hande op haar breë heupe en gluur Gretha aan. “Nee a, liefie, hoe het ek dit dan met jou? Het ek jou dan so verkeerd opgesom? Ek dag jy is ’n liewe, onskuldige kind, en kyk nou wat doen jy? Flenter in die donker saam met Friedrich rond en foeter ’n ander jongetjie disnis.” Sy gee ’n tevrede laggie. “Ek hoop jy het hom met mening gefoeter, Grethatjie. Dis iets waarna hy lankal soek.”
“Ek het nie aan hom geraak nie, tant Meraai. Maar hoe het tannie geweet ek is hier buite in die tuin?” vra Gretha fronsend.
“Ek het nie, maar ek het die swernoot hoor inkom. Ek het gelê en luister hoe hy na jou kamer toe gaan en haastig my ou kamerjassie en pantoffeltjies aangepluk. Ek wou net uit my kamer stap, toe sien ek die blikskater vlak voor my deur verbysluip na die trap toe. Ek het gou by jou kamer ingeloer en toe ek sien jou bed is leeg, is ek agter Dieter aan … en hier lê hy nou: katswink of dood. Wat nou, Friedrich?” vra Meraai verslae.
“Eers die waarheid, tannie. Gretha het nie ’n afspraak met my gehad nie. Tant Hanna het my vertel van Dieter se geheime besoek aan Alexandra Myburgh en …”
“Hulle verdien mekaar,” val Meraai hom in die rede. “Hulle het albei droë perskes in plaas van siele gekry. Daar is niks so lelik soos ’n verkrimpte sieletjie wat net aan geld en sonde kan dink nie, hoor jy, Friedrich? Of gaan jy ook opnuut agter daardie geldgierige merrie aandraf?”
“Ek was besig om te praat, tant Meraai,” antwoord hy stug. “Ek was bekommerd oor Gretha wat na die geheime skuilplek begin soek terwyl Dieter moontlik by Alexandra gekuier het. Ek het hierheen gekom, maar die huis was donker en ek is weer terug Blumenstrauss toe. Tant Hanna het wakker geword toe ek by die agterdeur inkom en toe het ek haar vertel van my vrees dat Gretha deur Dieter betrap kon word. Sy het vir my ’n sleutel vir die sydeur gegee en ek kon Gretha net betyds waarsku.”
“Waarsku?” vra Gretha kortasem van verontwaardiging. “Die vent het my in die donker gegryp en die trap afgesleep. My hart het byna van skok gaan staan!”
“Ek wou nie die huismense wakker maak nie,” sê Friedrich verontskuldigend. “Gretha besef nou dat dit te gevaarlik is om na oom Otto se skuilplek te soek. Ek het nou ’n sleutel van die sydeur: ek sal snags Kaiserburg binnesluip en na die dokumente soek.”
“Dis alles goed en wel, boet,” sê Meraai en sy strengel haar vingers ineen op haar maag terwyl sy die roerlose Dieter meewarig betrag, “maar wat sê ons vir die skepseltjie as hy weer na die land van die lewendes terugkeer?”
Friedrich huiwer ’n oomblik lank en hou die stuk hout na Meraai toe uit. “Tannie het hom oor die kop geslaan.”
Meraai tree vinnig agteruit. “Ekke? Maar hoekom sou ek so iets doen, kind?”
“Ek en Friedrich het by die tuinbankie agter die heining gesels toe Dieter na my roep,” verduidelik Gretha. “Ons kon nie toelaat dat Dieter ons saam betrap nie, daarom het ek deur die opening in die heining geglip. Dieter het my gewaar en op my afgestorm en … e … en my sommer begin soen. Hy kan dankbaar wees Friedrich het hom oor die kop geslaan, anders het ek sy oor afgebyt.”
“Dis waar, tant Meraai: Gretha byt,” sê Friedrich, kyk na die bytmerke op sy hand in die maanlig en gluur haar vies aan.
“Nee, maar ek wil dit hê! Byt al wat man is fyn en flenters as hulle jou teen jou sin wil soen, liefie,” kom dit ingenome van Meraai.
“Ek het haar nie probeer soen nie, tannie,” sê Friedrich vererg.
“Ja, ja, kind, ek glo jou. Maar gee nou maar die stuk hout vir my. Ek sal seker maar hier langs die dronk dingetjie moet wag totdat hy eendag bykom,” sê Meraai met teësinnige aanvaarding.
“’n Paar harde klappe sal hom vinnig laat bykom, tannie.” Friedrich talm nog vir ’n oomblik en kyk na Gretha. “En jy, meisiekind, sorg dat jou kamerdeur snags gesluit is. Ek sal nie altyd hier wees om jou teen Dieter te beskerm nie. Nag, tant Meraai … meisiekind.”
