Gretha staar haar ontsteld aan. “Maar dis ’n onregverdige eis, tant Meraai! Dit beteken dat tannie nooit sou kon trou of ’n eie gesin sou kon hê nie. Waarom het tannie ingestem om as ’t ware Henriëtte se slavin te word?” vra sy onthuts.
“As jy jou ouers liefhet, en jy vyf jonger broertjies het wat moet skoolgaan …” Meraai glimlag gelate. “’n Mens leer in ’n groot gesin – veral in ’n arm gesin – om onselfsugtig te wees. Jean-Pierre se aanbod was vir ons die verhoring van ’n gebed, want daar was eindelik uitkoms. Glo my, Gretha, ek het oor my voete geval om Jean-Pierre se aanbod te aanvaar.”
“En tannie was nog nooit spyt oor tannie se besluit nie?” vra Gretha ongelowig.
“Hoe sal ek sê, liefie?” Meraai haal haar ronde skouers op. “Dalk, in die donker, nagtelike ure, wonder ek soms hoe my man en ongebore kinders sou gelyk het … maar breek die dag, kry ek dalk briefie van een van my broers en dan weet ek alles was die moeite werd. My broers het almal matriek. Twee van hulle het onderwysers geword, twee is bekwame ambagsmanne en die een is vandag ’n bankbestuurder. My pa is lankal dood, maar my ma is ’n vrou van drie en tagtig en sy maak beurte om by haar kinders en kleinkinders te kuier … En jy vra of ek spyt is, Gretha?”
“Nogtans … Kuier tannie ooit by tannie se familie?”
“Vroeër jare kon ek, maar nie meer nie … nie sedert Henriëtte sieker geword het nie. Maar toe sy ’n meisie van sestien was … Sy was gespanne en humeurig, maar ek kon haar altyd kalmeer. Om die waarheid te sê, ek het haar soos ’n suster liefgekry, seker maar omdat ek nooit ’n suster gehad het nie. Dan was daar Henriëtte se goewernante – ’n goeie vrou, maar sy was bang vir Henriëtte se onvoorspelbare uitbarstings. Sy is weg kort nadat ek Henriëtte begin versorg het.”
“Maar as tant Henriëtte sielkundige behandeling kon kry –”
Meraai se oë rek geskok. “Glo jy die trotse Jean-Pierre en Alta de Villiers sou aan die buitewêreld erken dat hulle enigste kind geestelik siek is? O nee, liefie, dan liewer dood. Dis waarom ek altyd byderhand moes wees, selfs toe Kurt Falkenstein kom kuier het – en jong Otto. Henriëtte was in die wolke dat nie een nie, maar sommer twee mans graag met haar sou wou trou. Kurt was die erfgenaam van Kaiserburg, maar ek glo Henriëtte het vir Otto liefgehad, daarom het sy hom in die geheim ontmoet – ’n geheim waarvan ek teen wil en dank deel moes wees.”
“Waarom kon sy nie eerlik met Kurt wees nie? Waarom moes sy haar verhouding met Otto ’n geheim hou?” vra Gretha onbegrypend.
“Geld,” antwoord Meraai grimmig. “Die De Villiers’s het oorgenoeg geld gehad, maar hulle het van Henriëtte verwag om met ’n ryk man te trou. Kurt was die oudste seun, ou Heinrich se erfgenaam, daarom het hulle daarop aangedring dat Henriëtte met hom trou. En toe betrap Kurt haar en Otto saam in die bloekombos waar hulle piekniek gehou het …”
“Ek is bly ter wille van Kurt, want as ’n meisie nie eens voor haar troue lojaal aan ’n man kan wees nie, sal sy dit nie na haar troue kan regkry nie.”
“Dis alles waar, liefie, maar destyds … Daar was rusies van die oggend tot die aand toe Kurt besluit hy het om oorsee te gaan studeer. En toe draai dinge in Otto se guns: Kurt het in ’n motorongeluk in Skotland gesterf en hy was skielik die kroonprins van Kaiserburg. Drie maande ná Kurt se dood is Otto en Henriëtte getroud en hulle het hier by wyle Heinrich en Helga Falkenstein in Kaiserburg kom woon.”
“Was hulle gelukkig, tant Meraai?”
