Marita van der Vyver

'n Fontein voor ons deur


Скачать книгу

om in jou huis se gang toegesneeu te word, gewaar ek vir die eerste keer ’n piepklein skroefie wat dalk al dekades gelede in die kosyn agtergebly het. Die oomblik toe ek die skroefie verwyder, klik die deur sag en soet toe. Toe is dit sowaar nie meer nodig om die deur te vervang nie, net die glas.

      Dit was waarskynlik die eerste keer dat ek wérklik daardie gesegde verstaan het oor die kleinste jakkalsies wat die grootste verwoesting saai. Ek het die skroefie gehou sodat ek die les kan onthou – en ja, seker ook as bewys indien enigiemand sou sukkel om hierdie onwaarskynlike storie te glo.

      En dan was daar die keer toe ons uit onnoselheid amper die hele huis afgebrand het.

      Of dalk was dit net doodgewone outydse suinigheid.

      Hier in Europa is daar sowaar nog iets soos ’n skoorsteenveër. Nee, dis nie ’n voël met ’n swart kop soos in Suid-Afrika nie. En die skoorsteenveërs van vandag is ook nie ouens wat met ‘n roetbesmeerde gesig op dakke dans soos in die rolprent Mary Poppins nie. Dit bly egter ’n belangrike beroep.

      In Frankryk moet jy jaarliks jou skoorsteen laat skoonmaak as jy jou kaggel wil gebruik. En moenie dink jy kan dit sommer self met ’n leer en ’n langsteelbesem probeer doen nie. Dit gaan oor papiere – soos omtrent alles in Frankryk. ’n Amptelike skoorsteenveër moet vir jou ’n amptelike sertifikaat gee, anders betaal die versekering nie indien jy die slagoffer van ’n brand sou wees nie.

      Maar dit kos die prys van ’n plaas – soos omtrent alles in Frankryk – om jou skoorsteen amptelik te laat skoonmaak. Daarom het ons dit nie die afgelope winter gedoen nie. Wel, om eerlik te wees, ook nie die vorige jaar nie. (Om hééltemal eerlik te wees, ek kan nie onthou presies wanneer laas ons skoorsteen skoongemaak is nie.)

      Hoe ook al, ons het die afgelope winter (of drie) sonder enige probleme ons kaggel benut. Tot een van die tienerseuns op ’n aand ’n stewige stoel stukkend gesit het. (Is dit te wyte aan ’n hormonale wanbalans? Of is dit net óns tienerseuns wat alle stoele so op die twee agterpote laat wieg?) Ek was lelik ontstig oor my verwoeste stoel, maar my pragmatiese man het sy skouers opgetrek en voorgestel dat ons dit as vuurmaakhout gebruik.

      Ek wou nog kapsie maak dat ons darem nie só armlastig is dat ons ons eie meubels moet verbrand soos die omsingelde burgers van Stalingrad in die Tweede Wêreldoorlog nie, toe herinner my man my dat ek deesdae tog te graag preek oor die byderwetse nuwe sjiek van suinigheid. Oor hoeveel beter dit hier in Europa geword het om iets weer te gebruik eerder as om dit weg te gooi. So, waarom nie ’n stukkende stoel weer gebruik om warmte aan ’n koue huis te verskaf nie?

      Wel, nóú weet ek waarom nie, maar kennis kom mos altyd te laat.

      Die hout van die meubelstuk was vermoedelik behandel met ’n chemiese middel wat ons onskuldige kaggelvuurtjie oombliklik in ’n angswekkende hellevuur verander het. Die brullende vlamme is hoog in die skoorsteen opgesuig, en toe spat die vonke, letterlik en figuurlik, in alle rigtings. Binne sekondes was die hele sitkamer so vol rook dat ons hoesend en proesend die vertrek moes ontruim om die brandweer te bel. My heldhaftige man het die deur toegemaak om te keer dat die rook verder versprei en op sy eie die vlamme probeer blus. (Wel, dit was sý idee om die stoel aan die brand te steek, nie waar nie?)

      Gelukkig het hy die situasie onder beheer gekry, want ons het bitter lank gewag vir die brandweer. Trouens, ons het al begin om ons aandmaal te eet, flou van die honger ná die groot skrik, toe drie brandweermanne oplaas by die voordeur instrompel en iets soos Ouêfeah! skreeu. Of dalk was hulle vroue. Ek sal nie weet nie, want hulle was geklee in geslaglose ruimtevaarderpakke met diepseeduikmaskers en suurstoftenks op die rug. Die maskers het dit onmoontlik gemaak om te verstaan wat hulle sê, maar ons het heelwat later uitgewerk dit was seker: Où est le feu? Hulle wou waarskynlik net weet waar is die brand. Wat toe natuurlik lankal geblus is.

