Marita van der Vyver

'n Fontein voor ons deur


Скачать книгу

gesproke met ’n nanny of ’n goewernante om almal se gedrag in toom te hou) en ouers wat later in die aand rustig en romanties by kerslig eet. (Ideaal gesproke met ’n butler of ’n ander soort huishulp wat die kos voorsit en die tafel afdek en die skottelgoed was.) Maar aangesien ons nie nannies of butlers of enige soort huishulp het nie, het ons nooit sover gekom om die dreigement uit te voer nie. Dit sou net meer werk vir die oorwerkte ouers beteken. Twéé tafels wat gedek en afgedek moet word, kos wat in twee sarsies gekook moet word – of nog erger, in ’n mikrogolf verhit moet word vir die tweede sessie – en die ouers sou boonop verplig wees om self die tweede sessie se skottelgoed in die skottelgoedwasser te pak. Terwyl dit die kinders se taak is, al mor hulle ook aanmekaar daaroor, wanneer ons almal saam eet. As jy só daaraan dink, is dit tog verkieslik om saam met die morrende, stryende, bakleiende kinders te eet.

      En die uitmergelende tafeloorlog behoort darem tog te begin bedaar soos die kinders ouer en wyser word? Dis klaar beter vandat al vier nie meer pal in die huis woon nie. As almal die slag saam hier is, word die wit vlag die eerste paar dae oor die etenstafel gehys. Alles stil aan die front, elkeen rustig in sy loopgraaf. Maar op ’n dag tart Mia weer vir Daniel en Hugo, dan maak Thomas sy stem dik soos dit die oudste broer betaam en raas met Mia, dan begin Mia driftig met Thomas stry, dan gryp Hugo die kans om gou onder die tafel ’n SMS te stuur, dan knak Alain se geduld vir die hoeveelste keer, dan roep Daniel uit: Dis nie regverdig nie! En dan vlam die oorlog maar weer op.

      En dan wonder ek of ek die roemryke Franse kostradisie vir ewig sal verraai as ek voorstel dat ons môre miskien maar eerder mikrogolfkos op ’n skinkbord voor die TV eet?

      Maar nou ja, dan sal almal seker stry oor watter program ons gaan kyk.

      Vere en klere en ander klagtes

      Dis ongelukkig nie net aan tafel waar kinders met mekaar en met hulle ouers skoor soek nie. Die tafel is die ideale slagveld, want jy het al die immer veranderende faksies en vyandige groeperings bymekaar, maar dis in werklikheid ’n guerrillaoorlog wat op enige terrein geveg kan word. Die stryd woed voort in die res van die huis.

      Enigiets kan ’n verskoning wees vir ’n konfrontasie: huiswerk, skoolpunte, sakgeld, selfone, noem maar op. En klere, natuurlik.

      Soos elke ouer van ’n tiener weet, kan klere soms kwaai wrywing veroorsaak. Hoe verdraagsaam jy ook al is, hoe wild jou eie jeug ook al was (en ons weet mos sommige van ons was lekker wild), as jou seun uit sy slaapkamer verskyn in ’n langbroek wat so laag oor sy boude afgetrek is dat hy soos ’n gebreklike pikkewyn lyk as hy probeer stap, is dit soms bitter swaar om stil te bly.

      Want as jy dit wáág om te vra of dit nie ongemaklik is om so gestrem deur sy eie broekspype deur die lewe te strompel nie – of waarom hy nie maar die langbroek by die huis los en net in sy ontwerpersonderbroek uitgaan nie – trap jy op ’n landmyn van tienerhormone en adolessente onsekerheid. Verstáán jy dan nie, Ma, hoe léwensbelangrik dit vandag vir hom is om hierdie hanggatbroek en hierdie verslete skaatsplankskoene en hierdie gebreide mus met die oorflappe en die tossels te dra nie?!? Met die klem op vandag. Want môre of volgende week lyk hy vir al wat jy weet weer heeltemal anders.

      Miskien soos sy vriend wie se jeans so styf om sy bene gegiet is dat hy sukkel om sy knieë te buig. Of die ander vriend met die woeste Afro-haarstyl en die ring deur die regterwenkbrou. Want as daar een vaste reël in tienermodes is, sover ek as ma kan agterkom, is dit die beginsel van masochisme. Jy moet lý vir jou voorkoms, soos kunstenaars moet ly vir hulle kuns. Jy moet moeilik stap of asemhaal, jy moet gate in jou gesig laat boor of tatoeëernaalde op jou vel verduur, jy moet sukkel om te sien deur jou te lang kuif of jou oorgroot donkerbril.

      Soms is my enigste oorlewingstaktiek om die gemartelde uitdrukking op my ma se gesig te onthou toe sy jare gelede die avant-garde-uitrustings moes aanskou wat ek in tweedehandse winkels opgespoor het. Of ek dink aan hoe ontsteld ek was toe my ouma op ’n keer in alle onskuld die uitgerafelde pype van my jeans omsoom het – nadat ek die ganse middag geswoeg het om die some los te torring!

