Marita van der Vyver

'n Fontein voor ons deur


Скачать книгу

Aspris. Natuurlik. Die hele uitrusting is haarfyn beplan. Die denimkortbroek, die veelkleurige rubber-armbandjies, die oranje toeknooptruitjie – wat terloops ook uit my klerekas kom.

      Van haar kleuterdae af het sy volstrek geweier om sekere kledingstukke te dra. Die kleur maak haar oë seer. Of haar vel hou nie van die materiaal nie. Of dis sommer net gagga. Daar was altyd ’n verskoning.

      Al wat eintlik verander het, is dat ‘styl’ deesdae die verskoning geword het.

      En ek vergaap my aan haar, want ek weet dis die begin van ’n lewenslange verhouding, hierdie ding tussen ’n meisiekind en haar klere. Ek weet mos waarvan ek praat. Vir sommige van my jasse en skoene is ek amper so lief soos vir my boeke. Heelwat van my hoede en hooftooisels het ’n sentimentele waarde wat nie in geld geskat kan word nie. As hulle te oud word om te dra, hang ek hulle teen my mure op soos skilderye.

      Noudat ek daaraan dink, dís waar daardie rooi baret vandaan kom wat so skeef op haar kop gerangskik is. Styl stuit voorwaar vir niks op aarde nie. Sy sal selfs haar ma se muurversierings steel.

      ‘Hoe lyk ek, Ma?’ vra sy, met ’n skaduwee van elfjarige onsekerheid agter die kleurryke bravade.

      ‘Hmm, ek hou van jou styl,’ antwoord ek. En sy glimlag so breed dat die rooi baret sommer nog ’n bietjie skewer sit.

      Enigeen wat tot hier gelees het, sal hopelik begryp dat ek bitter lief is vir die kinders onder ons dak. Maar ná soveel jare van baklei oor onvanpaste klere en deurmekaar kamers en te veel rekenaarspeletjies en te harde musiek en te lae skoolpunte voel ek soos ’n moeë soldaat wat ’n blaaskans verdien. Soms droom hierdie soldaat selfs daaroor om te awol.

      Om sommer net weg te loop.

      Om een oggend ’n briefie op die kombuistafel te los, vir die bakleiende kinders en die man wat my nie aldag genoeg waardeer nie, en my vinnig uit die voete te maak. Hulle hoef nie te weet waarheen nie. Ek wil nie vir altyd wegbly nie. Net lank genoeg om hulle ’n les te leer. Sodat hulle verwese na mekaar kan kyk en sugtend kan vra: Wat is ’n huis sonder ’n moeder?

      Ek meen so ’n nag of drie is al wat hulle nodig sal hê om my met ope arms te verwelkom as ek triomfantelik terugkeer.

      Die probleem is dat hulle moontlik nie eens sal agterkom Ma het weggeloop nie.

      Daardie briefie op die kombuistafel kan maklik verdwyn onder die skoolboeke en tydskrifte en leë glase en taai pierings en oorskietkos en gemorspos wat almal altyd op die tafel los. Want Ma sal dit mos die een of ander tyd optel. En aangesien Ma soms ook maar lekker lui is, sal hulle dalk eers twee dae later besef die kombuistafel is voller as gewoonlik.

      En die koskaste leër as gewoonlik.

      Dán gaan hulle gou begin wonder wat van Ma geword het.

      Daar’s niks wat my gesin so na my laat verlang soos ’n leë yskas nie. Dit kom ek agter elke keer wanneer ek vir ’n week of wat moet weggaan om ’n nuwe boek te bemark of ’n skrywersbyeenkoms by te woon. Wat ek ook telkens agterkom, altyd met buitensporige teleurstelling, is dat die ganse gesin, die troeteldiere en selfs die potplante eintlik verbasend goed sonder my oorleef. Bygesê, ek maak dit vir hulle heeltemal te maklik deur oral in die huis lyste op te plak van alles wat elke dag in my afwesigheid moet gebeur.

      Byvoorbeeld: Maandag 8 Mei – Oggend: Voer kat. Koop melk. Gooi plante voor kamervenster nat. Daniel skryf wiskundetoets! (Bietjie laat om nou te begin leer, nè?) Middag 17h00: Neem Mia na dansklas. Onthou om waterbottel saam te neem. 18h00: Gaan haal Mia by dansklas. Onthou om waterbottel terug te bring.

      Dit klink dalk onnodig om ’n pa te herinner dat hy sy dogter by haar dansklas moet oplaai ’n uur nadat hy haar daar afgelaai het, maar ’n vorige keer toe ek weg was vir ’n boektoer, was die arme pa so besig om inkopies te doen en kos te kook en wasgoed te was dat die dansjuffrou ons vergete kind moes huis toe bring.

