wat oom pla, sal ek probeer om te help,” sê Gretha rustig, maar haar hart klop in haar keel. Oom Otto hoef nie name te noem nie: sy weet hy verwys na tant Henriëtte en Friedrich. Maar sal hy bereid wees om haar met sy geheim te vertrou?
Otto leun tam terug en sluit sy oë. “Friedrich weet nou. Hy weet van die skuilplek.”
“Waar is die skuilplek, oom?”
Hy maak sy oë oop en glimlag selftevrede. “Dis ons geheim. Niemand behalwe ons mag weet nie. Veral nie meisies nie.”
Wat sê sy nou, wonder Gretha bekommerd. Dat Friedrich ook nie weet nie? Dat hy Friedrich met sy broer, Kurt, verwar? Maar dan sal sy moet erken dat sy Friedrich ken, en dis iets wat onder geen omstandighede moet uitlek nie. Dan maar geduldig wees en wag totdat sy oom Otto se vertroue gewen het – of die kans kry om na die geheime skuilplek te soek.
Gretha volg Meraai na Henriëtte se privaat sitkamer en staar verras na die vrou wat op ’n vergulde stoel met donkerrooi stoffering sit. Henriëtte se hare is in ’n netjiese kapsel bo-op haar kop gekam en haar gesig is met professionele sorg gegrimeer. Sy is geklee in ’n ligroos kamerjas en pantoffels wat van goeie smaak en baie geld getuig.
In haar jeug moes Henriëtte ’n beeldskone vrou gewees het, besef Gretha en sy bly langs Meraai staan.
“Laat ek jou voorstel, Gretha,” sê Meraai formeel. “Mevrou Henriëtte Falkenstein – verpleegster Gretha Wolmarans.”
Henriëtte knik haar kop fyntjies en daar is ’n sweem van ’n glimlag om haar lippe.
“Bly te kenne, mevrou,” sê Gretha gedwonge en veg teen die begeerte om uit te bars van die lag. Sy voel soos ’n aktrise in ’n komedie, want ’n paar uur gelede was die deftige mevrou Falkenstein ’n tierende waansinnige in ’n loshangende, wit nagrok. Kaiserburg is alles wat sy gehoop het dit sal wees: ’n huis vol antieke meubels, kosbare silwer- en porseleinware, oorspronklike skilderye en beelde en die geheimsinnigheid wat groot huise met talle trappe en lang gange kenmerk. Maar Kaiserburg is terselfdertyd ’n ongelukkige woning wat skuiling gee aan ’n sterwende man met ’n skuldige gewete en ’n kranksinnige vrou wat dreig om haar eie seun se lewe te neem, dink sy wrang.
Henriëtte wuif met ’n benerige hand na ’n stoel oorkant haar. “Sit, verpleegster Wolmarans. Meraai sal vir ons tee skink.”
“Dankie, mevrou,” sê Gretha gedwee en neem op die aangewese stoel plaas terwyl Meraai na die koffietafel toe stap en vir hulle tee skink.
“Ek verneem van Meraai jy is nie ’n inwoner van ons dorpie nie,” sê Henriëtte, haar stem beskaaf en beheers.
“Dis korrek, mevrou. Ek het my opleiding in Johannesburg gehad,” antwoord Gretha werktuiglik.
“Donkerbaai het sy ontstaan en sy voortbestaan aan ons Falkensteins te danke,” sê Henriëtte asof sy Gretha nie gehoor het nie. “Die dorpie en sy mense behoort aan ons, want almal is in ons diens. ’n Mens kan sê ons is die adel, want dis hoe die inwoners ons beskou. Ek hoop jy besef dat dit ’n voorreg is om in Kaiserburg tuis te gaan en byna soos ’n gelyke behandel te word.
“Gretha besef dit,” sê Meraai vinnig toe sy die opstandige uitdrukking op Gretha se gesig sien, en sy hou ’n koppie tee na haar toe uit. “Drink, liefie. Die tee is lekker warm,” vervolg sy hartlik, maar haar oë pleit woordeloos om begrip.
“Dankie, tannie,” sê Gretha en vervolg met ’n neutrale stemtoon: “Kaiserburg is ’n pragtige ou woning. Ek het nog nie werklik tyd gehad om rond te kyk nie, maar ek het reeds ’n hele paar kunsskatte raakgesien.”
“Daar is niks in Kaiserburg wat nie ’n fortuintjie werd is nie. Jy kan gedurende jou vrye tyd die plek besigtig, maar moenie aan iets raak nie. Die gewone arbeider is dikwels lomp en onverskillig as hy ’n kosbare ornament hanteer,” sê Henriëtte en glimlag met Meraai. “Die tee smaak lekker, Meraai. Laat verpleegster Wolmarans jou beroemde appeltert proe.”