      En dan byt ek maar weer op my lip as my seun in ’n T-hemp met ’n geilgroen daggablaar op die bors uit sy slaapkamer verskyn. Of ek komplimenteer hom liefies oor hy so ekologies sensitief is om ’n kledingstuk met ’n plantmotief te dra. Want die ander vaste reël in tienermodes, het ek geleer, is dat enige gier selfs vinniger as gewoonlik oorwaai as jou ma daarvan hou.

      Buitendien, elke nou en dan kom ek ’n tiener teë wat so uitspattig uitgedos is dat die kinders onder my eie dak skoon vaal en vervelig voorkom. Soos die bleek Gotiese knaap wat laas week op ’n Franse trein langs my beland het. Gitswart gekleurde hare met ’n kuif wat tot onder sy neus hang, ’n swart handskoen aan een hand en verder alles swart van nek tot tone, net die poeierwit gesig met studs en ringe op elke oop stukkie vel.

      Ek is nie die soort reisiger wat graag geselsies aanknoop in vliegtuie en treine nie, en hierdie outjie het nie na belowende geselskap gelyk nie, so ek het net nog ’n bietjie verder weggesak agter my boek. Maar toe begin hý onverwags met mý gesels. Gesien ek lees ’n Engelse roman en wou weet van waar ek kom. Vertel my hy’s sewentien en op pad om by sy ouma op die platteland te gaan kuier. Ek het my probeer voorstel wat die deursnee-plattelandse ouma met so ’n vampieragtige kleinkind sou maak. Hom met knoffel en kruise probeer weghou, waarskynlik. Maar toe ek my weer kom kry, is ons aan die klets.

      Ons het land en sand gesels, oor boeke en reise en drome en wolke en wie weet wat nog alles, en soos ou kennisse gegroet toe hy afklim op die stasie van die gehuggie waar sy ouma woon.

      Die vere maak nie altyd die voël nie, moes ek myself weer ’n slag herinner.

      As jy verby die vere kyk, kan die voël jou soms nogal verras.

      Tog moet ek erken ek is dankbaar dat die vier kuikens in my hok nie met sulke uitspattige vere spog nie. Altans, nog nie. Want die laaste vaste reël in tienermodes, soos enige ouer behoort te weet, is dat dit altyd erger kan word.

      En ek vermoed my dogter gaan my binnekort begin wys hóé erg dit kan word. Dogters is nou eenmaal anders as seuns. Dit besef ek al hoe meer nadat ek amper twintig jaar lank seuns grootgemaak het. My Mia-kind het byvoorbeeld onlangs begin om mý klere te dra. Dis iets nuuts vir my. (Daar is seker seuns ook wat hulle ma se klere dra, maar die drie in ons huis het dit nooit gedoen nie. Nie sover ek weet nie.) Ek moes natuurlik geweet het sy sou die een of ander tyd begin om my klere te ‘leen’, nie altyd met my toestemming nie, nes ek jare gelede my ma se klere ‘geleen’ het. Maar ek het dit nie nou al verwag nie.

      Sy is dan skaars elf jaar oud!

      My klere is gans te groot vir haar. En ek pas beslis nie in háre nie. Geen sprake dus van ’n gesellige uitruilery tussen ma en dogter nie. Nee, ons praat nou van ’n eensydige geplunder. En as sy op elf al my klerekas begin plunder, gaan ek nie veel oorhê om te dra teen die tyd dat sy oplaas groot genoeg is sodat ek darem ook soms ’n truitjie of ’n dingetjie by háár kan leen nie.

      Intussen werk sy geesdriftig aan haar ‘styl’, of haar style soos die Franse dit noem, uitgespreek soos die Engelse woord vir steel. Dalk dié dat my dogter dink jy mag maar jou ma se klere steel ter wille van styl? La mode se démode, skryf sy op haar kamerdeur, mais le style jamais. ‘Mode gaan uit die mode, maar styl nooit.’ Glo ’n gesegde van Coco Chanel.

      Ironies, want Mia se styl verander vinniger as enige mode. Elke keer as ek vir haar ’n romp of ’n serp koop, moet ek hoor dis nie haar styl nie. ’n Maand gelede was dit haar styl – maar op elf kan ’n maand seker ellendig lank wees?

      Kom terug, wil ek soms vir die seuns uitroep, alles is vergewe! Dit was sóveel makliker om vir hulle klere te koop toe hulle elf jaar oud was. Selfs noudat al drie al baard kry, kan ek sowaar nog nou en dan ’n onderbroek of ’n soortgelyke beskeie stukkie klere aanskaf wat hulle soos inactually like.

      Die meisiekind is ’n merrie van ’n ander kleur.

      ’n Besonder kleurryke klein merrietjie, besef ek vanoggend weer toe sy uit haar kamer verskyn. Op haar kop is ’n rooi baret wat sy by my ‘geleen’