      ‘Die arme pa’ – dis wat almal my wederhelf noem wanneer ek nie daar is om die huishouding te behartig nie. Eienaardig, nè? Wanneer ek wel hier is, doen ek al die inkopies en ek kook en ek was en ek stryk en ek stofsuig en wie weet wat nog alles – sonder om ooit my dogter by haar dansklas te vergeet – maar niemand het my nog ooit ‘die arme ma’ genoem nie.

      Deesdae vergeet Pa nie meer die kinders by hulle buitemuurse bedrywighede wanneer Ma nie by die huis is nie. Hy en die kinders het die demokratiese besluit geneem om eenvoudig alle buitemuurse bedrywighede tydelik te staak. Tot Ma terugkom om weer taxi te ry.

      ’n Ander oorlewingstaktiek, wanneer Ma weggaan, is om so min moontlik wasgoed te was. Anders gestel, om bloot dag ná dag dieselfde vuil klere te dra. En as die tienerseun rêrig desperaat raak om ’n slag ’n skoon langbroek aan te trek, sal hy steeds nie daaraan dink om sy eie klere te was nie. Nee, die briljante oplossing wat Daniel tydens my vorige boektoer gevind het, was om blitsig nuwe klere op die internet te bestel.

      Ek moes vir die nuwe klere betaal toe ek terugkeer – en boonop ’n week lank voor die wasmasjien kampeer om van die berge wasgoed ontslae te raak.

      Ja, soms droom ek ook oor wegloop. Maar elke keer as ek dink aan die wanorde wat ek met my tuiskoms gaan aantref, verander die droom in ’n nagmerrie. Ek weet mos uit eie ervaring dat ’n huis sonder ’n moeder nou eenmaal nie ’n lekker plek is nie – veral nie vir die terugkerende moeder nie.

      Net nog ’n rede waarom ek hunker na ’n kleiner huis.

      ’n Kleiner huis, so praat ek en my man mekaar moed in, sal minder opruim en stofsuig beteken, minder slaapkamers en minder gaste, minder beddens wat oorgetrek moet word en minder handdoeke wat gewas moet word, minder kos wat gekoop en gekook moet word, minder skottelgoed . . . ’n Kleiner huis, mymer ons voordat ons saans in mekaar se arms aan die slaap raak, sal goedkoper wees, wat beteken ons sal meer geld hê om in restaurante te eet en te reis en mekaar te bederf.

      Ons sal dalk selfs vir die eerste keer in ons gesamentlike lewe ’n nuwe ryding kan koop voordat die oue uitmekaarval en op ’n skrootwerf beland.

      Só droom ons snags.

      Maar ons kan nie ’n kleiner huis koop voordat ons minder kinders in die huis het nie – en om minder kinders in die huis te hê, moes ons onlangs eers die laaste seun in die huis deur sy laaste skooleksamen help. Help soos in sleep en soebat en skel, boelie en dreig en aanmoedig en omkoop en wat ook al verder nodig was. En die hemel hoor my, álles was nodig in hierdie stryd.

      Agtien jaar lank berei jy jou geestelik voor. Jy luister na die gruwelstories van oudstryders, jy neem jou plegtig voor dat jy kalm gaan bly en jou sin vir humor sal behou, jy verseker jouself dat dit nie só erg kan wees nie.

      Dan breek D-dag aan. Jou kind begin die belangrikste eksamen van sy skoollewe skryf. En binne enkele ure besef jy dis nie so erg soos jy gevrees het nie.

      Dis veel, veel erger.

      Wel, miskien nie vir alle ouers nie. As jy een van daardie geseënde ma’s is van ’n modelkind wat mik vir sewe A’s, mag jy maar dadelik ophou lees. Gaan koop eerder ’n boks sjokolade vir ’n normale vriendin met ’n normale, onvlytige, onvoorbeeldige kind in matriek. Glo my, dis al wat my deur my seun se matriekeksamen gehelp het. Sjokolade.

      Die Franse matriek, wat bac genoem word, word in Junie geskryf. Wat beteken teen dié tyd, aan die einde van die lang somervakansie, het my hare darem al begin teruggroei, my vel het herstel van al die sjokolade en stres, my slaappatroon is weer min of meer normaal. Net nou en dan skrik ek nog in die donkerste uur van die nag in angssweet wakker en dink aan die verpletterende enigste vraag in Daniel se filosofie-vraestel: Kan moderne wetenskaplike uitvindings bydra tot die geluk van die mensdom?

      Ja, in Frankryk is filosofie mos ’n verpligte matriekvak. Ek het gedog dis wonderlik om in ’n land te woon waar alle kinders ’n bietjie basiese filosofie onder die knie kan kry voordat hulle die grootmenslewe aandurf. Ná ek daardie vraag gesien het – waaroor hulle verskeie bladsye moes gorrel – is ek diep dankbaar ek is nie ’n Franse matrikulant nie.

      Dis onaangenaam genoeg om die ma van ’n Franse matrikulant te wees.

      My