’n Glimlag tower met sagte vingers die geluk van vervloë jare in Meraai se oë. “So gelukkig,” antwoord sy, haar woorde sag soos die amen aan die einde van ’n gebed. “Hulle was soos kinders wat in hulle eie sprokieswêreld geleef het – totdat Otto op ’n dag vir klein Friedrich hierheen gebring het. Ek het destyds gedink: hoe kan ’n onskuldige baba van ’n jaar oud soveel ongeluk in ’n huis bring? Maar toe het die verwyte en die agterdog en die rusies begin; toe het Henriëtte se haat teen klein Friedrich begin. En dit het deur die jare net aanhou groei totdat die seun eindelik universiteit toe is. Gedurende vakansies het hy óf gewerk, óf Hanna en sy ouma Helga in Blumenstrauss besoek, maar hy het nie weer sy voete in Kaiserburg gesit nie, behalwe wanneer hy sy oom Otto kom groet het.”
“Weet tant Henriëtte wie Friedrich se eie ouers is, tannie?”
“So sê sy, want sy het lankal opgehou met haar verwyte dat Friedrich Otto se buite-egtelike kind is.” Meraai frons kopskuddend. “Ek en Henriëtte het nooit geheime vir mekaar gehad nie, maar ná al die jare weier sy nog volstrek om Friedrich se ouers met my te bespreek.”
“Dink tannie sy weet waar oom Otto die dokumente versteek het wat die geheim van Friedrich se afkoms sal opklaar?” vra Gretha hoopvol.
“Ek sal nie weet nie, kind, want dis soos ek vir jou sê: Henriëtte praat nooit daaroor nie.”
Gretha sug gespanne. “Dan is daar net een uitweg: ek sal na die dokumente moet soek en bid dat niemand my betrap nie.”
“Ek sal help soek, liefie, maar wees tog baie versigtig: As Henriëtte jou betrap, kan die gevolge noodlottig wees,” waarsku Meraai met ’n erns wat Gretha se bloed in haar are laat stol.
Gretha staan op ’n stoel voor ’n familieportret in die lang galery, lig die portret weg van die muur af en skyn die lig van haar flits teen die rugkant van die portret.
Niks nie, dink sy teleurgesteld. Of is dit moontlik dat oom Otto die dokumente tussen die portret en die karton versteek het? As dit die geval is, sal sy elke portret moet aftel en die agterkant moet verwyder – maar hoe kan sy dit doen sonder om die huismense wakker te maak? En laat val sy een van die swaar portrette …
Nee, wag, tant Hanna het gesê oom Otto het as kind reeds van sy en Kurt se skuilplek gepraat. ’n Kind sou ook nie ’n swaar portret kon optel nie. Sy sal doodeenvoudig aanhou soek en hoop die dokumente is aan die agterkant van een van die portrette of skilderye vasgeplak, dink sy. Sy klim van die stoel af – en krimp ineen van angs en skok toe twee sterk arms haar van agter af vasgryp en ’n hand op haar mond en neus gedruk word.
“As jy skree, is jy dood,” fluister ’n onherkenbare stem in haar oor en die flits word uit haar hand geruk en afgeskakel.
Sy knik heftig. Die geklop van haar hart is soos tromslae in haar ore.
Die hand word versigtig van haar mond af weggeneem en die stem fluister weer: “Kom saam,” en sy voel hoe ’n hand hare vasgryp.
Gretha knip haar oë vinnig, maar die duisternis is soos ’n skaglose steenkoolmyn van die nag wat haar toevou. Sy weet dat ’n man haar hand vashou, want die hand is groot en sterk. Hy loop ligvoets soos ’n kat, sekerheid in elke tree wat hy neem.
“Hou aan die trapleuning vas. Ons moet die trap afklim – gou!” kom die fluisterende bevel.
Sy gehoorsaam soos iemand wat reeds dood is. Is dit Dieter, wonder sy vreesbevange. Hy ken Kaiserburg soos sy eie hand. Hy het nie lig nodig om te weet waarheen hy gaan nie. Maar as dit hy is – waarheen neem hy haar? Sy is volkome in sy mag, want tant Meraai glo sy slaap veilig in haar kamer. As sy nou skree …
“Dis die voet van die trap,” fluister die man weer en versteen toe ’n swaar sleutel in ’n slot draai. “Gou!” sis hy, sleep haar om die trap, ruk ’n deur op en stamp haar binne. Die deur klik saggies agter hom toe.
Sy bly roerloos staan. Daar is ’n reuk van klere en rubber in haar neus, en sy besef dat sy en haar ontvoerder in die trapkas wegkruip. Dofweg hoor sy ’n swaar deur toegaan, en dan bereik die klank van voetstappe op die trap haar ore.
“Wat nou?” vra sy verbouereerd.
“Sjuut!” waarsku hy. Hy maak die deur geluidloos oop en luister aandagtig.
Sy hoor ’n deur op die eerste verdieping toegaan en ruk ineen toe haar ontvoerder haar aan die arm gryp en nader pluk.
“Sydeur toe,” sê hy byna onhoorbaar en sy volg hom met die willoosheid van ’n marionet.
Hy