“Ek het nie ’n wiegwagter nodig nie, dokter Falkenstein. Ek kan byt,” roep Gretha hom koggelend agterna.
“Saggies, kind!” waarsku Meraai en kniel steunend langs die beweginglose Dieter. “Dieter?” Sy skud hom eers lig en dan harder aan die skouer. “Dieter, maak oop jou oë! Dieter!”
Dieter kreun in sy bewustelose toestand, mompel iets onverstaanbaars, draai op sy rug en begin om liggies te snork.
“Maar …” Meraai staar hom oorbluf aan. “Ek dag die duiwelskind is bewusteloos, maar intussen slaap hy net sy roes af!” bars sy onstuimig uit. “Hoe hard het Friedrich hom geslaan, Gretha?”
“Ek weet nie, tannie, maar Dieter was definitief beskonke. As hy nie dronk was nie, het hy lankal bygekom.”
“In daardie geval …” Meraai kyk na die sterrehemel bokant haar. “Dit sal nie voor dagbreek reën nie. Toe, toe, help my orent, liefie. Ek en jy het slaap nodig.”
“En Dieter dan?” vra Gretha bekommerd.
“Sien jy kans om hom huis toe te dra, kind?”
“Nee … nee, hy is te swaar.”
“Juistement. Laat hom slaap waar hy lê. Hy sal niks oorkom nie,” sê Meraai onverskillig en rem aan Gretha se hand om op haar voete te kom. “Sjoe! Die ontberinge wat ek ter wille van die skepseltjie moet deurmaak. Maar kom ons drawwe, liefie. Henriëtte het die swak gewoonte om in die middel van die nag wakker te word en spek en eiers te bestel.”
“Dalk het oom Otto my ook nodig,” sê Gretha bekommerd en rek haar treë. “Maar wat sê ek vir Dieter as hy my oor vannag uitvra?”
“Stuur hom na my toe, Grethatjie. Ek was dit nog altyd lus om die knaap op sy plek te sit,” antwoord Meraai ingenome.
Met ’n bondgenoot soos Meraai kan haar verblyf in Kaiserburg net aangenaam wees, dink Gretha dankbaar. Friedrich sal gereeld snags na Kaiserburg toe kom en dalk kry sy hom te sien … Nee, sy leef in ’n gekkeparadys. Friedrich is onbewus van haar bestaan as vrou, as ’n meisie wat so onvoorwaardelik kon liefkry … Sodra hy weet wie sy ouers was, sal hy teruggaan na Alexandra Myburgh toe en sy, Gretha, en tant Amalia sal terugkeer Johannesburg toe en sy sal leer om van haar dwase liefde te vergeet …
Meraai kyk met ’n gevoel van genoegdoening na Dieter wat met deurmekaar hare en verkreukelde klere by die kombuis inkom, na die naaste stoel toe strompel en met ’n gevoelvolle kreun daarop neersak. “Swart koffie met ’n dop brandewyn daarin, asseblief, tant Meraai,” versoek hy. Sy stem is ’n skor gerasper.
Meraai plant haar regterhand in haar sy en begin strydlustig: “Het my kombuis skielik in ’n kroeg verander, Dieter? En jy, met jou aanstellerigheid, verwerdig jou om by my kombuistafel te kom sit, in plaas van om in die eetkamer te gaan sit en tot vervelens toe die klokkie te lui?”
Dieter klou sy kop met albei sy hande vas, nie in staat om op te kyk nie. “Praat net sag, tant Meraai. My kop wil oopbars. Asseblief, tannie, bring net die koffie – met of sonder die brandewyn.”
“Ek sien. Jy lê tot dagbreek op ’n fuifpartytjie rond en dan verwag jy ek moet spring as jy sê ek moet spring. Skink jou eie koffie. Ek is besig om jou ma se oggendkoffie te maak,” antwoord Meraai met opsetlike gevoelloosheid.
“Ek was nie op ’n fuifpartytjie nie, tannie. Iemand het my aangerand in my eie tuin.” Dieter kyk op, wraaklus in sy oë. “Sy gaan nog vandag uit hierdie huis uit trap, tant Meraai. My pa kan ’n ander verpleegster kry, maar háár soort het ons nie nodig nie.”
Meraai plaas ’n koppie koffie en twee hoofpyntablette voor Dieter neer. “Drink, arme sieletjie. Dalk maak jy meer sin as jou kop minder pyn.”
Dieter sluk die tablette af, drink die koffie en ril merkbaar. “Ek weet wat ek sê, tant Meraai. Daardie verpleegster het my opsetlik gisternag na die tuin gelok en toe het sy en haar boewevriend my ingewag en my oor die kop geslaan. Hulle het elke sent wat ek het, gesteel!”
“Reken, nè? Is jou beursie weg?” vra Meraai onskuldig.