      Brandweermanne, soos skoorsteenveërs, is helaas ook nie meer wat hulle in die rolprente van my kinderdae was nie. Ek dog hulle gryp bloot hulle blinkrooi jasse en gly so rats soos sjimpansees teen ’n paal af tot in ’n wagtende brandweerwa. Nooit besef hulle dra deesdae sulke swaar beskermende uitrustings dat hulle omtrent nie kan stap nie, wat nog te sê van teen ’n paal afgly. G’n wonder ons het so lank gewag nie. Die hele Frankryk kan afbrand terwyl ’n Franse brandweerman sy ruimtevaarderpak en sy masker en sy helm en sy suurstoftenk en al sy ander toerusting bymekaarkry.

      Die goeie nuus, het die brandweerspan ons meegedeel terwyl hulle die koue as in ons kaggel bestudeer, is dat die skoorsteen nou so mooi skoon gebrand is dat ons nie meer ’n skoorsteenveër se dienste benodig nie.

      Wat ons toe natuurlik laat wonder, siende dat suinig nou so sjiek geword het, of ons nie volgende winter wéér die skoorsteenskoonmakery kan vermy deur bloot ’n stukkende stoel in die kaggel te gooi nie?

      Dis nou te sê as ons volgende winter nog in hierdie huis is.

      Want ons hoop steeds dat daardie begeerlike blinde koper binnekort by die tuinhek met die A Vendre-bordjie gaan verbyry, aan die swaar voordeur gaan klop (sonder dat die deur uit die kosyn sal val), verby die afskilferende klam mure in die gang sal kyk tot by daardie einste groot kaggel in die sitkamer (met die roetmerke van die amperse verwoestende brand teen dié tyd darem toegeverf) en heeltemal irrasioneel en halsoorkop verlief sal raak op die ou klipkasarm.

      Nes ons toe ons die eerste keer hier ingestap het.

      En tóé was die huis in ’n veel erger toestand as nou.

      Onthou, ons het ons arms afgewerk om hierdie gebou vertrek vir vertrek te verbeter. Mure en deure geverf, houtvloere en hortjies geskuur, elektriese proppe aangebring en vrot vensterrame vervang en die badkamer van vloer tot plafon oorgedoen en ’n bykomende badkamer en nog twee slaapkamers op die boonste solderverdieping geskep. Ons het ’n welige groen tuintjie aangelê in ’n klein voorhof en ’n kraan buite geïnstalleer sodat ons die plante in die nuwe tuin dwarsdeur die dor somermaande kan natlei. Ons het geswoeg en ons het gesweet.

      Nee kyk, enigeen wat sy neus optrek vir ons tuiste, sou sy asem weggeskrik het as hy moes sien hoe dit gelyk het vóór ons hier ingetrek het.

      En tog het ons geweet dis óns huis die oomblik toe ons hier instap.

      Dis hoe ons hierdie huis gekoop het en dis ongetwyfeld ook hoe ons ons volgende huis sal koop. Dis die enigste manier om ’n huis te koop waarin jy gelukkig wil wees. As jy ’n huis bloot as ’n saketransaksie beskou, nou ja, dan moet jy dit seker maar met jou verstand eerder as jou hart koop. Maar as jy saam met die mense wat jy liefhet in ’n huis wil woon, luister om hemelsnaam na jou hart!

      Leë nes? Wat’s dit?

      Die rede hoekom ons besluit het om ons ou kliphuis te verkoop, is omdat ons gesin nou die onvermydelike stadium bereik waar die kuikens die hok begin verlaat. En hierdie onflukse moederhen sukkel hoeka al jare lank om die enorme hok skoon te skrop vir al die kuikens en die vele trekvoëls van verre oewers wat gereeld hier land. Daarom het moederhen en vaderhaan gesamentlik besluit dis tyd om die slim ding te doen en ’n kleiner hok te soek.

      Mia moet binnekort collège of junior hoërskool toe gaan, op ’n ander dorp, en Daniel het sy laaste skooljaar bereik. Hugo is ook amper klaar met skool en lei so ’n bedrywige sosiale lewe by sy ma se huis in die noorde dat ons hom al hoe minder sien. En Thomas is lankal op universiteit en in sy eie woonstel.

      Ons huis word dus stadig maar seker leër. En ek en Alain, anders as soveel goeie ouers wat ons ken, sien reikhalsend uit na die sogenaamde leënessindroom. Of wag, dalk nie die leë nes nie. Ons is darem nou ook nie so wreed dat ons die kinders heeltemal uit die huis en onder ons voete wil verdryf nie. Ons wil net nie heeltyd verplig voel om hulle te voer nie. Hulle en hulle meisies en hulle maters en hulle maters se meisies . . .

      Dis eintlik ’n leë tafel waarna ons uitsien.

      Die twee seuns wat nie meer pal by ons woon nie, kom nog soms naweke en vakansies ‘huis toe’, maar omdat hulle sosiale lewe op hierdie ouderdom baie bedrywiger as ons oues van dae s’n is, sien ons nooit juis veel van hulle nie.