle en broeke, swart breërandhoede, wit oopnekhemde wag met sakke om hul potte en panne in die kookwater te doop.
“Betaal hulle daarvoor?” vra hy sag aan Ruwth toe hulle gaan staan om te kyk.
“Klein bedraggie,” antwoord sy. “Chag sameach,” groet sy die jong man met sy swart kippah wat al die potte moet kosjer maak.
Hy kyk glimlaggend na Marc. “Tourist?” vra hy.
Marc knik.
“It’s okay, you can take photo. Only this.”
Marc doen dit onmiddellik. ’n Paar oomblikke later kyk hy verbaas hoe die man sekere voorwerpe met ’n blaasvlam reinig.
Maar hulle moet aanskuif, die weer lyk dreigend. Om hulle swerm mense in aller yl om die laaste dinge in orde te kry. Die meeste vroue het kindertjies aan die hand of in ’n stootkarretjie. Daar is nog heelwat potte wat stoom, en baie mense wag nog in rye dat hulle besittings kosjer gemaak word.
In een van die kleiner straatjies kom hulle op ’n klomp opgeskote seuntjies af wat om ’n hoop brandende goed saamdrom.
“Hulle verbrand die chametz,” glimlag Ruwth.
Marc voel na sy kamera. Dis ’n onvergeetlike gesig. Die seuntjies, met kortgeskeerde hare, behalwe vir die peyot wat voor hul ore bengel, almal in swart-en-blou geruite hemde, swart broeke en kippot, stoot die brandende hoop goed met harke aan. Dit lyk soos ’n toneel uit die Middeleeue.
Ruwth spreek die seuns in Hebreeus aan. Hulle huiwer ’n oomblik, praat dan vinnig onder mekaar, toe knik die grootste een. “Ken.”
“Todah.” Ruwth draai na Marc. “Hulle sê jy kan ’n foto neem.”
Hy neem haastig vier voordat hulle van plan verander.
“Ek dink ons moet nou eers hier weg sodat ons by die shuk kan uitkom, anders raak dit so besig met op-die-nippertjie-inkopies dat ’n mens nie maklik daar geholpe sal raak nie. Almal koop nou vir die seder, want môre is ons die hele dag besig om vir die Paasmaal voor te berei. Dis wat die seder is. Die maal wat Yeshua die aand geëet het voordat Hy gevange geneem is. Die maal waarmee die Jode die uittog uit Egipte herdenk. Maar ons Messiaanses vier dit ietwat anders. Jy sal sien.”
Vir die eerste keer verstaan hy wat met seder bedoel word.
Hulle stap vinnig terug na die motor. Die wind waai ysig van voor in hul gesigte. Ruwth haal haar inkopemandjie uit die motor. Hy neem dit by haar.
“Hou jou paspoort gereed, ons moet nou deur sekuriteit gaan. Luister, Marc, dis gevaarlik hier, ek wil hê dat jy dit weet. Hier was al heelwat aanslae en hulle verwag nog meer. Geen sekuriteit, hoe streng ook al, kan regtig selfmoordbomplanters hier uithou nie. Dis ’n verskriklike gedrang. Heelwat Arabiere werk ook hier, maar dis uitsluitlik ’n Joodse mark, Mahane Yehuda. Ek gaan net eers vir ons bid.” Sonder seremonie en voordat Marc mooi begryp wat aangaan, het sy haar hand op sy skouer gelê. “Abba, ek bid die beskerming van Yeshua oor ons wanneer ons hier ingaan. Bewaar almal wat vandag hier vir Pesach inkopies doen. In die Naam van Yeshua haMachiach bind ek alle demoniese magte wat hier bloed wil laat vloei.”
Toe stap sy vinnig aan. By ’n nou poort wat as een van die ingange tot die mark dien, bekyk twee swaargewapende soldate elke identiteitsdokument, bevoel elke sak en pakkie voordat hulle mense deurlaat. ’n Paar tree verder en hulle bevind hul in die enorme mark. Marc staan oorweldig deur die massa kleur wat hom onverwags begroet. Groente en vrugte van die wonderlikste kleure is oral op rakke uitgestal. Mense verdring mekaar in die nou gangetjies. Maar hoe verder hulle vorder, hoe meer produkte sien hy. Neute en kruie en speserye van elke denkbare soort. Klaar voorbereide kosse. Suiwelprodukte, vleis. Kleure en geure om nooit te vergeet nie. Marc smag na sy sketsboek en pastelle soos hy agter Ruwth aan deur die mensemassa worstel. Sy gaan onverstoord haar gang. Onderhandel oor pryse, koop, pak in die mandjie. Elke nou en dan gee sy