Wolmarans wou inlig. Sien, ek het toe maar vir dokter Steenkamp gebel en aan hom verduidelik dat ek jou ter wille van Otto moet afskeep omdat hy soveel aandag nodig het. Hy het verpleegster Wolmarans persoonlik hierheen gebring en aan haar spesifieke opdragte gegee oor hoe om Otto te versorg,” vertel Meraai rustig.
“Wolmarans? Een van die vissers se dogters?” vra Henriëtte neerhalend.
“O, nee. Die meisie het ’n graad in die verpleegkunde en sy is uiters bekwaam. Dokter Steenkamp en die verpleegster se ouers is goed bevriend.”
“’n Graad, nè? Dan moet ek haar dadelik ontmoet,” sê Henriëtte en staan op uit haar bed uit.
“Jou kamerjas en pantoffels, Henriëtte. Jy wil tog ’n goeie indruk op die verpleegster maak, nie waar nie?”
Henriëtte steek haar neus in die lig. “Jy vergeet met wie jy praat, Meraai. Ek is Henriëtte Falkenstein van Kaiserburg. In my huis laat ek my nie voorskryf nie,” antwoord sy met kille hooghartigheid, maak die kamerdeur oop en stap in haar lang, wit nagrok in die gang af na Otto se slaapkamer toe.
Gretha staar verskrik in die donker, gloeiende oë van die vrou wat in die kamerdeur verskyn en haar aanstaar sonder om ’n oog te knip. Sy lyk soos iets uit ’n nagmerrie, dink Gretha benoud: lang, ongekamde swart hare, ’n geelbleek gesig met ’n spleetmond, ’n aristokratiese neus en die lig van waansin in haar donker oë. Gretha maak haar mond oop om te groet, maar sy swyg toe ’n aantreklike, donker jongman langs die vrou verskyn en sy blik langsaam oor haar laat loop.
“Dis nou ’n mooi verrassing, Ma,” sê Dieter Falkenstein ingenome. “Het Ma die pragtige poppie gehuur om my te amuseer?”
4
Henriëtte rig haar vorstelik op, onbewus van die krasse kontras wat haar houding met haar waansinnige voorkoms vorm, en sy sê met ysige afkeer: “Hoeveel maal moet ek jou aan jou posisie as die kroonprins van Kaiserburg herinner, Dieter? Ons Falkensteins meng slegs met mense van ons eie stand. Die verpleegstertjie is net ’n betaalde diensmeisie.”
Dieter bloos ergerlik. “Kom nou, Ma, ons leef nie meer in die Middeleeue nie. Ek gaan my nie laat voorskryf deur …”
“Stil, Dieter!” val Henriëtte hom skril in die rede. “Het jy vergeet jy het jou erfenis aan my te danke?”
Gretha tree vinnig nader en sê ferm, maar gedemp: “As hierdie gesprek in ’n familietwis gaan ontaard: ek het ’n pasiënt om te versorg. Hy slaap rustig en slaap is vir hom kosbaar, want daardeur ontsnap hy aan sy pyn. Ek sal dit waardeer as julle julle argument elders voortsit.”
Dieter glimlag goedkeurend. “Nogal ’n kwaai poppie, nè? Hoe het jy geweet ek hou van kwaadkatte, verpleegstertjie?”
Henriëtte stamp vir Dieter met haar elmboog uit haar pad uit en sy kyk Gretha uit die kille hoogtes van haar meerderwaardigheid aan. “Ek is mevrou Henriëtte Falkenstein, verpleegster. Moenie vergeet dat ek jou werkgewer is en jou salaris betaal nie, anders vertrek jy dalk vinniger as wat jy hier aangekom het.”
“Ek is hier om ’n professionele diens te lewer, mevrou Falkenstein. As julle dit vir my onmoontlik maak, sal dit nie vir julle nodig wees om my te vra om my tas te pak nie,” antwoord Gretha met ’n ysigheid wat dié van Henriëtte ewenaar.
Henriëtte kyk wild om haar rond, asof sy na ’n wapen soek, en sy gryp Gretha met ’n klouagtige hand aan die skouer. “Hoe durf jy aan my voorskryf, jou ellendige bedelaar! As my geld goed genoeg is vir jou, sal jy my met die nodige respek behandel, verstaan jy?”
“Los die meisie, Henriëtte!” sê Meraai en ruk Henriëtte om asof sy ’n papierpop is. “En jy, Dieter, verwyder jouself voor my aangesig, voordat ek ’n moord pleeg. Dalk beskou julle my as ’n getroue dienares wat te lojaal is om die waarheid oor julle te praat, maar vlees en bloed kan net soveel verduur. Onthou maar ek hét nog ’n mond en ek kan praat.”