“Niks vir my nie, dankie, tant Meraai,” sê Gretha vinnig. Sy sal verstik as sy nou iets eet, dink sy wrewelrig, want Henriëtte se teepartytjie is niks anders nie as ’n verskoning om haar op ’n beskaafde wyse te verkleineer en te beledig.
“Hoop jy om met jou slanke figuur my seun te verlei, verpleegstertjie?” Henriëtte se lippe spring weg van haar tande, haar glimlag venynig. “Laat ek jou dan uit die staanspoor waarsku, want my seun is bewus van die verantwoordelikheid wat daar op sy skouers rus. Hy is die kroonprins van Kaiserburg en hy sal met ’n vrou van my keuse trou …’n meisie uit ons eie stand.”
“Ek het nie hierheen gekom om ’n man te soek nie, mevrou Falkenstein, daarom sal ek dit waardeer as u Dieter duidelik laat verstaan dat ek nie ’n muis en hy nie ’n kat is nie,” antwoord Gretha kil.
Henriëtte se gesig vertrek van woede en sy smyt die tee met ’n rukbeweging van haar arm uit haar koppie in Gretha se rigting. “Hoe durf jy vir my opdragte gee, jou aanstellerige kerkmuis? Ek sal jou nie ’n oomblik langer …”
“Henriëtte!” kom dit gebiedend van Meraai terwyl sy vinnig op haar afstap. “Ek het jou gewaarsku: my tas is reeds gepak.”
“Maar jy het gehoor wat sy gesê het, Meraai,” praat Henriëtte weer met die stem van ’n bang kind. “Mense vergeet wie ek is … Onthou jy dan nie? Ek is Henriëtte de Villiers, die prinses van die Overberg, wat met die kroonprins van Kaiserburg getroud is.”
“Ja, ja, jy is, maar die besoek het te lank geduur. Jy is te sensitief, Henriëtte, daarom put lang gesprekke jou uit.” Meraai kyk oor haar skouer na Gretha wat reeds opgestaan het. “Jy kan maar gaan, Gretha. Mevrou Falkenstein het rus nodig.”
Gretha knik en sy vlug met ’n gevoel van verligting die kamer uit. Sy bly in die gang staan. Haar blik is op die sierlike kristalkandelaar wat die ontvangsportaal en die trap verlig, maar sy sien dit nouliks raak. Sy wil nie hier wees nie, dink sy opstandig. Sy was ’n dwaas om aan te bied om vir Friedrich te help. Selfs al ontdek sy die skuilplek met die stukke wat na Friedrich se afkoms verwys, sal dit niks aan haar posisie verander nie. Friedrich het haar nie lief nie; Friedrich sal haar nooit liefhê nie. As sy nou by tant Hanna en tant Amalia in Blumenstrauss was, kon sy met Friedrich gepraat het …’n skrale troosprys, maar meer as genoeg om die verlange in haar binneste te stil.
Ferdi Steenkamp hou van haar, probeer sy haarself troos, en sy stap in die gang af om by Otto se kamer in te loer.
Meraai plaas ’n sjokoladedrankie voor Gretha op die kombuistafel en sak tydsaam neer op die stoel aan die hoof van die tafel. “Vet is darem ’n aardige ding, Gretha,” sê sy vertroulik. “Dit voel vir my al asof my vet eers gaan sit en dan ek.”
Gretha proeslag spontaan, druk haar hand op haar mond en lag dat haar skouers skud.
“Dis beter,” sê Meraai goedkeurend. “Ek het ’n vermoede gehad jy is ’n vrolike kind, maar jy het nie juis kans gehad om te lag sedert dokter Steenkamp jou hierheen gebring het nie.”
Gretha se uitdrukking versomber. “Kaiserburg lyk soos ’n sprokieshuis van buite, maar hier binne …” Sy staar Meraai verwonderd aan. “Hoekom kry tannie nie elders werk nie? Ek sal stapelgek word as ek tant Henriëtte moet versorg.”
Meraai sug diep en daar is ’n veraf blik in haar oë. “Jy verstaan nie, kind. Dis ’n lang storie – en ’n belofte – wat my hiertoe gebring het.”
“Mag ek die storie hoor, tannie?”
“Dis nie werklik interessant nie, liefie. Ek was die enigste dogter van ’n sukkelende boer. Ons ou flentertjie aarde was onvrugbaar en boonop sonder water en daarenteen was die ryk De Viliers’s geseën met ’n pragplaas, ’n rivier, en selfs ’n fontein. Overberg was ’n plaas van oorvloed, maar ou Jean-Pierre de Villiers het tog nie alles gehad nie. Ek was maar net arm Meraai Spannenberg, maar ek was ’n slim kind en ná matriek het ek verpleegster geword.”
“Is tannie ook ’n verpleegster?” vra Gretha verras.
“Nou nie so geleerd