“Bedaar, tant Meraai. Ek wou die verpleegstertjie net welkom laat voel,” sê Dieter verontskuldigend en drentel weg in die gang af.
“Jy is my geselskapdame, nie my diensmeisie nie, Meraai,” sê Henriëtte gekrenk. “Die verpleegster is in my diens, maar sy verbeel haar sy kan my hiet en gebied in my eie huis.”
“Omdat dit in Otto se belang is, Henriëtte. Kom ons gaan terug na jou kamer toe,” sê Meraai paaiend.
Henriëtte klou met albei hande aan die deurkosyn vas. “Nie voordat die ondankbare skepsel my om verskoning gevra het nie. As ek haar salaris betaal, verwag ek onderdanigheid.”
Henriëtte tree soos ’n bedorwe rykmanskind op, dink Gretha en staar haar swygend aan. Maar Henriëtte is nie meer ’n kind nie; sy is ’n siek vrou wat onvoorspelbaar en onbeheers kan wees. Friedrich is nie werklik haar vriend nie; hy gebruik haar net. Wat verhoed haar om haar tasse in haar motor te laai en terug te keer Blumenstrauss toe?
“Jý was onredelik, Henriëtte, nie verpleegster Wolmarans nie,” sê Meraai reguit. “Kom nou saam. Dis byna tyd vir aandete. Ons sal jou mooi aantrek en dan sal ek jou formeel aan verpleegster Wolmarans voorstel.”
“Sy moet my om verskoning vra,” hou Henriëtte vol. Haar oë brand met gloeiende waansin in dié van Gretha wat haar swygend aankyk. “Praat, meisiemens! Sê dat jy jammer is dat jy my nie met die nodige respek behandel het nie.”
Gretha sluk droog en kyk na Meraai. “Ek sal my tasse in my motor laai en ry, tant Meraai. Ek is jammer, maar ek sien nie kans om meneer Falkenstein onder hierdie omstandighede te versorg nie.”
“Maak so, Gretha, maar moenie dadelik vertrek nie. Ek gooi net my goedjies in ’n tas en dan kom ek saam met jou,” sê Meraai en begin wegdraai.
“Nee!” krys Henriëtte. Sy los die deurkosyn en draf agter Meraai aan. “Jy kan dit nie doen nie, Meraai! Ek het jou nodig. Jy weet ek kan nie sonder jou klaarkom nie. Meraai, asseblief, moenie weggaan nie,” pleit sy kermend.
Meraai bly staan, haar uitdrukking onverbiddelik. “Sal jy vir verpleegster Wolmarans met rus laat, Henriëtte?”
“Ja, ja, ek sal enigiets doen solank jy by my bly,” soebat Henriëtte met die onafhanklikheid van ’n kind.
“Onthou dan: ek het oorgenoeg gehad van jou grille en nukke. As jy nie na my luister nie, vertrek ek saam met die verpleegster.”
Gretha slaak ’n sug van verligting toe sy hulle voetstappe in die gang hoor wegsterf, en sy loop stadig terug na Otto se bed toe. Sy kyk na sy ingevalle gelaat met die versonke oë in die donker oogkasse en sy glimlag impulsief toe hy sy oë oopmaak. “Ek is verpleegster Gretha Wolmarans, meneer Falkenstein. Dokter Steenkamp het my hierheen gestuur om u te verpleeg.”
Sy lippe vertrek bewerig in ’n poging om te glimlag en dit bring ’n warm vonkeling in sy dowwe oë. “Ek het gehoor, verpleegster Wolmarans. Ek sal jou Gretha noem, want verpleegsters laat my siek voel.”
“Dis waarom ek nie ’n uniform dra nie,” antwoord sy en vra verwonderd: “Het u die stryery tussen my en mevrou Falkenstein gehoor, meneer?”
“Oom Otto … noem my oom Otto.” ’n Donker skadu vee die warmte uit sy oë. “Ek was nooit ’n meneer nie. Ek was … was …” Hy knyp sy oë styf toe en sy mond vertrek van pyn.
“Het oom kwaai pyn? As oom ’n inspuiting vir die pyn wil hê …” Sy hou hom besorg dop, maar hy maak sy oë oop en skud sy kop.
“Daar is pyn … en pyn. Dis die onreg … die onreg wat ek die kind aangedoen het. Ek moes hom lankal van hulle vertel het … lankal.” Sy asemhaling word vinniger. “Ek sou ook, maar sý het my gekeer. Sy het gedreig om Dieter dood te maak – haar eie kind! Sy wou my seun vermoor!”
“Bedaar, oom Otto, ek is nou hier. Dieter is ’n volwasse man. Niemand sal hom doodmaak nie,” sê sy gerusstellend.
Hy beur orent teen sy kussings en daar is naakte vrees op sy gelaat. “Sy is sterker en slinkser